Jesaja 33:17-24

Teks wat tref: Jesaja 33:22

Die Here maak deur sy profeet Jesaja die toekoms bekend: “Jou eie oë sal die koning sien in al sy prag en ʼn land wat wyd lê.”  Eers word daar terug verwys na die verlede: Hierdie vyand met die vreemde taal wat wil kom en verwoes sal jy nie meer vrees of weer sien nie.  Dit is verby!  Daar is weer vrede in die land en die volk hoef nie meer rond te swerf nie.

Ja, hierdie gedeelte is in die eerste plek vir die volk Juda ʼn groot troos dat die omstandighede gaan verander, die Here gaan hulle nie altyd straf nie, maar hulle gaan weer in vrede leef in Jerusalem.  Hulle gaan terugkeer vanuit ballingskap en Jerusalem weer opbou.

In die tweede plek is dat ʼn heenwysing en beskrywing van die nuwe aarde en Jerusalem wat gaan kom.  Daarom kyk ons na hierdie gedeelte vanuit hierdie tweede perspektief.

Met jou eie oë gaan jy die Koning sien in al sy prag.  Hoe wonderlik kan ons nie uitsien na hierdie gebeurtenis nie.  Ons het verlede week die hemelvaart van Jesus Christus herdenk.  Hy wat opgevaar het om as Koning te regeer.  Ons self gaan die Koning sien in al sy prag.  Ons gaan nie meer rondswerf in hierdie tydelike, aardse lewe nie.  Nee, die tentwoning gaan verruil word vir ʼn vaste hemelse woning.  Tentpenne hoef nie meer versit te word nie, toue gaan nie breek nie, niemand gaan meer siek wees nie.  Daar sal die Here vir ons die magtige God wees.  Nie omdat die Here nie reeds vir ons die magtige God is nie, maar daar gaan ons dit ten volle in sy volheid beleef.  Ons gaan dit met ons eie oë sien.

Die Here is ons Regter, die Here is ons Leidsman, die Here is ons Koning.  Die taak van ʼn koning is om op te tree as die regter in regsake, hy moet leiding en beskerming gee aan sy onderdane en sy koninkryk regeer.  Die Here self is vir ons die perfekte Koning!  Hierdie rol sien ons veral in die werking van Jesus Christus wat hoof is van sy Kerk.  Dit is vir ons ʼn groot troos dat Christus nou ook as Koning regeer en waak oor sy Kerk.  Ons kan daarom die Here vra vir leiding, raad, beskerming en wysheid indien ons dit nodig het.

Maar ons kan vorentoe kyk na Christus se wederkoms!  Hy kom as Regter en spreek ons vry van ons sonde!  Weg is siekte en hartseer en dood! Openbaring 21 bevestig dit weereens vir ons. Net omdat die Here ons sonde deur Jesus Christus vergewe het.  Daarom gaan ons die Koning met ons eie oë sien!

Tot dan, kan ons nog steeds ons oë en harte rig tot die Here ons Koning, want Hy regeer!

Dors vir meer:

Openbaring 21:1-8. En Hebreërs 12:1-3.

Gebed

Dankie Here dat U ons Regter, Leidsman en Koning is.  Versterk ons dat ons altyd deur die geloof ons oë gevestig kan hou op U Here. Dankie dat ons kan uitsien na die dag waarop ons U met ons eie oë kan sien en altyd by U sal woon.  Amen.

Ds Danie Potgieter

072 272 9631

GK Rietvallei.