Met hierdie week se dagstukkies leer ons wat dit beteken om in geloof te groei.
Skrifgedeelte: Jh 15:1-8 Teks wat tref: v 5-7
Ons het almal sekere voorkeure as dit by kos kom. Net so verskil ons smaak oor mode, vakansie en vriende. Dit geld ook vir ons geloofslewe: Ons kan alles kry wat ons van die Here vra (v7) of sonder Hom, sal ons niks kan doen nie. (v5) Dit behoort nie moeilik te wees om ʼn keuse te maak nie. As Jesus boonop die versekering gee dat jy baie vrugte sal dra en sy Vader sal verheerlik, is daar net een logiese keuse. Die een laat jou groei en die ander loop op niks uit nie.
Ons kan alles in die lewe meet. My lengte, my gewig. My bloeddruk en hartklop. Die hoeveelheid kalorieë wat my liggaam nodig het. Met ʼn sonar kan die ouderdom van ʼn baba in die moederskoot gemeet word. Met al die inligting tot my beskikking kan ek meet of daar groei plaasvind. Met die nodige veranderinge en deur my dieet aan te pas kan ek sekere resultate bewerk.
Terwyl alles meetbaar is, ontstaan die vraag na my geestelike welstand. Groei jou geloof in ons Here Jesus Christus? Dit is hier waar ons met groot huiwering die resultate wil sien of hoor. Daarom leer Jesus ons om in Hom te bly. Met hierdie skaal word my verhouding met Hom gemeet. Om in Hom te bly beteken dat ek met my hele hart, siel, verstand en lewe aan Hom verbonde is. Om in Hom te bly laat my aan Hom vasgryp. Dit openbaar my posisie oor Wie vir my belangrik is. Ek vereenselwig my met die Here se opdragte en vermaninge. Ek is onlosmaaklik aan Hom verbind.
Met die beeld van die wingerdstok en die lote word dit nog duideliker. ʼn Loot wat nie vas aan die wingerdstok geheg is nie, sal nooit groei. Dit is dood. Inteendeel dit word in die vuur gegooi en dit verbrand. Dit het geen waarde nie. Teenoor groei staan dood. Daar is nie ʼn middeweg nie. Jy groei of jy sterf. Dit is óf met óf sonder Christus. Christus is die wingerdstok en ek die loot. Ons Vader weet wat die beste is en Hy snoei die lote sodat dit vrugte kan dra. Dan is die vrugte bewys van groei.
Diegene wat met Christus leef luister na die woorde wat Hy hulle leer. So is elke geleentheid waar God se Woord verkondig en aangehoor word die geestelike voedsel. Sonder Christus kan jy niks doen nie. Dit is nogal verdoemende woorde. Maak seker dat jy in die Here bly.
Dit het verdere gevolge. Elkeen wat in Hom bly, leer ook om te bid. Teenoor hulle wat sonder die Here niks kan doen nie, ontvang die ander net wat hulle wil hê. Dit sal beslis my keuse beïnvloed. Sou dit beteken ek sal alles kry wat ek vra? Dit sou lonend wees. Dit sou die lewe vir my gemaklik maak. Maar dit is nie die bedoeling nie. Net hulle wat in die Here BLY en sy woorde in hulle kan hierop aanspraak maak. Net die lote wat aan die wingerdstok vasgegroei is, dra vrugte. Daarom kry ek nie net wat ek vra nie, maar is my vra onderhewig aan my verbondenheid met Christus. Ek sal daarom net vir dit vra wat die wingerdstok voortbring.
Christus sê dat ek sonder Hom niks kan doen nie. Is jou lewe met of sonder Hom?
Dors vir meer:
Ps 119:1-16
Gebed
Here, baie dankie dat U my reg snoei sodat ek vrugte kan dra. Ek weet dat ek sonder U niks kan doen nie. Maak my ywerig om na U woorde te luister. Amen
Ds Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply