Category: Uncategorized (Page 17 of 33)

Dagstuk 09 November 2020 – Gaan!

Skrifgedeelte: Mt 28:16-20 Teks wat tref: v19

Mt 28:19 – “Gaan dan na al die nasies toe………”

Ons heg gewoonlik baie waarde aan ‘n persoon se laaste woorde op aarde. Daar word dikwels na Matt 28:16-20 verwys as die “Groot Opdrag” van ons Here Jesus Christus en dan ‘n beroep gedoen dat ons iewers met sendingwerk moet begin. Nadat Jesus die skare in Mt 5-7 met die Bergpredikasie toegerus het, breek die tyd nou aan dat ons daadwerklik besig sal wees om dit alles toe te pas.

Jesus het kort tevore uit die dood opgestaan en wanneer Hy sy dissipels beveel om Hom weer by die berg te ontmoet, verwag die verslae dissipels weer iets groots. Hy was dood. Nou staan Hy in hulle midde. Jesus se verskyning laat hulle Hom dadelik aanbid. Sekerlik wou hulle Hom nooit weer laat gaan nie.

Jesus se woorde bring vir hulle sekerheid en troos: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde.” Om met so iemand bevriend te wees, kan beslis net goeie voordele en sukses beteken. Hulle sou nooit weer toelaat dat Hy ver van hulle moet wees nie.

En tog stuur Jesus hulle weg met sy eerste woorde: – “Gaan” – Maar ons lees in vers 18 dat Jesus eers nader aan sy dissipels gekom het. Daarmee openbaar Hy sy deernis vir en betrokkenheid by die mens in nood. Onthou, hulle was verslae en verlore oor sy dood. Jesus beklemtoon eers sy posisie. Hy het die dood oorwin. Hy beskik oor alle mag. . Hierdie waarheid motiveer ons verdere optrede. Ons kan mos nooit stil bly of stil staan oor hierdie heerlike boodskap nie. Ons kan nie anders as om te gaan nie. Dit is die wese van dissipelskap. Om dissipel te wees beteken nie net om Jesus te volg nie, maar om ook oral en altyd besig wees om te gaan. Dit is om met jou optrede die hart van die Evangelie te leef. Om Christus te dien en te volg is dinamies.

Die werkwoord “gaan” waarmee Jesus die dissipels uitstuur is nooit verlede tyd nie. Om die lewende Christus te dien is nie ‘n middelmatige saak nie. Soos ‘n avonturier elke keer ‘n nuwe uitdaging aanvaar en opgewonde voorberei en nie kan wag om hoër hoogtes te verken nie, moet ek bereid wees om te gaan!

Dit was nooit Jesus se bedoeling om in Matt 28 akademiese en teologiese gesprek oor doop en bekering te begin nie. Sy opdrag was eenvoudig net: – “gaan”. Die inhoud van die boodskap wat die dissipels moet gaan uitdra is die enigste rede vir die opdrag: – Jesus het alle mag! Jesus is elke dag by ons!

Hieroor durf niemand swyg nie. In die volgende paar dagstukkies gaan ons die Woord van God bestudeer sodat ek kan weet waarheen ek moet gaan.

Dors vir meer:
Ps 84

Gebed
Here, baie dankie dat U elke oomblik by ons is. Dankie dat U oor alles beskik en dat U ons bewaar. Stuur U Heilige Gees om vir ons te wys waarheen U my wil laat gaan. Amen

Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 6 November 2020 Die volk soek ʼn koning.

Skrifgedeelte: 1 Samuel 8
Teks wat tref: v7.

Samuel raak oud en kan nie meer die volk lei en rig nie. Hy stel sy seuns aan om hom te help, maar hulle gebruik dit as ʼn geleentheid vir korrupsie en om die regspraak te verdraai. Wat is die volk se reaksie? Hierdie rigter ding werk nie, ons soek ʼn koningshuis wat altyd oor ons regeer. Kyk maar net na al die ander volke om ons. Hulle het konings en dit werk goed vir hulle. As jy rigters het wat korrup is en nie die paaie van die Here volg nie, is ʼn goeie koning dan nie beter nie? Samuel is diep ongelukkig hieroor. Die Here is te nagekom. Die volk verwerp met hierdie wens God as Koning. Hulle het nie Samuel verwerp nie, maar het die Here as koning verwerp.
Tog gee die Here toe aan hulle versoek. Eers word hulle baie mooi gewaarsku oor die regte van ‘n koning. Hierdie regte klink nie so sleg as dit ‘n goeie koning is nie, maar wat van as dit ‘n slegte koning is?
Wees versigtig vir dat wat jy begeer en voor wens. Moenie na die wêreld om jou kyk en begeer dat dinge in jou lewe meer soos die wêreld moet wees nie. Vir ‘n tyd kan dit goed lyk, maar na ‘n ruk gaan jy die gevolge van jou optredes beleef. Die volk steur hul nie aan Samuel (en die Here se waarskuwings nie). Hulle soek nou ‘n koning.

Wie begeer jy as koning? Uit die koningshuis van Dawid, word Jesus Christus mens. Weereens nie die koning wat die volk voor gevra het nie, maar die Koning wat mag het oor hemel en aarde. Die Here is Koning -alleen- tot in ewigheid! Wie en wat beheer jou lewe en gedagtes?

Moenie jou geluk en uitkoms in die wêreld soek nie, maar soek alleers die koninkryk van God!

Dors vir meer:
Openbaring 4 en Johannes 18:28-40.

Gebed
Here, dankie dat U altyd regeer en die Koning van die konings is. Lei my om nie deel te word van hierdie wêreld nie, maar altyd U koninkryk te soek. Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631

Dagstuk 5 November 2020 Rig julle harte op die Here!

Skrifgedeelte: 1 Samuel 7
Teks wat tref: v3

Vir 20 jaar het Samuel as profeet en rigter opgetree in die land Israel nadat die Filistyne die ark van die Here teruggestuur het. In hierdie tyd het hy rondgegaan en die volk onderrig en opgeroep om terug te keer na die Here. OP die oog af sou dit lyk of dit nie baie gehelp het nie. Die volk het nie bekeer en hulle gewend na die Here nie. Die verdrukking van die Filistyne was nog steeds daar. Sameul bly getrou aan sy roeping en gee nie moed op nie. Na 20 jaar het sy woordverkondiging deur die seën van die Heilige Gees vrug begin dra. Die hele volk kom saam en vra wat moet hulle nou doen? Samuel wys hulle nie eerste op die seremonies en wette wat hul moet nakom nie, nee, bekering begin altyd eerste by die hart. Jy kan die seremonies nakom, maar jou hart is nog nie bekeer nie. Rig jou hele hart op die Here en dien Hom alleen. Daarom raak die volk ontslae van die afgodsbeelde- jy kan net die Here alleen dien. Dis nie om net van die beelde ontslae te raak nie, maar met jou hele hart die HEre te dien. Die volk kom toe saam by Mispa waar Samuel vir die volk intree in gebed. Die beeld van water wat uitgestort is, dui daarop dat die volk soos hierdie water is wat gestort is- hulle redding kan nie vanuit hulself kom nie. Openlik bely hulle, “Ons het teen die Here gesondig.”
Kom ons ondersoek weer onsself, leef ons met ons hele hart gerig op die Here? Anders as Samuel wat ʼn suiplam offer vir versoening, het Christus die Lam volkome ons sondes versoen. Ons het nie ʼn profeet wat vir ons intree nie, maar Jesus Christus self is ons Middelaar.
Wat keer ons dan om nie in volle oorgawe tot die Here te leef en te bid nie?

Soos Samuel kan ons aanhou met ons roeping, al voel dit of dit geen verskil maak nie. Ons trek die kleed van die sondige mens opnuut uit en beklee ons met die kleed van die nuwe mens.
Elke jaar het ons voornemens om hierdie jaar meer Bybelstudie te doen, meer te bid, meer tyd aan die Here te spandeer. Wat is ons verskoning om dit nie te doen nie? Is dit omdat ons te besig is? Het ons nie tyd nie? Met die Inperking is daar vir ons baie tyd gegee- was tyd die werklik die rede hoekom ons nie ons verhouding met die versterk nie?
Bekeer en rig jou hele hart op die Here en dien Hom alleen met volle oorgawe.

Dors vir meer:
Psalm 22 en Efesiërs 4:17-24.

Gebed
Here, dankie dat U my gebed verhoor. Ek bely ek het teen U gesondig. Dankie vir die volkome vergifnis wat U skenk deur Jesus Christus. Lei my deur U Heilige Gees om my hart en gedagtes nuut te maak en U alleen te aanbid. Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631

Dagstuk 4 November 2020 Ikabod!

Skrifgedeelte: 1 Samuel 4:12-22
Teks wat tref: v20

’n Seuntjie word gebore in die huis van die priester Pinehas. Geboorte is gewoonlik rede vir vreugde. Maar nie in Pinehas se huis nie. Die seuntjie se ma lê op sterwe as sy geboorte skenk. Sy pa is vroeër die dag op die slagveld dood. Sy oupa Eli, die hoëpriester, het op die selfde dag van sy stoel geval, sy nek gebreek en gesterf.
Hierdie seun word genoem Ikabod. Dit beteken: geen eer nie. Die ma het haar kind met rede so genoem: “Weggevoer is die eer uit Israel, omdat die ark van God geneem is.”

Israel het nie na die Here se bevele geluister of hom gedien of geëer nie. Hulle maak van die Here se ark ʼn afgod. Toe hulle deur die Filistyne verslaan is, is hulle plan om die verbondsark te gaan haal, want dan gaan die Here mos met ons wees. Die ark is maar net ʼn teken van die Here se teenwoordigheid, nie God self nie. Net so het die Filistyne nie die Here weggevoer toe hulle die ark weggeneem het nie- die Here is nog steeds oral teenwoordig.
Met Ikabod se naam word uitgebeeld dat die eer van die Here weggeneem is, maar die volk het nie die Here geëer nie. Gee ons aan God die eer wat Hom toekom? Leef ons elke dag gefokus op God se eer? Of is Hy ’n spaarwiel in ons lewe wat ons gaan haal wanneer dinge nie vir ons uitwerk nie?

Met Christus se geboorte sien ons ʼn heel ander prentjie. Hy word genoem Immanuel- God is met ons. Soos wat die engele dit uitgeroep het met Christus se geboorte: Ere aan God, moet ons dit ook uitleef- Ere aan God. Die eer van God is nie weggeneem met die kruisdood van Jesus Christus nie, sy eer is vir ons bekend gemaak dat die onskuldige sterf vir die skuldiges. Deur die geloof deel ons in hierdie wonderlike heerlikheid en weet God se eer kan nooit weggeneem word nie.

Dors vir meer:
2 Petrus 1:1-15 en Lukas 2:8-24

Gebed
Ere aan U o God in die hoogste! Dankie dat U vir ons vrede gegee het en dat U eer nooit weggeneem word nie, maar dat U, U liefde oorvloedig aan ons skenk. Aan U kom die eer en heerlikheid, tot in ewigheid. Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631

Dagstuk 3 November 2020. Die Here roep vir Samuel.

Skrifgedeelte: 1 Samuel 3
Teks wat tref: v10

Hierdie gedeelte waar Samuel geroep word, is sekerlik die bekendste deel wat ons ken van Samuel. Samuel wat slaap en deur die Here geroep word, maar dink dit is Eli wat hom roep. Eli wat oud is en nie meer kan sien nie, maar Samuel wat nog ʼn jong seun is. In hierdie gedeelte sien ons weer vir verval wat daar in Israel was. Nie net het die volk telkemale hulle rug op die Here gedraai nie, maar selfs die priesters in diens van die Here was nie meer besig om die Here te dien, maar hulself. In hierdie tyd lees ons was openbaringe van die Here skaars. Dit verbaas eintlik nie, want min mense het nog die Here gedien, selfs Samuel het nie die Here geken nie.

ʼn Jong seun word groot in die een plek waar jy die Here behoort te ken, maar ken Hom nie. Alhoewel die volk hulle rug op die Here draai, het die Here nie sy volk vergeet nie. Die Here roep Samuel in die middel van die nag terwyl die kandelaar nog brand en gee vir Samuel ʼn boodskap oor die toekoms van Eli se huisgesin. ʼn Groot taak word op hierdie jong seun geplaas- hy moet die ouer priester gaan aanspreek oor sy sondes. Eli het sy seuns aangespreek, maar hulle nie onthef van die priestersamp nie. Eli het geleef met hierdie gedagte dat hy net vir sy seuns offers moet bring, dan is als weer reg, daarom noem die Here aan Samuel dat geen diereoffer of graanoffer hierdie ongeregtigheid kan versoen nie. Wat is Eli se reaksie op hierdie boodskap? In plaas van sy sonde raak te sien en versoening by die Here te soek, antwoord Eli dat die Here mos kan maak net wat Hy wil doen.

Moenie laat ons soos Eli raak nie. Mag ons altyd wanneer ons bewus gemaak word van ons sondes die begeerte wys om daarvan te wil bekeer. Soos wat Christus ook die volk opgeroep het in Matteus 4:17 Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
Bekeer vandag weer. Daar is nie vir ons versoening in diere of graanoffers nie, maar in die versoening van Jesus Christus wat geoffer is. Hoe leef ons dit uit as gelowiges?
Ons is deur die Here geroep as priesters, profete en konings.
As priesters is ons geroep om ’n lewe van dankbaarheid voor God te leef.
As profete om sy Woord te verkondig, dit met woord en daad.
As konings is ons geroep om die skepping te beskerm en te bewaar.

Gebruik vandag om te lewe tot Sy eer, tot opbou van Sy koninkryk. Met alles wat jy is en het.
Die Here is Koning!

Dors vir meer:
Psalm 74 en Deuteronomium 18.

Gebed
Here dankie dat U tot ons praat vanuit U Woord. Vergewe ons baie sondes en mag help ons om elke dag daarvan te bekeer en die nuwe lewe te leef wat U vir ons gee in Jesus Christus. Amen

Danie Potgieter
072 272 9631

Dagstuk 2 November 2020

Skrifgedeelte: 1 Samuel 1
Teks wat tref: v11

Wat was jou verwagtings vir 2020? Wat is jou verwagting vir die res van November en Desember? Ons almal het bepaalde verwagting en vooropstellings. Hierdie week kyk ons na die lewe van Samuel die laaste rigter asook ʼn profeet en priester in diens van die Here.
In 1 Samuel kry ons baie vooropstellings en verwagtinge. Elkana het sekerlik met Hanna getrou met die verwagting dat hulle sou kinders kry, maar dit het nie gebeur nie. Hanna het teen die jaarlikse offermaaltyd in Silo opgesien, omdat Penina haar sou spot. Eli sien vir Hanna bid, maar het die vooropstelling dat sy dronk is en stuur haar uit om nugter te word.

So kan verwagtinge en vooropstellings goed wees. Ons moet dit ook leef met verwagting. So kan ons met vrymoedigheid na die Here kom omdat ons die verwagting het dat die Here ons gebede kan verhoor. Hanna bid tot die Here die Almagtige (Here van die Leërskare), sy het die verwagting en die “vooropstelling” dat die Here alleen haar gebed kan antwoord. Kom na die Here in verwagting. Hy alleen is die Almagtige, daar is vir God niks ontmoontlik nie. Mag ons met vrymoedigheid nader in gebed en by die Here afsmeek wat ons nodig het. Fil .4:6 “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. So het Hanna Samuel van die Here afgesmeek, Samuel beteken “die Here hoor my” en het sy ook in danksegging die Here vir hom gedank (kyk haar lied in 1 Samuel 2). Leer opnuut die Here reg ken deur Sy Woord, dan sal ons ook met die regte verwagtinge en voorveronderstellings tot die Here kan bid.

Wie is jou Koning en na wie jy toe gaan met jou voornemens en verwagtinge?

Dors vir meer:
Psalm 104 en Filippense 4:2-9.

Gebed
Here die Almagtige, dankie dat U my ken en dat U dit moontlik maak dat ek U ken. Mag ek met die regte verwagtinge en voornemens leef en U nog beter leer ken. Dankie vir U liefde deur Jesus Christus alleen. Amen

Danie Potgieter
072 272 9631

Dagstuk 30 Oktober 2020 – Wees waaksaam

Skrifgedeelte: Mt 7:21-29                        Teks wat tref: v21

Mt 7: 21 – ……” Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. ”

Vanaf Mt 7:21 begin Jesus met die slotgedagtes van sy Bergpredikasie.   Die vermaning waarmee Hy reeds in Mt 7:13 begin het, word nou herhaal. Dit is God se bedoeling dat niemand uitgesluit sal word nie.  Met die verwysing in v22 na daardie dag beklemtoon Jesus dat elke mense sal reageer op die onderrig waarmee Hy in die bergprediksie besig is.  Daar sal ʼn dag aanbreek wanneer die gelowiges se optrede getoets word.  God se erfgename word opgeroep om met dade bewys te lewer dat hulle aan Hom gehoorsaam is. 

My geloof is oneindig meer as lippediens.  Destyds het die skynheiliges geglo dat God hul gebede sal verhoor as hulle sy Naam twee maal gebruik. Hulle probeer ook daarop aanspraak maak dat God hul optrede raaksien en daarom soek hulle erkenning in die samelewing. Daar het wedywering ontstaan oor wie in Jesus se Naam gepreek het, bose geeste uitgedryf het en wonders gedoen het.

Hiermee wou hulle God beïndruk en vir hulleself ʼn ereposisie verwerf.  Van ons Here Jesus Christus se mees verdoemende woorde volg nou: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van my af, julle wat die wet van God oortree.” Later waarsku Jesus in Mt 24:24 dat daar vals christusse en vals profete na vore sal kom. Elkeen wat die wet van God oortree sal nooit die koninkryk van die hemel beërwe nie.  Vir God se uitverkorenes het Christus aan ons Here se geregtigheid om die sonde te straf voldoen, sodat ons vrye toegang kan hê.

Maar dan beteken dit nie dat ons nou selftevrede mag raak nie.  Laastens verduidelik Jesus watter gesindheid en optrede God van sy kinders verlang. Die verwysing in Mt 7:24 dat elkeen wat hierdie woorde van Hom hoor verwys na die onderrig waarmee Hy reeds in Mt 5:2 begin het.  Teenoor die valse gerustheid waarna Jesus in die vorige verse verwys het, verwag Hy nou ʼn lewe van toegewyde afhanklikheid aan God.  Ons lewe op aarde voor God word vergelyk met die bouwerk wat ʼn verstandige man aangepak het.  Met hierdie kosbare beeld word ons vertroos en vermaan. Dit is algemeen bekend dat bouwerk op ʼn vaste fondament gedoen sal word.  Hierdie fondament is Christus.  Met inagneming van moontlike storms en ongure weer, sterk winde en vloedwaters word die gebroke wêreld waarin ons woon aangedui.  Ons ken elkeen die aanslae van die Satan en die aanvalle van die wêreld wat ons daagliks beleef en trotseer.  Leef dan voorbereid en slaan ag op Jesus se waarskuwing.

God neem nie noodwendig altyd elke storm in my lewe weg nie, maar Hy stuur sy Heilige Gees sodat die bouwerk op rots gedoen word.  As winde van verandering en vloedgolwe van die seer van die wêreld ons meesleur en wil oorweldig, kan ons by God skuil. God laat vaar nooit die werke van Sy hande nie. 

Ons lewe voor God is die bouwerk in sy Koninkryk.  In Mt 5-7 het Christus die mense geleer wat God van ons verwag.  Met die aanhoor hiervan was die skare verbaas oor sy onderrig, “want Hy het hulle geleer soos ʼn man met gesag.” 

Mag Christus se woorde jou raak met elke besluit wat jy maak.

Dors vir meer:

Jes 66:1,2

Gebed

Here, dankie dat U my ken.  Dankie dat U my deur  Christus se woorde leer.  Dankie dat U my deur die Heilige Gees bewaar.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 29 Oktober 2020 – Watter pad is die beste?

Skrifgedeelte: Mt 7:13-20                        Teks wat tref: v13

Mt 7:13 – ……” Gaan deur die nou poort in.”

Vanaf Mt 7:13 gee Jesus  ʼn aantal algemene riglyne waarvolgens die burgers van sy Koninkryk moet leef.  Dit is ʼn gepaste samevatting van die hele bergpredikasie wat reeds in Mt 5 begin het.  Jesus is steeds besig om vir ons te leer wat dit beteken om van God afhanklik te wees en fokus laastens op ʼn aantal toepassings.  Na die aanhoor van Sy woorde word ons gelei om keuses te maak. 

God se kinders leef radikaal anders as die Skrifgeleerdes en skynheiliges waarteen Jesus herhaaldelik gewaarsku het. Almal het Jesus se onderrig gehoor en moet nou daarop reageer. Jesus konfronteer ons nou en verwag ʼn antwoord van jou.  Baie mense luister maar net na Jesus se boodskap en stap onaangeraak verder aan.  Die keuse waartoe Jesus ons gelei het raak jou eindbestemming.  God wil verseker dat Sy kinders die koninkryk van die hemel beërwe (Mt 5:3)

Vandaar Jesus se dringende waarskuwing dat ons deur die nou poort moet ingaan.  Die pad daarheen is moeilik en nie almal bereik daardie bestemming nie. Inteendeel beklemtoon Jesus dat hulle wat dit kry, maar min is.  Hiermee spoor Hy ons aan om te volhard en doelgerig volgens God se Woord te lewe.   Dit verg groot inspanning en opoffering en daar sal struikelblokke wees. Om Jesus te volg vra ʼn radikaal ander leefwyse. 

Dit is ʼn keuse om nie maar net saam met die stroom te beweeg en oral gemaklik in te skakel nie.  As kind van God is jy anders en sal dit in jou lewensweë duidelik sigbaar wees.  Dit sal beteken dat mense soms spottend en verkleinerend na jou optrede en besluite sal verwys.  Wees verseker dat jy in die spervuur van aanvalle sal wees as jy die belange van God se Koninkryk verdedig.  Staan op as die Here se Naam gelaster word. Reageer as wetgewing God se eer aantas.

As Christene is ons geroep om sigbaar te wees. In ʼn verwarde wêreld sal daar vals profete wees wat die mense mislei. Dit is die Satan se belangrikste werk. Op ons reis na die nou poort sal hulle in skaapsklere na ons toe kom maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe.  “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.”  Deurdat die mens se optrede sigbaar is, word dit moontlik om hul motiewe te beoordeel.  Druiwe groei nie aan ʼn doringstruik en vye aan dissels nie. 

Met hierdie waarskuwing leer Jesus ons om seker te maak dat ons  op  die nou pad bly.  Ons word ook vertroos dat die slegte bome uitgekap en in die vuur gegooi sal word. Ons word vir ons reis versterk as ek weet dat Jesus die pad na sy Vaderhuis met sy verlossingswerk aan die kruis vir ons voorberei het. 

Op watter pad loop jy vandag?

Dors vir meer:

Heb 12:1-3

Gebed

Here, daar is soveel besluite wat ek daagliks moet neem. Maak my oë oop sodat ek U Woord my padkaart sal maak. Dankie dat U my nooit alleen laat.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 28 Oktober 2020 – Iemand luister

Skrifgedeelte: Mt 7:7-12                      Teks wat tref: v11b

Mt 7:11 – ……”hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”

Na die verdoemende woorde van Jesus in die vorige vers dat die honde dit wat heilig is sal verskeur en die varke dit met hulle pote sal vertrap, is daar geen groter troos dat hulp naby is nie. Ons hoef net te vra, te soek en te klop. Die taalgebruik dui ook aan dat daar onmiddellike uitkoms sal wees.  Dit is niemand anders as die Seun van God wat met die nodige gesag hierdie belofte gee.  In watter situasie ek my ook al mag bevind, sal die Here deur sy Heilige Gees my nooit alleen laat nie. 

Ons ontmoet Jesus hier waar Hy drie keer  die versekering gee dat ons nooit in vrees en bewing hoef te lewe nie.  Hyself is my Reisgenoot. Sou Jesus se woorde hier dan beteken dat ek letterlik enige iets kan vra en dat ek dit outomaties sal kry?  Is dit dan nou moontlik om al my versoeke by die Here af te laai en siedaar kry en net wat ek mag begeer?

Beslis nie. Vir die behoorlike verstaan van die Bybel geld die beginsel dat ons die konteks waarbinne ʼn gedeelte geskryf is sal begryp.  Indien dit waar is dat God vir my alles wat ek begeer sal gee, bestaan die gevaar dat ek dan op enige iets aanspraak mag maak. Al sou dit teen God se wil gaan.  In wese is die mens as gevolg van ons sondige aard ingestel op ons eie begeertes en behoeftes.  Daar bestaan inderdaad grense vir dit wat ek mag vra.  In sy Wet het God die grense vasgestel.  Daarom kan ek nie verwag om iets te kry wat in  stryd is met God se Wil nie. 

Dit is juis ʼn bewys van God se genade dat Hy ons versoeke temper om te verseker dat ons sy opdrag om Hom bo alles en ons naaste soos onsself lief te hê sal uitvoer. Met Jesus se verdere verduideliking in vers 9 leer ons die konteks waarbinne ons die gedeelte moet verstaan.  Net so onvanpas en ongehoord dit sou wees om ʼn klip in die plek van brood of ʼn slang in de plek van ʼn vis aan iemand in nood te gee, sou dit wees as God bloot net enige versoek sou toestaan. Omdat Hy ons lief het, sal Hy juis seker maak dat ons beste belang gedien word.  Met die verwysing na ons Vader wat in die hemel is dui Jesus God se Almag en Soewereiniteit aan. As Skepper en Onderhouer regeer en bestuur Hy die skepping so dat daar harmonie en vrede sal wees. 

Dit is genade dat God so ons welwese verseker.  Dit is ook genade dat God ons uitnooi om te vra, te soek en te klop. Dit gee ons vrymoedigheid om in elke situasie waarin ek my mag bevind tot Hom te nader.  As Vader, wat goed is, weet Hy wat vir my die beste is.  As ons binne hierdie liefdesverhouding wat God gee funksioneer, verstaan ek dat God ons gebede verhoor deur te verseker dat sy Wil geskied en dat Hy ons bo alles versorg en bewaar. 

Met ʼn laaste verwysing in vers 12 dui Jesus die gesindheid aan waarmee ons moet vra.  Ek moet aan die belange van my naaste dink. “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.”

Gebedsverhoring beteken nie dat ek alles wat ek begeer sal ontvang nie, maar dat die Here vir my sal gee wat vir my die beste is.  Moet nooit ophou om te vra, te soek en te klop nie. 

Dors vir meer:

Kol 3:1-17

Gebed

Here, dankie dat ons met vrymoedigheid tot U mag nader. Dankie dat U weet wat ons elke dag nodig het.  Lei my dat ek U liefde sal uitdra . Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 27 Oktober 2020 – Wees konsekwent

Skrifgedeelte: Mt 7:1-6                       Teks wat tref: v5

Mt 7:5 – ……” Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien ……”

In die laaste gedeelte van Jesus se bergpredikasie begin Matteus 7 met die toepassing van Jesus se onderrig. Ons lees dit teen die agtergrond van Matteus 5 waar die betekenis van ons burgerskap van God se koninkryk beskryf is.  Daarna het ons geleer wat die implikasie hiervan is deurdat ons ʼn verskil in die wêreld moet maak deur sout en lig te wees.  In ʼn wêreld en samelewing gebeur dit maklik dat elkeen na die beste van ons vermoëns probeer oorleef.  In hierdie proses sal mense nie skroom om op ʼn ander te trap om hul eie belange te bevorder nie. Al sou dit dubbele standaarde vra, verontskuldigings beteken en huigelagtige optrede verg.

Dit is gewoonlik baie maklik om die foute en tekortkominge van ander uit te wys sodat my eie optrede geregverdig kan word.  Ons hoor dikwels in gesprekke dat ander mense so of so maak en is ons vinnig om daarop te reageer.  Niemand wil in ʼn swak lig gestel word nie.  My optrede teenoor ander moet altyd aan die beginsel van regverdigheid voldoen.  Jesus se verduideliking hieroor is baie eenvoudig en prakties.  As jy iets sou koop en vir een kilogram daarvan betaal, verwag jy om een kilogram te ontvang. 

Maar dit gaan oor veel meer as handeldryf en ekonomiese eerlikheid.  In my optrede moet ek altyd daarmee rekening hou dat God alles wat ek doen raaksien.  Hy is Alomteenwoordig en Hy verwag dat Sy standaarde gehandhaaf word.  Ons hoor soms die volgende gesegde: “Moenie maak soos ek maak nie, maar maak soos ek sê.”  So asof daar twee stelle reëls bestaan. Solank ek net nie benadeel word nie, is ek maar tevrede. As jy aan die “uitdeel kant” staan maak seker dat jy aan die “ontvang kant” dieselfde sal kry.

Ons mag redeneer dat hierdie dubbele standaarde nie regtig bestaan nie.  Met die beeld van die splinter in jou broer se oog wys Jesus die mens se ware kleure.  Ons is maar so geneig om die fout by ander te vind, dat die balk in ons eie oog ons blind maak om regverdig op te tree.  Hiermee leer Jesus ons om gereeld selfondersoek te doen. 

Niemand sal iets wat baie kosbaar is vir die honde en varke gooi om te verskeur en te vertrap nie.  Jesus waarsku ons dat die handhawing van dubbele standaarde en die selfverontskuldigende optrede presies hierop neerkom.  Om regverdig en met edel inbors te leef is so kosbaar dat Jesus daarvoor die woord heilig gebruik.  Destyds is honde en varke as onrein beskou.

Met Jesus se afwysing van inkonsekwente optrede besef ons opnuut hoe groot die prys was wat vir ons verlossing betaal is. As God volgens ons standaarde sou meet was daar vir ons geen hoop nie. Deur God se genade is die balk uit ons oog verwyder sodat ons die werklikheid van ons verlossing kan raaksien.

Dors vir meer:

Mt 22:34-40

Gebed

Here, weerhou my daarvan om selfsugtig op te tree.  Leer my om versigtig te oordeel en met my optrede teenoor ander U liefde uit te dra.  Verwyder die balk uit my oog sodat ek opreg mag lewe.  Beskerm ons teen die wêreld wat wil verskeur en vertrap. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

« Older posts Newer posts »