Skriflesing: Genesis 18:16-33.
Teksvers: Genesis 18:32.
Toe sê Abraham: “Moet tog nie kwaad word nie, Here! Ek wil nog net een keer praat; miskien word daar tien gekry.” En die Here sê: “Ook oor tien sal Ek dit nie verdelg nie.”
Ons sien soveel onreg in die wêreld om ons, verskriklike dinge wat gebeur. Sonde wat uitroep! Die geroep is hard. Partykeer voel dit of die sonde van die wêreld om ons groter is as self Sodom en Gomorra.
Wat is ons reaksie hierteen? Voel dit vir jou of dit beter sal wees as hul vernietig word nie?
Sodom en Gomorra se sonde was so erg dat die Here besluit het om hierdie stede te verwoes. Die Here maak hierdie besluit aan Abraham, sy dienaar bekend, nadat die Here weer bevestig ʼn kind gaan vir Abraham gebore word.
Wat is Abraham se reaksie? Is hy bly omdat hy nou ontslae gaan wees oor sy sondige bure? Of sien hy hoe hy meer grond kan verkry? Het hy nie eerder die woestynland gekies en die vrugbare grond aan Lot gegee nie, nou kan hy dit terugkry.
Abraham het gegroei in sy geloof. Abraham pleit by die Here, kan die Here nie van sy plan afsien nie? Hoe pleit Abraham by die Here? Abraham nader voor God met ʼn groot bewustheid tot Wie hy nader. God het al ʼn lang pad met Abraham gestap, Abraham ken God en weet wie is God. Daarom is Abraham veral ook bewus van sy eie kleinheid en swakheid. Kan hy die Here nader om Hom van plan te laat verander? Abraham maak sy wens aan die Here bekend, maar hy doen dit pleitend en smekend en bewus van met wie hy praat. Hy dring die Here met sy gebed, maar nooit dwing hy die Here nie.
Waarop kan hy hom beroep? Kan hy sê dit is onregverdig- die sonde moet gestraf word. Hy vra ter wille van ʼn paar mense of die dorpies nie gered kan word nie. Verder hou Abraham nie op om by die Here te pleit nie. Hy doen dit nie net een keer, of twee keer of selfs drie keer nie, maar ses keer kom Abraham met vrymoedigeheid en bid tot die Here. As daar maar net 10 regverdiges gevind kon word. Ongelukkig word daar nie eers tien regverdiges gevind in hierdie stede nie.
Hierdie optrede van Abraham wys vir ons heen na Christus wat vir ons pleit en as voorspraak optree. (NGB 26). Christus wat pleit dat duisende nie verdelg moet word oor hulle sondeskuld nie, dat jy nie verdelg moet word nie. Anders as Abraham kan Hy egter betaal vir die onregverdiges, met sy eie lewe, in ons plek. Duisende, miljoene, onregverdiges wat gered word deur die optrede van een Regverdige. So het ons dit mooi gesien in Jesaja 53. Die Kneg van die Here het die straf van die volk plaasvervangend gedra. Die onskuldige Kneg word die waarborg dat die hele volk se sonde gedra is. (sien ook Johannes 1:29 en Romeine 5:17).
Al is jou se sonde net so groot soos Sodom en Gomorra, Christus het dit vir jou volkome betaal en pleit vir jou by God. Die Heilige Gees bevestig dit vir ons wanneer ons bid. Hoe pleit en nader jy nou tot God in gebed?
Dors vir meer:
Johannes 1:1-16 en 29-34 en Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 26.
Gebed
Ons Hemelse Vader. Baie dankie dat ons die besonderse voorreg het om met vrymoedigheid tot U te kan bid en tot U te kan nader. Dankie dat ons die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, alles ter wille van Jesus Christus wat ons straf op Hom geneem het. Dankie dat ons kan leef in U vrede. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply