Skrifgedeelte: Ps 107:1-9 Teks wat tref: v7
Ps 107:7 – “Hy het hulle op die regte pad gebring en by ʼn bewoonde stad laat uitkom. ”
Dalk het jy al die frustrasie, vrees, spanning en verwyt beleef as jy op pad iewers heen verdwaal. Jy het dalk die verkeerde afrit geneem. Of die paaie het verander sedert jy laas daar was. Of jy was hardkoppig en wou nie na die aanwysings luister nie?
In Psalm 107 ontmoet ons verskillende groepe wat ook verdwaal het. Die huidige omstandighede waarin ons leef, laat my ook voel dat ek besig is om te verdwaal. Ons het koers verloor en ‘n gevoel van onsekerheid het begin posvat. In Psalm 107 luister ons na die digter se belewenis. Hy wil die Here vir sy goedheid loof. Die volk Israel is uit ballingskap verlos – dit beklemtoon God se heerskappy en verlossing op alle terreine en in alle omstandighede. Daar is geen mens of situasie wat van God se regeermag of beskikking uitgesluit is nie.
Ons is soms soos iemand wat in die woestyn reis of op die see vaar. Ons is soms platgetrek deur donker omstandighede. Ons beleef die verpletterende gevolge van die sonde wat ons lewens verskeur. Dan kom neem die Here die stuur oor en bring Hy my op die regte pad om by ‘n bewoonde stad uit te kom! Kom ons probeer die beeld verstaan met ‘n bekende Afrikaanse idioom – Wat beteken dit wanneer ons iemand ʼn voorspoedige reis toewens? Net alles van die beste om by jou bestemming uit te kom! Maar hier is dit die magtige God wat jou ‘n voorspoedige reis toewens. Nie net toewens nie, maar ook verseker.
God bevry ons deur Christus se kruisdood en laat ons op ʼn gelyk pad loop om die bewoonde stad te betree. Ons is elkeen na ons eindbestemming op pad. In Ps 107 herinner die digter ons aan die Here se dade van trou. God gee weer hoop met bewyse uit die verlede. Wanneer ek sien hoedat Christus oor alles heers en hoe Hy sy liefde aan die kruis beklemtoon het, laat dit ons met vertroue op ons lewenspad vertrek. Daar is geen einde aan God se liefde nie. So oorspan Ps 107 elke terrein van ons lewe. Dit beklemtoon God se Almag, Soewereiniteit, Voorsienigheid, Liefde en Heerskappy.
As al hierdie waarhede in Christus saamtrek, is ek van ʼn voorspoedige reis verseker.
Dors vir meer
Op 21:1-8
Gebed
Here, baie dankie dat ek deur U Heilige Gees gelei word op my lewenspad. Dankie dat U my uit my ellende gered het. Dankie dat U my op die regte pad bring. Ek wil U loof vir U troue liefde en al U wonderdade. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply