Skriflesing:   1 Sam 2:13-26     Teks wat tref:  v 23,24            

Dit bly een van die grootste uitdaging om ʼn gesonde balans te handhaaf. Alhoewel omstandighede gewoonlik ʼn pertinente rol speel is dit nie altyd ewe maklik om konsekwent op te tree nie.  Dit is nie altyd ʼn doelbewuste en vooraf beplande keuse waarmee ek die Here eenkant toe skuif nie.  Adam en Eva se besluit om van die boom van kennis te eet het heel moontlik nie voorsien dat hulle daardeur van God vervreem sal raak nie. Tog gebeur dit onmiddellik. Hulle word uit die paradys verdryf.

Ander kere verloop daar ʼn langer tydperk voordat ons besef dat ons optrede God op die agtergrond skuif.  In 1 Sam 1:3 ontmoet ons die priester Eli en sy twee seuns Hofni en Pinehas wat in Silo diens doen.  Die kinderlose Hanna pleit by Eli dat haar gebede verhoor sal word en na Samuel se geboorte dien hy die Here onder Eli se toesig. Maar Eli se twee seuns was slegte mense en het nie met die Here rekening gehou nie.  Hulle sondig deur van die offervleis te eet en by die vrouens wat by die ingang van die tent diens doen te slaap. Hulle maak geen geheim daarvan dat hulle die Here minag nie.

Eli was al baie oud en berispe sy seuns oor die dinge waarvan hy aanhoudend by die hele volk moet hoor.  Die gerugte wat hy hoor is nie goed nie want hulle verlei die volk van die Here.  Eli vermaan hulle om die saak reg te stel.  Deur sy seuns aanvanklik te laat begaan om op hul sondige pad te volhard, sou beteken dat hy hul optrede goedkeur. God sal in hierdie geval as Regter optree. Hulle ongehoorsaamheid word met die dood gestraf.  In skrille kontras hiermee hoor ons dat Samuel grootgeword het en dat die Here en die mense hom goedgesind was. 

Uit die uiteenlopende optrede van Eli se seuns teenoor die van Samuel besef ons wat ʼn leefwyse naby die Here behels.  Ons raak ook soms uitgeput en bly nie altyd waaksaam en opreg in ons lewe en optrede nie.  Eers nadat Eli aanhoudend by die volk oor ʼn lang tydperk van sy seuns se optrede hoor, vermaan hy hulle. 

Dit is deel van die Satan se slinkse werkswyse om ons steselmatig van die Here te laat wegdraai.

Dit is God se genade om ons deur die Heilige Gees gehoorsaam te maak.  Eli se seuns eien hul die offervleis vir hul eie gebruik toe.  Hulle verkeer sedeloos met die vrouens wat diens doen by die tent. Dit is optrede wat deur selfsug aangevuur word.  Eli tree nie ferm op nie en wanneer die Here die saak uitmaak sterf sy seuns. 

Dié gebeure is ʼn wekroep dat ons nooit sal uitstel wanneer ons God se opdragte hoor nie.  Ons hele lewe is in ons Here se diens.  God verwag dat ons Hom met woord en daad sal dien. In die Nuwe Testament leer Christus ons om te waak teen die aanvalle van die Satan wat soos ʼn brullende leeu rondgaan om ons te verskeur.  Met sy kruisdood het Hy alles oorwin en aan my lewe gegee. 

Moenie uitstel nie.  Moenie onreg toelaat nie.  Maak vandag werk daarvan om jou lewe reg te skuif!

Dors vir meer:

1 Pt 5:8 -11

Gebed

Here, skenk aan my die wysheid en krag om nie altyd uit te stel nie. Leer my om U doel met my lewe raak te sien.  Dankie vir U oneindige liefde. Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235