Skriflesing: Maleagi 1:6-14 Teks wat tref: v 6,14
Adam en Eva skuif die Here uit hul lewe met hul besluit om na die Satan te luister. Eli laat na om sy seuns te berispe. Die priesters waarvan ons in Maleagi 1 lees minag die Here op die mees blatante wyse. Hulle trek hul neus vir die Here op. Hulle offer gesteelde, lam en siek diere. Kortom, hulle het geen eerbied vir God nie.
In vergelyking met die optrede van Adam en Eva, Eli en ander mense waarvan ons lees verdring hulle die Here die meeste. Hulle optrede word nie eers geheim gehou nie want die offers is voor die oë van die volk by die tempel gebring. Hulle dienswerk word moeite. Hierdie optrede getuig van selfsug en grootheidswaan. Die priesters het nie eens die eer van ʼn seun vir sy vader en ʼn slaaf vir sy eienaar nie.
Hulle hoor nie die stem van die Here die Almagtige nie. God openbaar Hom aan hulle as die Grootkoning. Al die ander nasies het vir Hom ontsag. Alles is onder God se mag.
Ons veroordeel hierdie optrede en verwys met misnoeë na hul dade. Maar net totdat ek my eie optrede beoordeel. Ons sal nooit openlik teen die Here draai nie. Ons sal ons slegte dade en verkeerde optrede probeer wegsteek en met verskonings en verontskuldigings verbloem. Maleagi is die laaste boek in die Ou Testament. As profeet word hy deur God gestuur om die oortredinge van die volk uit te wys. Inteendeel, hoor ons in 6 dat dit God die Almagtige is wat na hul optrede vra.
Dit is harde woorde en ʼn sterk berisping wat God gebruik om die volk wakker te laat skrik en hul weer op die pad terug na Hom te lei. Dit is juis God se genade en liefde wat ons hier sien. Hy maak met hul bemoeienis. Kom ons maak dit ook op ons lewe van toepassing. God kyk na my hele lewe. Ons sondig dalk nie so ooglopend openlik nie. Maar die Here weet wanneer ek my neus vir Hom optrek as ek nie my sin kan kry nie. Hy weet wanneer ek nie met volle oorgawe leef nie. Met die inperking weens Covid 19 het ons omstandighede drasties verander. Ons moes leer om op ander maniere te aanbid. Ons moes opofferings maak.
Ons beleef ook elke dag God se liefde. Dit is juis omdat Hy ons liefhet dat hy na ons welstand en optrede verneem. Met Christus se koms na die aarde moes Hy ook valse aanklagte trotseer. Daar word die spot met Hom gedryf. Hy word saam met misdadigers gekruisig. Hy staan uit die dood op sodat ek verlos kan word.
Ondersoek jou lewe en bepaal of jou optrede God eer. Ons lees more in Maleagi 3 verder oor die veranderinge wat gemaak moet word sodat ek God reg sal eer.
Dors vir meer:
Mt 27:32-44
Gebed
Here, dankie dat U my liefhet. U weet hoe maklik ek my rug op U draai asof U soms nie daar is nie. U weet alles. Stuur u Gees om my op koers te bring. Amen
Ds Petrus van Blerk
GK Rietvallei
0824560235