Skriflesing: Openbaring 19:1-10.
Vers wat tref: 15. Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.”

ʼn Troue is ʼn heerlike feesgeleentheid! ʼn Geleentheid wat is ons graag wil bywoon, soveel te meer as jy die bruid! By die bruilofsmaal van die Lam gaan ons tergelyk bruid en uitgenooidegaste wees.
Die volgende seënbede word gegee deur ʼn hemelse stem wat Johannes direk die opdrag gee om te skryf: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.
Dit volg op die heerlike lofprysing en uitroepe van Halleluja! God heers as Koning! Die bruilof van die Lam het aangebreek! Ook hier is dit God wat die bruid se fyn klere vergun het. Dit is God wat ons in staat stel om regverdige dade te doen, kleed ons met fyn, helder, blink klere!

Hierdie beeld van die huwelik is veel inniger en heerliker as enige aardse huwelik- dit dui op God se groot liefde vir ons deur Jesus Christus. Die bruilofsmaal is ʼn hoogtepunt waarna ons kan uitsien, want dit is die vervulling van die ewige lewe saam met die Here!

Leef ons met die verwagting van die bruilofsmaal? Besef ons die wonderlike voorreg dat ons uitgenooides is tot hierdie huweliksfees?
Ons is waarlik geseëndes! Daarom leef ons nou reeds met die oorwinnaarskleed wat die Here vir ons gegee het sodat die wêreld kan sien- ons is op pad na die heerlike bruilofsmaal van die Lam!

Gebed
Here ons Here! Halleluja! Dankie dat ons werklike vreugde kan ervaar omdat U ons verlos en laat deel in die heerlike bruilofsmaal van die Lam! Help ons om in dankbaarheid regverdige dade te doen!
Amen.

Dors vir meer:
Efesiërs 5:21-33.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei