Skrifgedeelte: Mt 5:13-16                          Teks wat tref: v 13

In Mt 5:1-12 het Jesus in sy preek baie aandag aan die karaktereienskappe van die geseëndes wat in God se koninkryk is, gegee.  Die geseëndes se andersheid gaan nou oor in aksie en dade.  Opvallend genoeg beteken dit nie allerlei opspraakwekkende wonderdade en buitengewone optrede wat deur almal raakgesien word nie.  Jesus sê net: “Julle is die sout vir die aarde.”

Ons sou eerder verwag dat die geseëndes in ʼn verhewe staat sou lewe en dat hulle met rykdom, voorspoed en ʼn hoë agting beloon word.  God se geseëndes is vreemd en anders. God se geseëndes word gestuur om ʼn verskil te maak.  Die lekkerste maaltyd sonder genoeg sout smaak eintlik na niks nie.  Met hierdie beeld leer Jesus ons om bruikbaar te wees.  Juis omdat Christus ons lewe verander het, is ons die sout vir die aarde.  Ek word nou wat God my gemaak het.  

Jesus gebruik ʼn aardse voorbeeld om ʼn geestelike waarheid te verduidelik.  Sout word gebruik om te voorkom dat iets bederf raak. Dit is een van die beste preserveermiddels wat vandag steeds gebruik word. Dan word dit ook tydens ʼn maaltyd gebruik om smaak aan die kos te gee.  Met sy kruisdood het Christus ons bewaar van die ewige verderf en boonop ook vir ons ʼn blyplek saam met Hom verseker. 

Sout is net effektief as die kernbestanddele daarvan reg gevorm is.  Ons ontvang dit van God. Jesus sê: “Julle is die sout vir die aarde.”  Ons word nie eers later die sout nie.  Verder beteken die Here se opdrag dat ons die sout is wat die hele aarde teen verrotting moet beskerm.  As gelowiges moet ons God se boodskap oral verkondig en sy wil op elke plek gehoorsaam. Jy word deur God geroep om ʼn verskil te maak.  Daarom moet ons altyd seker wees dat ons aan Christus verbonde is en dat Hy ons deur sy Heilige Gees stuur om smaak te verleen en om verrotting te voorkom. Daarom is dit ons taak om ons stem te laat hoor as wetgewing teen God se wil indruis wanneer onreg plaasvind met die wettiging van aborsie, die laster van God se Naam en die verdringing van die Christelike waardes.

Ongelukkig gebeur dit soms dat ek die doel van my bestaan op die aarde mis.  Sout wat verslaan het, is niks meer werd nie. Dit word weggegooi en deur mense vertrap.  Daar is baie dinge wat daartoe bydrae dat sout kragteloos en smaakloos word.  Die meeste  daarvan begin met my eie optrede wanneer gemaksug, eiegeregtigheid en onbetrokkenheid posvat. 

Om sout vir die aarde te wees beteken dat ek getrou sal luister na die leiding van die Heilige Gees. Bestudeer God se Woord. Maak ʼn verskil.

Begin vandag daarmee deur op te let of die Here iemand saam met jou aan tafel laat sit vir wie jy die sout kan aangee.

Dors vir meer:

Fil 2:5-11

Gebed

Here, soms is dit seer as daar sout op my wonde ingevryf word om te keer dat ek verrot. Dan is daar ook weer die vreugde as U my gebruik om smaak aan die kos te verleen. Maak my al meer diensbaar in U koninkryk. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235