Skrifgedeelte: Mt 5:33-37 Teks wat tref: v37
Telkens wanneer Jesus na die ou tyd verwys raak Hy ʼn ander aspek van ons bestaan aan. Omdat die mens in ʼn verhouding met God en hul naaste lewe gaan Christus voort om met die bergpredikasie te verduidelik wat dit behels om die Tien Gebooie te gehoorsaam. Veral in die lig van die groteske korrupsie en valsheid waaraan inwoners van Suid-Afrika tans blootgestel word, is hierdie opdrag relevant.
Eerlikheid begin by God. Wanneer ek vals optree en die reg verdraai is die Naam van die Here ter sprake. Daarom gee Jesus die duidelike opdrag om die Naam van sy Vader te beskerm. Met die opdrag dat jy nie jou eed mag verbreek nie, word die gewigtigheid van my optrede beklemtoon. Ons hoor dikwels dat mense sou sê dat dit “nie so erg is nie” en dat ʼn wit leuentjie niemand tog enige skade kan doen nie. Die woordjie verbreek wys hier op vernietigende en permanente skade wat my optrede tot gevolg het. Enige vorm van valsheid word veroordeel omdat dit mense se lewe en rustige bestaan verskeur en benadeel.
Die gebruik om ʼn eed af te lê het destyds ook verseker dat die saak ter sprake gewigtig was en dat jy bereid is om iets op die spel te plaas in ruil vir jou woord. Konings het ʼn eed afgelê om die vyand te verdelg sodat die landsburgers veilig kan wees. Uit dankbaarheid het mense soms ook ʼn eed afgelê na die genesing van ʼn familielid of die bewaring na ‘n ramp. Dit het beteken dat jy iets op die spel plaas of in ruil gee. Daarom het die volk die hemel of die altaar of die aarde of die naam van iemand as waarborg aangebied.
ʼn Eed is ook afgelê om die waarheid te beskerm en dit kon beteken dat jy so seker is dat jy jou kop op die spel plaas. Jesus dui dan aan dat die mens nooit enige waarborg vanuit homself kan aanbied nie. Dit word begrond in die feit dat net God Almagtig is. God bepaal die lot van elke mens. God het die mens geskape en net Hy bepaal hoe ons lewens verloop. Naas die geweldige grootheid van God se skepping wat hemel en aarde insluit, word selfs die kleur van my hare deur God bepaal. Ook in die geringste is God by my lewe betrokke. Veel meer dan ook by die groter dinge en elke besluit ook.
Jesus se praktiese en eenvoudige raad dat jou ja jou ja en jou nee jou nee moet wees verseker dat ek reg optree. Daar word vandag van ons vereis om ʼn eed af te lê wanneer regsake ter sprake is of om ʼn beëdigde verklaring te doen met sekere sake transaksies. God verwag altyd eerlikheid omdat ek as sy kind verantwoordelik is dat reg en geregtigheid altyd seëvier.
Dors vir meer:
Gen 32:1-16 Teks: v13
Gebed
Here, bewaar my om getrou te wees en met eerbied vir U groot en heilige Naam op te tree. Bewaar my van elke vorm van valsheid en onreg. Bestendig ons land, regering en al die inwoners sodat ons vrede mag beleef. . Amen
Petrus van Blerk
0824560235