Author: Karen de Lange (Page 15 of 33)

Dagstuk 07 Desember 2020 – Dink voor jy doen!

Skrifgedeelte: Romeine 2:12-16                       Teks wat tref: v12 en 16

Rm 2:16 – “Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Jesus Christus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel…….”

Met hierdie Brief aan die gelowiges in Rome bring Paulus die Evangelie van Christus. Dit is die blye boodskap dat God deur Christus red!

Maar hierdie brief het ook ʼn teenpool. Oor die wat sondig sal geoordeel word.

Met heelwat regsterme verduidelik Paulus God se optrede. Hy gebruik terminologie wat in die howe bekend was om by hulle redenasies en sienswyses aan te sluit.  Dit is die mens se geaardheid om selfverontskuldiging of – regverdiging te soek.  Ons veroordeel baie maklik iemand anders. Net so hou ek nie daarvan om beoordeel te word nie.  Daar word harde woorde in Romeine 2: 3 as waarskuwing vir sulke optrede gebruik. 

Eintlik sê Paulus in vers 16 dat die oordeel van God deur Christus kom.  Om dit te verstaan gebruik hy die voorbeeld van mense wat sonder die wet van Moses gesondig het, teenoor hulle wat onder die wet gesondig het.  Daarmee sluit hy elke mens in. Die Jode sowel as die nie-Jode.  Daar was Jode wat sedert hulle geboorte met God se wet groot geword het en dan was daar bekeerlinge van die evangelie.

Wanneer Christus dan oordeel word een groep nie bo ʼn ander bevoordeel of benadeel nie.  Elkeen ontvang dieselfde genade. God trek niemand voor nie..  God is regverdig en vra rekenskap van dit wat jy ontvang het.  Jy kan nie op grond van verdienste aanspraak maak op ʼn ander beoordeling nie.  Niemand het enige verontskuldiging nie. 

Daarom word ons opgewek om behoorlike selfondersoek te doen.  Dan besef ek dat ek net op Christus se verlossing kan vertrou en self niks net om aan te bied nie. 

In die volgende aantal hoofstukke van Paulus se brief aan die Romeine luister ons na die dinge waaraan ons moet dink voor ons doen. 

Dors vir meer:

Deut 6:1-9

Gebed

Here, baie dankie dat U regverdig oordeel. Dankie dat U Woord ons leer om die regte dinge te doen. Dankie dat Jesus Christus ons met U versoen.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 4 Desember 2020. Dankgebed van Dawid.

1 Kronieke 29:10-19.

Dawaid wil vir die Here ‘n huis bou, maar die Here laat hom nie toe nie. Maar Dawid kan nogsteeds help met die voorbereidings vir die bou van die tempel. Die hele volk bring gewillig goud, silwer, brons, yster en edelstene vir die Here- vul vreugde en met ‘n gewillige hart.
In teenwoordigheid van die hele volk gaan Dawid voor in gebed met hierdie lofprysing. Hy besing weer die Here se ewigheid, grootheid, mag, rykdom, eer en heerskappy. Wanneer ons so tot die Here bid, dan kan ons nie anders as om ons kleinheid te besef nie. Dit is wat Dawid ook doen. Dit is nie deur die volk se grootheid dat hulle hierdie vrywillige gawe kan bring nie, alles kom tog net van die Here af! Dawid erken sy tyd gaan verby soos ‘n skaduwee en watter reg op aanspraak het ons?
Die Here deurgrond die harte en Dawid vra dat die Here moet kyk of hul in opregtheid hierdie gawes bring. Kan ons dieselfde sê? Hoe lyk ons gesindheid en hart? Is dit in blydskap wat ons die Here aanbid en met opregtheid in Sy diens staan? Hoe kan ons ‘n gawe vir die Here gee as die Here vir ons alles gee? God wat Sy Seun nie gespaar het nie, maar gegee het om ons sondeskuld op Hom te neem. ‘n Gawe en offer wat nie kan oopweeg teen goud en silwer nie.
Aanbid die Here met volle oorgawe!

Dors vir meer:
Hebreërs 13:7-19 en Romeine 12:1-8.

Gebed
Here ek wil loof vir U grootheid, krag, roem, heerlikheid en majesteit. Ek wil U met ‘n opregte hart loof en eer en dank. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Vir meer dagstukies, volg gerus vir Glo Media op Facebook of op hul webblad waar van ons dagstukkies opgeneem is met video.
https://m.facebook.com/story.php?story_fbid=415460656491061&id=112740280096435

Dagstuk 3 Desember 2020. “Jy is die man!”

2 Samuel 11-2 Samuel 12:25
Teks wat tref: 2 Samuel 5-7.
Die kneg van die Here tree in hierdie gedeelte verskriklik op teenoor sy medemens. Dawid is nie saam met sy manskappe op die oorlogsveld nie, maar bly agter by sy paleis. Dawid sien ʼn baie mooi vrou bad vanaf sy paleis se dak- wat doen hy volgende? Hy gee toe aan sy begeertes. In plaas van om daarvan te bekeer maak hy nog meer sondige planne om die sonde weg te steek. Wat kom die profeet Natan? Hy wys deur ʼn gelykenis/beeld vir Dawid hoe erg sy optrede was. Jy is die man! Antwoord Natan vir Dawid. Dawid het geen rede tot hierdie optrede gehad nie. Dawid gaan nou die gevolg van sy sonde beleef, dit wat hy in die geheim probeer wegsteek het, gaan in die openbaar sigbaar gemaak word. Net so is ons ook nie beter is Dawid nie. Hoe maklik gee ons ook nie toe aan ons sondige begeertes nie. Ons moenie die vergifnis van sonde gebruik as ʼn geleentheid om te sondig nie. So moet ons ook besef dat vergifnis van sonde neem nie die gevolge van die sonde weg nie. Dawid se eie uitspraak aan Natan is dat hierdie man die doodstraf verdien vir sy optrede. So verdien ons sonde ook die dood- ons is ook skuldig. Jy is hierdie man/vrou!
Maar omdat God ’n genadige God is, het Hy sy Seun Jesus Christus in ons plek gestraf, sodat daar vir ons vergifnis kan kom. In Psalm 32:9 waarsku Dawid ons om nie onverstandig te wees nie. Vlug eerder weg van die sonde, want al vergewe die Here jou volkome, word die gevolge van die sonde nie ongedaan gemaak nie en kan dit jou lewe vernietig.
Moenie meedoen aan die praktyke van die duisternis nie, want alles sal aan die kaak gestel word as die lig daarop val. Vra voortdurend of iets vir God aanneemlik is. Nie net moet ons in die Lig lewe nie, maar as verlostes wil ons in die Lig lewe.

Dors vir meer:
Psalm 51 en Efesiërs 5:1-20
Gebed
Here my God. Ek bely voor U dat ek teen U gesondig het. Mag U my vergewe ter wille van Jesus Christus alleen. Lei my om volgens U wil te leef! Help my dat ek nie U verwyt vir die gevolge van my sonde nie. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk 2 Desember 2020. Dawid bring die ark van die Here na Jerusalem.

2 Samuel 6
Teks wat tref:2 Samuel 6:7

Baie het intussen in Dawid se lewe gebeur. Eers moes hy vlug vir Saul en gaan bly hy tusssen die Filistyne. Na Saul se dood keer hy terug en word as koning in Hebron gesalf. Hy neem Jerusalem in en vestig dit as die Dawidstad. Hy het die Filistyne verslaan en wil nou die ark van die Here na Jerusalem bring. Maar dit is hier waar dinge skeefloop. Dawid wil optree volgens sy planne en nie soos wat die Here voorgeskryf het nie. Dawid neem sy hele leër om die ark te gaan haal, laai dit op ‘n nuwe wa, laat dit deur osse trek en die seuns van Abinadab dryf die wa. Toe die osse struikel gryp Ussa na die ark en die Here tref hom en hy sterf. Vir baie mense klink hierdie gedeelte hard, hoe kan die Here iemand net so doodmaak? Eintlik moes hul almal sterf omdat hul nie die voorskrifte vir die vervoer van die ark nagekom het soos beskryf is in Numeri 7:9 en Deuteronium 10:8.
Dawid skrik en is bang om die ark van die Here na hom te bring. Drie maande staan die ark van die Here by Obed Edom en die Here seën vir Obed-Edom. Nou sien Dawid weer kans om die ark te gaan haal. Hierdie keer word dit reg gedoen deur die ark te dra en offers te bring en die Here te aanbid. In die eerste optog wou Dawid die middelpunt wees, met die tweede is die Here die middelpunt. Is die Here nog in die sentrum van ons optrede? Het ons nog respek vir God? Dit is maklik om ‘n simbool op te rig en te sê God is met ons (soos die Nazi’s in Duitsland dit gedra het) maar dit is ‘n heel ander saak om dit uit te leef dat God met ons is. Dawid wou die ark van die Here gebruik vir politieke aansien en nie om die Here eerste te stel nie. Moenie die Woord van God aanpas by dit wat jou pas nie. Pas jou lewe aan by God se Woord en leef ‘n lewe van dankbaarheid, vol van die vrug van die Gees soos dit pas by iemand wat deur Christus verlos is.

Dors vir meer:
Josua 3 en 1 Petrus 2

Gebed
Here die Allerhoogste. Dankie dat U my nie in U toorn verdelg nie, maar uit genade gered het. Dankie dat U Seun Jeus Christus in my plek U toorn gedra het en my sonde betaal het. Lei my deur U Heilige Gees om volgens U Woord en wil te leef.
Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631

Dagstuk Dinsdag 1 Desember 2020. Dawid en Jonatan- liefde wat opoffer!

1 Samuel 18:1-5
Teks wat tref:1 Samuel 18:3

Min vriendskappe word vir ons so sterk beskryf soos dié van Dawid en Jonatan. Nadat Dawid vir Goliat verslaan het, raak Jonatan baie geheg aan Dawid. Hy het hom liefgekry soos homself. Jonatan sorg dat Dawid by Saul kom bly en nie teruggaan huistoe nie. Jonatan beseël hierdie vriendskap met ‘n verbond. Hy gee sy mantel en swaard en boog en gordel vir Dawid. Dit is baie ongewoon dat ‘n kroonprins sy mantel aan iemand anders sal gee. Hiermee het Jonatan reeds gewys dat hy nie koning gaan word nie, maar Dawid. Soos later vir ons in 1 Samuel 20 en 23 beskryf word, bly hierdie liefde tussen Jonatan en Dawid. Jonatan is nie jaloers en afgunstig op Dawid nie. Werklik ‘n liefde waar jy jou naaste soos jouself lief het.
Vriendskappe word nie bepaal deur dieselfde ouderdom en agtergrond nie. Hoe kyk ons na vriendskappe deur die geloof? Hoe lief het ons mekaar? Kan ons die voorbeeld van liefde wat Jesus aan ons bewys het ook so uitleef in ons vriendskappe? ‘n Vriend wat bereid is om sy lewe te gee vir ‘n ander. Moenie in jou vriendskappe afgunstig raak op ander se sukses en seëninge nie. So ook in die gemeente- laat ons mekaar werklik liefhê soos ons self. Ons kan dit maklik doen omdat die Here ons innig liefhet.

Dors vir meer:
Johannes 14:9-17 en Job 6.

Gebed
Dankie Here dat U Seun Jesus Christus sy lewe afgelê het vir my- daar is geen groter vriendskap as dit nie. Lei my vandag om in U liefde te bly. Seën ook my vriendskappe dat ek ander kan liefhê soos myself.
Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 30 November 2020. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie.

1 Samuel 16:1-13
Teks wat tref:1 Samuel 16:7.
Hierdie week kyk ons hoe die Here gewerk het in die lewe van Koning Dawid. Dawid word verskeie kere genoem “die man na God se hart” en as “die dienskneg van die Here.” Maar hoe het Dawid se lewe begin? Dawid word groot agter die skape. Hy was ʼn herder wat sy pa se skape moes oppas. Die Here stuur vir Samuel om ʼn ander koning te salf, nadat Saul nie meer die Here gehoorsaam nie.
Die Here stuur vir Samuel na Isai in Bethlehem, maar Samuel self weet nie watter seun kies die Here as koning nie.
Sommer met die inkom slag sien Samuel vir Eliab en dink dit moet die gesalfde van die Here wees. ʼn Groot, lang en sterk man. Maar die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die Here sien nie net die uiterlike nie, maar kyk na die innerlike.
So word Dawid geroep vanaf die veld agter die skape en word hy deur Samuel gesalf en die Gees van die Here was saam met Dawid.

Hierdie gedeelte roep ons op om nie na die uiterlike te kyk nie, maar na die innerlike. Wat sien die Here raak? Wanneer jy deelneem aan ʼn verkiesing, kyk jy net na die uiterlike, dit wat die wêreld voorhou as mooi en goed en reg? Moenie vaskyk teen die uiterlike nie.
Wanneer ouderlinge en diakens verkies word, wat is die maatstaf wat gebruik word? As jou ouderlinge, diaken of predikant kom huisbesoek doen kyk jy net vas teen die uiterlike? Ek hou nie van hierdie ampsdraer nie, want die persoon maak nie soos wat ek dit wil hê nie- hierdie persoon praat nie so vlot en mooi nie, hierdie persoon se kleredrag is baie outyds, ek sou graag iemand anders as ouderling of diaken of as predikant wil hê. Sien raak hoe Jesus Christus ampsdraers roep en toerus deur die Heilige Gees.

Moenie vaskyk na die uiterlike nie. Aan wie moet ons die evangelie verkondig? Net die persone wat ons dink deur die Here uitverkies is? Die Here kyk nie na die uiterlike nie, maar sien die innerlike raak. Dink hieraan wanneer jy met die persone werk wat die Here oor jou pad stuur hierdie week.

Dors vir meer:
1 Timoteus 3 en Jakobus 2:1-13.

Gebed
Dankie Here dat U my nie gekies het op uiterlike oorweging of deur my dade en optrede nie, maar net uit U genade. Lei my vandag om ook soos U te kyk na mense en dat ek my roeping waartoe U my geroep het kan uitleef. Alles om Christus ontwil. Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk 27 November 2020 – ʼn Voorspoedige reis

Skrifgedeelte:  Ps 107:1-9                          Teks wat tref: v7

Ps 107:7 – “Hy het hulle op die regte pad gebring en by ʼn bewoonde stad laat uitkom.  ”

Dalk het jy al die frustrasie, vrees, spanning en verwyt beleef as jy op pad iewers heen verdwaal. Jy het dalk die verkeerde afrit geneem. Of die paaie het verander sedert jy laas daar was. Of jy was hardkoppig en wou nie na die aanwysings luister nie?

In Psalm 107 ontmoet ons verskillende groepe wat ook verdwaal het.  Die huidige omstandighede waarin ons leef, laat my ook voel dat ek besig is om te verdwaal.  Ons het koers verloor en ‘n gevoel van onsekerheid het begin posvat. In Psalm 107 luister ons na die digter se belewenis.  Hy wil die Here vir sy goedheid loof.  Die volk Israel is uit ballingskap verlos – dit beklemtoon God se heerskappy en verlossing op alle terreine en in alle omstandighede.  Daar is geen mens of situasie wat van God se regeermag of beskikking uitgesluit is nie. 

Ons is soms soos iemand wat in die woestyn reis of op die see vaar. Ons is soms platgetrek deur donker omstandighede. Ons beleef die verpletterende gevolge van die sonde wat ons lewens verskeur.  Dan kom neem die Here die stuur oor en bring Hy my op die regte pad om by ‘n bewoonde stad uit  te kom!   Kom ons probeer die beeld verstaan met ‘n bekende Afrikaanse idioom – Wat beteken dit wanneer ons iemand ʼn voorspoedige reis toewens?  Net alles van die beste om by jou bestemming uit te kom!   Maar hier is dit die magtige God wat jou ‘n voorspoedige reis toewens.  Nie net toewens nie, maar ook verseker.

God bevry ons deur Christus se kruisdood en laat ons op ʼn gelyk pad loop om die bewoonde stad te betree.  Ons is elkeen na ons eindbestemming op pad.  In Ps 107 herinner die digter ons aan die Here se dade van trou.  God gee weer hoop met bewyse uit die verlede. Wanneer ek sien hoedat Christus oor alles heers en hoe Hy sy liefde aan die kruis beklemtoon het, laat dit ons met vertroue op ons lewenspad vertrek.  Daar is geen einde aan God se liefde nie.  So oorspan Ps 107 elke terrein van ons lewe. Dit beklemtoon God se Almag, Soewereiniteit, Voorsienigheid, Liefde en Heerskappy. 

As al hierdie waarhede in Christus saamtrek, is ek van ʼn voorspoedige reis verseker. 

Dors vir meer

Op 21:1-8

Gebed

Here, baie dankie dat ek deur U Heilige Gees gelei word op my lewenspad. Dankie dat U my uit my ellende gered het.  Dankie dat U my op die regte pad bring.  Ek wil U loof vir U troue liefde en al U wonderdade.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 26 November 2020 – Leef naby God as jy twyfel

Skrifgedeelte:  Ps 73                            Teks wat tref: v28

Ps 73:28 – “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees.”

Op dieselfde tyd wat ek hierdie Psalm lees waarin Asaf bely dat God goed is, worstel ek moontlik met die teendeel hiervan. Die digter begin met ‘n stelling wat hom dadelik aanvegbaar maak –  “God is vir Israel baie goed”

In die eerste vyftien verse spreek hy ons stryd teen die vleeslike aan waarna die oorwinning deur die geestelike vanaf vers 16-26 volg. Omdat die digter die hoofsanger was ken hy God en het hy die Here se nabyheid beleef.  Hy bring die kernwaarhede met keurige woorde onder ons aandag.  En presies hier ontstaan ons worsteling.  God was miskien vir Israel goed, maar dit het daar opgehou.  Hy beleef dit so intens dat hy twyfel. 

Ken ons werklik twyfel?  Nie oor die alledaagse besluite wat ek neem nie maar so intens dat dit my bestaan raak?  Twyfel laat hom byna koes verloor?  Twyfel vreet aan ons bestaan en maak ons gedaan. Twyfel is een van die grootste oorsake vir die aftakeling en vernietiging van die mens.  Twyfel ontneem my van alle sekerheid.  Twyfel vreet so kwaai dat ek letterlik daarvan siek word.  Twyfel is nie simptoom nie maar die oorsaak van die moderne mens se worsteling.   Daarom vra ons — Is God goed?

Ons lewensbestaan is vervleg met ‘n stryd tussen lig en donker. ‘n Daaglikse stryd tussen die vleeslike en die geestelike. Dit laat die vraag ontstaan of dit nog die moeite werd is om te glo. By meer as een geleentheid die afgelope tyd het ons hierdie vraag gevra wanneer geliefdes herhaalde operasies moet ondergaan, wanneer kanker die lewe van geliefdes opvreet of brande verwoesting saai. 

Die mens verdrink letterlik in sy ellende en bereik in vers 11 ‘n hoogtepunt met ‘n vraag wat op verskillende maniere beantwoord word!  Die ateïs spot met God. Die verdrukte soek ‘n praktiese antwoord. Om antwoorde te kry moet ek met God rekening hou.  Daar is skielik ‘n draaipunt in Asaf se lewe. Alles begin sin maak binne ‘n verhouding met die Here.

Moeg gedink nadat alles te moeilik raak en soekende na antwoorde kom daar in vers 17 ‘n wending.   Hy kies die Here as sy toevlug. Hy leef naby God.  As jy in God se heiligdom ingaan verander alles. ‘n Ontmoeting met God kan jou nooit onaangeraak laat nie. God verander jou hart en denke (V26).  In die Here se heiligdom sien jy Hom op die troon. Christus se kruisdood maak ‘n indruk op jou.

Na hierdie ontmoeting volg daar ʼn noodwendige belydenis! – “ Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees.”

Dors vir meer

Ps 37

Gebed

Here, ons leef so dikwels in vertwyfeling as ons die harde realiteite rondom ons sien.  Dit laat ons gedaan en moeg.  Stuur U Heilige Gees om vir ons te leer om naby U te leef.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 25 November 2020 – Eer God se Naam

Skrifgedeelte:  Ps 115                           Teks wat tref: v1,18

Ps 115:1 – “Nie aan ons nie Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe….”

Waar ons gister na Psalm 29 kon luister en God se stem gehoor het, konfronteer Psalm 115 ons met God se Naam.  Met pragtige kontrasterende beelde tref die digter vergelykings tussen die lewende God en dooie afgode.  God seën sy volk drie maal.  Drie maal word beklemtoon dat God beskerm.  Vanuit die hemel is God in die wêreld werksaam!  Ons leer wat dit beteken dat God in BEHEER is terwyl alles rondom my wankelrig is.

Ons hele lewe moet hierdeur beheers word. Alles wat ons dink, sê en doen moet daarop gemik wees om God te verheerlik. Ons woorde en dade moet duidelik maak hoe goed en betroubaar ons God is.  Die doel waarvoor God ons geskep het, is om Hom in alles groot te maak en te eer.  Die leefwyse wat hier voorgehou word, bring oneindige vreugde.

Die ontstaan van Psalm 115 is onbekend. Dit is asof die gelowiges wat Psalm 115 sing die Here smeek dat Hy weer sy mag sal vertoon soos destyds toe Hy Israel uit Egipte na die beloofde land gebring het. Ons hoor die smekinge dat die Here moet optree, want dit voel dat die Here nie meer bestaan nie(v2).  Vandag se gebeure laat ons soortgelyke vrae vra. Gelowiges trek swaar. Ons land is onveilig en in chaos.  ʼn Groot deel van die bevolking is moedeloos en gefrustreerd met die Covid 19 pandemie.  Dit is nie ons naam wat op die spel is nie, maar die Naam van God wanneer die wêreld spottend vra: “Waar is hulle God nou?”

In antwoord hierop beklemtoon Ps 115 drie waarhede. God se liefde, trou en genade het ons bewaar sodat ons nie tot niet sal gaan nie.  Deur God se genade is ons in Christus uitverkies. Ons het kinders van God geword wat op sy beskerming kan reken. Teenoor God se vyande wat Hom teenstaan, is ons nou Christus se volgelinge wat al die Here se seëninge beleef.  Laastens herinner die Heilige Gees ons aan God se absolute soewereiniteit in vers 3.  God is in die hemel en alles wat Hy wil, doen Hy.

Die digter verskuif ons aandag na die nuttelose bestaan van afgode wat geen antwoorde kan bied nie om God se Soewereiniteit te beklemtoon. Daarom kan ons seker wees dat Hy ook die eer van sy Naam sal handhaaf in ons lewe.  Hy het belowe om ons met alles te versorg wat ons nodig het en Hy sal die kwaad van ons afweer of tot ons beswil beskik.

Kyk na alles wat die Here in jou lewe gedoen het. Sy trou en liefde  is inderdaad werklik. Mag ons daarom nooit ophou om Hom te loof omdat Hy die eer van sy Naam daardeur handhaaf nie. Wanneer jy oor alles in jou lewe nadink kry net God se Naam alleen die eer.

Dors vir meer

Jes 42:1-9

Gebed

Here, U is die lewende God en doen alles wat U wil.  Dankie dat U my liefhet en bewaar. Lei my om U elke dag te volg en die roem van u Naam te verkondig.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 24 November 2020 – Hoor God se stem

Skrifgedeelte: Psalm 29 Teks wat tref: v2

Ps 29:2 – “Prys die Here om die eer van sy Naam!”

Met hierdie Psalm tree ons in die wonderlike teenwoordigheid van ons Here wat sy stem sewe keer laat hoor. Dit vra dat ons Hom sal prys en laat ons in God se teenwoordigheid buig. Hiervoor word die hele skepping opgeroep: Hemelinge, waters van die aarde, seders van die Libanon, weerlig, woestyne, wildsbokke en paleise.

Niks en niemand kan God se heerlikheid ontkom nie. As God praat is sy stem MAGTIG en vol MAJESTEIT. Daarom gebruik Dawid God se Verbondsnaam “JAHWE” . Aan die een kant word God beskryf soos in Psalm 29 – die magtige God wat soos ‘n storm – ‘n orkaan sy verskyning op die aarde maak, sodat die weer dreun, die bome oopgekloof word, die weerlig slaan, die woestyn bewe, die wildsbokke skrik, en die mense uitroep: “Hoe geweldig”. En aan die ander kant word God beskryf soos in Genesis 3 waar hy in die gedruis van die aandwind in die Paradys wandel. – Daar is Hy die God wat my opsoek. Hier in Psalm 29 staan ons voor God se GROOTHEID.

Die feit dat God as Koning verskyn beteken dat God magtig is, dat God regeer en dat God waardig is om geëer te word. God se STEM is SKEPPINGSMAGTIG. Psalm 29 leer ons nie HOE God geskape het nie, maar verkondig dit WIE die skepping tot stand gebring het.

As God sy stem laat weerklink moet daar iets gebeur. In die skepping maar ook in en met my. Dit laat ons God prys en voor Hom buig. God se stem gee aan my krag. Daaroor kan ek nooit stilbly nie. Dit lei my om God te aanbid, te eer en te verheerlik. Dit is om saam met almal in vers 9 uit te roep: – “Hoe geweldig”. Juig beteken om God te prys, te eer, te loof, te erken en te bely.

Die belofte van krag en seën in oorvloed bereik in vers 11 ʼn ongekende hoogtepunt. God praat die hardste en duidelikste as Christus verskyn. God se angswekkende verskyning in Psalm 29 bereik ʼn einddoel. Dit bewerk vrede. Christus se liefde maak ʼn einde aan die bliksemstrale wat my tref. Christus se opstanding bring lewe, en dit in oorvloed, – ewige lewe.

Dit laat my uitsien om in God se teenwoordigheid te tree om Sy stem te hoor. Maak erns daarmee om God se stem te hoor. Sien raak hoe Hy die storms wat jou wil omdop afweer.

Dors vir meer
Ps 92

Gebed
Here, baie dankie dat die skepping U grootheid verkondig. Groots is alles wat U doen, Here, ondeurgrondelik u gedagtes. Dankie dat U my sterk maak. Dankie dat ek U stem kan hoor. Amen

Petrus van Blerk
0824560235

« Older posts Newer posts »