Author: Karen de Lange (Page 7 of 33)

Dagstuk 16 Julie 2021 – Gevolg (3) – Skrifgedeelte: Lk 17:20-37

Skrifgedeelte: Lk 17:20-37 Teks wat tref:  Lk 17:34,35

Lk 17 34,35  – “. …… die een sal saam geneem word en die ander een agtergelaat word

Jesus het sy dissipels met gelykenisse geleer wat dit beteken om Hom te volg. (Lk 9) Hy waarsku ook later in Lk 20:9-19 dat sy volgelinge openlik vervolg sal word. Al die gebeure het ʼn bepaalde gevolg – …… “die een sal saam geneem word en die ander een agtergelaat word.” .

Die Fariseërs wil weet wanneer die koninkryk van God kom. Hulle besef nie dat God se koninkryk daar is waar Hy regeer. Dit is nie gebonde aan ʼn spesifieke tyd of plek nie. Jesus moet eers baie ly en deur mense verwerp word. Daarna sal Hy skielik en merkbaar soos ʼn weerligstraal verskyn. Hiermee verwys Jesus na sy wederkoms wanneer Hy sal oordeel.  Dit sal onverwags en sigbaar vir almal wees. 

Intussen sal die mense maar soos gewoonlik eet, drink en in die huwelik tree.   Daar bestaan geen dringendheid om voorbereid te leef nie. Met twee voorbeelde uit die Ou Testament (Noag en Lot) spoor Jesus die mense aan om gereed te maak en Hom te volg.  Volgelinge van Hom moet dringend en daadwerklik optree en met woord en daad wys dat hulle Hom volg.  Jou leefwyse en keuses het ʼn direkte gevolg met betrekking tot jou eindbestemming: “die een sal saam geneem word en die ander een agtergelaat word.”

Met hierdie harde woorde leer Jesus ons dat daar geweldige vereistes vir sy volgelinge gestel word.  Ons moet elke oomblik gereed wees.  Party sal op die dakstoep sit en ander sal op die land werksaam wees. Maak seker dat jy altyd gereed is as die Seun van die mens verskyn.  Besin of jy nou op die plek is waar jy die Here kan ontmoet?

Op daardie dag sal twee mense op een bed slaap en een sal saamgeneem word. Twee vroue sal koring maal en een sal saamgeneem word. Hiermee het Jesus aangetoon dat daar geen plek is waar ons sy oordeel met sy verskyning kan ontvlug nie. Maak seker dat jy altyd gereed is. Die dissipels verstaan steeds nie die dringendheid daarvan om Jesus reg te volg nie wanneer hulle Hom vra waar dit sal gebeur nie.  Aasvoëls wat bymekaarkom is ʼn besliste aanduiding dat daar aas is. Dit is ʼn feit. So seker is dit dat Jesus weer sal kom.

Hoe jy die Here volg het ʼn bepaalde en definitiewe gevolg!

Dors vir meer:

Ps 25

Gebed

Here, ons is omring deur soveel nood en swaarkry.  Daarby worstel ek daagliks om staande te bly en teen die sonde te stry.  Stuur U Gees om my vir U koms voor te berei.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 14 Julie 2021 – Vervolg (2) Lk 20 – Skrifgedeelte: Lk 20:9-19

Skrifgedeelte: Lk 20:9-19  Teks wat tref:  Lk 20:16b

Lk 20:16b  – “Nee, dit moenie gebeur nie . ”

Jesus se dissipels leer elke dag wat dit beteken om Hom te volg nadat Hy in Lk 9 die eise van dissipelskap gestel het.  In party dorpe word hulle openlik vervolg, ander kere beleef hulle dat mense teen hulle is en in Lukas 20:1-8 word hulle gesag bevraagteken. 

Om Jesus te volg word soms verkeerdelik as ‘n edel en prysenswaardige leefwyse voorgehou. So asof dit iets is waaraan ek kan deelneem en selfs baie avontuur kan beleef en om selfs met so ʼn “voorbeeldige” lewe te kan spog.  Met die gelykenis van die boere en die wingerd in Lk 20:9-19 wys Jesus op die vervolging wat ons te wagte kan wees.  Ons ontmoet ʼn man wat ʼn wingerd aangeplant het en dit aan boere verhuur het.  Op die regte tyd stuur hy sy slaaf om sy deel van die opbrengs te gaan haal.  Drie maal word die slawe aangerand en met leë hande terug gestuur.  Ons onmiddellike reaksie is dat hul optrede onregverdig en liefdeloos is. 

In hierdie gelykenis leer Jesus ons dat sy volgelinge teenkanting en verwerping te wagte kan wees.  Met elke volgende slaaf wat gestuur word, is  die wreedheid en optrede van die boere net erger. Ons beleef ook nou reeds dat die wêreld Jesus se volgelinge wil uitwis met wetgewing en besluite wat geen respek vir God se Wet en mense se lewens het nie. Aborsie, weglating van godsdiens in skole en voorgestelde wetgewing om selfde geslag-huwelike toe te laat is lankal nie meer vreemd nie. 

Terwyl ons wonder waar dit alles gaan eindig, vertel Jesus dat die wrede boere nie eers gehuiwer het om die man se eie seun dood te maak nie.  Wetteloosheid en eiewaan ken geen perke nie.   Ons roep saam met hoorders is Lk 20:16 uit dat dit nie mag gebeur nie!

In hierdie gelykenis kry ons tegelyk ʼn waarskuwing en bemoediging.  Die skrifgeleerdes en priesterhoofde besef dadelik dat Jesus op hulle gesinspeel het.  As volgelinge van Jesus word ons na die wingerde gestuur.  Ons kan verwerping, aanranding en selfs die dood in die oë staar wanneer ek in diens van die Here staan.  Jesus moes sterf, sodat ons eindelik kan bly lewe.  Hy is die belangrikste klip in die gebou.  In sy oordeel vermorsel Hy elkeen wat Hom teenstaan.

Jesus berei ons voor dat daar nog baie vervolging sal kom. Maar ons weet Hy het reeds oorwin.

Dors vir meer:

Ps 118

Gebed

Here, berei my voor om altyd gereed en bereidwillig te wees om terwille van U Naam te leef en te sterf.  Stuur U Gees om my  weerbaar te maak om die aanslae teen U koninkryk te kan weerstaan. Ons bid ook vir vrede en harmonie in ons land wat brand en vernietig word deur die optrede van boosdoeners.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 12 Julie 2021 – Volg die Here (1) – Skrifgedeelte: Lk 9:49-62

Skrifgedeelte: Lk 9:49-62      Teks wat tref:  v 57

Lk 9:57 –  “Ek sal U volg waar U ook al gaan.”

Dit is maklik om ʼn leier te volg as die pad sonder stampe en stote verloop. Terwyl die dissipels saam met Jesus loop is hulle vol bravade. Eers probeer hulle ʼn man wat bose geeste in die Here se Naam uitdryf keer (Lk 9:49) en daarna wil hulle vuur uit die hemel afroep toe die inwoners in ʼn Samaritaanse dorp Hom nie in hul huise wil ontvang nie (Lk 9:53)

Hierna reis hulle verder na Jerusalem en Jesus gebruik die geleentheid om vir hulle te leer wat dit beteken om Hom te volg.  Hulle stap waarskynlik by ʼn aantal gate wat deur jakkalse gemaak is verby en bokant hul koppe was neste wat die voëls gemaak het. Nie een neem daarvan kennis nie.  Hulle is ywerig om Hom te volg. Een roep selfs vasberade uit dat hy Jesus sal volg waar Hy ook al gaan (Lk 9:57) Dit is duidelik dat hulle nie besef wat die implikasie hiervan is nie.  Eers nadat Jesus dit duidelik maak dat die Seun van die mens nie eens ʼn rusplek vir sy kop het nie, verduidelik Jesus vir hulle wat dit beteken om Hom te volg. 

Dit is nogal ʼn harde opdrag.  As jy Jesus volg sal daar nie omdraaikans wees nie.  Nie eers om die begrafnis van ʼn familielid by te woon nie.  Dit klink asof Jesus hier liefdeloos optree en geen medelye met die leed van ander het nie.  Die versoek om eers jou familie te gaan groet word ook afgewys.  Dit is tog redelik om eers afskeid te neem. Wanneer Jesus daarna byvoeg dat iemand wat aanhou omkyk nie geskik is vir die koninkryk van God nie, daal daar ʼn doodse stilte neer. 

Soos met elke gelykenis gebruik Jesus ‘n verhaal uit die gewone lewe om ʼn geestelike  waarheid oor te dra. Die skerp punt in hierdie gedeelte laat die klem val oor hoe Jesus gevolg moet word.  Hy is besig om die dissipels voor te berei vir die geweldige taak wat vir hul voorlê. Om Jesus te volg beteken dat daar opofferings gemaak moet word.  In die Joodse tradisie was ʼn begrafnis belangrik. As Jesus sê dat die dooies hul eie dooies moet begrawe is Hy nie harteloos nie. Hy wys net daarop dat die keuse om Hom te volg belangrik en gewigtig is en dat daar wel ander is wat die begrafnisreëlings kan tref. Ons moet leer om so met ons families te leef dat  ons onmiddellik gereed is om dadelik te vertrek as die Here jou roep. Maak daarom elke dag seker dat daar nooit enige onafgehandelde sake is nie. Leef in vrede met almal sover dit moontlik is volgens God se voorskrifte. 

Laastens moet jy sorg dat daar niks is wat jou aandag kan aftrek nie.  Iemand wat ploeg en aanhou omkyk sal nie vorder nie.  Terwyl ek vandag hierdie dagstuk lees, weet ons ook van die gevolge van die Covid 19 pandemie en die uitwerking van die grootskaalse wetteloosheid en anargie waarin ons land gewikkel is.  Dit is nou tyd om Jesus te volg en vir ander tot voorbeeld te wees.

Dors vir meer:

Lk 10-1-16

Gebed

Here, die pad vorentoe sal nie maklik wees nie.  Dankie dat Jesus dit vir ons gereed gemaak het.  Open ons oë om getrou daarop te wandel. Bewaar ons in hierdie tyd waar soveel wetteloosheid alles wil vernietig.   Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 09 Julie 2021 – Keuses – Weet wanneer om op te hou (3) -Skrifgedeelte: Eseg 31:1-18

Skrifgedeelte: Eseg 31:1-18     Teks wat tref:  v10,11

Eseg 31:10 –  So sê die Here my God – “Die seder het hoog gegroei, sy top was tussen die wolke, maar sy hoogte het hom hooghartig gemaak ”

Die koning van Egipte (Farao) moes sekerlik baie tevrede en selfvoldaan gevoel het toe die profeet Esegiël hom met sy magvertoon gelukgewens het.  Hy word met ʼn seder op die Libanon vergelyk wat met sy pragtige takke skaduwees oor die bos gegooi het. Hy het hoog gegroei, word deur die beste waterbronne gevoed en die voëls kom maak nes in sy takke. Wilde diere versamel onder die boom en  baie nasies kom woon in sy skaduwee.  Geen ander boom is in staat om met die seder mee te ding nie. Al die bome in die godetuin was jaloers op die seder. 

Dit is van korte duur. Die Here se verdoemende woorde in vers 10 en 11 laat die eens magtige boom tuimel omdat sy hoogte hom hooghartig gemaak het.  Hy word aan sy boosheid oorgegee. Die takke val stukkend in die klowe,  en van die prag bly niks oor nie.  Net dooie stompe. Onbruikbaar.  Al wat oorbly is die plek onder die grond tussen die mense wat in die graf is. Daarby sal geen boom ooit weer so hoog groei nie. 

Ons wil almal graag ʼn boom wees wat bruikbaar en mooi is.  Ek wil spreekwoordelik skadu verskaf, vrugte dra om mee te voed, ʼn vergaderplek wees vir mense en uitstaan en raak gesien word.  Dit is edel en goed bedoel.  Maar ek moet onthou dat God die grense vasstel en bepaal.  In hierdie gelykenis is daar ʼn  baie duidelike waarskuwing teen hooghartigheid. Dit is goed om edel motiewe te hê, solank ek nie daarmee probeer om bo God verhewe te wees nie. 

Dit mag soms nodig wees dat ek my kop tussen die wolke moet uithaal en af kom aarde toe.

Met my optrede moet ek die eer van God soek anders sal ek afgaan na die graf toe en daar tussen die eerloses lê.

Met sy optrede het Christus nooit eie roem gesoek nie. Alhoewel Hy bo alles verhewe is, het Hy nogtans die vernedering tot in die dood ondergaan sodat ek soos ʼn seder bokant die wolke by God kan staan. 

Dors vir meer:

Lukas 18:9-14

Gebed

Here, ek word so maklik deur die wêreldse begeertes ingesluk.  Stuur U Gees om my nederigheid te leer.  Snoei die takke van my sondige natuur weg. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 07 Julie 2021 – Keuses – Na wie is jou gesig gedraai? (2) – Skrifgedeelte: Eseg 17: 1-19

Skrifgedeelte: Eseg 17: 1-19      Teks wat tref:v2,9  

Eseg 17:2   – “Mens , jy moet vir Israel ʼn fabel, ʼn gelykenis, vertel. ”

Eseg 17:9 – “Sal dit goed gaan met dié wingerdstok?”

In ʼn insiggewende artikel word vertel dat die mens gemiddeld 35 000 keuses per dag maak. Baie hiervan vind onbewustelik in die brein plaas.  ʼn Verdere aantal met die keuse van wat ek moet eet of aantrek tot die gewigter keuses oor die besluit van ʼn loopbaan of plek van aftrede.

In Eseg 17 word die profeet deur die Here gestuur om aan die volk ʼn fabel, ʼn gelykenis te vertel. Met nog ʼn beeld uit die natuur verkry die volk insig om die maak van keuses te bepaal. 

Soos met enige gelykenis word bekende beelde gebruik om ʼn sentrale geestelike waarheid oor te dra.  Hier verwys die arend na konings en die wingerdstok na die volk. Die steggie groei en word ʼn groot indrukwekkende wingerdstok wat baie druiwe dra en floreer. Daar heers ʼn pragtige harmonie. Kort hierna kom daar nog ʼn groot arend.  Die wingerdstok draai sy wortels na hierdie arend en stuur sy ranke in dié se rigting.  Dit ten spyte daarvan dat die wingerdstok in goeie grond by baie water geplant was. 

Nou konfronteer God die volk met ʼn beslissende vraag in vers 9: “Sal dit goed gaan met dié wingerdstok?” Gaan die eerste arend dan nie sy wortels uittrek en sy vrugte vernietig nie? Met verwoestende gevolge.  Hier het niks anders as verraad plaasgevind nie!  Met die sondeval het die mens sy gesig ook van God weggedraai.  Hierdie keuse het ʼn verwoestende uitwerking gehad.  Die volk se optrede word ten sterkste veroordeel. Hulle is ʼn weerbarstige volk.  Hy sal verdroog op die plek waar hy gegroei het.  In die plek waar baie water en voedingstowwe was, is daar nou net dorre woestyn.  So lyk ʼn lewe sonder God. 

In Esegiël se woorde vanaf vers 11 volg daar ʼn profesie oor dit wat met die volk gaan gebeur. 

Omdat die volk die Here geminag het, sal hulle nie kan vrykom nie.  Ons vergeet so maklik dat God ons vas en seker plant en welig laat groei. Ons volg so maklik elke wind van verandering.  Mag ons opnuut deur God se Gees gelei word om na Hom te draai. Deur God se genade het Christus ons weer na Hom gedraai! Ons keuses vertoon die ranke wat ons maak.  Na Wie is jou blare (gesig) gedraai?

Dors vir meer:

Jh 15:1-8

Gebed

Here, baie dankie dat U my elke dag met alles wat nodig is versorg.  Stuur U Gees om my oë en gedagtes op Jesus Christus te rig.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 05 Julie 2021 – Keuses – Wie moet koning wees (1) – Skrifgedeelte: Rigters 9:1-20

Skrifgedeelte: Rigters 9:1-20       Teks wat tref:  Rig 9:2

Rig 9:2   – “Is dit beter as al sewentig seuns van Jerubbaäl oor julle regeer of as net een oor julle regeer? ”

In Psalm 90:12 bid Moses: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.”  Met die volgende aantal dagstukkies luister ons na gelykenisse in die Bybel. ‘n Gelykenis is ‘n verhaal uit die gewone lewe om ʼn geestelike of morele waarheid oor te dra. Jesus het baie gelykenisse vertel, en daar is ook al van gelykenisse in die Ou Testament  gebruik gemaak.

In Rigters 9 lees ons dat Abimelek op ʼn slinkse wyse koning word.  Hy word deur die mense aanvaar omdat hy “een van hulle was.”  Met sy korrupte optrede gebruik hy geld uit Baäl-Berit se tempel om leeglêers te huur en vermoor hy sy sewentig broers.  Ongekende magsmisbruik. Aanmatigende gedrag. Uiterste onreg. Met hierdie woorde sal ons sy dade afkeur en ironies genoeg,  beleef ons dikwels iets hiervan in die hedendaagse wêreld.

Daarna gebruik die Here vir Jotam om die volk se oë oop te maak.  Hy vertel die verhaal (gelykenis) van die bome wat op ʼn dag gegaan het om vir hulle ʼn koning te salf.  Die olyfboom, vyeboom en wingerdstok bied elkeen ʼn verskoning aan waarom hul nie geskik is nie.  Olie was baie kosbaar, vye was lekker soet en aangenaam om te eet en die wingerdstok se vrugte het mense bly gemaak.  Elkeen van die bome het gereken dat hulle ʼn bepaalde en onvervangbare rol het om te speel.  Sonder om die grondigheid van elke “verskoning” te ontleed wys dit maar ook net op die mens wat altyd gereed is om ʼn verskoning aan te bied. 

Hulle stel voor dat die doringbos koning oor hulle moet wees.  Benewens die skadu waarin hul kon sit rig die doringbos ʼn duidelike waarskuwing aan die bome.  Indien hulle ongehoorsaam sou wees, sal ʼn vuur uitgaan en hulle verteer.  Met ʼn vraag konfronteer Jotam die volk nou oor hul keuses. “Dink julle miskien julle het opreg en in goeie trou gehandel toe julle vir Abimelek koning gemaak het?”  Aan die einde van Rigters 9 lees ons dat Abimelek gesterf het toe ʼn vrou sy kopbeen met ʼn maalklip verbrysel het. 

Ons word daagliks deur keuses gekonfronteer.  In die oorweging daarvan evalueer ons dikwels ons eie omstandighede en die rol wat ek vervul. Die olyfboom, vyeboom  en wingerdstok het elkeen aan hul eie voortreflikhede gedink. Een is bruikbaar, die ander voorsien aangename vrugte en die laaste een maak mense bly.    Die doringbos gaan uit en verteer met vuur. 

My keuses moet altyd in gehoorsaamheid aan God gemaak word.  Ek moet leer om weg van myself te kyk en te luister na God se opdragte.

Dors vir meer:

Ps 25 (vers 12)

Gebed

Here, leer my om nederig en gehoorsaam te wees.  Stuur U Gees om my te leer om my dae so te gebruik dat ek wysheid bekom.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 2 Julie 2021- Leer by die mier! – Skrifgedeelte: Spreuke 6:1-11.

Skrifgedeelte: Spreuke 6:1-11.
Vers wat tref, vers 6. “Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom.”

Hoe kan ons vandag by die mier gaan leer? Selfs al is jy nie ʼn luiaard nie, leer Salomo ons hier in spreuke dat ons moet bid en werk.

Heel eerste word ʼn beeld beskryf waar iemand in skuld verval het en jy borg geteken het vir die skuld, dan is jy verantwoordelik om te betaal. Werk versigtig met die middele wat jy het. In hierdie moeilike tye moet ons nogsteeds verantwoordelik optree met ons finansies- rentmeesters wees. Spreuke herhaal voortdurend dat jy ander moet help, veral is jy in die posisie is om ander te help. Jy moet egter nie onverantwoordelik wees deur ander te help (borg te staan), maar jy self gaan ten gronde. En as so iets jou getref het? Tref dan elke moontlike reling om die skuld minder te maak en los te kom uit hierdie verantwoordelikheid.
Hoe groot troos het ons nie dat ons die persone is wat die skuld gemaak het, maar dat Jesus Christus vir ons die borg is wat ons skuld volkome delg. Daarom is ons dankbaarheid groot en kan ons nie ophou om die Here te dank nie.

Die tweede beeld wat ons hier kry is dat jy moet fluks wees in die regte tyd. Die miere maak kos bymekaar in die oestyd sodat hulle kos kan hê in die winter. Die Here skenk ons ook die wysheid om te kan beplan en die regte daad op die regte tyd te verrig. Moenie nog ʼn bietjie sluimer en slaap nie, maar kyk om jou en sien die oes wat gereed is op die lande.
So moet ons as gemeente ook gereed wees: Lukas 10:2 “Hy sê toe vir hulle: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur.”

So leer ons by die miere as ons ondertoe kyk, maar ons leer veral as ons opkyk na Hom wat vir ons voorsien. Mag die Here jou vandag leer om die regte daad te doen vir die tyd wat Hy bepaal het.

Gebed.
Ons Vader wat in die hemel is. Skenk vir my die wysheid vandag om die oes in te bring wat U op die lande geplaas het. Seën my in my middele en mag ek dit met wysheid gebruik om ook ander te help.
Alles ontvang ek uit U hand van genade.
Amen

Dors vir meer:
Lukas 10:1-16

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 30 Junie 2021- Die pad van die gelowige groei soos die dagbreek! – Skrifgedeelte: Spreuke 4.

Skrifgedeelte: Spreuke 4.
Vers wat tref, vers 18. “Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig
wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is;”

Christus leer ons dat Hy die Weg, Waarheid en die Lewe is. Daarom wil ons op geen ander pad loop as wat die Here ons leer nie. Spreuke 4 herinner ons om nie op die paaie van die goddelose en slegte mense te loop nie – meer nog, jy moet wegvlug daarvan (vers 15). Moenie agter die sonde aanloop nie, bepaal jou koers vas en seker deur die Woord van die Here.

Die Heilige Gees sal jou ook lei op die pad van heiligmaking en volharding. In vers 18 kry ons die mooi beeld dat pad van die regverdige is soos die son wat opkom. Eers kan jy net die sonstrale sien deurbreek en dan word dit al hoe meer lig totdat dit heeltemal dag is.

Jou geloofspad is ʼn intense pad, dit verg baie inspanning om te bly volhard en te groei in die geloof. Dit is egter nie ʼn pad wat jy alleen hoef aan te pak nie. Die Here self versterk ons deur die Heilige Gees en die lig van sy Woord. Hy gee ook vir ons ʼn skare gelowiges om ons aan te moedig en saam lig vir die wêreld te wees!

Gebed.
Here my God. Dankie vir die Weg, Waarheid en Lewe wat U vir ons gee deur Jesus Christus. Lei my vandag om U lig te laat skyn.
Amen

Dors vir meer:
Psalm 1

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 28 Junie 2021- Vertrou die Here vir my lewenspad! – Skrifgedeelte: Spreuke 3.

Skrifgedeelte: Spreuke 3.
Vers wat tref, vers 5,6. “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”

Met gisteraand se aankondiging van Vlak 4 beperkings is daar weer opnuut vir ons onsekerheid en bekommernis. Maar dit is ook weer vir ons ʼn geleentheid om ons vertroue op die Here te plaas.

Vertrou volkome op die Here en Hy sal jou die regte pad laat loop. Die Covid-19 pandemie is nie net toeval nie, die Here bepaal ons lewenspad. Ons wil altyd in beheer bly, wil elke deel van ons lewenspad bepaal, amper vir die Here sê hoe moet ons lewenspad lyk. Maar hierdie gedeelte herinner jou om jou lewe in God se hand te plaas, volkome. Ons vertrou nie net God vir die ewige lewe nie, ek vertrou God met my hele lewe. Ek plaas my lewe in God se hand. Hy is my GPS (Goddelike Posisionering Sisteem?) wat my lewenspad bepaal en die doel van my lewenspad is en bepaal.

Moenie net op jou eie insigte staatmaak nie, maar ken God in alles wat jy doen. Ken God weer opnuut vanoggend deur Jesus Christus. Christus het vir my die regte pad vooruit gestap. God ken die groter prentjie en daarom kan ek hom volkome vertrou! Hy lei my op die regte pad, nie die maklikste pad nie, maar die pad waar ek moet wees.
Leef daarom naby aan die Here, want Hy is by ons met sy Heilige Gees.

Gebed.
Leer my, HEER, u regte weë,
wys die regte pad my aan;
maak my hart daartoe geneë
om met lus daarop te gaan.
Wil my deur u waarheid leer,
lei my dwalende gedagte;
want U is my heil, o HEER!
U is ek altyd te wagte. (Psalm 25:2).

Dors vir meer:
Psalm 23

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 25 Junie 2021 – Koninkryk Kind dra ʼn reuse maaltyd aan (5) – Skrifgedeelte: Jh 6: 1-15

Skrifgedeelte: Jh 6: 1-15             Teks wat tref: Jh 6:9

Jh 6:9  – “Hier is ʼn seuntjie met vyf gars brode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”

Ons leer God dikwels eers ken as daar ‘n krisis ontstaan. Omring deur ʼn groot skare mense en terwyl Jesus uitgeput is na al die wondertekens en die skares wat net nog meer wil hê, is dit juis Hy wat besef dat iemand hulle van ‘n maaltyd moes voorsien. Hy  stuur ʼn seuntjie met vyf brode en twee vissies om in die nood te voorsien en wonders te laat plaasvind. 

Ons is so gewoond om te fokus op die dinge wat ons nie het nie, dat ons gou vergeet van die baie wat ons wel uit die hand van die Here ontvang het. Filippus is dadelik gereed met verskonings en menslike berekeninge.  Volgens hom is dit nie moontlik om soveel kos te koop nie. Twee honderd mense se dagloon sou nie eens genoeg wees nie.  Andreas maak boonop ook nog die opmerking dat dit ʼn hopelose situasie.  Al het Jesus soveel wonders in hulle teenwoordigheid gedoen, het hul steeds nie in Hom geglo en op Hom vertrou nie.  Tussen die groot skare mense wat agter Jesus aanloop is daar ook ʼn klein seuntjie op pad huis toe.  Hy word nie eens raakgesien nie.  En tog bring hy hoop in die wanhoop!

Hierna leer Jesus die dissipels om te gebruik wat jy het. Met dit wat die seuntjie beskikbaar gehad het, sal Jesus nou voorsien.  Jesus neem beheer oor. Hy gee opdrag dat die mense moet gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. Met die vyf brode en die twee visse van die seuntjie word almal gevoed. Volgens Joodse gebruik word die kos wat oor is bymekaar gemaak. Daar is meer oor as waarmee aanvanklik begin is. 

Jesus wil die dissipels nog meer leer. Voordat die wonder plaasvind, het Hy God daarvoor gedank – God is die Gewer van alles wat ek het.  Die kostelike beeld van ʼn kind wat saam aan tafel sit en hande vou om te bid is seker een van die kosbaarste oomblikke waar ons leer wat dit beteken om ʼn verhouding met die Here te hê. In alle opregtheid en in volle vertroue is dit die toonbeeld van wat  dit wat dit beteken om naby die Here te leef.   Dit is nog ʼn les wat ons by kinders leer.  Hulle vertrou net. Hulle vra nie vrae nie.  Dit bring hoop in wanhoop!

Moenie kyk na dit wat jy nie het nie. Fokus op dit wat jy het. Die seun bring vyf brode en twee visse. Gebruik  die dinge wat jy reeds tot jou beskikking het. 

Aan die kruis het Jesus jou lewe ook verander. Ons kry baie meer as brood – ons kry lewe. 

Dors vir meer:

Mt 6:25-34

Gebed

Here, baie dankie dat U in my daaglikse behoeftes voorsien.  Dankie vir elke gawe wat ek uit U hand ontvang. Leer my om raak te sien dat alles vir U moontlik is en dat ek volkome op U kan vertrou. Maak my diensbaar in U Koninkryk. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

« Older posts Newer posts »