Author: Karen de Lange (Page 21 of 33)

Danie Potgieter: Dagstuk Donderdag 10 September 2020 “Die skinker wat vergeet.”

Skriflesing: Genesis 40
Teksvers: Genesis 40:23.
Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.

Het die Here van Josef vergeet? Hy het die regte ding gedoen deur nie toe te gee aan die versoeking van Potifar se vrou nie, maar nou sit hy in die tronk (interessant het die Hebreeuse woord hier die betekenis van ʼn ronde huis, dalk iets soos ʼn fort, steeds nie ʼn lekker plek om in te wees nie want Josef noem dit ʼn gat in vers 15, selfde woord wat vir put gebruik is in Genesis 37). Verklaarders meen dit is nou al omtrent 15-18 jaar nadat Josef deur sy broers verkoop is.
Dalk het Josef alle hoop verloor om hier uit te kom. Dan gebeur daar iets wat hom hoop gee.

Die Farao se hoofbakker en hoofskinker beland in die tronk. Hierdie is twee baie belangrike manne, nie net omdat hulle in die binnekring van die Farao beweeg nie. Die Farao moet hierde manne met sy lewe vertrou, als moet eers deur hul geproe word voor dit voorgesit word. Hoekom hulle in die tronk beland het, is nie vir ons seker nie. In die tronk ontvang hulle tog nog voorkeur behandeling, daarom moet Josef na hulle kyk en staan in hulle diens.
Een nag droom hulle en hulle is baie ontsteld oor die drome want hulle weet nie wat dit beteken nie.
Josef moedig hulle aan om dit vir hom te vertel omdat God hulle drome se uitleg ken. Dit is nie Josef wat die drome kan uitlê nie. Die Here gee aan Josef die uitleg en dit gebeur presies soos wat dit uitgelê is.
Al wat Josef van die hoof van die skinkers vra is dat die aan hom moet dink wanneer hy uitkom en sy saak voor die Farao stel, dalk kan hy hier uitkom.
Hy het hoop, hy het nou iemand in die binnekant van die Farao se hof wat sy saak kan stel. Josef se versoek is: Stel net my saak, moenie my vergeet nie.

Dan gebeur egter die teenoorgestelde, die hoof van die skinker het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.
Hoe erg moes dit nie vir Josef gewees het nie? Van die hoop wat hy gehad het, het niks gebeur nie. Daar is van hom vergeet. Het die Here ook van hom vergeet, al is dit die Here wat vir hom die uitleg van die drome gegee het?

Hierdie gedeelte wys weer vir ons die woorde van Psalm 146:3. Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ʼn mens nie; hy kan jou nie red nie.
Dalk het u ook so teleurstelling gehad die afgelope ruk. Keer op keer aansoek gedoen vir werk, maar niks gebeur nie. Nie eers die “kontak” van vriende het gehelp nie. Waar is die Here nou?
Maar die Here vergeet ons nie. Ons verstaan nie altyd hoekom dit nie wil uitwerk soos ons dit wil hê nie, maar dit vorm deel van God se raadsplan. As die Here wil, kyk ons Sondag oggend verder hierna.
Bly op die Here vertrou. Psalm 146:5. Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.

Dors vir meer:
Psalm 146 en Artikel 13 NGB.

Gebed
Here my Rots! Ek wil U naam prys en loof! Help my om nie my vertroue in mense te plaas nie, maar in U Here. Dankie vir die hoop wat nie teleurstel nie. Die hoop wat U vir ons gee, ter wille van Jesus Christus. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Woensdag 9 September 2020 “Die Here is by Josef.”

Skriflesing: Genesis 39
Teksvers: Genesis 39:2.

Op een slag het Josef alles verloor wat hy gehad het. Hy het geval van sy pa se gunsteling, tot ʼn ander man se slaaf. Hy is weg van sy land en familie en is ʼn vreemdeling in ʼn ander land. Op een oogwink kan ons lewens drasties verander. Vandag kan jy nog werk hê of ʼn suksesvolle besigheid, en môre het jy niks. Vandag kan jy gesond wees en môre is jy dodelik siek. Vandag iemand van aansien en môre het jy nie eers een vriend nie. Wie is jy dan? Waarin vind jy jou troos en anker in hierdie omstandighede?

Die Heilige Gees maak vir ons duidelik dat die Here saam met Josef was. Of hy in ʼn ander land is- die Here is daar. Of hy nou ʼn slaaf is- die Here is saam met hom. Of hy in die tronk is- die Here is daar. Daarom kan die Here vir ons sê dat nadat Josef verkoop is as slaaf, het dit baie goed gegaan met Josef. Nie oor die aardse omstandighede nie of sy posisie wat hy beklee het nie- Omdat die Here saam met Josef was. In ons moeilike omstandighede vra ons dalk waar is die Here? Josef kon ook vra waar was die Here toe sy broers hom verkoop het, maar die Here wys vir ons dat hy self die sonde van ander mense ten goede laat meewerk (Rom. 8:28).

Verder gee Josef ook nie toe aan die versoeking wat oor sy pad kom nie. Potifar se vrou wil hom verlei om iets afskuweliks te doen, nie net een keer nie, maar dag na dag. Josef bly getrou, al word hy onskuldig in die tronk gegooi vir iets wat hy nie gedoen het nie. Die Here het Josef nie vergeet nie en Josef het ook nie die Here vergeet nie. Self in die tronk het Josef die Here se troue liefde beleef en ook sy kant gebring deur voluit die situasie aan te pak waarin hy beland het.

Laat ons daarom nie toegee aan die wêreld en die versoekings wat daar vir ons gestel word nie. Self al word die versoeking herhaaldelik vir ons gestel, by getrou!
“Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ‘n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie.” (1 Petrus 3:14).
Is ons bereid om hierdie uit te leef? Ons kan dit veral doen omdat ons weet, ons doen dit nie uit ons self nie, maar deur die krag van die Heilige Gees. Die wêreld kan ons vals beskuldig, maar die Here spreek ons vry en gee vir ons die erfenis van die ewige lewe.

Dors vir meer:
1 Petrus 3:14-22 (Hier sien ons veral die voorbeeld van Christus wat onskuldig gelei het) en Spreuke 2:16-22.

Gebed
Wonderbare Here, skenk ons U wysheid sodat ons nie sal toe gee aan die versoeking van die wêreld nie, maar sal weet hoe om U te dien. Vertroos ons wanneer ons ook deur moeilike tye gaan en mag ons altyd raaksien dat U by ons is. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Dinsdag 8 September 2020 “Josef die dromer word verkoop.”

Skriflesing: Genesis 37:12-26
Teksvers: Genesis 37:31

Josef se broers kon net nie van Josef se drome vergeet nie. Sou hy dan rêrig oor ons regeer, hy wat jonger is as ons? So het hierdie haat en afguns wat hul vir Josef gevoel het ontwikkel tot op die punt wat hulle hom wil doodmaak. Terwyl Josef aankom om sy broers te soek, kom hulle ooreen: “Laat ons hom doodmaak. Dan sal ons sien wat van sy drome word”.
Ruben, die oudste, wil nie sover gaan om moord te pleeg nie en oortuig sy broers om hom eerder in ʼn put te gooi, dan kan hy hom later stilletjies kom red.
Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het, en vat hom en gooi hom in die put. Dit was ‘n droë put, sonder water. Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar ‘n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai.

Judas kry die blink plan om eerder vir Josef te verkoop, dan kry hulle nog ʼn geldjie ook daaruit. So is Ruben se plan ook in die wiele gery.
Hulle slag toe ʼn boklam en druk Josef se klere in die bloed, skeur dit en stuur dit terug na hulle vader toe. Jakob huil ontroosbaar toe hy die nuus kry. So word hulle bose plan versteek met die bloed van ʼn lam.

Wat sien ons uit hierdie gedeelte? Josef se broers wou nie erken dat Josef se drome ʼn boodskap vanaf God was nie.
Baie jare later wou die Joodse leiers ook nie die boodskap aanvaar van die Here dat Christus die Messias is waarop hulle wag nie. Wou die Here rêrig hierdie man van Nasaret gebruik om hulle te verlos? Hy wat dan meng met die sondaars en die vissermanne, wat nie eers wil oorlog maak nie. Hulle roep uit en spot Hom: Kruisig Hom. En waar Hy aan die kruis hang: “As jy rêrig die Koning van die Jode is, red dan jouself.”
Kom ons kyk wat word van Sy drome dat Hy die tempel binne drie dae kan opbou.
Hierdie keer word nie die bloed van ʼn lam gebruik om ʼn leuen weg te steek nie. Christus is self die Lam wat geslag word en Sy bloed was die sonde skoon van almal wat in Hom glo! Dit bring vir ons die onuitputbare vertroosting!

Kom ons kyk dan verder hierdie week hoe God se raadsplan in plek val.

Dors vir meer:
1 Petrus 1:18-21 en Heidelbergse Kategismus Sondag 15.

Gebed
Grote God aan U die eer! Mag ons nooit u raadsplan en u Woord spot nie, maar maak U wil aan ons bekend. Dankie dat ons vrygekoop is, nie deur goud of silwer nie, maar deur die bloed van Jesus Christus. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 7 September 2020 “Josef die witbroodjie?”

Skriflesing: Genesis 37:1-11
Teksvers: Genesis 37:3-4.

Waaraan dink jy as jy aan die lewe van Josef dink? Dink jy dadelik aan die bedorwe brokkie, die klikbek wat stories aandra? Of dink jy aan die gesegde, slegte goed gebeur met goeie mense, deurdat sy broers hom as slaaf verkoop het en hy later ook in die tronk gegooi is?
Of staan dit vir jou uit dat Josef was en slim was en die gawe gehad het om drome uit te lê?

Josef word aan ons bekend gestel as op sewentienjarige ouderdom. Die feit dat hy deur sy pa voorgetrek word met besondere klere is nog ‘n negatiewe ding wat oor hom vertel word, hoewel dit natuurlik sy pa se skuld was. Dit verklaar die begin van die afkeer wat sy broers aan hom gekry het. Omdat hulle geweet het dat Jakob liewer vir Josef was as vir hulle kon hulle niks goeds oor hom sê nie. Jakob self was voorgetrek deur sy ma Rebekka. Hier sien ons hoe ʼn verkeerde gebruike voortgesit word in die volgende geslag.
As ouers moet ons versigtig wees dat ons nie die verkeerde voorbeelde van ons eie grootword jare oordra na ons kinders nie. Ons moet ook versigtig wees dat ons nie een kind bo die ander moet voortrek nie, nie net het dit ʼn slegte uitwerking op die ander kind/ers, maar ook op die kind wat voorgetrek word.
Wat het Josef gedoen, hy was ʼn klikbek wat slegte stories by sy pa oor sy broers aangedra het.

Ten spyte van die negatiewe is daar iets anders van Josef wat uitstaan en wat in sy hele lewensverhaal ʼn rol speel. God gee aan hom die gawe om drome te kan uitlê en self ontvang hy ook drome.
Twee keer kry hy ʼn droom met dieselfde boodskap, sy broers en ma(wat reeds oorlede is) en pa gaan voor hom buig. Hier word dit deur God vasgemaak dat Josef ʼn man van aansien gaan word en dat sy familie voor hom gaan buig. Niemand kon indink watter pad die Here eers met hulle almal gaan stap voordat dit sou gebeur nie.

Sy drome verdiep die afkeur wat sy broers vir hom het. Nie net die drome nie (kon Josef self sy drome bepaal?), maar die manier waarop Josef dit ook vir sy broers vertel. Selfs sy pa was nie baie beïndruk met die drome nie en het hom berispe.
Deur hierdie drome wys God dat in die donker dade en optrede van mense, bewerk God die toekoms en bring so hoop vir die hele nageslag van Jakob.

Wat leer ons uit hierdie eerste gedeelte van Josef se lewe? Wees versigtig hoe ons omgaan met die genadegawes wat ons ontvang. Gebruik jy die oorwinnaars kleed waarmee die Here jou gekleed het om by ander te spog en hulle kwaad maak van jaloesie? Wil ons nie ook baie kere teenoor ander Christene hoogmoedig wees en maak asof ons beter is as hulle nie? Deur Christus se bloed is ons duurgekoop om verlos te wees van ons sondes. Hierdie gawe maak dat ons nederig in dankbaarheid hiervan getuig, want ons weet ons het dit nie verdien nie.

Dors vir meer:
Jesaja 61:8-11 en Kolossense 3:5-17.

Gebed
Allerhoogste en Almagtige! Dankie dat u soveel genade en seëninge vir ons gee. Dankie dat U ons kleed met ʼn oorwinnaars kleed. Mag ons nooit jaloers wees op die seëninge wat U aan ander gee nie, of selfs spog oor die seëninge wat U aan ons gegee het nie. Als wat ons is en het, is net uit U genade. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Vrydag 4 September 2020 “Die voorreg om by die Here te kan pleit.”

Skriflesing: Genesis 18:16-33.
Teksvers: Genesis 18:32.
Toe sê Abraham: “Moet tog nie kwaad word nie, Here! Ek wil nog net een keer praat; miskien word daar tien gekry.” En die Here sê: “Ook oor tien sal Ek dit nie verdelg nie.”

Ons sien soveel onreg in die wêreld om ons, verskriklike dinge wat gebeur. Sonde wat uitroep! Die geroep is hard. Partykeer voel dit of die sonde van die wêreld om ons groter is as self Sodom en Gomorra.
Wat is ons reaksie hierteen? Voel dit vir jou of dit beter sal wees as hul vernietig word nie?
Sodom en Gomorra se sonde was so erg dat die Here besluit het om hierdie stede te verwoes. Die Here maak hierdie besluit aan Abraham, sy dienaar bekend, nadat die Here weer bevestig ʼn kind gaan vir Abraham gebore word.
Wat is Abraham se reaksie? Is hy bly omdat hy nou ontslae gaan wees oor sy sondige bure? Of sien hy hoe hy meer grond kan verkry? Het hy nie eerder die woestynland gekies en die vrugbare grond aan Lot gegee nie, nou kan hy dit terugkry.

Abraham het gegroei in sy geloof. Abraham pleit by die Here, kan die Here nie van sy plan afsien nie? Hoe pleit Abraham by die Here? Abraham nader voor God met ʼn groot bewustheid tot Wie hy nader. God het al ʼn lang pad met Abraham gestap, Abraham ken God en weet wie is God. Daarom is Abraham veral ook bewus van sy eie kleinheid en swakheid. Kan hy die Here nader om Hom van plan te laat verander? Abraham maak sy wens aan die Here bekend, maar hy doen dit pleitend en smekend en bewus van met wie hy praat. Hy dring die Here met sy gebed, maar nooit dwing hy die Here nie.
Waarop kan hy hom beroep? Kan hy sê dit is onregverdig- die sonde moet gestraf word. Hy vra ter wille van ʼn paar mense of die dorpies nie gered kan word nie. Verder hou Abraham nie op om by die Here te pleit nie. Hy doen dit nie net een keer, of twee keer of selfs drie keer nie, maar ses keer kom Abraham met vrymoedigeheid en bid tot die Here. As daar maar net 10 regverdiges gevind kon word. Ongelukkig word daar nie eers tien regverdiges gevind in hierdie stede nie.

Hierdie optrede van Abraham wys vir ons heen na Christus wat vir ons pleit en as voorspraak optree. (NGB 26). Christus wat pleit dat duisende nie verdelg moet word oor hulle sondeskuld nie, dat jy nie verdelg moet word nie. Anders as Abraham kan Hy egter betaal vir die onregverdiges, met sy eie lewe, in ons plek. Duisende, miljoene, onregverdiges wat gered word deur die optrede van een Regverdige. So het ons dit mooi gesien in Jesaja 53. Die Kneg van die Here het die straf van die volk plaasvervangend gedra. Die onskuldige Kneg word die waarborg dat die hele volk se sonde gedra is. (sien ook Johannes 1:29 en Romeine 5:17).
Al is jou se sonde net so groot soos Sodom en Gomorra, Christus het dit vir jou volkome betaal en pleit vir jou by God. Die Heilige Gees bevestig dit vir ons wanneer ons bid. Hoe pleit en nader jy nou tot God in gebed?

Dors vir meer:
Johannes 1:1-16 en 29-34 en Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 26.

Gebed
Ons Hemelse Vader. Baie dankie dat ons die besonderse voorreg het om met vrymoedigheid tot U te kan bid en tot U te kan nader. Dankie dat ons die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, alles ter wille van Jesus Christus wat ons straf op Hom geneem het. Dankie dat ons kan leef in U vrede. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Donderdag 03 September 2020 “God maak jou deel van Sy genadeverbond.”

Lees: Genesis 15.
Teks wat tref: Genesis 15:8-10.
ʼn Groot aantal jare het verloop en Abram het begin te twyfel in die Here se verbond. Hy sien dan nog nie dat Hy ʼn eie seun het nie, sy erfgenaam is die seun wat hy by die Egiptiese slavin gekry het. Hy is terug in die land Kanaän, maar hy het geen grondgebied wat hy sy eie kan noem nie. Waar is die Here dan?
Voel jy ook soms so? Waar is die Here dan? Het Hy vergeet van jou en van Sy beloftes?
Die Here het Abram geantwoord (die woord van die Here het tot Abram gekom) en Abram het toe in die Here geglo. So het ons nodig om in tye van twyfel weer na die woord van die Here te luister.

Maar die Here bevestig Sy beloftes ook met ʼn verbond aan Abram. Abram moet ʼn vers, ʼn bok en ʼn skaapram en ʼn tortelduif en ʼn jongduif neem. Abram weet waaroor dit hier gaan, dit is die seremonie vir die sluiting van ʼn verbond (ʼn ooreenkoms of kontrak) en hy berei ook als voor.
Hy sny die diere (behalwe die klein voëls) middeldeur en lê die twee helftes teenoor mekaar.
In daardie dae het die partye wat ’n verbond gesluit het, tussen die helftes van
die diere deurgeloop. Daarmee het elke party gesê: “As ek nie die verbond nakom nie, sal ek soos hierdie diere in stukke opgesny word.”
Hier gebeur egter iets fantasties! God gaan alleen deur die diere. Abram stap nie self deur die diere nie. Hiermee sê die Here dat Hy ons, wat sy verbond met ons ongehoorsaamheid verbreek het, sal red.
Dit is dan ook presies hoe die Nuwe Verbond gesluit is. Jesus het mens geword om vir ons sondes te betaal. Hy is vir ons sondes, self onskuldig, stukkend geslaan, gespot en het aan die kruis die ergste beleef toe Hy uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Mark. 15:33). God het alleen die verbond se bepalings nagekom omdat ons self nooit dit kan doen nie. Dit is vir ons die grootste teken van genade wat daar is en so word dit vir ons bevestig deur die sakrament van die nagmaal en die doop. Ons kan niks vir God bied nie, God bied vir ons alles!

Leef vandag as ’n verloste kind van God, wat deel het aan hierdie genadeverbond omdat Christus se bloed vir jou gevloei het. Leef daarom in lojaliteit, toewyding en gehoorsaamheid aan die Here.

Dors vir meer:
Hebreërs 9 en Matteus 26:26-30.
https://www.kruispad.net/wat-is-n-verbond-in-die-bybel/

Gebed
Here dankie dat U, U verbond met ons gesluit het. Dankie dat U seun Jesus se bloed vir ons gevloei het, sodat ons kan deel in die Nuwe Verbond. Mag ons nooit hierdie verbond as goedkoop sien nie, maar dat U duur betaal het sodat ons kan deel in die ewige lewe. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Woensdag 02 September 2020 “Abram se sonde word uitgewys”

Lees: Genesis 12:10-20
Teks wat tref: Genesis 12:10
Daar was hongersnood in die land, ‘n baie swaar hongersnood, en Abram het na Egipte toe getrek om daar ‘n heenkome te vind.

Gister het ons gekyk hoe Abram geluister het na die Here en getrek het na die land Kanaän. Hy het vir die Here altare opgerig en Hom aanbid. Daar was hongersnood in die land en skielik is hier nou niks meer te sien van Abram se geloofsvertroue nie. Hy trek na Egipte om by die broodmandjie van die Midde Ooste ʼn heenkome te vind.
Die Bybel beskryf nie net die gedeeltes wat persone goed laat lyk en waar hul volhard in hul geloof nie. Hier word nie net vir ons Abram se ongeloof beskryf nie, maar ook die sonde wat hy doen vir sy eie voordeel. Wat het hy gedoen toe hulle in Egipte aankom?
Hy vrees vir sy eie lewe en vra van sy vrou Sarai dat hul moet voorgee dat hul net broer en suster is (ln Genesis 20:12 lees ons dat hul halfbroer en suster is, maar nou moet sy wegsteek dat hul getroud is, ʼn halwe waarheid) want hy is bang vir sy lewe. Dit wat Abram gevrees het gebeur toe ook, die Egiptenare sien toe hoe mooi Sarai is en haar skoonheid word tot aan die farao vertel. Die Farao neem haar as een van sy vroue en beloon Abram ryklik vir sy suster (Word Abram beloon vir sy sonde?). Die Here duld nie hierdie sonde nie en tree op. “Maar die Here het die farao en sy huis met swaar plae getref oor Sarai die vrou van Abram.” Hy het ʼn ander plan vir Abram en Sarai en bring hul sonde in die lig. Die farao is kwaad oor hierdie bedrogspul en stuur hulle weg.
So het die Here die omstandighede gebruik van ʼn hongersnood om die swakpunte wat daar was in Abram uit te wys en hom terug te roep om voluit in geloof te vertrou.

Hoe het die Inperking jou geraak? Was dit ʼn beproewing wat ook jou swakpunte na vore gebring het? Gaan jy aanhou om in hierdie sonde te volhard of is dit nie nou die geleentheid om met hierdie sondes te breek en hulp te soek nie?
So leer ons nie net uit Abram se regte voorbeelde nie, maar ook uit die verkeerde voorbeeld om nie dit self na te volg nie. Dit wys ons ook weer op die genade van die Here, dat dit Hy is wat sondaars uitkies en hulle versterk met die Heilige Gees sodat hul kan volhard in die geloof. Christus het gekom om vir ons te sterf, die ewige lewe moontlik te maak, want self kan ons nooit nie.
Wanneer beproewings oor jou pad kom, moenie jou hulp en uitkoms dadelik by ander plekke gaan soek nie, maar kom soek dit by die Here.
Romeine 5:3-6. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

Dors vir meer:
Jakobus 1:2-8 en Romeine 5:1-11.

Gebed
Here ons Here. Vergewe ons ons oortredings, veral waar ons nie altyd op u vertrou nie, maar ons hulp by die wêreld soek. Help ons om vas te staan in hierdie genade waaraan ons deel het in Christus Jesus. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Dinsdag 01 September 2020 “Wie was Abraham?”

Lees: Genesis 11:27-12:9
Teks wat tref: Genesis 12:1

Abraham is die vader van alle gelowiges (Romeine 4). Hoeveel keer word daar nie verwys na die Here as die God van Abraham, Isak en Jakob nie? Dan moes Abraham sekerlik ʼn noemenswaardige persoon gewees het?
Vandag kyk ons wie Abram (later het die Here sy naam verander na Abraham) was toe die Here hom geroep het. Hoekom dink jy het die Here spesifiek vir Abram geroep tussen al die ander mense? Is dit oor wie hy was? Wie sy vader dalk was? Oor iets wat hy bereik het?
Nee, uit Abram se lewe sien ons dit gaan nie oor die persoon nie, maar die Here wat die persoon roep.
Abram was die seun van Tera. Tera was volgens die Rabbynse geskrifte ʼn priester wat afgodsbeelde verkoop het. Hy was dus nie iemand wat die Here geken het nie, al kom hy van die nageslag van Sem. Ons sien al in die lewe van Tera dat hy die roepstem van die Here gekry het om vanuit Ur die land van die Galdeërs getrek het, maar net tot by Haran gekom het en hom daar gevestig het en ook hier gesterf het.
Die Here roep vir Abram en gee vir hom die belofte dat die Here hom ʼn man van groot aansien sal maak- ʼn groot nasies wat tot seën sal wees vir al die volke. Abram is dit nie ten tye van sy roeping nie. Alhoewel hy besittings het, sou jou hom nie beskryf het as ʼn vermoënde man nie. Dit is die Here wat hom later seën, ook in besittings. Omdat Abram die Here vertrou, kan hy in gehoorsaamheid wegtrek uit Haran.

So is dit vir ons ook die groot wonder van ons uitverkiesing. Ons uitverkiesing het niks te make oor wie ons is en wat ons die Here kan bied nie. Dit gaan alles oor wie die Here is en wat Hy vir ons doen. Dit is Hy wat ons met sy Heilige Gees aanraak en ons harte verander sodat ons kan antwoord op Sy roepstem.
Daarom moet ons nie vashou aan ons verlede nie, die Here kyk nie na wat ons gedoen het om gered te word nie. Ons kan nou leef in die hede, as vrygemaakte kinders van die Here, en hoop op die besonderse toekoms wat die Here vir ons gee!

Dors vir meer:
Handelinge 7:1-8 en Romeine 4:1-12.

Gebed
Dankie Here dat U ons roep en ons na U toe bring deur U Heilige Gees. Ons hoef daarom nie mense van aansien te wees, of die regte voorvaders hê om te deel aan die verlossing in Jesus Christus nie. Ons dank U vir U onsettende genade. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 31 Augustus 2020. “Wie is ek rêrig? – Briewe wat ander kan lees!”

Lees: 2 Korintiërs 3.
Teks wat tref: 2 Kor. 3:3 en 18.
“3. Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense.”

Hoe sien jy jouself? As jy in die oggend in die spieël kyk, wie is dit wat na jou toe terugkyk?
Sukkel jy dalk ook om werklik te antwoord, maar wie is ek? Veral in hierdie afgelope tyd nadat ons land getref is met die Covid-19 en ons almal Ingeperk is- Wie is ek nou rêrig? Dalk het die Inperking jou laat dink maar wie is ek rêrig by die werk, maak ek hier ʼn verskil, is ek nodig by die werk, wie is ek as ek nie meer ʼn werk het nie? Of daar waar ons nie ons vriende en familie kon sien met besoeke nie – wie is ek wanneer ek alleen is? So het hierdie Inperking ons op baie maniere geraak waarvan ons nie altyd bewus is nie, vrae laat vra oor wie ek is (identiteit) en hoekom is ek hier (doel) en wat moet ek hierdie jaar verder doen (funksie)?

Daarom fokus ons die volgende 4 weke oor Wie is ek rêrig?
Ons doen dit deur te kyk na die lewens van 4 gelowiges vanuit die Ou Testament en hoe die Here hulle identiteit bepaal en gebruik tot Sy eer!
1-4 September Abraham.
7-11 September Josef
14-18 September Moses
21-25 September Josua

Vanoggend begin ons hierop te fokus deur die gedeelte vanuit 2 Korintiërs 3 as inleiding te gebruik. In hierdie gedeelte wil Paulus vir die gemeente uitlig dat hy nie getuigskrifte nodig het om vir hulle te sê wie hy is nie, soos ander predikers. Die evangelie waarvan hy getuig is self die getuigskrif. Meer nog, dit is geskryf deur die Heilige Gees op hulle harte en sal nie afgewas kan word (soos ink) en vernietig kan word nie (soos klip) – dit bly vir ewig. Nie omdat Paulus so goed is nie, hy is bekwaam gemaak deur die Here en kan nie op hom self roem nie.
Hy bring die evangelie boodskap van die verlossing in Jesus Christus. In vergelyking met die bediening van die wet, kan hierdie vryheid en verlossing wat Christus bring deur die dood en opstanding, nie eens opweeg teen die vroeëre nie.
Die Heilige Gees verander ons sodat ons hierdie heerlikheid kan raaksien, verstaan en dit uitleef!
Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem (Moses het sy gesig toegemaak omdat hy nie wou hê die Israeliete moet sien dat die heerlikheid wat hy uitgestraal het, na ʼn ruk afneem en weggaan nie). Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.
Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.
Besef dit dan opnuut weer- ek is ʼn getuigskrif wat deur die Here self geskryf is, sodat ander die evangelie ook in my kan lees! Leef dan hierdie beeld van Christus uit!
Wie is ek rêrig?

Dors vir meer:
Eksodus 34:27-35 en Galasiërs 1:11-24.

Gebed
Dankie Here dat U ons ʼn getuigskrif maak om te getuig van U heerlikheid. Dankie dat U Heilige Gees ons verander en voortdurend vernuwe sodat ons U heerlikheid kan uitstraal! Leer ons opnuut weer wie ons rêrig is, soos wat U ons sien en maak. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk 28 Augustus 2020 – Skakel asseblief die lig aan.

Skrifgedeelte: Mt 5:13-16                       Teks wat tref: v14

Enkele jare gelede het ʼn geweldige stormwind  ʼn klein kerkie wat hoog bo op ʼn bergreeks gebou was, verwoes. Weens ʼn tekort aan finansies was die gemeente nie in staat om dit te herbou nie. ʼn Ruk daarna het die hoof van die Britse Vloot gaan verneem wanneer die gemeente die kerk sou herstel. Toe hy hoor  dat daar nie genoeg fondse was nie het hy die predikant meegedeel dat die Vloot die koste sal dra.  Hierdie kerkie met sy lig en kerkklok is deur al die skepe wat daar verbygevaar het as baken gebruik om behoorlik om die gevaarlike bergreeks te vaar. Dit was ʼn lig vir die wêreld. 

Met hierdie verhaal verstaan ons iets van Jesus se prediking in Mt 5:14. Om dan lig vir die wêreld te wees was betekenisvol om die mense se veiligheid en koers te verseker. Verder moes die lig God verheerlik.  Wanneer Jesus met die skare praat dui Hy weer hul andersheid aan. Met hulle optrede beklemtoon Hy die noue verband tussen die mense en God. Die optrede wat julle Vader wat in die hemel is verheerlik dui op die verhouding met die Here. Julle is onlosmaaklik aan God verbind.  Ek is God se Ligdraer.  Daarom sal ek tussen ander mense uitstaan.  Daar is ʼn duidelike verskil tussen ligdraers en diegene wat in die donker skadu bly voortleef.  Ons lig skyn in hierdie donker wêreld omdat ons deur die krag van die Gees versterk word.

Sonder lig is lewe op die aarde nie moontlik nie. Almal het dit nodig. Net ʼn kragonderbreking van enkele ure is genoegsame bewys dat die mens lig nodig het. Gaan maak seker waar God jou wil gebruik. Ongehoorsaamheid aan hierdie opdrag beteken dat jy wonderlike skepping en alles wat dit vertoon verontagsaam. Die treffende beeld wat Jesus hier gebruik dat ons optrede daarop neerkom dat ons God se lig onder ʼn maatemmer plaas dwing my tot ware selfondersoek. . 

Sonder God kan daar geen lig skyn nie. Hy is die bron van die lig wat  by ons optrede hoort.
ʼn Lamp wat onder ‘n maatemmer weggesteek word dien geen doel nie. Dit moet hoog op ʼn staander geplaas word.

As God se geseëndes word ons geroep om ʼn verskil in die wêreld te maak. Ons verdryf die duisternis waar ons God se Woord verkondig.  In Jh 8:12 sê Jesus dat Hy die lig vir die wêreld is. “Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Wees voorbereid en gereed om die lig aan te skakel daar waar God jou gebruik!

Dors vir meer:

Ps 119: 105-112

Gebed

Here, leer my om nie in iemand anders se lig te staan nie. Dankie dat die Heilige Gees ons lei om in U lig te lewe. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235

« Older posts Newer posts »