Category: Uncategorized (Page 19 of 33)

Dagstuk 08 Oktober 2020 – Dubbele standaarde

Skrifgedeelte: Mt 5:33-37                         Teks wat tref: v37

Telkens wanneer Jesus na die ou tyd verwys raak Hy ʼn ander aspek van ons bestaan aan.  Omdat die mens in ʼn verhouding met God en hul naaste lewe gaan Christus voort om met die bergpredikasie te verduidelik wat dit behels om die Tien Gebooie te gehoorsaam.  Veral in die lig van die groteske korrupsie en valsheid waaraan inwoners van Suid-Afrika tans blootgestel word,  is hierdie opdrag relevant.

Eerlikheid begin by God.  Wanneer ek vals optree en die reg verdraai is die Naam van die Here ter sprake.  Daarom gee Jesus die duidelike opdrag om die Naam van sy Vader te beskerm. Met die opdrag dat jy nie jou eed mag verbreek nie, word die gewigtigheid van my optrede beklemtoon. Ons hoor dikwels dat mense sou sê dat dit “nie so erg is nie” en dat ʼn wit leuentjie niemand tog enige skade kan doen nie.  Die woordjie verbreek wys hier op vernietigende en permanente skade wat my optrede tot gevolg het. Enige vorm van valsheid word veroordeel omdat dit mense se lewe en rustige bestaan verskeur en benadeel.  

Die gebruik om ʼn eed af te lê het destyds ook verseker dat die saak ter sprake gewigtig was en dat jy bereid is om iets op die spel te plaas in ruil vir jou woord.  Konings het ʼn eed afgelê om die vyand te verdelg sodat die landsburgers veilig kan wees.  Uit dankbaarheid het mense soms ook ʼn eed afgelê na die genesing van ʼn familielid of die bewaring na ‘n ramp. Dit het beteken dat jy iets op die spel plaas of in ruil gee.  Daarom het die volk die hemel of die altaar of die aarde of die naam van iemand as waarborg aangebied.

ʼn Eed is ook afgelê om die waarheid te beskerm en dit kon beteken dat jy so seker is dat jy jou kop op die spel plaas.  Jesus dui dan aan dat die mens nooit enige waarborg vanuit homself kan aanbied nie.  Dit word begrond in die feit dat net God Almagtig is.  God bepaal die lot van elke mens.  God het die mens geskape en net Hy bepaal hoe ons lewens verloop.  Naas die geweldige grootheid van God se skepping wat hemel en aarde insluit, word selfs die kleur van my hare deur God bepaal.  Ook in die geringste is God by my  lewe betrokke.  Veel meer dan ook by die groter dinge en elke besluit ook. 

Jesus se praktiese en eenvoudige raad dat jou ja jou ja en jou nee jou nee moet wees verseker dat ek reg optree.  Daar word vandag van ons vereis om ʼn eed af te lê wanneer regsake ter sprake is of om  ʼn beëdigde verklaring te doen met sekere sake transaksies. God verwag altyd eerlikheid omdat ek as sy kind verantwoordelik is dat reg en geregtigheid altyd seëvier. 

Dors vir meer:

Gen 32:1-16  Teks: v13

Gebed

Here, bewaar my om getrou te wees en met eerbied vir U groot en heilige Naam op te tree.   Bewaar my van elke vorm van valsheid en onreg. Bestendig ons land, regering en al die inwoners sodat ons vrede mag beleef. .  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 07 Oktober 2020 – Christus verander die seer van begeer

Skrifgedeelte: Mt 5: 27-32                       Teks wat tref: v30

Na Jesus se waarskuwing aan die einde van Mt 5:26 dat daar aan geregtigheid voldoen moet word, gee Hy ʼn verdere toepassing oor wat dit beteken om aan die Wet te voldoen. Die Fariseërs het talle reëls en regulasies rakende egbreuk ingestel. Jesus leer dat gehoorsaamheid reeds in ons hart begin. Dit beteken dat Hy ons hele lewe in ʼn verhouding met Hom stel soos Paulus in 2 Kor 3:6 skryf: “ons is bedienaars van ʼn nuwe verbond, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.”

Christus het ons gesindheid verander en gee die beginsels waarbinne ons moet leef. Die drastiese optrede om jou oog uit te haal en jou hand af te kap as dit jou laat struikel is belangrik sodat jou hele liggaam nie in die hel beland nie. Jesus hou rekening met die mens se sondige aard. Omdat Hy die mens se hart ken, weet Hy wat die gevolge van die sonde is.  Dit raak ons hele lewe. In die vorige verse het Hy opdragte gegee sodat ons versoenend en in liefde kan optree. Nou hoor ons wat dit beteken om kuis te lewe.  Dit begin met die ingesteldheid van jou hart. 

Met Jesus se opdrag leer Hy ons ook om te verstaan dat Hy ons van sonde red en verlos. Deur bewus te wees van ons sondige aard word ons Here se genade sigbaar. Met elkeen van die Tien Gebooie word ons van ons sondige bestaan bewus. Ons stry daarteen met die afkap en weggooi van die ledemate wat ons laat struikel, maar Christus het die finale oorwinning geskenk sodat sy kinders nie verlore sal gaan nie. 

In dieselfde lig moet ons dan nou ook egskeiding en elke ander oortreding van die sewende gebod om nie egbreuk te pleeg nie  beoordeel en verstaan.  Die gebrokenheid van die mens het ʼn impak op elke lewensterrein. Dit is Christus wat die sonde weg geneem het sodat ons in ʼn verhouding met God kan staan.  Terwyl ons hierdie geweldige liefde nie kan verstaan nie, mag ons daarom nooit ander veroordeel nie, maar eerder biddend saam met mekaar worstel.

As ons Mt 6:31 saam met Mt 19 lees waar Jesus onderrig gee oor egskeiding, word dit duidelik dat die Fariseërs Jesus wou toets. Dan wys Hy vir hulle wat God se bedoeling is en veroordeel Hy die hardheid van hulle harte. 

In elke situasie waarin ek my mag bevind, en in die hantering van die opdrag om kuis te lewe en God te gehoorsaam, besef ons maar net weer ons gebrokenheid. Dit is alleen net God se liefde en Christus se genade wat ons met die inwoning van die Heilige Gees dra. 

Dors vir meer:

Mt 19:1-12

Gebed

Here, dankie dat U my hart ken en my bewaar. Dankie dat U liefde my dra. Lei ons deur U Gees om gehoorsaam te wees. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 06 Oktober 2020 – Gaan maak vrede

Skrifgedeelte: Mt 5:21-26                         Teks wat tref: v23,24

Nadat Jesus in die vorige verse die valsheid van die skrifgeleerdes en die Fariseërs veroordeel het, leer Hy die erfgename van God se koninkryk verder oor optrede wat by hul pas. Dit alles begin by die geseëndes wat anders leef en doen.  Hulle ken die Tien Gebooie: “ Jy mag nie doodslaan nie.” Sulke optrede het gevolge.  Dit laat jou voor die regbank kom. Onmiddellik lees ons verder.  Die gedeelte is nie van toepassing op  my nie! Immers, ek pleeg nie moord nie. 

Elkeen wat vir sy broer kwaad is en elkeen wat sy broer uitskel vir ʼn gek of idioot is strafbaar met die helse vuur.  Dit is ʼn harde veroordeling.. Met die woorde – “Maar Ek sê vir julle” het Jesus dadelik sy gesag aangetoon. Elke uitspraak na hierdie woorde is gewigtig. 

Om vir iemand te sê dat hy of sy nie so onnosel moet wees nie, of wat sommer op enige manier snedig en verkleinerend op tree, is net so skuldig as iemand wat moord pleeg.  Jesus waarsku hier teen ons eiegeregtigheid. Elke mens is deur God geskape en as ek my naaste uitskel vir ʼn gek of hom ʼn idioot noem, ontken ek dat God die mens na sy beeld geskape het.  As gevolg van die sonde gebeur dit dat ek soms gefrustreerd is met my naaste se optrede.  As iemand nie volgens my standaarde funksioneer sal ek maklik en soms onnadenkend snedige opmerkings maak.  Met sulke optrede beledig jy God indirek.  Wees versigtig met jou woorde en uitsprake. 

Na Jesus se waarskuwing en opdrag leer Hy ons wat die regte optrede moet wees: “Gaan maak eers vrede met jou broer.”  Met hierdie beginsel sluit Jesus nie net my woorde in nie, en geld dit vir alles wat ek doen. As ek “iets” teen my naaste het dui dit ook op gedagtes, woorde, dade en begeertes. Jesus se waarskuwing vereis positiewe optrede. As jy fouteer het, gaan maak reg.  Jesus waarsku ons ook om nie soos die skrifgeleerdes en Fariseërs op te tree nie.  Moenie skynheilig wees nie. Dit is maklik om voor te gee dat jy vroom lewe, maar God weet alles.

Die gebruik om offers na die altaar te bring, was deel van die volk se aanbidding.  Nou leer Jesus ons om nie dubbele standaarde te stel nie.  Wat jy tuis doen en wat jy in die openbaar by die altaar doen, moet altyd wys dat jy aan Hom gehoorsaam is.  As jy gaan vrede maak is daar harmonie in jou verhouding met God. As mense mekaar minder as dwase uitkryt, en minder snedige opmerkings maak en minder met woorde, dade en gedagtes moord pleeg, ontstaan daar vrede. Met ʼn laaste opdrag leer Jesus ons om betyds tot ʼn skikking te kom as daar met ʼn regsaak begin word.  Dit beteken nie dat ek die goue middeweg moet probeer volg nie, maar dat ek veel eerder moet seker maak dat my optrede altyd volgens God se Woord gerig is. 

Met net een sagte antwoord en met net ʼn enkele positiewe opmerking kan ons die wêreld help verander. Wees vredemakers.

Met wie gaan jy vandag vrede maak?

Dors vir meer:

1 Jh 3:11-17

Gebed

Here, plaas vandag ʼn wag voor my mond sodat ek niemand met my woorde sal vermoor nie. Lei my deur die Heilige Gees om misverstande en onreg met my naaste uit die weg te ruim. Dankie dat Jesus Christus vrede vir ons gebring het.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 05 Oktober 2020 – Die laaste pylvak

Skrifgedeelte: Mt 5:17-20                         Teks wat tref: v19b

Na maande se Inperking bring die nuwe maatreëls in Vlak 1 ‘n heerlike uitkoms en tegelyk ook ander uitdagings.  Die lewenswedloop was vir baie soms ‘n hindernisbaan.  En ons is nou in die laaste pylvak van die jaar om al hierdie gebeure te hanteer.

Na Jesus se Bergrede in Mt 5:1-12 wat as een van die kragtigste preke in die ganse geskiedenis van die wêreld aangedui word, gaan Hy voort om mense te leer. In Mt 5:13-15 noem Hy God se kinders die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld.  Daarna kry ons opdragte vir ons lewe in die laaste pylvak.

Dit is opvallend dat Jesus nie nuwe reëls aankondig nie.  Dit beteken dat die speelveld van ons lewe steeds dieselfde is.  . Daar is wel ander faktore wat ons in ag moet neem.  ʼn Goeie rugbykaptein evalueer die speelveld deur die wind, son en spelpatroon van die ander span te verstaan. En dan neem hy besluite.  

Eerstens konfronteer Jesus ons met die harde feite. Ons word voorberei dat die stryd hard sal wees.  Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat daar een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.  As Jesus na die wet verwys bedoel Hy dat ons God se Plan daarin vind.  Die wet leer ons hoe om voor God en ons naaste te leef.

Dan volg daar ook ʼn belofte vir elkeen wat die reëls nakom. Hulle word hoog geag in die koninkryk van die hemel.  ʼn Span wat graag ʼn wedstryd wil wen moet hart en siel en ten volle toegewyd deelneem. Ons moet met oorgawe leef en ons getrouheid moet meer wees as blote deelname.  Destyds het die skrifgeleerdes en Fariseërs voorgegee dat hulle onaantasbaar is.  Wie getrou is kan seker wees van die oorwinning.  Die res sal nie in die koninkryk van die hemel ingaan nie. 

Om in die pylvak te leef en voluit deel te neem sal harde oefening en baie voorbereiding vra.  Atlete word aan ʼn proses van goeie kondisionering onderwerp om wedstrydfiks te wees.  Vanaf Mt 5:21 gaan Jesus wat alles van mense weet ons voorberei vir die stryd. 

Ons kan knoei en kul, maar die Here weet alles. Jesus leer ons weer van die reëls vir elke aspek van ons lewe – versoening, kuisheid, vergelding en liefde.

In die volgende dae lees ons verder in Mt 5. Ons word ook deur die Heilige Gees versterk en bemoedig om te volhard. 

Dors vir meer:

Eks 20:1-17

Gebed

Here, dankie dat U ons elke oomblik vashou en bewaar. Dankie dat ons nooit alleen is nie.  Leer ons om te volhard en stuur U Gees om ons daagliks te help met ons oefenprogram in die pylvak waar ons nou is.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk Vrydag 2 Oktober 2020 God is bo almal verhewe!

Psalm 47
Fokusvers. Psalm 47:10.

Hoe klink dit wanneer ʼn nuwe leier aangekondig word of wanneer ʼn oorwinning behaal is? Dink daaraan as die nuwe leiers by die skool aangekondig word of wanneer die Springbokspan die wêreldbeker gewen het. Daar is uitroepe van blydskap, ʼn groot gejuig van die skare en musiek word gespeel.
So word vir ons in Psalm 47 ‘n troonbestyging beskryf. Nie die van ‘n mens wat koning gemaak word nie, maar die Here wat Koning is. Die Groot Koning oor die hele aarde, die aarde en alles daarop behoort aan die Here. Die Here is Koning oor die hele aarde en al sy bewoners, ook oor die heidennasies. Maak nie saak hoe dinge op aarde lyk en wat mense se planne is nie, die Here regeer!

Verder is nie moeilik om te sien dat hierdie Psalm op Christus en sy hemelvaart wys nie. Christus het gekom om as mens onder ons te woon, maar Hy het die dood oorwin. Aan Hom is gegee alle mag, in die hemel en op aarde (Matteus 28:18). Hy het opgevaar en Hy is verhef en sit aan die regterhand van God waar Hy as Koning regeer. Verhewe is Hy!
Hy keer terug na die aarde as Koning, elkeen gaan voor Sy troon moet buig en dit bely.

In die wêreld sien ons hoe mense self wil koning wees oor hulle lewens. Die ongeluk van hierdie sondige heerskappy is dat die mens nie ’n koning is nie, maar ’n slaaf. ’n Slaaf van sy eie sondige begeertes want hy doen onwillekeurig wat sy sondige hart hom voorsê om te doen. Daarom is dit vir ons die allerbeste dat ons vrygemaak is van die duisternis, en nou lewe in die koninkryk van die Lig!

Wat is ons reaksie op die Koningskap van die Here? Ons enigste Verlosser en Saligmaker is Koning van die leërskare. Deur Christus regeer die Vader alle dinge.
Laat ons jubel en juig tot eer van God die grote Koning! Laat ons dit uitroep en getuig sodat die hele aarde ons blydskap kan hoor.

Dors vir meer:
Matteus 28:16-20 en Openbaring 19:11-21.

Gebed
Here die Allerhoogste. Ons wil jubel en juig want aan U kom al die eerbied toe. Ons wil U loof met psalms want U is Koning oor die hele aarde en hemel. Mag ons weer besef maar alles is aan U onderworpe.
Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Donderdag 1 Oktober 2020 Wysheid om te kan besef wie God is!

Psalm 111
Fokusvers. Ps 111:10 Wyshied begin met die dien van die Here, almal wat dit doen het ware insig. Die roem van die Here hou altyd stand.

Wat is wysheid? Wysheid het ’n baie wyer betekenis as om net dinge te weet en kennis oor baie sake te hê. Wysheid is meer as om ingeligte besluite te neem of om groot probleme op te los.
Wat bepaal jou lewe? Wat maak dat jy op ‘n sekere manier optree en oor dinge dink?
Jou geloof in God moet jou lewe bepaal. Jou ingesteldheid teenoor God bepaal ook jou kennis en wysheid in die lewe. Wie God nie vrees nie, mis die belangrikste punt van die lewe. Wie God nie vrees nie, eerbied en ontsag voor het nie, sal nie met wysheid optree nie.
Hulle sal wel vir hulle kennis vermeerder. Kennis van die wêreld, kennis wat hulle niks sal baat vir die lewe, die werklike lewe naamlik die ewige lewe nie.

Wysheid kry ons baie mooi in Jesus Christus. In Hom is die wysheid van God aan ons geopenbaar.
Kol 2:3 “in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.”
Jesus is vir ons die volle en duidelike openbaring van God. Hy het gekom om die wet en die profete te vervul. Die onduidelikheid rondom die Verlosser uit die weg te ruim. Hy verkondig en bring aan ons die waarheid, die regte verstaan en volle openbaring van wie God is. In Hom is die skatte van wysheid en kennis. Jy kan nie die ewige lewe ingaan sonder Hom nie. Deur Hom is alles vir ons moontlik gemaak om as kind van God ons geloof uit te leef.

Wysheid is daarom om deur die geloof in woord en daad die Here te vrees, die Here te eer en te lewe volgens die voorskrifte van die Here.
Dit kan ons slegs doen deur die Heilige Gees wat dit in ons harte wek, ons lei tot die regte besef wie die Here is en wat Hy nie als vir ons doen nie.
Om godsdienstig te lewe en om wysheid te besit is om God te ken, volkome op God te vertrou en om God te vrees.

Dors vir meer:
Spreuke 1:1-7 en Kolossense 2:1-5.

Gebed
Dankie Here dat U ons leer wat wysheid is. Dankie dat ons tot U kan bid wanneer ons ook wysheid kortkom en dit ontvang deur U Woord te bestudeer. Skenk ons vandag ook die wysheid om U te loof en eer!
Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Woensdag 30 September 2020 Verkondig en getuig van die grootheid van die Koning!

Psalm 145
Fokusvers. Psalm 145:5-6
Ek wil getuig van u magtige dade sodat die mense oor u wonderdade sal praat. Ek wil van U grootheid vertel.

Dawid is as koning oor die volk Israel aangewys en aangestel. Tog skryf Hy ‘n loflied aan sy Koning.
Die Here is ‘n Koning wie se koningskap ewig is, nie afhanklik is van ‘n erfgenaam om die koningskap oor geslagte heen te dra nie.
Hoe wonderlik is dit nie dat ons Here en God nie afsydig eenkant is nie, maar Koning is oor elke deel van ons lewe. Hy regeer en versorg ons elke dag, elke geslag sien Hy na om. Hy beskerm en lei ons in sy koninkryk in. Sy grootheid word bekend deur die magtige dade van die Here, dit wat Hy alles doen. Die groot dade oor hoe Hy tot redding vir die volk is (vir ons), maar ook die kleiner dade wat ons dalk as vanselfsprekend aanvaar: dat Hy vir ons sorg, ons bystaan in ons nood, ons hulp en raad gee.

Hoe getuig ons van die magtige dade van die Here? Verkondig ons dit so dat almal dit weet, almal dit hoor? Wanneer laas het jy vir iemand vertel oor hoe goed en barmhartig en vol liefde die Here is en hoe die Here dit in jou lewe werk?
Dit is maklik om sonder ophou die grootheid van die Here te verkondig. Deur die Gees word ons gelei en word ons oë oopgemaak om die grootheid van God raak te sien. Dan kan ons rondom ons kyk en raaksien hoe die Here as Koning in ons lewe regeer.
Dan besef ons ook wat sou ons lewe gewees het sonder ons Koning en Verlosser. Daarom kan ons nie anders as om die grootheid en krag en majesteit van die Here te besin nie en almal oproep om dieselfde te doen nie.
Laat ons opnuut besef en getuig van die grootheid van die Here ons Koning.
Almal wat die Here geskape het, alles wat leef moet die lof verkondig van die Here. Laat ons uitgaan en getuig aan al wat leef!

Net God is Koning en God is Groot!

Dors vir meer:
Johannes 18:28-40 en 2 Kronieke 6.

Gebed
Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Dinsdag 29 September 2020 “Losgekoop uit die mag van die dood deur Jesus Christus”

Lees: Psalm 49
Teksvers. Psalm 49:16
“Maar vir my sal God loskoop uit die mag van die dood; ek sal aan Hom behoort.”

As jy om jou kyk lyk dit of geld jou alles kan koop. Jy kan self persone omkoop as jy ʼn wet oortree het en so los kom van vervolging. Dit lyk of die wêreld aan persone met geld behoort en asof die wêreld rondom hulle draai. In Psalm 49 het ons ook gelees van persone wat met hulle groot rykdom en op hulle besittings vertrou. Hierdie rykdom beteken op die einde van die dag niks vir hulle nie. As jy doodgaan kan jy nie eers een sent saam met jou neem nie. Jy kan nie met jou geld een dag by koop sodat jy langer gaan lewe nie.

Moenie jou daaroor bekommer dat hooghartige mense rykdom het en dat dit met goeie mense sleg gaan en dat hulle arm is nie. Geld kan nie alles koop nie. Daar is een geskenk wat ʼn mens nooit kan koop met al die geld in die hele wêreld nie, naamlik die losprys vir jou siel. Jy kan hierdie losprys nie self betaal nie, ook nie ʼn ander skepsel of engel nie. Daarom is dit net die Here wat vir ons die losprys kon bring, maar dit self ook wees.

Die Here moes eers ware mens word om as mens die sondeskuld van die hele mensdom te betaal. Deurdat Jesus Christus na die aarde gekom het en werklik mens geword het, kon Hy aan die kruis die volle straf van God gedra omdat Hy ware mens en ware God is. Daarom is daar nou vir ons die losprys betaal vir die ewige lewe.
Deur die geloof wat deur die Gees in ons bewerk is kry ons nou ook deel aan hierdie. Selfs al kom die dood, weet ek dat ek die grootste skat wat daar is, ontvang het, naamlik dat ek aan God behoort, deur Hom uitgekoop is en uit Hom lewe.

Verheug jou daarin dat die Here uit sy groot genade, liefde en ontferming ons nie net oorgegee het in die straf van die ewige dood nie. Nee, die Here het ons so lief dat Hy ons geweldige groot sondeskuld op Homself geneem het sodat daar ʼn losprys vir ons sondes betaal is. Lei jou ook deur sy Gees om nie te vergeet watter groot wonder die Here vir my en jou gedoen het nie. Gaan dan ook uit na ander wat nog nie weet dat hulle skuld betaal is nie en lei hulle ook na die Here Jesus Christus. Moenie hierdie blye nuus dit jou sondeskuld betaal is in Jesus Christus net vir jou self hou nie, maar vertel dit ook aan die persone by jou werk/skool en aan jou beste vriend.

Dors vir meer:
Heidelbergse Kategismus Sondag 5 en Galasiërs 3:13-29.

Gebed
Dankie Here dat U die wêreld so liefgehad het dat U Jesus Christus gegee het, sodat almal wat in Hom glo, die ewige lewe mag hê. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 28 September 2020 “Hoe mooi is dit om eengesind saam te woon.”

Lees: Psalm 133.
Teksvers Psalm 133:1-2.

Hierdie kort Psalm leer ons opnuut watter gesindheid moet ons uitleef in ons families en in die gemeente van die Here. Hier word ʼn beeld gegee van broers wat moet saambly en saamwerk op ʼn stuk erfgrond. Indien hul nie saamwerk nie, kan hul saam onder gaan.
Hierdie psalm wys na meer as net die harmonie in saambly as familie. Dit wys ook hoe goed is dit dat ons as broeders en susters van die Here Jesus Christus ook in vrede kan saamkom en die Here aanbid.
Eengesindheid en eenheid is een van die kenmerke wat die gemeente van die Here Jesus moet hê. Die Here gee verskillende gawes in die gemeente, maar om eensgesind te wees, beteken nie dat ons almal dieselfde is nie. Dit beteken dat ons dieselfde doel en fokus het, om in vrede en harmonie met mekaar saam te staan.
Leef jy nog eensgesind met jou familie? Is ons nog eensgesind teenoor mekaar in die gemeente van Jesus Christus? Die Inperking het gemaak dat ons nie altyd hierdie verhoudings kon versterk en uitbou nie, maar wanneer ons Een doel voor oë (en in ons hart en gedagtes het) bly ons eengesind, maak nie saak die omstandighede nie.

Wanneer gelowiges eensgesind is, word dit raakgesien. Net soos die reukolie waarmee Aaron ingesalf is, versprei hierdie lieflike geur na almal daar naby en rondom. Dit bring ook weer nuwe geloofsgroei soos wat die dou elke oggend op die Hebron berg val.

Laastens verseker Psalm 133 ons dat wanneer ons die geskenk van eensgesindheid wat Hy reeds gegee het, bewaar en dit laat groei en nie toelaat dat dit deur ons eiebelang en selfsug en selfregverdiging ondermyn word nie, skenk God sy seën op ons!

Laat ons vir mekaar en die wêreld wys hoe ons met vreugde en in harmonie saamwerk as broers en susters in die koninkryk van God. Die Here roep ons hiertoe en die Heilige Gees versterk ons sodat ons die vrug van die Gees kan uitleef.

Dors vir meer:
Filippense 1:27-2:4 en Romeine 15:1-5.

Gebed
Ons Vader ons dank u vir al die weldade waarin U on slaat deel. Ons bid om u seën in hierdie week, help dat ons eensgesind sal leef. Skenk ons U krag en leiding. Seën ons elkeen ook om ons roeping, waar ons hierdie week heengaan te kan uitleef. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Vrydag 25 September 2020 “Ek en my huis sal die Here dien!”

Lees: Skriflesing Josua 24:1-2 en 12-24.
Teksvers. Josua 24:15 en 21.

Die Here het vanuit sy verbondstrou en vanuit sy genade die beloofde land aan die volk gegee. Nou roep Josua die volk weer bymekaar. Hulle moet kies wie hulle dien, dit moenie net as vanselfsprekend geneem word dat hulle die Here dien nie. Hulle moet die bely.
Jy kan nie neutraal bly nie. Jy kan nie lou wees nie. Jy is of vir die Here of jy is teen die Here (afgode).

Josua stel aan die volk ʼn baie duidelike voorbeeld: ‘wat my en my familie betref, ons sal die Here dien’. Die keuse om God te dien, sê Josua vir die volk, het geweldige implikasies. Besef mooi wat jou implikasie is om vir God ja te sê. Besef jy nog wat is die implikasies van die Ja wat jy gesê het met jou belydenisaflegging?
Dien jy die Here in opregtheid en standvastigheid? Wie die Here dien, moet Hom nie alleen met sy hele lewe dien nie, maar ook net vir Hom dien. Want Hy is ʼn heilige God, Hy is ʼn jaloerse God. Vir die Here kan jy nooit voorgee of jy Hom dien nie. Daarom moet ons in alles wat ons doen, wys dat ons die Here dien.

Alleen kan ons nooit hierdie vereistes uitleef nie, maar Jesus Christus het ons kom verlos terwyl ons sondaars was. Die Here is by ons deur die Heilige Gees!
Dit beteken dat ons ʼn bekeringslewe moet leef, burgers van die koninkryk van die ewige lewe en nie die slawe van die sonde wat deel in die hel nie.
Sê dan vandag weer: “Ek en my huis, ons sal die Here dien!”

Dors vir meer:
Psalm 2 en 2 Kronieke 6

Gebed
Here, die skepper van die hemel en aarde!, daar is niemand nog soos U nie. Mag ons altyd U bely en hierin volhard. Mag U die God van alle genade self ons volmaak bevestig, volhard en versterk. Aan U die heerlikheid tot in ewigheid. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

« Older posts Newer posts »