Skrifgedeelte: Jh 8:12-20 Teks wat tref: Jh 8:12
Jh 8:12 – “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee. ”
Op treffende wyse gebruik Jesus in Johannes 1 en 8 beelde om ons verhouding met Hom te beskryf. Al hierdie beelde is opvallend want dit vertel iets van Jesus se Persoon en optrede en dit word deur die Here Self gebruik. Christus se bedoeling hiermee was om ons te leer hoe om Hom te volg. Dit alles bepaal ons verhouding met Hom.
Jesus se beskrywing in Jh 8:12 word reeds in die verhaal van God se skepping gehoor. Ons lees in Gen 1:1 dat God die hemel en die aarde geskep het. Die Almagtige God se stem word gehoor – “Laat daar lig wees. En daar was Lig.”
In die eerste woorde van die Bybel is God se bedoeling reeds duidelik. Die Almagtige skep en gee lig. Dit is ʼn getuienis oor God, oor sy grootheid, mag, en sy majesteit. Omdat Hy alles gemaak het, behoort alles aan Hom en voer Hy heerskappy oor alles wat bestaan. Hy het aan alles plek en orde gegee, en Hy hou alles in stand.
Wanneer Christus dan in Jh 8:12 sê dat Hy die lig vir die wêreld is, word dit duidelik dat ek hieraan deel het deur Hom. Christus se begin is by God Self. Christus is daar sodat ons verlos kan word. Omdat Hy die Woord is, kan Hy vir ons verlossing bring. As Seun van God het Hy alle mag en gesag in die hemel en op die aarde.
Die beeld wat Jesus gebruik sluit aan by die gebeure wat in Johannes 8 afspeel. Daar was feesvieringe en Jesus bevind Hom saam met ‘n klompie mense in die tempel se voorhof. Tydens die huttefees het die volk kerse gebrand om hulle aan die vuurkolom te herinner wat tydens die uittog uit Egipte aan hulle gegee is. Te midde hiervan sê Jesus dat Hy die Lig vir die wêreld is
Kom ons kyk nou na die betekenis hiervan. Lig is altyd positief en gee rigting en leiding. Lig dui op God se teenwoordigheid. Lig laat groei en lewe. Ons besef maar al te goed hoe hopeloos ons sonder lig is. ʼn Kragonderbreking wat enkele ure duur, maak ons hopeloos verward en moedeloos. ‘n Lewe sonder Christus is ondenkbaar.
Waar Christus se lig skyn, is daar sekere radikale gevolge. As Christus die lig van my lewe is, sal dit my gesindheid en lewensuitkyk radikaal verander. Met die volgende dagstukkie leer ons meer wat dit beteken om in die lig of in die donker te lewe.
Dors vir meer:
Psalm 27
Gebed
Here, baie dankie dat U my lamp helder laat skyn en lig gee as dit donker is om my. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Amen
Petrus van Blerk
0824560235