Author: Karen de Lange (Page 25 of 33)

Dagstuk 16 Julie 2020 – Met of sonder blydskap

Met hierdie week se dagstukkies leer ons wat dit beteken om in geloof te groei.

Skrifgedeelte: Joh 16:16-24                           Teks wat tref: v20,24

In Joh 16 luister die dissipels na nog ontstellende nuus.  Eers hoor hulle dat die wêreld vir Christus haat. Dit veroorsaak dat hulle ook nie geliefd is nie.  Terwyl hulle soos vreemdelinge in die wêreld voel, kondig Jesus aan dat hulle Hom vir ʼn rukkie nie sal sien nie.  Daar ontstaan vrae in hulle gemoed wat beantwoord moet word.  Die huidige tyd van inperking met die Covid 19 pandemie het veroorsaak dat ons al vir meer as drie maande nie ons familie en vriende kan sien of besoek nie.  Hierdie gemis eis stadig maar seker sy tol en die behoefte om by geliefdes te wees word mee intens. Dit hoort immers so, want God het die mens as ʼn verhoudingswese geskape. 

Net soos die dissipels wil ons huil en treur. Dit voel of ek stoksielalleen is. Dan sê Jesus daarby ook nog dat die wêreld hieroor bly sal wees. Hy bevestig dat ons bedroef sal word.  God ken ons harte en omstandighede.  As ek soms voel dat ek alleen is, weet my Vader daarvan. Hy verseker ons dat die droefheid in blydskap sal verander.  Hy verduidelik dit met die beeld van ʼn vrou wie se tyd gekom het dat haar kindjie gebore word. Na die kraampyne oorweldig die blydskap elke gedagte van pyn en swaarkry.  Dit word heeltemal vergeet oor die nuwe lewe wat God geskenk het.  Daarom kan ons ook uitsien dat daar iets beter en meer vreugdevol as die greep en pyn van Covid 19 sal volg. 

Die Here ken my droefheid maar wanneer Hy ons weer sien sal ons harte vol blydskap wees.  Ek moet leer om geduldig te wag en in vertroue elke dag aanpak.  Soos wat daar na die koms van ʼn nuwe baba uitgesien word, moet ons ons daagliks voorberei en alles gereed kry vir die groot oomblik.  Jesus verwys in hierdie gedeelte na sy kruisiging. Hy is daarna ʼn kort rukkie op aarde waarna Hy in die hemel opgeneem word. Soos wat Jesus se opstanding uit die dood die grootste oorwinning van alle tye is, bewys dit  ook dat Hy weer sal kom.  En dit vervul ons met ʼn ewige blydskap en Hy verseker ons dat niemand dit van ons af kan wegneem nie. Dit is ewige vreugde. Dit bring ongekende blydskap. 

In onseker tye het ons gewoonlik baie vrae.  Ons wil graag weet wat die toekoms inhou?  Waarom is daar dinge soos Covid 19?  Hoekom word soveel onreg en geweld teen vroue, kinders, ons boere op plase en talle ander gepleeg?  Dit alles veroorsaak droefheid.  In vers 23 verseker Jesus ons ook dat ons daardie dag nie meer vrae sal stel nie.  Die blydskap om by Hom te wees, sal alles oortref.  Dan volg die derde aankondiging dat ons sal ontvang wat ons in die Naam van die Vader vra.  Weereens beteken dit nie dat ons alles en enige iets sal ontvang nie.  God weet wat ons nodig het en wat die beste vir ons is.  Al verstaan ek dit nie. Al voel dit dat my gebede nie verhoor word nie.  Deur in sy Naam te bid sal ons blydskap volkome word! Ons leer more in Johannes 17 meer oor gebed.

Dors vir meer:

Mat 28: 16-20 en Hab 3:19

Gebed

Here, dankie dat U ons nooit verlaat nie.  Al voel dit soms dat my hele bestaan vol doefheid is, kan ek nogtans soos Habakuk uitroep: Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos die van ʼn ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 15 Julie 2020 – Met of sonder rede

Met hierdie week se dagstukkies leer ons wat dit beteken om in geloof te groei.

Skrifgedeelte: Joh 15:18-27                           Teks wat tref: v18,25

As iemand jou sonder rede benadeel sal jy beslis met alle mag daarteen optree.  Niemand sal enige onregverdige optrede duld nie.  As daar wel rede was vir ʼn bepaalde optrede deur iemand sal ek meestal begrip daarvoor hê.  In die eerste 17 verse van Johannes 15 is ek van die Here se liefde vir my verseker.  Inteendeel, Hy noem ons sy vriende.  Soos die Vader Hom liefhet, het Hy ons ook lief.

In skrille kontras met hierdie beeld waarin ons verhouding met die Here beskryf word, tref die eerste woorde van vers 18 ons met ʼn harde slag.  Die wêreld sal julle haat!  Teenoor die liefde staan haat.  Omdat ons nie aan die wêreld behoort nie, sal die wêreld ons haat.  Omdat ons in Christus bly en baie vrugte dra, kan die wêreld ons nie verduur nie.  Met wêreld word hier die Satan en alle bose magte bedoel. Kortom alles wat teen die Here is. 

Aanvanklik voel dit onregverdig dat die wêreld ons haat.  Maar deurdat ons in die Here bly, laat Hy ons groei. Hierdeur is ek in staat om reg op te tree.  Hoeveel keer is jy al sonder rede beledig?. Of gespot? Of verkleineer? Of skade berokken.?

Dan is dit ons onmiddellike  reaksie om hewig op te tree. Gelowiges sal sonder rede vervolg word net omdat hulle die Here se Naam bely. Ons kan daarom teenstand verwag. Jesus het met sy optrede die sonde van die wêreld kom uitwys. Die wêreld het nie vir Christus lief nie.  Hulle haat Hom. Dit is die wese van sonde.  Met verkeerde dade sondig ons teen die Here.  Ons redeneer dat ons optrede nie so erg is nie.  Maar elke keer as ek sonde doen beteken dit dat ek die Here haat.  Dit laat my die erns van my sonde besef.  Dit vervreem my van die Here. 

In hierdie gedeelte maak die Here sy kinders se posisie duidelik.  Ons kan verwag dat daar nog baie aanvalle teen ons sal wees.  Trouens, dit is wat Christus sonder rede verduur het.

Om ons vir hierdie stryd voor te berei stuur die Here die Voorspraak. Dit is die Heilige Gees. Hy word ook die Gees van die waarheid genoem. Hy getuig van die Here. Hy is van die begin af by Hom. Net deur die Heilige Gees word ek versterk en gelei om dit wat sonder rede teen ons gedoen word, te oorkom. 

Hierin leer ons om te groei te midde van elke aanval. Deur my optrede wat op Christus gebou is, hoor die wêreld God se woorde van vermaning. En die wêreld haat Hom sonder rede. (v25) Jy mag dalk dikwels sonder rede beledig en gehaat word, maar die Heilige Gees sal getuig oor hulle wat van die begin af by die Here is. 

En die enigste rede hiervoor is die liefde wat die Here vir sy kinders het. Waar die wêreld Hom sonder rede haat, kan ons met vreugde uitroep dat die Here se enigste rede om ons te red, sy oneindige liefde is!

Dors vir meer:

1 Joh 4:7-21

Gebed

Here, die onreg wat ons daagliks beleef en aanskou laat my besef dat die wêreld U sonder rede haat.  Help my om na die Heilige Gees te luister en in geloof te groei.  Dankie dat u my liefhet. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 14 Julie 2020 – Met of sonder liefde

Met hierdie week se dagstukkies leer ons wat dit beteken om in geloof te groei.

Skrifgedeelte: Jh 15:9-17                           Teks wat tref: v13,16

Met die regte vriende aan jou kant verloop dinge beslis makliker.  Die goeie woordjie van ʼn vriend kan vir jou deure laat oopgaan.  As jy by ʼn nuwe klub aansluit help vriende dat jy nie vreemd en ongemaklik voel nie.   Ons leef reeds meer as honderd dae in ʼn staat van inperking as gevolg van die Covid 19 pandemie. Baie mense stem saam dat die gemis aan vriende die swaarste is om te hanteer. 

Nadat Jesus in Jh 15:5 die opdrag gegee het dat ons in Hom moet bly, is daar sekere duidelike sigbare tekens..  Hy het my lief. Hy wil hê dat my blydskap volkome sal wees. Hy wil hê dat ons vrugte moet dra. In hierdie gedeelte wys Hy ons verder wat dit beteken dat ons in Hom moet bly.  Hy het ons lief soos sy Vader Hom liefhet. Hierdie liefde ken geen grense nie.  Hierdie liefde is onvoorwaardelik. Hierdie liefde verseker my van ons Here se sorg en bewaring.  “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.” (v13)

Dink daaraan. Christus noem ons sy vriende. Ek word nie vriende met Hom nie.  Hy bewerk hierdie vriendskap. Hy het my uitgekies.  Nog is dit nie al nie. Hy stel my aan om vrugte te dra.  Hy doen alles wat Hy van sy Vader gehoor het.  Hiermee bring Hy my in God se direkte teenwoordigheid. Hy voer God se opdragte uit. Hy sterf in my plek aan die kruis sodat ek kan lewe.  Met sy optrede wys Hy hoe lief God my het. 

Hierdie liefde neem toe as ons sy opdragte uitvoer.  Dié liefde groei in gehoorsame navolging van die Here.  Dié liefde dra vrugte wat sal hou. Dit is die direkte gevolg van die lote wat uit die ware  wingerdstok groei.  Dit vra van ons elkeen ʼn bepaalde leefwyse wat aan die einde beloon word.  Omdat Christus met sy lewe bewys gelewer het wat dit beteken om liefde te betoon, en ons dan boonop sy vriende noem, sal die Vader ons gee wat ook al ons in sy Naam vra.  Dit is weereens egter  nie ʼn vrypas dat ek enige iets en alles sal kry nie.  As vriend van Christus sal ek net sy opdragte uitvoer.  Ek sal net vra dat my dade die Here se liefde sal weerspieël.

Christus se liefde beteken verder dat Hy alles wat Hy van sy Vader gehoor het aan ons bekend gemaak het.  Ek hoef my net te kwel en te bekommer oor die dinge wat vir die Here belangrik is.  Die uitdagings wat die Here op my pad bring is die geleenthede waar ek God se liefde kan uitdra. Daarom beveel Hy ons: “Julle moet mekaar liefhê!”

Wanneer ek vandag met probleme mag worstel, weet ek dat Christus my sy vriend noem. Maak daarom seker dat jy met Hom praat. Hy het my so lief dat Hy vir my gesterf het.  Dit is ons Here se bedoeling dat ons geloof sal groei deur sy liefde. 

Die bekende woorde van Joseph Scriven se gedig in 1855 bly vandag net so betekenisvol: 

“Wat ‘n vriend het ons in Jesus,

Hy wat in ons plek wil staan:

Wat ʼn voorreg om gedurig

tot God’s troon deur Hom te gaan!”

Dors vir meer:

Eks 33: 7-12

Gebed

Here, baie dankie dat ek u vriend genoem word. Help my om in U liefde te bly en vrugte wat hou te dra.  Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 13 Julie 2020 – Met of sonder Christus

Met hierdie week se dagstukkies leer ons wat dit beteken om in geloof te groei.

Skrifgedeelte: Jh 15:1-8                            Teks wat tref: v 5-7

Ons het almal sekere voorkeure as dit by kos kom. Net so verskil ons smaak oor mode, vakansie en vriende. Dit geld ook vir ons geloofslewe: Ons kan alles kry wat ons van die Here vra (v7)  of sonder Hom,  sal ons niks kan doen nie. (v5) Dit behoort nie moeilik te wees om ʼn keuse te maak nie. As Jesus boonop die versekering gee dat jy baie vrugte sal dra en sy Vader sal verheerlik, is daar net een logiese keuse. Die een laat jou groei en die ander loop op niks uit nie. 

Ons kan alles in die lewe meet. My lengte, my gewig. My bloeddruk en hartklop. Die hoeveelheid kalorieë wat my liggaam nodig het. Met ʼn sonar kan die ouderdom van ʼn baba in die moederskoot gemeet word.  Met al die inligting tot my beskikking kan ek meet of daar groei plaasvind. Met die nodige veranderinge en deur my dieet aan te pas kan ek sekere resultate bewerk.

Terwyl alles meetbaar is, ontstaan die vraag na my geestelike welstand. Groei jou geloof in ons Here Jesus Christus?  Dit is hier waar ons met groot huiwering die resultate wil sien of hoor.  Daarom leer Jesus ons om in Hom te bly. Met hierdie skaal word my verhouding met Hom gemeet. Om in Hom te bly beteken dat ek met my hele hart, siel, verstand en lewe aan Hom verbonde is.  Om in Hom te bly laat my aan Hom vasgryp. Dit openbaar my posisie oor Wie vir my belangrik is. Ek vereenselwig my met die Here se opdragte en vermaninge.  Ek is onlosmaaklik aan Hom verbind.

Met die beeld van die wingerdstok en die lote word dit nog duideliker. ʼn Loot wat nie vas aan die wingerdstok geheg is nie, sal nooit groei.  Dit is dood. Inteendeel dit word in die vuur gegooi en dit verbrand.  Dit het geen waarde nie.  Teenoor groei staan dood.  Daar is nie ʼn middeweg nie.  Jy groei of jy sterf.  Dit is óf met óf sonder Christus.    Christus is die wingerdstok en ek die loot. Ons Vader weet wat die beste is en Hy snoei die lote sodat dit vrugte kan dra.  Dan is die vrugte bewys van groei. 

Diegene wat met Christus leef luister na die woorde wat Hy hulle leer.  So is elke geleentheid waar God se Woord verkondig en aangehoor word die geestelike voedsel.  Sonder Christus kan jy niks doen nie.  Dit is nogal verdoemende woorde.  Maak seker dat jy in die Here bly. 

Dit het verdere gevolge.  Elkeen wat in Hom bly, leer ook om te bid. Teenoor hulle wat sonder die Here niks kan doen nie, ontvang die ander net wat hulle wil hê. Dit sal beslis my keuse beïnvloed.  Sou dit beteken ek sal alles kry wat ek vra? Dit sou lonend wees.  Dit sou die lewe vir my gemaklik maak. Maar dit is nie die bedoeling nie.  Net hulle wat in die Here BLY en sy woorde in hulle kan hierop aanspraak maak. Net die lote wat aan die wingerdstok vasgegroei is, dra vrugte.  Daarom kry ek nie net wat ek vra nie, maar is my vra onderhewig aan my verbondenheid met Christus.  Ek sal daarom net vir dit vra wat die wingerdstok voortbring.

Christus sê dat ek sonder Hom niks kan doen nie. Is jou lewe met of sonder Hom?

Dors vir meer:

Ps 119:1-16

Gebed

Here, baie dankie dat U my reg snoei sodat ek vrugte kan dra. Ek weet dat ek sonder U niks kan doen nie. Maak my ywerig om na U woorde te luister.  Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk Vrydag 10 Julie 2020 – ʼn Nuwe naam!

Jesaja 62
Teks wat tref: Jesaja 62:2.

‘n Huwelik is ‘n vreugdevolle geleentheid! Iets waarna almal uitsien, iets wat jy uitroep en nie wegsteek nie. Dit is dan hierdie beeld wat Jesaja gebruik om die verhouding tussen die Here en sy volk uit te beeld. Die Here kan nie stilbly oor sy bruid nie.

Die volk is genoem met die ou name van ‘Verstote’ en ‘Verlate.’ Hulle land is verlate en woes en hulle is deur die Here verstoot en in ballingskap gestuur. Hoe verskriklik moet nie wees om Verstote en Verlate genoem te word nie. Maar dit is hulle wat die verhouding met die Here gebreek het, hulle rug op die Here gedraai.

Voel jy verstote en verlate en verwoes? So was dit ook voor ons tot bekering gekom het- ons is genoem verstote- hoe kan sondaars voor die Heilige God verskyn – en verlate – die grooste verlatenheid is om nie saam met die Here te kan wees nie.

Maar Jesaja bring die boodskap van Hoop, die goeie nuus! God se lig sal hulle moedelose lewens weer verlig. Saam met die dagbreek, die verlossing, kry hul ʼn nuwe naam!

Hoe wonderlik is die nuwe naam wat die Here nie aan ons gee nie. Ons is nie meer Verstote en Verlate nie, maar die een wat die Here liefhet, die een wat aan die Here behoort. Dis soos ons ook lees in Sefanja 3: 17 “Die Here jou God is by jou. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou”. Hoe wonderlik is die Here se liefde nie vir ons nie – hoe antwoord ons hierdie liefde?

By ‘n huwelik kry die bruid ‘n nuwe naam (haar van verander): iets wat in die begin vreemds is, maar iets waarop sy trots is want met hierdie nuwe naam wys sy vir die wêreld maar ek is getroud, ek het iemand langs my sy waarop ek trots is en voor lief is.

Dit vra dan van ons om volgens hierdie naam te leef – soos mense vir wie die Here lief is; soos mense wat aan God behoort; soos ‘n bruid wat net oë het vir haar Bruidegom.
Die vraag is dus nie of God sy beloftes gaan nakom nie (dit doen Hy altyd), maar of ons lewe asof Hy sy beloftes gaan nakom. Dis nie of daar hoop is nie, maar of ons die hoop kan raaksien te midde van ‘n wanhopige situasie en of ons lewe vanuit daardie hoop. Ware hoop dryf mens tot aksie.

So kry ons nie net ‘n nuwe identiteit nie, maar in Christus ‘n hele nuwe lewe!
Dra jy naam met groot trots, jubel dit uit en skryf dit sodat die hele wêreld kan weet- ek dra die naam van die Here!

Dors vir meer:
Sefanja 3:14-20 en Heidelbergse Kategismus Sondag 12.

Gebed
Here die Almagtige. Dankie dat U ons liefhet en ʼn nuwe naam gegee het. Mag ons die naam Christen met trots uitleef elke dag en so ook U verheerlik. Dankie dat U ons hierdie week weereen gedra en beskerm het. Vee ons trane af, vertroos ons en mag ons opnuut ons vreugde in U vind. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Donderdag 9 Julie 2020 – “Reggemaak om uit te gaan!”

Jesaja 61
Teks wat tref: Jesaja 61:10.
Kleredrag vertel ons baie van ‘n persoon. Watter klere het jy vandag aan?
Jou kleredrag wys vir ander in watter skool jy is, of die tipe werk wat jy doen, vertel van jou persoonlike voorkeure en kleure waarvan jy hou. Jou kleredrag wys waarheen is jy oppad vandag. Jy het jouself reggemaak en aangetrek om iewers heen te gaan.
Waarheen is jy oppad?

Die profeet Jesaja gee vir ons ‘n loflied- ‘n jubellied oor die klere wat die Here vir hom aangetrek het.
Mooi klere maak mense opgewonde, maar die kleed wat die Here vir ons gee laat ons jubel in ‘n loflied. Hoekom? Ek kan juig oor my God! Hy het my klere van redding aangetrek- ‘n oorwinnaarskleed!

Dit is die Here self wat ons kleed, wat ons aantrek en regmaak. Hier is ‘n blye-oplossing: Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek.
Ons kan altyd baie bly in die Here wees. Vriendskappe misluk, dinge werk nie altyd uit soos ons beplan nie. Hoop word soms uitgeblaas.
Maar ons vreugde in die Here bly vir altyd.

Ek juig oor my God.
My vreugde is in ‘n persoonlike God. Dit is een ding om te juig in God:

  • die God van die natuur
  • die God van die voorsienigheid
  • die God wat alles gemaak het en regeer
  • die God van die genade en liefde
    Dit is ‘n heel ander ding om te juig in “my God.”
    Ons is nie net ‘n bietjie bly of opgewonde oor die Here nie- ons is baie bly! Ons verheug ons! Ons het innerlike sielsvreugde! Daar is geen ander vreugde wat die moeite werd is om te hê nie.
    Ons roep dit uit saam met Jesaja!

Die Here het ‘n persoonlike en intieme verhouding met elkeen van die gelowiges.
Daarom is dit Hy wat ons gekleed het! Hy klee jou met die heelbeste- met die bloed van Jesus Christus.
Dit is hoe die oorwinnaarskleed vir ons aangetrek word- die verlossing wat Jesus Christus aan die kruis vir ons bewerk word. Die Heilige Gees gee dit vir ons deur die wedergeboorte!
Daarom is daar regtig goeie redes, die beste redes, dat jy kan jubel in die Here jou God.
En die beste is dat Hy ons geklee het. Hy het ons gereedgemaak.
Dit is ‘n ander manier om te sê: ‘Hy het my gered.’ Hy het my gered van sondeskuld. Hy het my gered van die dood. Ek dra die kleed van die nuwe lewe en my dankbaarheidslewe wys dit!
Kan ander hierdie kleed sien wat ek dra?
Kan hulle sien waarheen is jy oppad?
Hierdie kledingstukke van verlossing word in ons teks geassosieer met trouklere. “ Soos ‘n bruid met haar juwele aan ‘ net so het die Here ons beklee met kleding van verlossing, d.w.s. Hy het met ons getrou. Die kerk is sy bruid wat haar versier en gereedmaak vir die koms van die Bruidegom.
Gekleed om saam met die Bruidegom die ewige lewe in te gaan.

Dra jou oorwinnaarskleed met trots!

Dors vir meer:
Matteus 22:1-14 en Openbaring 19:5-10.

Gebed
Here ons God. Dankie dat U ons kleed met ʼn oorwinnaarskleed! Dankie dat ons skoongewas is deur die bloed van Jesus Christus. Lei ons om in alles wat ons doen ook hierdie kleed sal sigbaar uitleef en dit nie vuilsmeer nie. Dankie dat U vir ons die volle verlossing van al ons sondes gee. Amen.
Hierdie dagstuk is ook beskikbaar in videoformaat op die Glomedia platform.
https://glomedia.tv/video/glo-316-reggemaak-om-uit-te-gaan/#play

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei

Dagstuk Woensdag 8 Julie 2020 – “Laat skyn jou lig!”

Jesaja 60
Teks wat tref: Jesaja 60:1.

Jesaja 60 beskryf ‘n nuwe toestand van heil wat die Here vir Jerusalem gaan skep. Jerusalem sal herbou word en ‘n lig in die duisternis wees waarheen die volkere sal stroom. Jerusalem word nou opgeroep om hulle lig vir die nasies te laat skyn. Hoekom? Want, “vir jou het die lig gekom” (60:1).
Soos wat die son na ‘n nag van angs opkom, so is God weer in Jerusalem teenwoordig. Wat hierdie gedeelte betref, is dit geskryf dat die redding reeds ‘n werklikheid is en daarom is dit ook ons troos vandag, hierdie Lig het reeds gekom en skyn nou.
Die Lig is die magtige teenwoordigheid van die Here wat vir ewig die lig sal wees.

Nie net wys hierdie gedeelte hoe al die nasies van al die kante af na Jerusalem sal stroom nie, maar die hele gedeelte wys dat God weer die middelpunt van die stad en die volk sal wees. Hy is die ware sentrum van die stad en volk- so moet Hy ook die ware sentrum van jou lewe wees.
Hierdie profesie het vir ons baie mooi tot vervulling in die Nuwe Testament gekom. Jesus Christus het gekom as God se magtige teenwoordigheid- God is met ons. Dit staan veral uit in die Johannes Evangelie: Jesus het gekom om die duisternis te oorwin (Johannes 1:5). Jesus bevestig dit deur te sê: “Ek is die lig vir die wêreld.”(Johannes 8:12). Elkeen wat Jesus volg sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.

So is hierdie gedeelte vir ons vandag weer ʼn wonderlike gedeelte van troos en bemoediging. Die Lig het vir ons gekom en ons word verlig. Nou reeds het die nuwe dag vir ons aangebreek en ons lewe in die teenwoordigheid van die Here, in besonder deur Sy Gees.
Maar hierdie gedeelte is ook weer vir ons ʼn oproep vir die roeping wat ons in die wêreld het. As ligdraers van die Lig, moet ons as kerk (die nuwe Jerusalem) die Here se lig laat skyn in die wêreld, ons moet dit sigbaar uitleef! Ons kan dit doen tot die volle vervulling van hierdie profesie geskied, wanneer ons gaan leef in die nuwe Jerusalem, altyd in die teenwoordigheid en lig van die Here, vir ewig.

“ Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig!
Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring.”

Dors vir meer:
Johannes 1:1-14 en Filippense 2:12-18

Gebed
Here ons God. Dankie dat ons kan leef in U teenwoordigheid en Lig. Versterk ons ook om as ligdraers in die wêreld te leef, om U woord en u lig te verkondig. Dankie dat ons vir altyd in U teenwoordigheid en lig leef, maak nie saak hoe donker dit om ons mag lyk nie. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Dinsdag 7 Julie 2020 – “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie.”

Jesaja 59
Teks wat tref: Jesaja 59:1 en 20.
Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te dood om te hoor nie. Hoekom begin Jesaja om hierdie uit te lig? Omdat die volk die Here blameer het dat Hy nie kan help en dat Hy nie na hulle luister nie. Vir die soveelste keer maak die Here dit duidelik: “Dit is julle oortredings wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.” Harde woorde wat die Here hier praat, maar waar woorde, meer as 20 voorbeelde word genoem hoekom hulle nie die Here soek nie maar in onreg leef. Daar is geen sprake van geregtigheid nie, geen sprake van ʼn verhouding met die Here en bekering nie.

Net soos Adam en Eva van ouds, probeer hulle iemand anders te soek om te blameer, en soveel keer begin die blamering by die Here.
Pasop dat jy nie ook in dieselfde strik trap nie. Moenie die Here aankla en blameer as daar soveel onreg is waarmee ons self besig is nie.
Maar bely opnuut jou sondeskuld voor die Here. Bring dit na Hom toe, die enigste wat dit kan vergewe en die straf vir jou kan dra. “Ons oortredings teen U is baie, ons sondes kla ons aan.” Vers 12.

Wonderlik eindig die gedeelte nie hier nie. Die Here los ons nie alleen in ons sondes nie. Hy voorsien ook die uitkoms. “Die Here kom na Sion toe as Verlosser, na die toe in Jakob wat hulle van hulle sonde bekeer.” Vers 20.
So het Jesus Christus na Jerusalem toe gekom as die Verlosser! Meer nog, sy Gees is op jou en sy Woord sal nie uit jou mond en die mond van jou kinders verdwyn nie.

Besef opnuut weer- die arm van die Here is nie te kort om te help nie!

Dors vir meer:
Handelinge 2:14-42 en Openbaring 22:5-21

Gebed
Dankie Here dat U altyd ons gebede hoor, dat U nie doof is nie, dat U arm nie te kort is om te help nie. Lei ons om elke dag die ou mens meer en meer af te sterf en meer en meer te leef volgens die nuwe mens waartoe U ons lewend maak. Ons oortredings is groot en baie voor U! Dankie dat U ons vergewe en die verlossing vir ons bring. Ons bid dat alles omdat U Gees met ons is. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 6 Julie 2020 – “Wys my volk op hulle sonde.”

Jesaja 58
Teks wat tref: Jesaja 58:3 en 8.
Weereens word die profeet Jesaja gestuur om die volk te wys op hulle sondes en oortredings. Hy moet dit nie stilletjies doen nie, sy stem moet klink soos ʼn ramshoring, sodat almal dit kan hoor.
So het jy dit ook weer nodig om te hoor- met watter oortredings en sondes is jy nog besig?

Die volk Israel vra baie waarom vrae vir die HEre. Waarom vas ons, maar U sien dit nie? Waarom verootmoedig ons maar U gee nie aandag daaraan nie?
Hulle wil dadelik spring dat die Here nie luister nie, maar dat hulle wel reg optree. Maar dan wys die Here vir hulle uit- op die oog af lyk dit of julle aanbid en die vasdae(feeste) na kom, maar eintlik doen julle dit nie. Hierdie vasdae moet dae wees waar almal rus, self die vreemdelinge in die land en al die diensknegte, maar hulle doen nie. Hierdie vasdae wat moet gaan oor die Here, gaan nou oor rusie met mekaar. Hierdie vasdae was geleenthede om aan die armes uit te deel en hulle las ligter te maak, maar dit word ook nie gedoen nie. Met ander woorde, hulle het die doel en funksie van hierdie vasdae heeltemal gemis- die liefde vir God en vir die naaste was daar nie. Soos Jakobus ons leer, geloof gaan saam met die regte dade. Wanneer die dade ontbreek, dan ontbreek dit ook aan geloof. Hoe lyk dit in jou lewe? Eer ons die Here nog op die rusdag en elke dag van ons lewe? Sien ons die lot van die mense om ons raak, of leef ons net vir onsself?

Israel vra waarom vrae vir God, maar sien nie hulle eie verkeerde optrede raak nie.
Waarom vrae is vir ons ook goed om te vra. Dit laat ons opnuut weer selfondersoek doen en help om ons verhouding met die Here te versterk- dit gee vir ons geloofsgroei. Maar kom ons verander eers die “Waarom” na “Waar”- Waar kan ek nog groei in my geloof, waar kan ek nog bekeer en myy geloof uitleef sodat dit vrug dra?

Die Here bly altyd getrou. Saam met die oproep tot bekering, bevestig die Here weereens dat hy die geloofsgroei in ons werk, Hy maak jou soos ʼn fontein wat volop water het. Hy gaan voor ons uit en kom agter ons aan en is saam met ons deur die Heilige Gees.
Laat ons ook in hierdie besonderse tyd die Lig laat skyn in ons omgewing.

Dors vir meer:
Levitikus 23 en Jakobus 2:14-26

Gebed
Dankie Here dat U ons weer op ons sondes wys wanneer ons nie in oorgawe tot U leef nie. Dankie dat U altyd getrou is en oor ons waak. Dankie dat daar altyd weer vergewing by U is en U ons in oorvloed van U genade seën Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk 03 Julie 2020 – Skuif op vir die Here

Skriflesing: Mal 3:13- 4:6  Teks wat tref: Mal 3:16

In die laaste boek van die Ou Testament lees ons van die mense wat vermetele dinge oor die Here kwytraak. Met die uitroep dat dit nutteloos is om God te dien, bereik die mens die toppunt van hul gesindheid om die Here uit hul lewens te skuif. Dit het tot gevolg dat die harmonie wat God in die skepping gegee het nie meer bestaan nie.  Dit lyk of dié wat teen Hom in opstand is, die gelukkiges is, en die wat verkeerd doen vooruitgaan.

Maar daar is ook mense wat eerbied vir die Here het. Hulle staan ten minste saam en sê vir mekaar dat hulle nie teen die Here in opstand wil kom nie. Hulle sal in Hom bly glo en op Hom bly vertrou – al kry hulle swaar en gebeur daar dinge met hulle wat uit ’n menslike oogpunt vir hulle verkeerd lyk. Met hierdie optrede plaas hulle hul eie belange en standpunte op die agtergrond. Hulle skuif letterlik uit die Here se pad sodat God raakgesien word.

Daarna word die Here se houding teenoor al hierdie mense in v16 beskryf. Hy let op hulle woorde. Hy hoor alles wat hulle sê. Al hierdie dinge gaan nie sommer net so by die Here verby nie. Hy trek Hom hierdie dinge aan.  Die Here wys hulle daarop dat Hy presies weet wat hulle onder mekaar loop en praat. Teenoor die mens wat God uit hul lewens skuif, wys God hoe lief hy ons het.  Die Here se optrede straal van omgee en versorging. Dat dit altyd bekend sal wees hoeveel die Here vir die mense omgee word hul name in ʼn gedenkboek aangeteken sodat dit nooit verlore sal gaan nie.  Terwyl die mens uitroep dat dit nutteloos is om God te dien, noem Hy hulle ʼn kosbare besitting. Hy sal vir hulle goed wees. Die son as simbool van krag en mag se genesende strale sal op hulle skyn. Hulle sal vry word en bokspring van vreugde.  Dit sal deur almal opgemerk word. 

Soms laat omstandighede ons ook in opstand teen die Here kom.  Juis nou met die vernietigende uitwerking van Covid 19 en die gepaardgaande seer van werkloosheid, geweld en toenemende korrupsie, wil ek ook my wanhoopskrete uiter.

Toe Christus aan die kruis gesterf het, bring Hy ons weer in God se teenwoordigheid. Met my optrede het ek God talle kere uit my lewe geskuif.  Daar het Christus ons met God versoen sodat ek vry van sonde kan wees en saam met die digter van Psalm 84 wil uitroep dat ek altyd naby Hom wil wees.

Mag God se Heilige Gees ons so bewaar en begelei dat elke tree en elke oomblik van my lewe daarop gerig is om Hom bo alles en almal te eer. Hy is Here van elke millimeter van my bestaan en elke sekonde van my lewe. Mag dit van my lewe in die gedenkboek voor Hom geskryf staan dat ek vir Hom eerbied het en waarde heg aan sy Naam.

Dors vir meer:

Sag 8:1-13 en Ps 84

Gebed

Here, dankie dat U my noodroep hoor en my bewaar het.  Ek bely dat ek U so maklik uit my lewe skuif. Dankie dat U my naam in die Lewensboek geskryf het. Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235

« Older posts Newer posts »