1 Samuel 18:1-5
Teks wat tref:1 Samuel 18:3

Min vriendskappe word vir ons so sterk beskryf soos dié van Dawid en Jonatan. Nadat Dawid vir Goliat verslaan het, raak Jonatan baie geheg aan Dawid. Hy het hom liefgekry soos homself. Jonatan sorg dat Dawid by Saul kom bly en nie teruggaan huistoe nie. Jonatan beseël hierdie vriendskap met ‘n verbond. Hy gee sy mantel en swaard en boog en gordel vir Dawid. Dit is baie ongewoon dat ‘n kroonprins sy mantel aan iemand anders sal gee. Hiermee het Jonatan reeds gewys dat hy nie koning gaan word nie, maar Dawid. Soos later vir ons in 1 Samuel 20 en 23 beskryf word, bly hierdie liefde tussen Jonatan en Dawid. Jonatan is nie jaloers en afgunstig op Dawid nie. Werklik ‘n liefde waar jy jou naaste soos jouself lief het.
Vriendskappe word nie bepaal deur dieselfde ouderdom en agtergrond nie. Hoe kyk ons na vriendskappe deur die geloof? Hoe lief het ons mekaar? Kan ons die voorbeeld van liefde wat Jesus aan ons bewys het ook so uitleef in ons vriendskappe? ‘n Vriend wat bereid is om sy lewe te gee vir ‘n ander. Moenie in jou vriendskappe afgunstig raak op ander se sukses en seëninge nie. So ook in die gemeente- laat ons mekaar werklik liefhê soos ons self. Ons kan dit maklik doen omdat die Here ons innig liefhet.

Dors vir meer:
Johannes 14:9-17 en Job 6.

Gebed
Dankie Here dat U Seun Jesus Christus sy lewe afgelê het vir my- daar is geen groter vriendskap as dit nie. Lei my vandag om in U liefde te bly. Seën ook my vriendskappe dat ek ander kan liefhê soos myself.
Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.