2 Samuel 11-2 Samuel 12:25
Teks wat tref: 2 Samuel 5-7.
Die kneg van die Here tree in hierdie gedeelte verskriklik op teenoor sy medemens. Dawid is nie saam met sy manskappe op die oorlogsveld nie, maar bly agter by sy paleis. Dawid sien ʼn baie mooi vrou bad vanaf sy paleis se dak- wat doen hy volgende? Hy gee toe aan sy begeertes. In plaas van om daarvan te bekeer maak hy nog meer sondige planne om die sonde weg te steek. Wat kom die profeet Natan? Hy wys deur ʼn gelykenis/beeld vir Dawid hoe erg sy optrede was. Jy is die man! Antwoord Natan vir Dawid. Dawid het geen rede tot hierdie optrede gehad nie. Dawid gaan nou die gevolg van sy sonde beleef, dit wat hy in die geheim probeer wegsteek het, gaan in die openbaar sigbaar gemaak word. Net so is ons ook nie beter is Dawid nie. Hoe maklik gee ons ook nie toe aan ons sondige begeertes nie. Ons moenie die vergifnis van sonde gebruik as ʼn geleentheid om te sondig nie. So moet ons ook besef dat vergifnis van sonde neem nie die gevolge van die sonde weg nie. Dawid se eie uitspraak aan Natan is dat hierdie man die doodstraf verdien vir sy optrede. So verdien ons sonde ook die dood- ons is ook skuldig. Jy is hierdie man/vrou!
Maar omdat God ’n genadige God is, het Hy sy Seun Jesus Christus in ons plek gestraf, sodat daar vir ons vergifnis kan kom. In Psalm 32:9 waarsku Dawid ons om nie onverstandig te wees nie. Vlug eerder weg van die sonde, want al vergewe die Here jou volkome, word die gevolge van die sonde nie ongedaan gemaak nie en kan dit jou lewe vernietig.
Moenie meedoen aan die praktyke van die duisternis nie, want alles sal aan die kaak gestel word as die lig daarop val. Vra voortdurend of iets vir God aanneemlik is. Nie net moet ons in die Lig lewe nie, maar as verlostes wil ons in die Lig lewe.

Dors vir meer:
Psalm 51 en Efesiërs 5:1-20
Gebed
Here my God. Ek bely voor U dat ek teen U gesondig het. Mag U my vergewe ter wille van Jesus Christus alleen. Lei my om volgens U wil te leef! Help my dat ek nie U verwyt vir die gevolge van my sonde nie. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.