Skrifgedeelte:  Ps 73                            Teks wat tref: v28

Ps 73:28 – “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees.”

Op dieselfde tyd wat ek hierdie Psalm lees waarin Asaf bely dat God goed is, worstel ek moontlik met die teendeel hiervan. Die digter begin met ‘n stelling wat hom dadelik aanvegbaar maak –  “God is vir Israel baie goed”

In die eerste vyftien verse spreek hy ons stryd teen die vleeslike aan waarna die oorwinning deur die geestelike vanaf vers 16-26 volg. Omdat die digter die hoofsanger was ken hy God en het hy die Here se nabyheid beleef.  Hy bring die kernwaarhede met keurige woorde onder ons aandag.  En presies hier ontstaan ons worsteling.  God was miskien vir Israel goed, maar dit het daar opgehou.  Hy beleef dit so intens dat hy twyfel. 

Ken ons werklik twyfel?  Nie oor die alledaagse besluite wat ek neem nie maar so intens dat dit my bestaan raak?  Twyfel laat hom byna koes verloor?  Twyfel vreet aan ons bestaan en maak ons gedaan. Twyfel is een van die grootste oorsake vir die aftakeling en vernietiging van die mens.  Twyfel ontneem my van alle sekerheid.  Twyfel vreet so kwaai dat ek letterlik daarvan siek word.  Twyfel is nie simptoom nie maar die oorsaak van die moderne mens se worsteling.   Daarom vra ons — Is God goed?

Ons lewensbestaan is vervleg met ‘n stryd tussen lig en donker. ‘n Daaglikse stryd tussen die vleeslike en die geestelike. Dit laat die vraag ontstaan of dit nog die moeite werd is om te glo. By meer as een geleentheid die afgelope tyd het ons hierdie vraag gevra wanneer geliefdes herhaalde operasies moet ondergaan, wanneer kanker die lewe van geliefdes opvreet of brande verwoesting saai. 

Die mens verdrink letterlik in sy ellende en bereik in vers 11 ‘n hoogtepunt met ‘n vraag wat op verskillende maniere beantwoord word!  Die ateïs spot met God. Die verdrukte soek ‘n praktiese antwoord. Om antwoorde te kry moet ek met God rekening hou.  Daar is skielik ‘n draaipunt in Asaf se lewe. Alles begin sin maak binne ‘n verhouding met die Here.

Moeg gedink nadat alles te moeilik raak en soekende na antwoorde kom daar in vers 17 ‘n wending.   Hy kies die Here as sy toevlug. Hy leef naby God.  As jy in God se heiligdom ingaan verander alles. ‘n Ontmoeting met God kan jou nooit onaangeraak laat nie. God verander jou hart en denke (V26).  In die Here se heiligdom sien jy Hom op die troon. Christus se kruisdood maak ‘n indruk op jou.

Na hierdie ontmoeting volg daar ʼn noodwendige belydenis! – “ Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees.”

Dors vir meer

Ps 37

Gebed

Here, ons leef so dikwels in vertwyfeling as ons die harde realiteite rondom ons sien.  Dit laat ons gedaan en moeg.  Stuur U Heilige Gees om vir ons te leer om naby U te leef.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235