Author: Karen de Lange (Page 28 of 33)

Dagstuk 04 Junie 2020 – Die Here betoon sy genade en oordeel (1)

Skriflesing: Amos 7:1-17                          Teks wat tref: v3 en 6

Amos vertel dat die Here God hom gesigte laat sien het. Dit het by hom tegelyk angs en vrede laat ontstaan. Tot aan die einde van hoofstuk 6 lees ons van vernietiging en verdelging. God verafsku die hooghartigheid en Hy het ʼn weersin in hulle mooi huise. (Amos 6:8,9) Daar sal ʼn nasie teen die volk optrek en hardvogtig oor hulle heers.  Daarna gebruik die Here gesigte om sy wil bekend te maak.  ʼn Gesig is soos ʼn teken wat gebruik is om ʼn boodskap oor te dra.

In die vorige hoofstukke het Amos telkens God se wil aangekondig.  Dit was ʼn profeet se taak. Vanaf hoofstuk 7 vind daar ʼn tweegesprek tussen God en Amos plaas.  Na die oordeel wat God aankondig, pleit Amos om vergiffenis. (v2) Hy smeek God om op te hou. (v5) Met die derde gesig hoor hy dat God met die swaard teen die volk sal optree. As boer was Amos vertroud met die eerste drie gesigte.  Dit het betrekking en verwysing tot gebeure op landboukundige gebied. 

As skaapboer uit Tekoa verstaan hy die vernietigende skade wat sprinkane sal aanrig as al die groenigheid van die land afgevreet is.  Dit sou hul sonder weiding laat.  As daar iets sou oorbly het die verterende vuur dit verder verwoes.  Geen weiding en geen water. Onbenydenswaardig.  Dit beteken gewis dood en geen uitsig op enige hoop nie.  Die finale nekslag word met die aankondiging van die derde gesig toegedien. 

‘n Skietlood is deur ʼn bouer gebruik as instrument om seker te maak dat ‘n gebou se mure haaks is.  Daarmee is bepaal of ‘n muur oor gebou moes word en of dit esteties inpas. Daar was nie plek vir die geringste fout nie. Met hierdie gesig verkondig die Here dat Hy geen uitsondering sal maak wanneer die volk veroordeel word nie.  Hy gaan hulle nie meer spaar nie. 

Uiteraard het hierdie profesie nie oral ewe byval gevind nie. Amos word daarvan beskuldig dat hy ‘n komplot teen die koning smee. Dit is alleen sy vertroue op God wat hom staande hou.  Met die aanhoor van God se planne pleit hy elke keer tot die Here. Hy doen ‘n beroep op God se genade.  Twee keer  (v3,5) lees ons dat die Here van sy voorneme afgesien het. 

Beteken dit dat die mens God van plan kan laat verander? Beslis nie. Amos beroep hom egter op die besondere band tussen God en die volk.  God het hierdie volk uitgekies en Hom aan hulle verbind. Hy is besorg oor hul lot. Hy ontferm Hom oor sy kinders.  Maar soms is daar drastiese maatreëls nodig om ons daaraan te herinner. 

Hoe lyk jou lewe as God die skietlood in sy hand hou?  In hoofstuk 8 gaan ons more verder lees oor God se optrede om die mens nader om hom te bring.

Dors vir meer:

Rm 6:1-14

Gebed

Here, leer my om ag te slaan op U waarskuwings wanneer ek van U wegdwaal. Dankie dat ek deur Christus gespaar is toe die skietlood  teen my aangelê is en al my sonde aangetoon is. Dankie vir U genade. Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235

Dagstuk 03 Junie 2020 – “Vra na My wil, dan sal julle lewe”(2)

Skriflesing: Amos 5:1-17                          Teks wat tref: v4 en 7

Die opdrag om na die wil van die Here te vra word twee maal gegee. En dit word elke keer met ‘n belofte opgevolg – dan sal julle lewe!

Aanvanklik kon die volk dit nie verstaan nie. Koning Jerobeam is uiters suksesvol met elke aanslag.  Oral word grondgebied ingepalm.  Die ekonomie beleef ongekende hoogtes.  Die sosiale kalender is oorvol. Uitspattighede en vergrype kom wyd voor. Morele verval tree in as elkeen maak soos hy wil. Net so brand ons leefwêreld met vergrype, korrupsie en oneerlike winsbejag.

Daarom moet ons ook oordeel of daar regtig na die wil van God gevra word.  In my beoordeling is dit maklik om vinger na ander te wys.  Wat is die implikasie as ek na God se wil vra? Nog dringender, hoe ernstig vra ek na die wil van die Here?

Ons wil graag verandering bewerkstellig. Daarvoor moet ons God eers reg leer ken.  Alles sonder God is leeg en betekenisloos – Dit loop op die dood uit.  Hervorming beteken net om te doen soos wat God se wil dit voorskryf. Dit is nie ‘n sedelessie en ‘n paar kosmetiese veranderinge nie. 

Dit vra ‘n verandering van my hart se ingesteldheid.   Ek kan nie langer ongehinderd aangaan nie.  Raak PRAKTIES. ONDERSOEK elke aspek van jou lewe.  Israel het gemeen dat hulle die Here kon kul. – Ons “speel” ook baie keer met die Here.

Kom luister eers weer Wie God is!  (Lees vers 8,9)  Amos beskryf God se eienskappe en werke.  HY is die HERE. HY beskik oor alles. God beheer die geskiedenis. Dit laat my opnuut besef dat God steeds in BEHEER is. Te midde van die vernietigende gevolge van Covid 19 kan ek bly vertrou.

Om na God se wil te vra beteken dat ons alles gaan TOETS.  My maatstaf is God se WOORD. Om na God se wil te vra beteken dat ek probeer om goed te doen, te haat wat verkeerd is, lief te hê wat goed is en op te kom vir die reg in die howe (v14,15).  Amos stel die uiterstes teenoormekaar om juis te beklemtoon dat ek keuses moet uitoefen as ek na God se wil vra.  Ek kan nie passief agteroor sit en alles gade slaan nie. Ek moet aktief en doelgerig optree.  Om na God se wil te vra, beteken dat ek sal doen.  Dit is ʼn leefwyse.  Dit vra ʼn bepaalde ingesteldheid.  Ek word al minder en God al meer.

Wie nie na God se wil vra nie, kan die ergste straf verwag.  Amos gebruik dieselfde woord hiervoor wat ook in Eks 12:23 voorkom wat daarop dui dat God met die dood vernietig.  Christus het vir ons geleer wat dit beteken om aan God se wil gehoorsaam te wees.  In sy sterwens oomblikke pleit Hy dat sy Vader se wil sal geskied.  Deur HOM kan ons lewe!

“Vra na my wil, dan sal julle lewe.”

Dors vir meer:

Jh 15:1-17

Gebed

Here, lei my om met my woorde, gebare, gedagtes en optrede U Naam te verheerlik. Bewaar ons om in hierdie bose tyd ons oë op U te rig.    Dankie dat U my help om op te staan as ek geval het.  Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235

Dagstuk 02 Junie 2020 – “Vra na My wil, dan sal julle lewe”(1)

Skriflesing: Amos 5:1-17                          Teks wat tref: v4 
 
In geen onduidelike taal kondig Amos in elke hoofstuk net oordeel en treurliedere aan.  Hy skets ‘n somber prentjie van Israel.  Daar is eintlik nie meer sprake van ‘n verhouding wat hulle met die Here het nie.  As ons sy beoordeling van die volk lees, bring dit ‘n ongemak.  Dit is waaragtig verdoemend en swaarmoedig.  Niemand wil hierdie woorde hoor nie. Dit is byna asof hulle van hul eie doodsberig in die oggendblad lees. Die prentjie wat Amos skets word al donkerder. Van duisend bly honderd oor.  Van honderd bly tien oor.
 
Wanneer die Here uit Sion brul wil Hy weet hoe ernstig vra jy na die Here se wil?  Dan sien ons wat die Here se bedoeling is. Hy is die HERDER wat OMSIEN sodat die volk kan lewe. Die volk kon dit nie verstaan nie.  Daarom moet die Here hulle dringend waarsku. Moenie in Bet-El gaan raad soek nie.(v5)  Ek sal julle soos ʼn vuur tref. (v6)
 
Amos se profesie het nege hoofstukke.  In die eerste vier word oordeel verkondig. Hoofstuk 5 is in die middel – skarnier – Laaste vier hoofstukke bring die volk in die Here die Almagtige God se teenwoordigheid.  Hy is die Skepper van alles. Hy het die sewester en Orion gemaak. Hy het dag en nag gemaak. Hy roep die water van die see en stort dit oor die aarde uit.  Sy Naam is die Here. Dit is hoe God Hom aan die volk bekend maak.  Hy is Almagtig, Alomteenwoordig en Alwetend.  Daarom beveel Hy ons om na sy wil te vra!
 
Wat beteken dit om na die wil van die Here te vra?  Ons moet besef dat daar geen hulp buite God is nie.  Ons soek gewoonlik op baie ander plekke en maniere hulp. Die volk doen dit by drie “heilige” plekke waar hulle geglo het hulle die Here kan ontmoet.
Betel, –  Huis van die Here sedert tyd van Jakob
Gilgal, – sentrale plek tydens intog in Beloofde Land
Berseba.   – God verskyn aan Jakob en rig VERBOND op.
 
Maar dit is ‘n valse vertroue.  God kan nie tot plekke en “heiligdomme” en gebruike en rituele beperk word nie.  Hy vra ‘n lewende verhouding met Hom.  Dit beteken dat ek elke oomblik na sy wil sal vra. Dit is die bedoeling van Amos se profesie. Nie om al ons foute en leemtes uit te wys en bloot te stel nie. Dit is die Heilige Gees se bedoeling dat ons God ontmoet.
 
Daarom openbaar die hele boek van Amos God se LIEFDE – Hy kom ons opsoek. Hy gee die oplossing vir elke situasie.
 
Eers hoor die volk van hulle situasie.  Dan die OPLOSSING.  Dan die opdragte van wat die Here verwag nadat Hy redding gee.  Ons lees more verder oor God se opdragte en die implikasie daarvan as ek na God se wil vra.
 
Dors vir meer:
Mt 6:5-10 en Gal 5:22-25
 
Gebed
Here, leer my om van my eie wil af te sien. Leer my om U almag raak te sien. Bewaar my van eiegeregtigheid en laat ek die vrug van die Gees in my lewe dra. Amen
 
Ds Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 01 Junie 2020 – Wanneer die Here uit Sion brul…………………….

Skriflesing: Amos 1:1- 15    Teks wat tref: v2 

Toe Amos met sy werksklere deur die strate stap het hy nie veel aandag getrek nie. Niemand sien die skaapboer raak nie.  Miskien het hy nog ʼn paar skape en ʼn vrag wildevye by hom op pad mark toe.  Sy eerste uitroepe het bes moontlik op dowe ore geval. 

ʼn Skrywer maak die stelling dat die koerante jou op hoogte hou van “dinge wat nasionaal en internasionaal verkeerd en korrup is. Dit is presies wat die boek Amos doen – nie net met betrekking tot sy tyd nie, maar juis ook vir die tyd waarin ons leef.   

Daar is egter ʼn belangrike verskil tussen Amos en ʼn koerant.  Dit wat verkeerd is, word in die boek Amos met God in verband gebring.  As Amos dinge in die gemeenskap uitwys wat verkeerd is, doen hy dit nie op grond van wat mense meen reg en verkeerd is nie.  Amos beoordeel menslike optrede uit God se perspektief.  Dit maak Amos vir ons ʼn aktuele boek, want hier hoor ons wat God dink van wat mense doen. Ons kan Amos tipeer as die profeet van God se geregtigheid.”

Mag ons in die volgende dae deur die Heilige Gees tot ware selfondersoek gelei word en daarna strewe om na die wil van die Here te vra. (Amos 5: 6) As kerke het ons 31 Mei 2020 as ʼn dag van verootmoediging deurgebring.  Daar word meer gevra.  Maak dit LEWE van verootmoediging. 

Toe Amos die Here se boodskap begin verkondig kon baie van die opskrifte vandag net so goed teen die lamppale gelees word – Uitbuiting, Korrupsie, Selfsug en Oneerlike winsbejag.

Dalk het daar ʼn paar mense gaan stil staan toe hy van brullende leeu begin vertel want dit raak jou veiligheid en dit bring gevaar. Die verdorde weivelde en die verdroogde top van Karmel het vir hulle groot skade en verlies beteken. 

Ten spyte van sy waarskuwende woorde luister niemand na hom nie. Die waarskuwende woorde is ook vir my  ʼn oproep tot selfondersoek.

Met die brullende stem stel die Here Hom bekend as Beskermer. Hy openbaar sy geweldige mag en krag. Hy is die leeu uit Juda se stam.  Met hierdie beeld is dit altyd God wat in beheer is. In die verlede, hede en toekoms.

Elkeen van die volke doen ʼn vierde sonde.  Dit is asof hulle nie genoeg leed kon aandoen nie en God as’t ware wil uittart.  Die gevolge van sonde het geen perke nie en sluk mens net meer en meer in.  Een slegte daad lei na die volgende.  Onreg het geen versadigingsperk nie.  In die eerste hoofstuk waarsku Amos teen marteling (v3), menseroof (v6 en 9) en moord (v11 en 13) in elke moontlike vorm.  Vandag is talle mense aan die vergrype van tiranne en despotiese owerhede uitgelewer. Dit gebeur dalk nie naby ons nie, en alhoewel dit ons met weersin vervul, kan ons maklik wegstap. 

Wanneer hierdie dinge op my voorstoep gebeur verander dit die prentjie. Die geweld van bendes, die ontvoering van kinders  en die wrede aanranding van vroue haal dikwels in Suid-Afrika die koerante se voorblaaie.

Nog nader was jy dalk al die slagoffer van iemand wat jou teleurgestel het deur die broederliefde te verloën.  As mens is ons swak en maak ons ons naaste maklik met woorde en dade seer. 

In Amos 1 word die brul word al verder en duideliker gehoor.  Met die brullende leeu wat vanuit Jerusalem gehoor word, kondig Amos verlossing en redding vir die volk aan.  In Jerusalem het Christus vir al ons sonde gesterf, die dood oorwin en opgestaan om ewig te heers.

Dors vir meer:

Genesis 49:1-10 en Openbaring 5:1-5

Gebed

Here, maak ons oë en ore oop en leer ons om sensitief te wees om die nood van ander raak te sien en sterk te wees om teen onreg  te veg.  Dankie dat U my gedagtes rig deur U Heilige Gees. Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235

Dagstuk Vrydag 29 Mei 2020 – God gee ons Troos!

Jesaja 40:1-11.
Teks wat tref: Jesaja 40:1.

Wat is jou troos? So vra die Heidelbergse Kategismus in vraag 1 ook. Maar wat is troos? Is dat wanneer ʼn kind val en seerkry in sy hele wêreld inmekaar val en hy fokus net op die pyn en skrik, dan kom sy ma en tel hom/haar op, droog die trane af? Troos kalmeer! Troos motiveer en laat jou verder kyk as wat jy nou beleef.
Jesaja 40 begin dan met die oproep: Troos, troos my volk. Die uitkoms is hier!
God kry sy gebroke volk jammer in ballingskap. God stel sy gebroke volk gerus, verseker hulle van sy nabyheid, motiveer hulle opnuut.
Die ballinge se ellende kom tot ‘n einde, maar die volk wil dit nie glo nie! Daarom wys die profeet
hulle eers op die Almag van God. Hulle is maar ʼn blom of gras wat verlep en uitdroog.
Tog red God hulle! Hulle is nie beter as hulle voorvaders nie, maar die Here gee nooit op met sy volk nie.
Vandag is dit nie anders nie. Ons redding uit sonde is ‘n magsdaad van God. In hierdie magsdaad word sy liefde vir ons sigbaar. Beleef ons sy troos! Ons stryd is verby, ons skuld is betaal!
”Troos, troos my volk, sê julle God”.
Jy het Christus ontvang. Hy het met sy bloed vir al jou sonde betaal. Jy behoort aan Hom. Wees gerus! Jy is nie uitgelewer aan mense of omstandighede nie. Christus beheer alles.
Selfs die hare op jou kop. Hy gee soveel om dat alles moet meewerk dat jy al beter word: beter in jou verhouding met God, in jou verhouding met jou naaste en in jou persoonlike lewe. Hy is so begaan oor jou dat Hy deur sy Gees jou elke dag nuut laat opstaan. Hy motiveer jou om al beter te word – Vir Hom!

Die Troos word vir ons in die volgende verse en hoofstukke nog meer na vore gebring, waarna ons, as die Here wil, volgende week verder kyk.

Dors vir meer:
Sondag 1 Heidelbergse Kategismus, Efesiërs 1:1-14

Gebed
Here ons Almagtige God!. Dankie dat ons die almag van U troos mag beleef, reeds in hierdie lewe, maar veral vir die ewige lewe. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Donderdag 28 Mei 2020 – Bly vertrou in gebed! (2)

Jesaja 38-39
Teks wat tref: Jesaja 38:17

Weereens sien ons prakties hoe koning Hiskia sy geloof uitgeloof het. Nie dat Hiskia ʼn perfekte mens was nie, in hoofstuk 39 sien ons hoe maklik spog hy en wys al sy skatte vir die gesante van Babel. Tog was sy koningskap meer positief as negatief. Hy het die tempeldiens herstel en as koning op die Here vertrou.
Vandag sien ons weereens dat hy sy nood aan die Here bekend maak in gebed.
Hy was dodelik siek, die Here stuur Jesaja met die boodskap dat hy gaan sterf. Hy draai na die muur en bid tot die Here en huil bitterlik. Die Here gee vir hom uitkoms! Jesaja word weer gestuur om met ʼn nuwe boodskap, die Here gaan jou gesond maak en jou lewe met 15 jaar verleng. Nie net die boodskap nie, maar ʼn wonder teken dat die son tien trappe terug gaan skuif op die trappe wat dit reeds afgesak het. ʼn Teken om vir Hiskia te bevestig hy gaan weer in die tempel die Here kan aanbid!

Wat leer hierdie gedeelte ons van gebed? Kan ons die Here van plan laat verander deur gebed?
Ons bid nooit tevergeefs nie. Gebed is die wonderlike wyse waarop ons met die Here, die Almagtige in gesprek kan tree. Ter wille van Jesus Christus kan ons met vrymoedigheid tot die Here nader, enige tyd en Hy sal ons nie wegwys nie. As jy toegang tot die president gehad het, gaan jy hierdie toegang gebruik? Daarom kan ons altyd tot die Here bid, die Heilige Gees staan ons ook by in ons gebede al weet ons nie altyd hoe en wat om te bid nie.
Gebed is nie daar vir ons sodat ons die Here kan voorskryf nie oor wat Hy moet doen nie, maar ʼn wonderlike wyse waarop ons as Sy kinders tot Hom kan nader, in voorspoed en in nood.
Ons bid nooit tevergeefs nie, al word ons gebede nie verhoor soos wat ons dit verwag of wil hê nie.

Na Hiskia gesond geword het, besef hy dit was goed om soveel te ly. Lyding bring ons nader aan God en die Here wil altyd hê ons moet tot Hom bid, al is Sy raadsplan vas.
Hiskia het ook nie vergeet wat die Here vir hom gedoen het nie nadat hy gesond geword het nie, maar sy dank teenoor Hom uitgespreek.

Om Christus ontwil word ons gebede verhoor, al is dit nie altyd presies soos ons dit wou gehad het nie. Ons mag egter nooit die verhoring van ons gebede as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons moet God bly loof terwyl ons om sy uitkoms bid! Ons moet veral die Here ook loof vir die uitkoms wat Hy ons bied!

Waarvoor kan jy die Here in gebed vanoggend loof?

Dors vir meer:
Psalm 25 en Jakobus 5:13-20.

Gebed
Here ons Almagtige God!. Vanoggend wil ons U loof en prys vir soveel liefde wat ons beleef as U kinders. Dankie vir U genade wat ons beleef in oorvloed. Dankie dat ons tot U kan bid. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Woensdag 27 Mei 2020 – Bly vertrou in gebed!

Jesaja 36-37
Teks wat tref: Jesaja 36:4-5 en 37:14-15.

Jesaja 36 en 37 wys vir ons hoe om prakties ons geloof uit te leef. In vertroue alleen tot God, wat ons beweeg tot gebed, kry ons net ons redding vanaf die Here.
Assirië is menslik gesproke die grootste bedreiging vir die volk van God. Geen ander ryk kon sover teen Assirië bestand bly nie. Samaria, die Noordelike ryk is al twintig jaar tevore verwoes en weggevoer in ballingskap. Is dit nou ook die einde van die Suidelike Ryk, van Jerusalem en sy inwoners. Is dit nou dat die Here die belofte van straf gaan voltrek oor Juda?

Ook Sanherib, die Assiriese koning, het gedink dat dit net maar ‘n kwessie van tyd was voordat Jerusalem sou val. Egipte sou hulle nie kon help nie – en nog minder die Here, die God van Juda.
Só het Sanherib en sy bevelvoerders die Here gesmaad. Geen volk se gode kon ons nie keer nie, hoekom sal die Here ons nou ook keer? Hulle sien die reformasie van koning Hiskia om die hoogtes en ander altare af te breek as ʼn swakheid, daar is nou net een plek by die tempel waar die Here aanbid word. Hoe gaan die Here Juda nou kan red?

Wat is Hiskia se optrede? Hy bly vertrou op die Here. Hy neem letterlik sy probleme na die Here toe en plaas dit voor die Here in die tempel en bid tot God. Kyk mooi na hierdie gebed. Dit gaan nie hier oor Hiskia nie, maar oor God self en God se eer.
Die Here antwoord Hiskia se gebed deur Jesaja te stuur met die antwoord. Selfs die sterkste mag in die wêreld is niks meer as ʼn instrument in die hand van die Here nie.
Toe het die Here op ʼn wonderlike manier redding gegee. Hy stuur sy engel om die magte van Assirië te verwoes. Die Here wys weer sy onverdeelde trou en dat Hy sorg. Sondag oggend kyk ons dan ook hoe die Here almal opnuut oproep om na Hom te kom vanuit Jesaja 55.
Al lyk dit soms of ‘n mens se wêreld ineenstort, moet ons onthou dat God in beheer is en dat Hy op ʼn wonderlike wyse uitkoms kan gee.
Kom ons bring ons probleme en plaas dit voor die Here en vertrou in gebed! Verootmoedig jouself voor God en besef opnuut Hy is die Almagtige!

Dors vir meer:
Psalm 33 en Handelinge 4:23-31.

Gebed
Ons hemelse Vader. Ons vertrou op U want U is ons heil en beskerming. Mag ons harte altyd op u vertrou. Gaan met ons land en bring vir ons genesing en bekering. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Dinsdag 26 Mei 2020 -Bemoedig mekaar!

Jesaja 35
Teks wat tref: Jesaja 35:3-4.

Jesaja 35 is die afsluiting van die eerste profetiese uitsprake. Tot nou toe het ons na die baie oordeelsuitsprake gekyk waarin die volk van God vermaan word om hulle te bekeer, anders gaan God se oordeel hulle tref. Hierdie oordeel was ‘n werklikheid en is ook so volstrek.
Die Here sluit nie nou af in Jesaja 35 met nog ʼn oordeeluitspraak nie, maar met ʼn boodskap van verlossing. Hierdie gedeelte gaan daarvan uit dat wanneer die oordeel van die Here voltrek is, dat die Here weer in genade na sy volk gaan kom.
Hy gaan hulle verlos en na Jerusalem terugbring. So gryp die stukkie vooruit na die verlossing wat in die tweede deel van Jesaja, van hoofstuk 40 af, verkondig word.
As die volk in die doodloopstraat van die ballingskap beland het, is dit nie die einde nie. God kan weer verlossing gee – maar hulle moet hulle tot Hom bekeer.
Al gaan dit met ʼn mens baie sleg, het ons steeds hoop omdat ons weet dat God alles beheer. Juis daarom moet ons altyd aan Hom vasgryp en vir Hom lewe.

Die volk moet mekaar bemoedig- die wie se hande slap hang, die wie se knieë knik, die wat moed verloor het. Bemoedig die wat nie meer kan nie. Strek jou hand uit na die om jou wat moedeloos is.
Kyk uit vir mekaar en bemoedig mekaar. Ons hoef nie altyd sterk te wees nie, soms hang ons hande slap, ons knieë knik, ons is moedeloos. Die omstandighede tref ons, die stres is net te veel, die swaarkry van ander om ons is te veel! “Wees sterk, moenie bang wees nie want julle God hier!”
Bemoedig mekaar! Hoeveel van hierdie wonders in Jesaja 35 het nie waar geword met Christus se koms nie? Blindes sien, stommes sing, dowes hoor! ʼn Stroom water het uit die woestyn uit gebars en vir ons droë, verskroeide aarde het daar redding gekom. Jesus Christus het vir ons die verlossing gegee! Die Here bemoedig en versterk ons deur sy Heilige Gees!

Daarom kan ons vandag saam met vers 10 jubel en uitroep:
Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer,
hulle sal juigend in Sion aankom,
hulle sal altyd straal van blydskap,
hulle sal vol vreugde en blydskap wees;
ellende en smart sal verdwyn. (letterlik in die Hebreeus, sal kommer en sugtinge weg vlug).

Dors vir meer:
Johannes 7:37-39 en Matteus 20:29-34

Gebed
Dankie Here dat ons kan juig en jubel oor die verlossing wat u vir ons bewerk het. Versterk ons hande en ons knieë sodat ons dapper deur hierdie tye kan stap op ons lewenspad.
Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 25 Mei 2020 – Jou eie oë sal die Koning sien!

Jesaja 33:17-24

Teks wat tref: Jesaja 33:22

Die Here maak deur sy profeet Jesaja die toekoms bekend: “Jou eie oë sal die koning sien in al sy prag en ʼn land wat wyd lê.”  Eers word daar terug verwys na die verlede: Hierdie vyand met die vreemde taal wat wil kom en verwoes sal jy nie meer vrees of weer sien nie.  Dit is verby!  Daar is weer vrede in die land en die volk hoef nie meer rond te swerf nie.

Ja, hierdie gedeelte is in die eerste plek vir die volk Juda ʼn groot troos dat die omstandighede gaan verander, die Here gaan hulle nie altyd straf nie, maar hulle gaan weer in vrede leef in Jerusalem.  Hulle gaan terugkeer vanuit ballingskap en Jerusalem weer opbou.

In die tweede plek is dat ʼn heenwysing en beskrywing van die nuwe aarde en Jerusalem wat gaan kom.  Daarom kyk ons na hierdie gedeelte vanuit hierdie tweede perspektief.

Met jou eie oë gaan jy die Koning sien in al sy prag.  Hoe wonderlik kan ons nie uitsien na hierdie gebeurtenis nie.  Ons het verlede week die hemelvaart van Jesus Christus herdenk.  Hy wat opgevaar het om as Koning te regeer.  Ons self gaan die Koning sien in al sy prag.  Ons gaan nie meer rondswerf in hierdie tydelike, aardse lewe nie.  Nee, die tentwoning gaan verruil word vir ʼn vaste hemelse woning.  Tentpenne hoef nie meer versit te word nie, toue gaan nie breek nie, niemand gaan meer siek wees nie.  Daar sal die Here vir ons die magtige God wees.  Nie omdat die Here nie reeds vir ons die magtige God is nie, maar daar gaan ons dit ten volle in sy volheid beleef.  Ons gaan dit met ons eie oë sien.

Die Here is ons Regter, die Here is ons Leidsman, die Here is ons Koning.  Die taak van ʼn koning is om op te tree as die regter in regsake, hy moet leiding en beskerming gee aan sy onderdane en sy koninkryk regeer.  Die Here self is vir ons die perfekte Koning!  Hierdie rol sien ons veral in die werking van Jesus Christus wat hoof is van sy Kerk.  Dit is vir ons ʼn groot troos dat Christus nou ook as Koning regeer en waak oor sy Kerk.  Ons kan daarom die Here vra vir leiding, raad, beskerming en wysheid indien ons dit nodig het.

Maar ons kan vorentoe kyk na Christus se wederkoms!  Hy kom as Regter en spreek ons vry van ons sonde!  Weg is siekte en hartseer en dood! Openbaring 21 bevestig dit weereens vir ons. Net omdat die Here ons sonde deur Jesus Christus vergewe het.  Daarom gaan ons die Koning met ons eie oë sien!

Tot dan, kan ons nog steeds ons oë en harte rig tot die Here ons Koning, want Hy regeer!

Dors vir meer:

Openbaring 21:1-8. En Hebreërs 12:1-3.

Gebed

Dankie Here dat U ons Regter, Leidsman en Koning is.  Versterk ons dat ons altyd deur die geloof ons oë gevestig kan hou op U Here. Dankie dat ons kan uitsien na die dag waarop ons U met ons eie oë kan sien en altyd by U sal woon.  Amen.

Ds Danie Potgieter

072 272 9631

GK Rietvallei.

Dagstuk 22 Mei 2020 – Bult jou spiere

Met hierdie week se dagstukkies leer ons om aan God gehoorsaam te wees en ʼn verskil te maak.

Skrifgedeelte:  Rigters 16:23-31            Teks wat tref: Rigters 16:28

Jy kan alleen ʼn verskil maak as jy aan God gehoorsaam is.  Juis daarom gebruik God die Rigters om die volk tot gehoorsaamheid te lei. Al die Rigters tree op in ʼn tydperk net voor die volk vir ʼn koning gevra het.  Simson verskyn op die toneel nadat die Israeliete veertig jaar lank in die mag van die Filistyne was.

Sy ouers was kinderloos en hul beleef groot genade met Simson se geboorte. Hy word deur die Here geseën  en die Gees van die Here begin om hom te lei. Hiermee is dat duidelik dat God hom wil gebruik om ʼn verskil te maak.  (Rigters 13:24,25). Die skrywer van Rigters lewer breedvoerig verslag oor Simson se doen en late.  In Rigters 4:14 lees ons dat alles van die Here gekom het.  God wil hom gebruik om die Filistyne te straf.  Simson onderskei homself meer male met die vertoning van sy krag en deur raaisels te gebruik.  Hy bind die sterte van 300 jakkalse twee twee aan mekaar en jaag hulle met fakkels deur die Filistyne se lande. Hy breek sterk toue soos garingdraad. Hy slaan duisend van hulle dood met die kakebeen van ʼn donkie. Hy is vir twintig jaar die Israeliete se leier. 

Kort hierna loop hy agter ʼn prostituut aan.  Hy raak verlief op Delila. Sy ongehoorsaamheid veroorsaak dat die Here hom verlaat. Hy verklap sy lewensgeheim oor die bron van sy krag.  Hy was aan die Here gewy.  Hy moes met sy gawes ʼn verskil maak.  Sy oë word uitgesteek en hy draai die meul in die tronk.  Die eens kragtige Simson word nou gebruik om die Filistyne te vermaak.

Hy kom tot inkeer en roep God aan (16:28).  Met sy versoek dat God hom hierdie een keer sterk moet maak, gaan hy ʼn verskil maak.  Met die krag wat hy ontvang laat hy die tempel op die leiers en al die mense inval. Hy sterf saam met die Filistyne.   So het hy met sy dood meer mense doodgemaak as in sy lewe.  

Ons word geroep om in gehoorsaamheid aan God diensbaar te wees en ʼn verskil te maak. 

Aan die kruis het Jesus Christus met sy dood vir ons lewe gegee.  Gebruik hierdie genade en bult jou spiere in diens van ons Koning. 

Dors vir meer:

Sag 8:20-23

Gebed

Here, bewaar ons in alle omstandighede om gehoorsaam te wees. Stuur U Heilige Gees om ons van ons eie wil  te bewaar.  Dankie dat U my gebruik om diensbaar te mag wees.  Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235

« Older posts Newer posts »