Skriflesing: Genesis 37:12-26
Teksvers: Genesis 37:31
Josef se broers kon net nie van Josef se drome vergeet nie. Sou hy dan rêrig oor ons regeer, hy wat jonger is as ons? So het hierdie haat en afguns wat hul vir Josef gevoel het ontwikkel tot op die punt wat hulle hom wil doodmaak. Terwyl Josef aankom om sy broers te soek, kom hulle ooreen: “Laat ons hom doodmaak. Dan sal ons sien wat van sy drome word”.
Ruben, die oudste, wil nie sover gaan om moord te pleeg nie en oortuig sy broers om hom eerder in ʼn put te gooi, dan kan hy hom later stilletjies kom red.
Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het, en vat hom en gooi hom in die put. Dit was ‘n droë put, sonder water. Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar ‘n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai.
Judas kry die blink plan om eerder vir Josef te verkoop, dan kry hulle nog ʼn geldjie ook daaruit. So is Ruben se plan ook in die wiele gery.
Hulle slag toe ʼn boklam en druk Josef se klere in die bloed, skeur dit en stuur dit terug na hulle vader toe. Jakob huil ontroosbaar toe hy die nuus kry. So word hulle bose plan versteek met die bloed van ʼn lam.
Wat sien ons uit hierdie gedeelte? Josef se broers wou nie erken dat Josef se drome ʼn boodskap vanaf God was nie.
Baie jare later wou die Joodse leiers ook nie die boodskap aanvaar van die Here dat Christus die Messias is waarop hulle wag nie. Wou die Here rêrig hierdie man van Nasaret gebruik om hulle te verlos? Hy wat dan meng met die sondaars en die vissermanne, wat nie eers wil oorlog maak nie. Hulle roep uit en spot Hom: Kruisig Hom. En waar Hy aan die kruis hang: “As jy rêrig die Koning van die Jode is, red dan jouself.”
Kom ons kyk wat word van Sy drome dat Hy die tempel binne drie dae kan opbou.
Hierdie keer word nie die bloed van ʼn lam gebruik om ʼn leuen weg te steek nie. Christus is self die Lam wat geslag word en Sy bloed was die sonde skoon van almal wat in Hom glo! Dit bring vir ons die onuitputbare vertroosting!
Kom ons kyk dan verder hierdie week hoe God se raadsplan in plek val.
Dors vir meer:
1 Petrus 1:18-21 en Heidelbergse Kategismus Sondag 15.
Gebed
Grote God aan U die eer! Mag ons nooit u raadsplan en u Woord spot nie, maar maak U wil aan ons bekend. Dankie dat ons vrygekoop is, nie deur goud of silwer nie, maar deur die bloed van Jesus Christus. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply