Skrifgedeelte: Eseg 17: 1-19 Teks wat tref:v2,9
Eseg 17:2 – “Mens , jy moet vir Israel ʼn fabel, ʼn gelykenis, vertel. ”
Eseg 17:9 – “Sal dit goed gaan met dié wingerdstok?”
In ʼn insiggewende artikel word vertel dat die mens gemiddeld 35 000 keuses per dag maak. Baie hiervan vind onbewustelik in die brein plaas. ʼn Verdere aantal met die keuse van wat ek moet eet of aantrek tot die gewigter keuses oor die besluit van ʼn loopbaan of plek van aftrede.
In Eseg 17 word die profeet deur die Here gestuur om aan die volk ʼn fabel, ʼn gelykenis te vertel. Met nog ʼn beeld uit die natuur verkry die volk insig om die maak van keuses te bepaal.
Soos met enige gelykenis word bekende beelde gebruik om ʼn sentrale geestelike waarheid oor te dra. Hier verwys die arend na konings en die wingerdstok na die volk. Die steggie groei en word ʼn groot indrukwekkende wingerdstok wat baie druiwe dra en floreer. Daar heers ʼn pragtige harmonie. Kort hierna kom daar nog ʼn groot arend. Die wingerdstok draai sy wortels na hierdie arend en stuur sy ranke in dié se rigting. Dit ten spyte daarvan dat die wingerdstok in goeie grond by baie water geplant was.
Nou konfronteer God die volk met ʼn beslissende vraag in vers 9: “Sal dit goed gaan met dié wingerdstok?” Gaan die eerste arend dan nie sy wortels uittrek en sy vrugte vernietig nie? Met verwoestende gevolge. Hier het niks anders as verraad plaasgevind nie! Met die sondeval het die mens sy gesig ook van God weggedraai. Hierdie keuse het ʼn verwoestende uitwerking gehad. Die volk se optrede word ten sterkste veroordeel. Hulle is ʼn weerbarstige volk. Hy sal verdroog op die plek waar hy gegroei het. In die plek waar baie water en voedingstowwe was, is daar nou net dorre woestyn. So lyk ʼn lewe sonder God.
In Esegiël se woorde vanaf vers 11 volg daar ʼn profesie oor dit wat met die volk gaan gebeur.
Omdat die volk die Here geminag het, sal hulle nie kan vrykom nie. Ons vergeet so maklik dat God ons vas en seker plant en welig laat groei. Ons volg so maklik elke wind van verandering. Mag ons opnuut deur God se Gees gelei word om na Hom te draai. Deur God se genade het Christus ons weer na Hom gedraai! Ons keuses vertoon die ranke wat ons maak. Na Wie is jou blare (gesig) gedraai?
Dors vir meer:
Jh 15:1-8
Gebed
Here, baie dankie dat U my elke dag met alles wat nodig is versorg. Stuur U Gees om my oë en gedagtes op Jesus Christus te rig. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply