Skrifgedeelte: Mt 5:13-16 Teks wat tref: v14
Enkele jare gelede het ʼn geweldige stormwind ʼn klein kerkie wat hoog bo op ʼn bergreeks gebou was, verwoes. Weens ʼn tekort aan finansies was die gemeente nie in staat om dit te herbou nie. ʼn Ruk daarna het die hoof van die Britse Vloot gaan verneem wanneer die gemeente die kerk sou herstel. Toe hy hoor dat daar nie genoeg fondse was nie het hy die predikant meegedeel dat die Vloot die koste sal dra. Hierdie kerkie met sy lig en kerkklok is deur al die skepe wat daar verbygevaar het as baken gebruik om behoorlik om die gevaarlike bergreeks te vaar. Dit was ʼn lig vir die wêreld.
Met hierdie verhaal verstaan ons iets van Jesus se prediking in Mt 5:14. Om dan lig vir die wêreld te wees was betekenisvol om die mense se veiligheid en koers te verseker. Verder moes die lig God verheerlik. Wanneer Jesus met die skare praat dui Hy weer hul andersheid aan. Met hulle optrede beklemtoon Hy die noue verband tussen die mense en God. Die optrede wat julle Vader wat in die hemel is verheerlik dui op die verhouding met die Here. Julle is onlosmaaklik aan God verbind. Ek is God se Ligdraer. Daarom sal ek tussen ander mense uitstaan. Daar is ʼn duidelike verskil tussen ligdraers en diegene wat in die donker skadu bly voortleef. Ons lig skyn in hierdie donker wêreld omdat ons deur die krag van die Gees versterk word.
Sonder lig is lewe op die aarde nie moontlik nie. Almal het dit nodig. Net ʼn kragonderbreking van enkele ure is genoegsame bewys dat die mens lig nodig het. Gaan maak seker waar God jou wil gebruik. Ongehoorsaamheid aan hierdie opdrag beteken dat jy wonderlike skepping en alles wat dit vertoon verontagsaam. Die treffende beeld wat Jesus hier gebruik dat ons optrede daarop neerkom dat ons God se lig onder ʼn maatemmer plaas dwing my tot ware selfondersoek. .
Sonder
God kan daar geen lig skyn nie. Hy is die bron van die lig wat by ons
optrede hoort.
ʼn
Lamp wat onder ‘n maatemmer weggesteek word dien geen doel nie. Dit moet hoog
op ʼn staander geplaas word.
As God se geseëndes word ons geroep om ʼn verskil in die wêreld te maak. Ons verdryf die duisternis waar ons God se Woord verkondig. In Jh 8:12 sê Jesus dat Hy die lig vir die wêreld is. “Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
Wees voorbereid en gereed om die lig aan te skakel daar waar God jou gebruik!
Dors vir meer:
Ps 119: 105-112
Gebed
Here, leer my om nie in iemand anders se lig te staan nie. Dankie dat die Heilige Gees ons lei om in U lig te lewe. Amen
Ds Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply