Category: Uncategorized (Page 3 of 33)

Dagstuk 18 Oktober 2021 – ʼn Man na God se hart….. (4/6) – Skrifgedeelte: 1 Sam 21:1-9,  1 Sam 22:19-23 en Ps 52

Skrifgedeelte: 1 Sam 21:1-9,  1 Sam 22:19-23 en Ps 52

Teks wat tref:  1 Sam 22:23

1 Sam 22:23 – “Bly by my en moenie bang wees nie, want hy wat my lewe soek , soek ook jou lewe.”

Dawid is steeds besig om vir Saul te vlug. Die vervolging lei daartoe dat vyf en tagtig onskuldige priesters van Nob deur Doëg vermoor word.  Die gebeure veroorsaak dat Dawid medeverantwoordelik voel vir hul dood.  Hy het immers by die priester Agimelek aangekom om kos en wapens te vra.  Niemand sou kon dink dat die wraaksug van Saul geen grense geken het nie. Soos dikwels tevore gee Dawid uiting aan sy gevoelens en emosies en skryf hy Psalm 52 na aanleiding van die gebeure. 

Reeds in 1 Sam 22:23 bemoedig hy vir Abjatar om op hom te vertrou. Soos dikwels tevore weet Dawid dat God hom sal bewaar.  Die stryd tussen hom en Saul kring verder uit en beïnvloed ander mense se lewens en omstandighede. Net so raak my keuses en besluite onwillekeurig die lewe, bestaan en veiligheid van talle mense rondom my.  Ek leef nie in isolasie nie en leer hier om nougeset rekening te hou met die gevolge en implikasie van elke besluit wat ek neem.  Vir elke optrede is daar gevolge.  Dawid het aanvanklik nie voorsien dat Saul geen ontsag vir mense se lewens gehad het nie. 

Dawid neem nou verantwoordelikheid vir sy optrede wanneer hy vir Abjatar verseker dat hy veilig sal wees. Die hartseer en verlies van lewe kan nooit reggestel word nie en ek moet leer om te besin alvorens ek optree.  My planne, ideale en besluite het altyd ʼn direkte gevolg op die mense naby my.  Soms sal dit nie altyd maklik wees om met die gevolge van my optrede saam te leef nie, en dan moet ek juis my woord gestand doen om die welstand van die mense wat deur my optrede geraak is te verseker. 

Dit gebeur wanneer Dawid in Ps 52 bely dat God altyd vir hom sorg. God laat nie die onreg toe nie en sal die waarheid laat seëvier. Hy sal ongeregtigheid vernietig en met mag optree om die onregverdige uit sy woonplek te ruk en weg te sleep.  Teenoor die inhaligheid en valse vertroue is daar net een ander moontlikheid om staande te bly.  Ek moet op God se krag steun.  Juis omdat Dawid beleef het dat hy sterk staan soos ʼn welige olyfboom en in die huis van die Here is, kon hy met sekerheid troos en veiligheid aan die families van die vermoorde priesters bied. 

Maak altyd seker dat jy deeglik oor die implikasies van jou besluite en dade besin. Loof God vir Jesus Christus wat met sy lewe vir my veiligheid en redding bewerk het.

Dors vir meer:

Lk 14:28-30

Gebed

Here, leer my om deeglik te besin voordat ek met enige iets begin. Lei my deur U Gees om my beloftes en verantwoordelikhede na te kom. Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 15 Oktober 2021 – ʼn Man na God se hart….. (3/6) – Skrifgedeelte: 1 Sam 18:6-16  en Ps 59:1-8 en 17,18  

Skrifgedeelte: 1 Sam 18:6-16  en Ps 59:1-8 en 17,18            

Teks wat tref: 1 Sam 18:14

1 Sam 18: 14 – “………en in alles sukses behaal omdat die Here by hom was……….”

Nadat Dawid vir Goliat verslaan het word hy deur Saul as hoof van ʼn leërafdeling aangestel. Hy verwerf roem en word feitlik na elke veldslag deur die vroue ingewag wat al dansende sy oorwinnings vier.  Hierdie gebeure veroorsaak dat Saul hom wantrou en jaloers raak.  Saul wend verskeie pogings aan om Dawid dood te maak.  In Psalm 59 beskryf Dawid die intensiteit van Saul se venynige aanvalle.  Hy word voorgelê deur geweldenaars en word deur aanvallers bestorm. Die beeld van die honde wat grom en die skuim wat om hulle bekke staan, laat hom in vrees lewe. 

Meer as een maal het hy weggekoes toe die waansinnige Saul hom met ʼn spies wou doodmaak. Ons moet ook spreekwoordelik amper elke dag koes wanneer die lewe spiese na ons werp. Hierdie spiese kan letterlike aanvalle wees en ook die pogings van mense wat my verdag maak en my beskinder en in ʼn slegte lig wil stel.  Emosies wat hoog loop en opgehoopte spanning wat deur Covid 19 veroorsaak is, steek soos ʼn skerp dolk in my sy. 

Terwyl Dawid alle rede en mag  gehad het om teen Saul op te staan en hom te wreek vir sy jaloerse optrede en aanvalle behou hy kalmte van gees.  Saul was steeds die Here se gesalfde koning en Dawid durf dit nie waag om teen hom in opstand te kom nie.  Wanneer ek verontreg word, is dit my eerste reaksie om wraak te neem. 

Dawid bly kalm en behaal die oorwinning omdat die Here by hom was.  Dit bring mee dat die volk baie lief was vir hom terwyl Saul vir hom bang was en hom gehaat het.  Dawid was so suksesvol dat hy as aanvoerder in die oorlog vir die volk opgetree het.  Net so behendig soos Dawid met die swaard was, neem hy in Psalm 59 die pen op en skryf ʼn gedig na aanleiding van die gebeure.  In die laaste verse van die Psalm jubel hy oor die Here se trou en eindig hy met die uitroep dat God vir hom ʼn veilige vesting is. 

Jy mag soms verontreg voel deur gebeure rondom jou. Die eise van elke dag  voel soos  ʼn  grommende hond wat jou lewensbestaan kan verwoes.  Dan is dit juis die geleentheid om God raak te sien en te weet dat ons in Christus die sukses sal behaal omdat die Here by my is. 

Dors vir meer:

Lk 6:29-29

Gebed

Here bewaar my van die aanslae van die satan en die wêreld wat grom en my wil verslind. Dankie dat U vir my ʼn veilige vesting is. Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 13 Oktober 2021 – ʼn Man na God se hart….. (2/6) – Skrifgedeelte: 1 Sam 17:31-47  

   Skrifgedeelte:
1 Sam 17:31-47                       

Teks wat tref: v 45

1 Sam 17:45 – “……. maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige.”

Met die volgende aantal oordenkings ontmoet ons Dawid as die man na God se hart. Ons leer sy hart in uiterste omstandighede ken. Soms gebruik hy die swaard en ander kere die pen. Met konstante oorlogvoering was Dawid besig om die Israeliete te verdedig. Ander kere word ons meegevoer deur sy gedigte vol van die mooiste poësie wat ooit geskryf is.

Pas nadat Samuel vir Dawid as koning gesalf het, volg sy eerste openbare optrede. Van skaapwagter na vegter.  Vol bravade moedig hy vir Saul aan om nie moedeloos te word nie.  Moontlik was hy voortvarend en heldhaftig. Maar as skaapwagter het die Here hom reeds voorberei om talle gevare te trotseer.  Hy bely dat die Here hom al uit die kloue van die beer en leeu gered het. Soms wonder ek waarom ek myself in sekere omstandighede bevind.  Dawid sou nooit kon dink dat hy koning sou word nie maar is in deur die leerskool van skaapwagter voorberei vir ʼn veel groter taak.  Gebruik daarom die situasie waarin jy jou bevind ten volle en gryp elke geleentheid aan om jou te bekwaam. 

Dawid se bravade is nie vanuit homself nie, maar veel eerder ʼn nederige gehoorsaamheid waarin hy die eer van die Here alleen soek.  Hy wys die wapenrusting van Saul van die hand want hy was nie daaraan gewoond nie.  Hiermee stel hy ook sy vertroue in die Here.  Hy het ‘n lewende verhouding met God gehad. Hy het God in alles geken. Sy harnas was sy vertroue in die Here.  Hy is so seker dat God hom weer sal red dat hy as’t ware die Here se Naam op die spel plaas.  Hy is die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel.  Dit beteken dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy vir die Israeliete die oorwinning skenk.

Ons is daagliks in ʼn stryd teen ʼn oormag vyande gewikkel. Goliat het smalend en neerhalend na God en Dawid verwys.  Die wêreld minag God vandag steeds al hoe meer. Ons natuurlike reaksie is om instinktief te reageer en op ons eie krag staat te maak.  Ons omring ons ook spreekwoordelik met mensgemaakte uitrustings en skuil agter ons eie harnas en bronshelms.

Vir die man na God se hart was dit genoeg om op die Here te vertrou.  Vir ons het Christus elke struikelblok oorwin. Pak daarom elke teleurstelling, vrees en wanhoop met die geloofsoortuiging aan dat die Here die oorwinning sal skenk. 

Dors vir meer
Jes 41:13-20

Gebed
Here, dankie vir die talle kere dat U my bewaar het. Leer my om my mensgemaakte harnas en bronshelm te verwyder en my met U Heilige Gees te beklee. Amen

Petrus van Blerk
Sel: 0824560235                 

Dagstuk 11 Oktober 2021 – ʼn Man na God se hart….. (1/6) – Skrifgedeelte: 1 Sam 13:14 en 1 Sam 16:1-13 

Skrifgedeelte: 1 Sam 13:14 en 1 Sam 16:1-13      Teks wat tref:  1 Sam 13:14

1 Sam 13:14 – “……… die Here sal vir Hom ʼn man na sy hart soek”

Dawid ontvang die voorreg om ʼn man na God se hart te wees in tye waar die meerderheid van die volk van die Here af wegdraai. Onder die seuns van Isai sien die Here iemand wat Hy koning kan maak.(1 Sam 13:14)   Meteens verander Dawid se omstandighede radikaal.  Terwyl Samuel gedink het dat die Here vir Eliab as koning sou salf vanweë sy buitengewone lengte en voorkoms en hy daarna boonop nog sewe van Isai se ander seuns voor oë kry, versoek hy dat Isai die jongste seun laat haal.  Teenoor die broers wat vername werk verrig en aansien gehad het, word bloot net vertel dat Dawid skape oppas.

Hy beveel Isai om vir Dawid van die veld te laat haal en merk eers toe op dat Dawid ʼn rooi gelaatskleur gehad het, mooi oë en ʼn goeie voorkoms. Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hy.”  Die Here het reeds in 1 Sam 13:14 geweet wie Hy as regeerder oor sy volk wil aanstel. So is God besig om sy Plan uit te voer en gebruik Hy mense daarvoor.  Dit is deur God beskik dat Dawid koning sou word.  Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike. 

Die posisie wat ek beklee en die omstandighede waarin ek my bevind, is nooit deur my eie toedoen of eie voortreflikhede nie, maar net alleen op grond van God  se genade en liefde.  Die Here beskik oor alles.  Hy kies wie Hy waar wil gebruik en Hy rus elkeen toe met die nodige gawes om alles volgens sy wil te laat verloop.  Hiervoor het die Here sy Gees gestuur om van dié dag dat Dawid gesalf is, kragtig in hom te werk. 

Dawid onderskei homself as digter van meer as sewentig Psalms, as veldwagter, dapper vegter en behaal groot suksesse as koning van die Here se volk.  Maar as mens het Dawid ook tekortkominge gehad en dikwels swak en verkeerde besluite geneem.  Hy stel sy eie belange voor die van God.  Tog lei die Here hom dan telkens om berou te toon en na Hom terug  te draai.  Al was Dawid ʼn man na God se hart, het hy ook soms verdwaal.  Maar elke keer het die Here hom kom haal.  Aan die kruis het Christus vir ons tekortkominge betaal. 

Met die volgende aantal oordenkings wil ons uit die Psalms leer hoe die man na God se hart, ons lewens en omstandighede aanspreek.

Dors vir meer:

Lk 18:15-17

Gebed

Here, dankie dat U my in U diens gebruik ten spyte van al my tekortkominge. Dankie dat Jesus Christus my van die dood en ondergang gered het. Dankie dat U my kies. Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 8 Oktober 2021 – Die sewe seënbedes in Openbaring (6&7). Geseënd is elkeen wat die profesie gehoorsaam en hulle klere was! – Skriflesing: Openbaring 22:6-21.

Skriflesing: Openbaring 22:6-21.
Vers wat tref: 7 & 14
7Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem.”
14“Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan.

Die laaste twee seënbedes kry ons in die heel laaste hoofstuk van Openbaring. Telkemale word die herinnering gegee dat Jesus Christus gou kom!
Wat moet ons as gelowiges se reaksie hierop wees? Moet ons soos van die mense in Tessalonika nou net agteroor sit en die tyd verby wens? Nee, ons moet nou juis te meer vashou aan die woord van die Here. Net soos die eerste seënbede moet ons die woord van Here, hoor, bewaar en dit uitleef!
Christus het in Markus 13:7 aan sy dissipels genoem dat oorloë en gerigte van oorloë nie hulle moet verskrik nie.
Laat ons daarom met volhardende oorgawe hierdie profesie van Christus se koms onthou, gehoorsaam en uitleef. Christus se koms is vir ons ʼn werklikheid en ʼn troos groter as enige omstandighede om ons.
Die laaste seëngebed sluit aan by Openbaring 7:14. Hier is wys dit weer baie mooi uit dat ons net deur die bloed van die Lam skoongewas word en as gelowiges die verlossing deur die Heilige Gees aangryp.
Slegs deur die kruisdood en opstanding van die Lam kry ons nou die reg (volmag) binne te kan gaan en van die boom van die lewe eet. Met ander woorde, God gee ons die reg om die ewige lewe te ontvang. Die dwaalleraars, die bedrieërs, onsedelikes, moordenaars, afgodsdienaars, leuenaars moet buite staan en het nie die reg ontvang om in te gaan nie.

Hou aan om uit te roep: Kom Here Jesus, kom gou!

Gebed
Ons hemelse Vader! Dankie dat ons waarlik geseënd is deur deel te hê aan die verlossing van Jesus Christus. Lei en bewaar ons asseblief deur U Heilige Gees sodat ons gereed kan wees vir die koms van Jesus Christus.
Amen.

Dors vir meer:
2 Petrus 3

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 6 Oktober 2021 – Die sewe seënbedes in Openbaring (5). Geseënd is die wat aan die eerste opstanding deel het! – Skriflesing: Openbaring 20:1-6.

Skriflesing: Openbaring 20:1-6.
Vers wat tref: 6. Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer.

Wat gebeur met jou as jy sterf? In hierdie gedeelte word daar vir ons duidelik uitgewys dat die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het ʼn ereplek ontvang in die hemel. Hier word dit die eerste opstanding genoem. Reeds in siel by die Here, want ons is in Christus verlos- die verlossing word nie eers eendag sigbaar met die finale oordeel- die tweede dood nie. Ons is reeds nou oorwinnaars.
Jy gaan ook nie niks doen terwyl jy in die hemel is nie. Die gelowiges dien die Here dag en nag (Openbaring 7:15-17). Priesters in volmaakte aanbidding, wat ons nie nou al regkry nie. Verder ook konings wat saam met Jesus Christus regeer! Totdat die eindtyd aanbreek waar almal opgewek word en ʼn verheerlikte liggaam kry- die tweede opstanding. Vir die ongelowiges is dit dan die tweede dood- die ewige dood.
Geseënd is die wat deel het aan die eerste opstanding!

Gebed
Here ons God en enigste Here! Dankie dat U ons geseënd is omdat ons deel in die opstanding slegs ter wille van Jesus Christus se verdienste. Lei ons om vas te hou aan U woord en mag ons reeds nou U priesterlik aanbid.
Amen.

Dors vir meer:
Filippense 1:12-26

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 4 Oktober 2021 – Die sewe seënbedes in Openbaring (4). Geseënd is hulle wat na die bruilofsfees van die Lam uitgenooi is! – Skriflesing: Openbaring 19:1-10.

Skriflesing: Openbaring 19:1-10.
Vers wat tref: 15. Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.”

ʼn Troue is ʼn heerlike feesgeleentheid! ʼn Geleentheid wat is ons graag wil bywoon, soveel te meer as jy die bruid! By die bruilofsmaal van die Lam gaan ons tergelyk bruid en uitgenooidegaste wees.
Die volgende seënbede word gegee deur ʼn hemelse stem wat Johannes direk die opdrag gee om te skryf: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.
Dit volg op die heerlike lofprysing en uitroepe van Halleluja! God heers as Koning! Die bruilof van die Lam het aangebreek! Ook hier is dit God wat die bruid se fyn klere vergun het. Dit is God wat ons in staat stel om regverdige dade te doen, kleed ons met fyn, helder, blink klere!

Hierdie beeld van die huwelik is veel inniger en heerliker as enige aardse huwelik- dit dui op God se groot liefde vir ons deur Jesus Christus. Die bruilofsmaal is ʼn hoogtepunt waarna ons kan uitsien, want dit is die vervulling van die ewige lewe saam met die Here!

Leef ons met die verwagting van die bruilofsmaal? Besef ons die wonderlike voorreg dat ons uitgenooides is tot hierdie huweliksfees?
Ons is waarlik geseëndes! Daarom leef ons nou reeds met die oorwinnaarskleed wat die Here vir ons gegee het sodat die wêreld kan sien- ons is op pad na die heerlike bruilofsmaal van die Lam!

Gebed
Here ons Here! Halleluja! Dankie dat ons werklike vreugde kan ervaar omdat U ons verlos en laat deel in die heerlike bruilofsmaal van die Lam! Help ons om in dankbaarheid regverdige dade te doen!
Amen.

Dors vir meer:
Efesiërs 5:21-33.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 1 Oktober 2021 – Die sewe seënbedes in Openbaring (3). Geseënd is die wat wakker bly! – Skriflesing: Openbaring 16.

Skriflesing: Openbaring 16.
Vers wat tref: 15. “Kyk, Ek kom onverwags soos ‘n dief. Geseënd is die een wat wakker bly en sy klere reghou, sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy skande sien nie.”

In Openbaring 16 kry ons die beeld van die sewe bakke, wat gevul is met die toorn van God, oor die aarde uitgegooi word. Hierdie oordele het baie ooreenkomste met die 10 plae van Egipte. Die 6de bak wat uitgegooi word klink op sigself nie soos ʼn oordeel nie, maar kry alles reg vir die finale oordeel van die Here oor die goddelose en die bose. Al lyk dit of die wêreld beplan en die oorhand kry, is als nog steeds besig om te verloop soos wat die Here bepaal.
Toe die 6de engel sy bak uitgooi, is ʼn pad gereedgemaak sodat die konings van die aarde saam kan kom. Hulle word saamgebring deur die demoniese geeste wat vanaf die bek van die dier, draak en vals profeet soos paddas uitgaan. Hulle bring die konings saam vir die veldslag van Armageddon- die simboliese plek waar die bose magte verslaan word.
Dan volg die “tussenwerpsel”: Geseënd is die een wat wakker bly en sy klere gereedhou.
As gelowiges moet ons wakker loop tussen die strome en stemme van die bose wêreld. Daar is nie nou tyd vir terug sit nie maar ʼn oproep tot paraatheid. Christus self herinner ons in Matteus 24:43 dat ons moet waghou omdat die tyd enige oomblik kan aanbreek.
Hierdie beeld sluit dan aan met die beeld van ʼn soldaat wat sy toerusting langs hom plaas as hy gaan slaap. Wanneer die vyand kom, is hy gereed om op te spring en die regte toerusting aan te trek.

Verwag ons nog aktief die koms van Christus?
Bly geestelik wakker en wees gereed vir die koms van Christus!

Gebed
Here ons hemelse Vader! Help ons om geestelik gereed en wakker te wees vir die koms van Jesus Christus.
Amen.

Dors vir meer:
1 Tess 5:2-4 en 2 Petrus 3:10

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 29 September 2021 – Die sewe seënbedes in Openbaring (2). Geseënd is die wat in die Here sterwe! – Skriflesing: Openbaring 14:6-20.

Skriflesing: Openbaring 14:6-20.
Vers wat tref: 13. Toe het ek ‘n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.”
“Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle.”

Die volgende seënbede kry ons eers heelwat later in Openbaring. Dit volg op die oordeeluitsprake wat met Babilon en die aanbidders van die dier sal gebeur. Oordeelstyd is oestyd soos wat dit met die twee beelde van die graan- en druiwe-oes uitgebeeld word.
Gelowiges hoef nie die oordeel van God te vrees nie. Nie oor ons eie optrede of omdat ons beter as ander is nie, maar omdat ons losgekoop is as eerstelinge vir God en vir die Lam (Openb. 14:4).
Die gelowiges wat tans moeilike omstandighede en vervolging beleef word bemoedig om te volhard in die geloof, al kos dit ook hulle lewe!
Wie is die gelowiges? Hulle wat in volharding die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo. Die klem val hier op die volharding. Volharding is om ʼn volle geloofsafwagting te hê op God terwyl ons teenstand bied teen die Bose en sonde.

Dan kom die seënbede vir die wat in die Here sterwe- die martelare wat hul dissipelskap enduit uitgeleef het- tot die dood toe.
Om in die Here te sterwe dui daarop dat ons saam met Jesus Christus aan die kruis gesterf het. Dit dui ook daarop dat jy enduit in die geloof getrou gebly het in Jesus Christus.
Waarlik is elkeen geseënd wat in Jesus Christus sterf.
Die Gees bevestig hierdie seëning en herinner dat die martelare sal rus van hulle geswoeg (arbeid) terwyl die ongelowige geen rus gaan hê nie (14:11). Al hulle volharding volg hulle want vir God is alles sigbaar- God weet wat elke gelowige ter wille van Hom gedoen het.

Elkeen van ons word vanoggend weer opgeroep om te volhard in die geloof- mag ons nie terugdeins om selfs martelare vir Christus te wees nie.
Mag ons weer besef die groot seëning wat ons het, dat ons in Christus kan sterwe!

Gebed
Here ons Vader. Gee ons die geloof om te kan volhard in tye van vervolging. Dankie dat U vir ons die ewige rus gee in Jesus Christus. Versterk ons deur U Gees en lei ons om die evangelie getrou uit te leef!
Amen.

Dors vir meer:
Romeine 6:1-11.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 27 September 2021 – Die sewe seënbedes in Openbaring (1). – Skriflesing: Openbaring 1:1-8.

Skriflesing: Openbaring 1:1-8.
Vers wat tref: 3. Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.

Hierdie week kyk ons na die eerste drie seënbedes of saligsprekinge in die boek Openbaring. Dit is nie toeval dat Openbaring sewe seënbedes bevat nie. Ons kry onder ander die sewe gemeentes, Geeste, seëls, trompette, bakke, horings ens.
Ons sien die getal sewe speel ʼn belangrike rol om volledigheid en perfektheid aan te dui. (Die getal sewe kom moontlik vanaf 3 en 4 wat saamgevoeg word. 3 dui op God drie enig en 4 na die skepping of vier windrigtings wat saam 7 maak).

Die eerste seënbede kry ons in Openbaring 1:3. In die proloog word vir ons aangedui dat dit wat volg ʼn openbaring is van Jesus Christus sodat die diensknegte(gelowiges) sal weet wat binnekort moet gebeur. Hierdie openbaring is aan Johannes gegee deur ʼn engel wat gestuur is. Interessant verwys Johannes ook na homself as ʼn slaaf van Jesus. Johannes getuig van die woord van God (die uitdrukking woord van God kom ook net 7 keer voor in Openbaring) soos dit aan hom bekendgemaak is.
Geseënd is die wat die profesie lees, hoor en leef- want die einde is naby.
In die eersteplek verwys die seënbede na die persoon wat hierdie boek voorlees sodat ander dit kan hoor. In die vroeër kerk kon nie almal lees nie en is daar met die samekomste van gelowiges voorlesings gedoen, net soos wat dit die gebruik in die sinagoges was.
Elkeen wat hierdie profesie hoor is ook geseënd. Meer nog, die woord van God moet ons nie net hoor nie, ons moet daaraan vashou, ons moet dit uitleef.
Dringend word ons opgeroep deur die seënbede om te luister en te doen. Die klem val hier oor die gehoorsaamheid en nakom van God se opdragte.
Ons moet dit indringend uitleef van die eindtyd is naby. Die nabyheid van Christus se wederkoms roep ons op om met verantwoordelikheid voor die aangesig van God te leef. Die klem val nie net op die finale oordeel nie, maar ook hoe ons nou leef as dienaars van Jesus Christus.

Geseënd is jy as jy die woord van God lees, hoor, daaraan vashou en doen!

Gebed
Dankie Here dat ons U kan ken deur U woord. Dankie dat ons die getuienis ontvang het van Jesus Christus se verlossing en oorwinning. Lei ons om U woord te verstaan en dit uit te leef deur die krag van U Heilige Gees.
Amen.

Dors vir meer:
Lukas 11:27-28.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

« Older posts Newer posts »