Skriflesing: Amos 1:1- 15 Teks wat tref: v2
Toe Amos met sy werksklere deur die strate stap het hy nie veel aandag getrek nie. Niemand sien die skaapboer raak nie. Miskien het hy nog ʼn paar skape en ʼn vrag wildevye by hom op pad mark toe. Sy eerste uitroepe het bes moontlik op dowe ore geval.
ʼn Skrywer maak die stelling dat die koerante jou op hoogte hou van “dinge wat nasionaal en internasionaal verkeerd en korrup is. Dit is presies wat die boek Amos doen – nie net met betrekking tot sy tyd nie, maar juis ook vir die tyd waarin ons leef.
Daar is egter ʼn belangrike verskil tussen Amos en ʼn koerant. Dit wat verkeerd is, word in die boek Amos met God in verband gebring. As Amos dinge in die gemeenskap uitwys wat verkeerd is, doen hy dit nie op grond van wat mense meen reg en verkeerd is nie. Amos beoordeel menslike optrede uit God se perspektief. Dit maak Amos vir ons ʼn aktuele boek, want hier hoor ons wat God dink van wat mense doen. Ons kan Amos tipeer as die profeet van God se geregtigheid.”
Mag ons in die volgende dae deur die Heilige Gees tot ware selfondersoek gelei word en daarna strewe om na die wil van die Here te vra. (Amos 5: 6) As kerke het ons 31 Mei 2020 as ʼn dag van verootmoediging deurgebring. Daar word meer gevra. Maak dit LEWE van verootmoediging.
Toe Amos die Here se boodskap begin verkondig kon baie van die opskrifte vandag net so goed teen die lamppale gelees word – Uitbuiting, Korrupsie, Selfsug en Oneerlike winsbejag.
Dalk het daar ʼn paar mense gaan stil staan toe hy van brullende leeu begin vertel want dit raak jou veiligheid en dit bring gevaar. Die verdorde weivelde en die verdroogde top van Karmel het vir hulle groot skade en verlies beteken.
Ten spyte van sy waarskuwende woorde luister niemand na hom nie. Die waarskuwende woorde is ook vir my ʼn oproep tot selfondersoek.
Met die brullende stem stel die Here Hom bekend as Beskermer. Hy openbaar sy geweldige mag en krag. Hy is die leeu uit Juda se stam. Met hierdie beeld is dit altyd God wat in beheer is. In die verlede, hede en toekoms.
Elkeen van die volke doen ʼn vierde sonde. Dit is asof hulle nie genoeg leed kon aandoen nie en God as’t ware wil uittart. Die gevolge van sonde het geen perke nie en sluk mens net meer en meer in. Een slegte daad lei na die volgende. Onreg het geen versadigingsperk nie. In die eerste hoofstuk waarsku Amos teen marteling (v3), menseroof (v6 en 9) en moord (v11 en 13) in elke moontlike vorm. Vandag is talle mense aan die vergrype van tiranne en despotiese owerhede uitgelewer. Dit gebeur dalk nie naby ons nie, en alhoewel dit ons met weersin vervul, kan ons maklik wegstap.
Wanneer hierdie dinge op my voorstoep gebeur verander dit die prentjie. Die geweld van bendes, die ontvoering van kinders en die wrede aanranding van vroue haal dikwels in Suid-Afrika die koerante se voorblaaie.
Nog nader was jy dalk al die slagoffer van iemand wat jou teleurgestel het deur die broederliefde te verloën. As mens is ons swak en maak ons ons naaste maklik met woorde en dade seer.
In Amos 1 word die brul word al verder en duideliker gehoor. Met die brullende leeu wat vanuit Jerusalem gehoor word, kondig Amos verlossing en redding vir die volk aan. In Jerusalem het Christus vir al ons sonde gesterf, die dood oorwin en opgestaan om ewig te heers.
Dors vir meer:
Genesis 49:1-10 en Openbaring 5:1-5
Gebed
Here, maak ons oë en ore oop en leer ons om sensitief te wees om die nood van ander raak te sien en sterk te wees om teen onreg te veg. Dankie dat U my gedagtes rig deur U Heilige Gees. Amen
Ds Petrus van Blerk
GK Rietvallei
0824560235
Leave a Reply