Skriflesing: Mal 3:13- 4:6 Teks wat tref: Mal 3:16
In die laaste boek van die Ou Testament lees ons van die mense wat vermetele dinge oor die Here kwytraak. Met die uitroep dat dit nutteloos is om God te dien, bereik die mens die toppunt van hul gesindheid om die Here uit hul lewens te skuif. Dit het tot gevolg dat die harmonie wat God in die skepping gegee het nie meer bestaan nie. Dit lyk of dié wat teen Hom in opstand is, die gelukkiges is, en die wat verkeerd doen vooruitgaan.
Maar daar is ook mense wat eerbied vir die Here het. Hulle staan ten minste saam en sê vir mekaar dat hulle nie teen die Here in opstand wil kom nie. Hulle sal in Hom bly glo en op Hom bly vertrou – al kry hulle swaar en gebeur daar dinge met hulle wat uit ’n menslike oogpunt vir hulle verkeerd lyk. Met hierdie optrede plaas hulle hul eie belange en standpunte op die agtergrond. Hulle skuif letterlik uit die Here se pad sodat God raakgesien word.
Daarna word die Here se houding teenoor al hierdie mense in v16 beskryf. Hy let op hulle woorde. Hy hoor alles wat hulle sê. Al hierdie dinge gaan nie sommer net so by die Here verby nie. Hy trek Hom hierdie dinge aan. Die Here wys hulle daarop dat Hy presies weet wat hulle onder mekaar loop en praat. Teenoor die mens wat God uit hul lewens skuif, wys God hoe lief hy ons het. Die Here se optrede straal van omgee en versorging. Dat dit altyd bekend sal wees hoeveel die Here vir die mense omgee word hul name in ʼn gedenkboek aangeteken sodat dit nooit verlore sal gaan nie. Terwyl die mens uitroep dat dit nutteloos is om God te dien, noem Hy hulle ʼn kosbare besitting. Hy sal vir hulle goed wees. Die son as simbool van krag en mag se genesende strale sal op hulle skyn. Hulle sal vry word en bokspring van vreugde. Dit sal deur almal opgemerk word.
Soms laat omstandighede ons ook in opstand teen die Here kom. Juis nou met die vernietigende uitwerking van Covid 19 en die gepaardgaande seer van werkloosheid, geweld en toenemende korrupsie, wil ek ook my wanhoopskrete uiter.
Toe Christus aan die kruis gesterf het, bring Hy ons weer in God se teenwoordigheid. Met my optrede het ek God talle kere uit my lewe geskuif. Daar het Christus ons met God versoen sodat ek vry van sonde kan wees en saam met die digter van Psalm 84 wil uitroep dat ek altyd naby Hom wil wees.
Mag God se Heilige Gees ons so bewaar en begelei dat elke tree en elke oomblik van my lewe daarop gerig is om Hom bo alles en almal te eer. Hy is Here van elke millimeter van my bestaan en elke sekonde van my lewe. Mag dit van my lewe in die gedenkboek voor Hom geskryf staan dat ek vir Hom eerbied het en waarde heg aan sy Naam.
Dors vir meer:
Sag 8:1-13 en Ps 84
Gebed
Here, dankie dat U my noodroep hoor en my bewaar het. Ek bely dat ek U so maklik uit my lewe skuif. Dankie dat U my naam in die Lewensboek geskryf het. Amen
Ds Petrus van Blerk
GK Rietvallei
0824560235
Leave a Reply