1 Petrus 5:1-4
Teks wat tref: 1 Petrus 5:2.
“Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid;.”
Hoeveel keer kry ons nie die beeld van die herder in die Ou en Nuwe Testament nie? In hierdie teksgedeelte word vir ons uitgewys dat Christus Jesus die Opperherder is oor die gemeente en ook oor jou lewe! So pas die Here sy skape op deurdat Hy sy Heilige Gees vir ons gegee het en gawes vir die gemeente gee.
Vanoggend leer die Here ons eers hoe die herders na die kudde moet kyk en dan kyk ons DV môre hoe die skape ook na die herders moet luister.
Petrus beskryf die taak van die ouderling baie eenvoudig. Pas as herders die kudde van die Here goed op. Die gemeente is die kudde van die Here is, dit is sy eiendom. Rietvallei is nie die gemeente van die kerkraad van Rietvallei nie, dit is die gemeente van Jesus Christus. Petrus gee glad nie ʼn opdrag hoe die strukture moet wees nie, maar die gesindheid waarmee die roeping uitgeleef moet word. 3 dinge word gestel oor wat ʼn dienaar nie moet doen nie en 3 wat ʼn dienaar moet doen.
Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ‘n voorbeeld vir die kudde te wees.
So is hierdie boodskap spesifiek aan die ouderlinge gerig, maar so moet die gesindheid wees by alle gelowiges. Ons almal staan in God se diens. Dit sluit aan by 2 Timoteus 2:15. Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ‘n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ‘n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig.
Doen dit tot en met die wederkoms van die Opperherder wat die heerlikheid as oorwinnaarskroon gee, ʼn kroon wat nooit sal vergaan of iemand ooit kan wegvat nie!
Dors vir meer:
2 Timoteus 2:14-26 en Titus 1.
Gebed
Psalm 23.
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.
Hy laat my rus in groen weivelde.
Hy bring my by waters waar daar vrede is.
Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my op die regte paaie
tot die eer van sy Naam.
Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
sal ek nie bang wees nie,
want U is by my.
In u hande is ek veilig.
U laat my by ‘n feesmaal aansit,
terwyl my teëstanders moet toekyk.
U ontvang my soos ‘n eregas,
ek word oorlaai met hartlikheid.
U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly
en ek sal tuis wees in die huis van die Here
tot in lengte van dae.
Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.