Met hierdie week se dagstukkies leer ons wat dit beteken om in geloof te groei.
Skrifgedeelte: Joh 15:18-27 Teks wat tref: v18,25
As iemand jou sonder rede benadeel sal jy beslis met alle mag daarteen optree. Niemand sal enige onregverdige optrede duld nie. As daar wel rede was vir ʼn bepaalde optrede deur iemand sal ek meestal begrip daarvoor hê. In die eerste 17 verse van Johannes 15 is ek van die Here se liefde vir my verseker. Inteendeel, Hy noem ons sy vriende. Soos die Vader Hom liefhet, het Hy ons ook lief.
In skrille kontras met hierdie beeld waarin ons verhouding met die Here beskryf word, tref die eerste woorde van vers 18 ons met ʼn harde slag. Die wêreld sal julle haat! Teenoor die liefde staan haat. Omdat ons nie aan die wêreld behoort nie, sal die wêreld ons haat. Omdat ons in Christus bly en baie vrugte dra, kan die wêreld ons nie verduur nie. Met wêreld word hier die Satan en alle bose magte bedoel. Kortom alles wat teen die Here is.
Aanvanklik voel dit onregverdig dat die wêreld ons haat. Maar deurdat ons in die Here bly, laat Hy ons groei. Hierdeur is ek in staat om reg op te tree. Hoeveel keer is jy al sonder rede beledig?. Of gespot? Of verkleineer? Of skade berokken.?
Dan is dit ons onmiddellike reaksie om hewig op te tree. Gelowiges sal sonder rede vervolg word net omdat hulle die Here se Naam bely. Ons kan daarom teenstand verwag. Jesus het met sy optrede die sonde van die wêreld kom uitwys. Die wêreld het nie vir Christus lief nie. Hulle haat Hom. Dit is die wese van sonde. Met verkeerde dade sondig ons teen die Here. Ons redeneer dat ons optrede nie so erg is nie. Maar elke keer as ek sonde doen beteken dit dat ek die Here haat. Dit laat my die erns van my sonde besef. Dit vervreem my van die Here.
In hierdie gedeelte maak die Here sy kinders se posisie duidelik. Ons kan verwag dat daar nog baie aanvalle teen ons sal wees. Trouens, dit is wat Christus sonder rede verduur het.
Om ons vir hierdie stryd voor te berei stuur die Here die Voorspraak. Dit is die Heilige Gees. Hy word ook die Gees van die waarheid genoem. Hy getuig van die Here. Hy is van die begin af by Hom. Net deur die Heilige Gees word ek versterk en gelei om dit wat sonder rede teen ons gedoen word, te oorkom.
Hierin leer ons om te groei te midde van elke aanval. Deur my optrede wat op Christus gebou is, hoor die wêreld God se woorde van vermaning. En die wêreld haat Hom sonder rede. (v25) Jy mag dalk dikwels sonder rede beledig en gehaat word, maar die Heilige Gees sal getuig oor hulle wat van die begin af by die Here is.
En die enigste rede hiervoor is die liefde wat die Here vir sy kinders het. Waar die wêreld Hom sonder rede haat, kan ons met vreugde uitroep dat die Here se enigste rede om ons te red, sy oneindige liefde is!
Dors vir meer:
1 Joh 4:7-21
Gebed
Here, die onreg wat ons daagliks beleef en aanskou laat my besef dat die wêreld U sonder rede haat. Help my om na die Heilige Gees te luister en in geloof te groei. Dankie dat u my liefhet. Amen
Ds Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply