Skrifgedeelte: 1 Sam 21:1-9, 1 Sam 22:19-23 en Ps 52
Teks wat tref: 1 Sam 22:23
1 Sam 22:23 – “Bly by my en moenie bang wees nie, want hy wat my lewe soek , soek ook jou lewe.”
Dawid is steeds besig om vir Saul te vlug. Die vervolging lei daartoe dat vyf en tagtig onskuldige priesters van Nob deur Doëg vermoor word. Die gebeure veroorsaak dat Dawid medeverantwoordelik voel vir hul dood. Hy het immers by die priester Agimelek aangekom om kos en wapens te vra. Niemand sou kon dink dat die wraaksug van Saul geen grense geken het nie. Soos dikwels tevore gee Dawid uiting aan sy gevoelens en emosies en skryf hy Psalm 52 na aanleiding van die gebeure.
Reeds in 1 Sam 22:23 bemoedig hy vir Abjatar om op hom te vertrou. Soos dikwels tevore weet Dawid dat God hom sal bewaar. Die stryd tussen hom en Saul kring verder uit en beïnvloed ander mense se lewens en omstandighede. Net so raak my keuses en besluite onwillekeurig die lewe, bestaan en veiligheid van talle mense rondom my. Ek leef nie in isolasie nie en leer hier om nougeset rekening te hou met die gevolge en implikasie van elke besluit wat ek neem. Vir elke optrede is daar gevolge. Dawid het aanvanklik nie voorsien dat Saul geen ontsag vir mense se lewens gehad het nie.
Dawid neem nou verantwoordelikheid vir sy optrede wanneer hy vir Abjatar verseker dat hy veilig sal wees. Die hartseer en verlies van lewe kan nooit reggestel word nie en ek moet leer om te besin alvorens ek optree. My planne, ideale en besluite het altyd ʼn direkte gevolg op die mense naby my. Soms sal dit nie altyd maklik wees om met die gevolge van my optrede saam te leef nie, en dan moet ek juis my woord gestand doen om die welstand van die mense wat deur my optrede geraak is te verseker.
Dit gebeur wanneer Dawid in Ps 52 bely dat God altyd vir hom sorg. God laat nie die onreg toe nie en sal die waarheid laat seëvier. Hy sal ongeregtigheid vernietig en met mag optree om die onregverdige uit sy woonplek te ruk en weg te sleep. Teenoor die inhaligheid en valse vertroue is daar net een ander moontlikheid om staande te bly. Ek moet op God se krag steun. Juis omdat Dawid beleef het dat hy sterk staan soos ʼn welige olyfboom en in die huis van die Here is, kon hy met sekerheid troos en veiligheid aan die families van die vermoorde priesters bied.
Maak altyd seker dat jy deeglik oor die implikasies van jou besluite en dade besin. Loof God vir Jesus Christus wat met sy lewe vir my veiligheid en redding bewerk het.
Dors vir meer:
Lk 14:28-30
Gebed
Here, leer my om deeglik te besin voordat ek met enige iets begin. Lei my deur U Gees om my beloftes en verantwoordelikhede na te kom. Amen
Petrus van Blerk
Sel: 0824560235