Lees: Genesis 11:27-12:9
Teks wat tref: Genesis 12:1
Abraham is die vader van alle gelowiges (Romeine 4). Hoeveel keer word daar nie verwys na die Here as die God van Abraham, Isak en Jakob nie? Dan moes Abraham sekerlik ʼn noemenswaardige persoon gewees het?
Vandag kyk ons wie Abram (later het die Here sy naam verander na Abraham) was toe die Here hom geroep het. Hoekom dink jy het die Here spesifiek vir Abram geroep tussen al die ander mense? Is dit oor wie hy was? Wie sy vader dalk was? Oor iets wat hy bereik het?
Nee, uit Abram se lewe sien ons dit gaan nie oor die persoon nie, maar die Here wat die persoon roep.
Abram was die seun van Tera. Tera was volgens die Rabbynse geskrifte ʼn priester wat afgodsbeelde verkoop het. Hy was dus nie iemand wat die Here geken het nie, al kom hy van die nageslag van Sem. Ons sien al in die lewe van Tera dat hy die roepstem van die Here gekry het om vanuit Ur die land van die Galdeërs getrek het, maar net tot by Haran gekom het en hom daar gevestig het en ook hier gesterf het.
Die Here roep vir Abram en gee vir hom die belofte dat die Here hom ʼn man van groot aansien sal maak- ʼn groot nasies wat tot seën sal wees vir al die volke. Abram is dit nie ten tye van sy roeping nie. Alhoewel hy besittings het, sou jou hom nie beskryf het as ʼn vermoënde man nie. Dit is die Here wat hom later seën, ook in besittings. Omdat Abram die Here vertrou, kan hy in gehoorsaamheid wegtrek uit Haran.
So is dit vir ons ook die groot wonder van ons uitverkiesing. Ons uitverkiesing het niks te make oor wie ons is en wat ons die Here kan bied nie. Dit gaan alles oor wie die Here is en wat Hy vir ons doen. Dit is Hy wat ons met sy Heilige Gees aanraak en ons harte verander sodat ons kan antwoord op Sy roepstem.
Daarom moet ons nie vashou aan ons verlede nie, die Here kyk nie na wat ons gedoen het om gered te word nie. Ons kan nou leef in die hede, as vrygemaakte kinders van die Here, en hoop op die besonderse toekoms wat die Here vir ons gee!
Dors vir meer:
Handelinge 7:1-8 en Romeine 4:1-12.
Gebed
Dankie Here dat U ons roep en ons na U toe bring deur U Heilige Gees. Ons hoef daarom nie mense van aansien te wees, of die regte voorvaders hê om te deel aan die verlossing in Jesus Christus nie. Ons dank U vir U onsettende genade. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply