Author: Karen de Lange (Page 14 of 33)

Dagstuk 01 Februarie 2021 – Lewende Lig

Skrifgedeelte: Jh 8:12-20                       Teks wat tref: Jh 8:12

Jh 8:12 – “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee. ”

Op treffende wyse gebruik Jesus in Johannes 1 en 8 beelde om ons verhouding met Hom te beskryf. Al hierdie beelde is opvallend want dit vertel iets van Jesus se Persoon en optrede en dit word deur die Here Self gebruik.  Christus se bedoeling hiermee was om ons te leer hoe om Hom te volg. Dit alles bepaal ons verhouding met Hom.

Jesus se beskrywing in Jh 8:12 word reeds in die verhaal van God se skepping gehoor.  Ons lees in Gen 1:1 dat God die hemel en die aarde geskep het. Die Almagtige God se stem word gehoor –  “Laat daar lig wees. En daar was Lig.”

In die eerste woorde van die Bybel is God se bedoeling reeds duidelik. Die Almagtige skep en gee lig. Dit is ʼn getuienis oor God, oor sy grootheid, mag, en sy majesteit. Omdat Hy alles gemaak het, behoort alles aan Hom en voer Hy heerskappy oor alles wat bestaan. Hy het aan alles plek en orde gegee, en Hy hou alles in stand.

Wanneer Christus dan in Jh 8:12 sê dat Hy die lig vir die wêreld is, word dit duidelik dat ek hieraan deel het deur Hom. Christus se begin is by God Self.  Christus is daar sodat ons verlos kan word.  Omdat Hy die Woord is, kan Hy vir ons verlossing bring.  As Seun van God het Hy alle mag en gesag in die hemel en op die aarde.

Die beeld wat Jesus gebruik sluit aan by die gebeure wat in Johannes 8 afspeel. Daar was feesvieringe en Jesus bevind Hom saam met ‘n klompie mense in die tempel se voorhof.  Tydens die huttefees het die volk kerse gebrand om hulle aan die vuurkolom te herinner wat tydens die uittog uit Egipte aan hulle gegee is. Te midde hiervan sê Jesus dat Hy die Lig vir die wêreld is 

Kom ons kyk nou na die betekenis hiervan.  Lig is altyd positief en gee rigting en leiding. Lig dui op God se teenwoordigheid. Lig laat groei en lewe. Ons besef maar al te goed hoe hopeloos ons sonder lig is. ʼn Kragonderbreking wat enkele ure duur,  maak ons hopeloos verward en moedeloos. ‘n Lewe sonder Christus is ondenkbaar.

Waar Christus se lig skyn, is daar sekere radikale gevolge. As Christus die lig van my lewe is, sal dit my gesindheid en lewensuitkyk radikaal verander.  Met die volgende dagstukkie leer ons meer wat dit beteken om in die lig of in die donker te lewe.

Dors vir meer:

Psalm 27

Gebed

Here, baie dankie dat U my lamp helder laat skyn en lig gee as dit donker is om my. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 18 Desember 2020 – Skaapwagters in die oop veld.

Skrifgedeelte: Lukas 2:8-20. Teks wat tref: Lukas 2:10.

In die tyd van Jesus se geboorte was daar neergesien op skaapwagters. Skaapwagters is as oneerlik beskou, hulle laat soms die skape op ander se grond wei. Hulle is as rof en onbeskof beskou. In plaas van om by hul gesinne te wees, bly hul die meeste van die tyd in die veld.
Daarom is dit besonders dat die engele aan hulle verskyn. Duidelik maak die Here dat deur Jesus Christus, God by die mense is. Eenvoudige skaapwagters kan die hemelse heerlikheid aanskou en deel aan die hemelse koninkryk. Hulle hoor die boodskap wat ‘n bron van vreugde is vir die hele volk. Dit is dan ook die skaapwagters wat dadelik opstaan en gaan soek na dit wat die Here aan hulle bekend gemaak het. Hoe anders reageer die skaapwagters as die skrifgeleerdes. Deur die wyse manne van die ooste, hoor hul die Verlosser is gebore, maar hulle volg hulle nie om ook aan Christus eer te betoon.
Laastens wys hierdie gedeelte hoe dit die herders is wat uitgegaan het en aan almal die goeie nuus vertel oor die Kindjie! Vanoggend kan ons ook uitroep: Ere aan God in die hoogste want daar is vir ons vrede op aarde omdat God in ons ‘n welbehae het.

Dors vir meer:
Matteus 2.

Gebed
Dankie Here dat U ‘n welbehae in my het en ek nou in U vrede kan leef. Mag ek nie ophou om verwonderd te wees oor ‘n U nie en dit met blydskap aan ander vertel. Amen

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 17 Desember 2020 – Jesus word in Betlehem gebore.

Skrifgedeelte: Lukas 2:1-7. Teks wat tref: Lukas 2:7.

Die evangelie volgens Lukas beskryf vir ons die geboorte van Jesus vir ons baie kort en eenvoudig. Baie meer word vertel van die skaapwagters op die veld en die verskyning van die engele aan hulle (kyk DV môre oggend hierna).
Alhoewel Lukas die geboorte vir ons eenvoudig beskryf is, plaas dit God se verlossingsplan presies soos dit aangekondig is deur die profete. Josef en Maria was van Nasaret en nie Betlehem nie. Hoekom sal ‘n swangervrou wil reis na Bethlehem? Keiser Augustus hou ‘n volktelling en Sirenius laat elkeen terugkeer na sy eie stad toe. So gebruik die Here ‘n klein handeling van ‘n wêreldleier om te wys maar Hy is leier van die hemel en aarde. So is dit ook nie toeval dat hul in Betlehem was nie, maar omdat Jesus gebore is vanuit die huis van Dawid, in die stad waar Dawid vandaan kom. (Sien ook Miga 5:1 Kersdag se preekgedeelte).
God se plan wat vir die hele wêreld bedoel is, val in ‘n eenvoudige manier in plek. In die grootste nederigheid word Koning van alle konings in ‘n stal in Bethlehem gebore.
So besef ons vandag ook dat die Here se Raadsplan perfek uitgevoer word in hierdie deurmekaar wêreld- Hy gebruik wêreld leiers maar ook eenvoudige mense soos ek en jy.

Dors vir meer:
Miga 5.

Gebed
Dankie Here dat ek weet U regeer oor alles en almal. Dankie dat U Seun Jesus vir ons gebore is in Bethlehem. Dankie dat U my gebruik in U raadsplan om die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Amen

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 16 Desember 2020 – ‘n Besonderse ontmoeting.

Skrifgedeelte: Lukas 1:39-56 Teks wat tref: Lukas 1:44

Nadat die engel Gabriël aan Maria verskyn het en haar meegedeel het waartoe die Here haar gekies het, het sy sonder versuim gereedgemaak om na Elisabet toe te gaan. Sy het die huis van Sagaria ingegaan en Elisabet gegroet. ‘n Alledaagse handeling. Hoeveel mense groet ons nie op ‘n dag nie? Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie Johannes van vreugde begin te beweeg. Is so iets werklik moontlik? Is dit nie net toeval dat die kind beweeg nie? Kom ons kyk eers weer wat Gabriël vir Sagaria gesê het in 1:15 “hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af”(1953 vertaling, sien ook 2020 vertaling). Elisabet is met die Heilige Gees vervul om Maria te seën met die ontmoeting. So is dit die Heilige Gees wat Johannes laat beweeg van vreugde, nie net om Maria te ontmoet nie, maar omdat Jesus Christus reeds in haar moederskoot is.
Daarom is dit vir ons besonders dat die Here nie net lewe gee reeds voor geboorte nie, maar ook al ongebore babas kan vervul met die Heilige Gees. Waarlik ‘n besonderse ontmoeting wat plaasgevind het.

Dors vir meer:
Jeremia 1:4-10 en Psalm 139.

Gebed
Dankie Here dat U my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep het en my uitverkies het nog voor dat ek gebore was. U alleen is Magtig! Amen

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 15 Desember 2020 – Die Seun van die Allerhoogste.

Skrifgedeelte: Lukas 1:26-38 Teks wat tref: Lukas 1:32
Elisabet is al 6 maande swanger- die Here het inderdaad sy belofte vervul. Gabriël word weer gestuur om ‘n ander geboorte aan te kondig. Die keer nie aan iemand wat al oud is nie, maar aan ‘n jongmeisie, die maagd Maria. Maria is deur die Here gekies om deel te wees van sy raadsplan. Kom ons kyk kortliks na die verskillende benamings vir hierdie seun wat gebore gaan word. Heel eerste moet Hy die naam Jesus kry. Jesus beteken “God is Verlosser”. Dit is wat Jesus inderdaad vir ons kom wys. Tweedens die Seun van die Allerhoogste en die Seun van God. ‘n Eretitel wat duidelik wys dit is nie net ‘n kind van mense wat gebore word nie, maar werklik God wat mens word. Jesus is die Seun van die Allerhoogste. Derdens gaan Hy koning wees en is die troon van Dawid aan Hom gegee, ‘n koningskap wat tot in ewigheid sal wees.
Duidelik maak Gabriël bekend dat dit nie net ‘n kindjie is wat gebore gaan word nie. ‘n Wonderwerk deur die Heilige Gees gaan gebeur sodat Maria swanger kan word. By God is niks ontmoontlik nie.
Maria antwoord dan: Ek is tot beskikking van die Here. Leef jy met hierdie ingesteldheid?

Dors vir meer:
Jesaja 9:1-6 en 1 Kor 15:22-28.

Gebed
Dankie Here dat U ons blydskap groot gemaak het met die geboorte van U Seun. Dankie dat ons elke dag onder U ewige heerskappy kan leef. Amen

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 14 Desember 2020 – Die Here vervul beloftes.

Skrifgedeelte: Lukas 1:5-25. Teks wat tref: Lukas 1:17

Die Here hou sy beloftes. Rondom 500 jaar tevore is die geboorte van die Messias al aangekondig deur die profete. So ook die een wat sal kom om die pad gelyk te maak. (Jesaja 40 en Maleagi 4). ‘n Boodskapper wat vooruit loop en die koms van die Koning aankondig.
In Lukas 1 word dan vir ons beskryf hoe die Here op die regte tyd en plek in die geskeidenis sy beloftes vervul.
Die Here gebruik vir Sagaria en Elizabet, hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik gelewe.
In ‘n besonderse wyse maak die Here sy wil aan Sagaria bekend in die tempel. Die tempel wat ‘n teken is van die Here se teenwoordigheid, die Here se heiligheid. Hier waar die volk bymekaarkom om te bid.
Terwyl Sagaria diens doen by die wierookaltaar, verskyn die engel Gabriël aan Sagaria die goeie nuus- jou gebed is verhoor. Elizabet kon nie kinders baar nie, maar by die Here is alles moontlik!
Nie net word Sagaria en Elizabet se gebed vervul nie, maar so ook die beloftes van die Here. Hierdie seun sal uitgaan in dieselfde krag en gees as Elia, die Heilige Gees gaan saam met hom.
Wat is Sagaria se reaksie? Hy is dan al ‘n ou man, hoe sal hierdie dan kan gebeur? Hy soek ‘n teken en dan is die teken dat hy nie sal kan praat totdat hierdie dinge gebeur nie.
Hierdie gedeelte laat ons opnuut vertroos dat die Here sy beloftes vervul, op die regte tyd soos wat Hy dit bepaal. Laat ons sterk bly in die geloof en besef vir die Here is alles moontlik. Wees versigtig om na tekens van God se mag te vra, dit mag jou verstom op ‘n manier wat jy dit nie verwag nie.
So is die geboorte van Johannes eerste aangekondig om die pad gereed te maak vir die geboorte van Jesus Christus.

Dors vir meer:
Maleagi 4 en Jesaja 40:1-11

Gebed
Here, ons kan nie U gedagtes peil nie, maar dankie dat ons weet U hou al U beloftes. Amen

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 11 Desember 2020 – Verander jou denke

Skrifgedeelte: Rm 11:33 -12:8                                           Teks wat tref: Rm 12:2

Rm 12:2 – “……….maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”

Die eerste 11 hoofstukke van Romeine beskryf  ʼn verhoor wat afspeel waarin Paulus ons leer dat almal vandag soortgelyke omstandighede beleef.  Die mens se sondeskuld word beskrywe. Deur Christus kom daar verlossing. Aan die einde van Hoofstuk 11 kyk hy terug en oorweldig God se goedheid en onnaspeurlike weë hom. Hy eindig met ʼn lofprysing.

In hierdie lofprysing verkondig die Heilige Gees dat alles wat ek het van God af kom. Dat daar geen grense vir God se liefde en genade is nie. Dat God die rede vir ons bestaan is. Dat alle dinge uit Hom, tot Hom en deur Hom is.

Op grond hiervan vra God lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Christus is die fondament van alles. Omdat Christus my so liefhet dat Hy sy lewe vir my afgelê het, wil ek gehoorsaam aan God lewe. In die laaste hoofstukke van die Brief aan die Romeine gee God opdragte en beginsels vir ons lewenspraktyk as kinders van Hom.

Die opdrag in Rm 12:1 is radikaal, ingrypend en drasties. Om jouself vir Hom te offer is wat God van jou vra.!!!  Dit beteken dat ons ons  liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer —  dit is julle redelike godsdiens.  God verlang toegewyde optrede en daadwerklike opoffering. 

Dit is net Christus wat ons situasie verander.  Verandering kom deur die werk van die Gees. ’n Wet kan jou nie verander nie, net ’n verhouding met God waarin die Gees ons lei om nee te sê vir die sonde en ja te sê vir God.  En die verandering begin met ons denke.  Ons moet anders dink oor die sondige wêreld (12.2)  Ons moet anders dink oor onsself en nie meer dink van onsself as wat ons behoort nie (12:3).  Ons moet met  beskeidenheid optree.

Die verandering van ons denke beïnvloed alles wat ons doen en beleef.  Luister na die praktiese riglyne in vers 6-8.   Ons profesie moet op ons geloofsbelydenis gegrond wees.  (12:6). Ons gawes moet sonder bybedoelings wees (12:8). Ons leierskap moet met toewyding wees (12:8). Ons hulp aan ander moet met blymoedigheid wees (12:8).

Op grond van die groot ontferming van God waarvoor Christus aan die kruis gesterwe het gaan ek vandag my denke vernuwe en alles aanpak volgens God se opdrag.

Dors vir meer:

Heb 12:1-3

Gebed

Here, U weë bly onnaspeurlik en U liefde onbegryplik. Dankie dat U my denke verander. Leer my om U liefde elke dag uit te leef. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 10 Desember 2020 – Dink aan die toekoms

Skrifgedeelte: Romeine 5:1-11                         Teks wat tref: v1

Rm 5:1 – “Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.”

Paulus se Brief aan die Romeine vertoon baie ooreenkomste met die verloop van ʼn hofsaak.  Vanaf hoofstuk 5 lewer die regter uitspraak. Hierdie beslissing is bepalend vir alles wat nog voorlê. Daar is aangetoon dat die mens bo alle redelike twyfel nie as regverdig beskou kan word nie. (Rom 3:10)  Almal verwag dat die Regter die doodsvonnis gaan aankondig.  In plaas van die verwagte en byna logiese doodsvonnis beklemtoon Paulus dat daar nou vrede tussen God en die mense is.                                                                             

Meteens verdwyn die somber en donker verlede met ʼn blik op die toekoms. Vrede beteken die afwesigheid van alles wat die mens van God vervreem het. Deur Jesus Christus het ons nou weer hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.  Ons kan die toekoms tegemoet stap met die sekerheid dat ek nie meer in vyandskap met God leef nie. 

God skenk aan ons sy ondeurgrondelike liefde. God het ons vrygespreek en skenk aan ons vrede, vrye toegang en ewige vreugde.  Die vreugde is so kosbaar dat dit drie maal herhaal word. In vers 2, 3 en 11 beskryf Paulus hierdie opgewondenheid met die woordjie “verheug” wat absolute vreugde en opgewondenheid  by ons bewerk.  Dit lei tot hoop en ons word daardeur bemoedig om getrou te bly. 

Met ons oog op die toekoms gerig beleef ons wel steeds elke dag swaarkry, ontberings, verdrukking en lyde. Dit is soos ʼn louteringsproses. Ons word deur die Heilige Gees gelei om ʼn bepaalde leefstyl te openbaar. In swaarkry moet ons volhard.  Deur volharding groei ons geloof en dit kweek hoop.  Die Heilige Gees stort God se liefde en vreugde in ons harte uit.  Daarom verdwyn die donker somber verlede telkens wanneer ons só aan die toekoms dink.

In die eerste elf verse van Romeine 5 wys die Heilige Gees ons op al die voordele wat die gelowige nou reeds geniet omdat hy deur die geloof in Christus geregverdig is. Wanneer ʼn mens in die Here en in sy werke roem, verheerlik jy die Here.

Ons roem in die hoop op die heerlikheid van God. Dit is om met sekerheid en uitbundige vreugde uit te sien na die dag wanneer jy die heerlikheid van God kan sien en self in die heerlikheid kan deel.

Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 

Dors vir meer:

Psalm 98

Gebed

Here, ek wil U met my hele hart prys. Ek wil  van u magtige reddingsdade vertel.  U naam wil ek besing, o Allerhoogste.  Dankie vir die vrede en vreugde wat U aan ons skenk. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 09 Desember 2020 – Dink aan die verlede

Skrifgedeelte: Romeine 4:1-12                      Teks wat tref: v3

Rm 4:3 – “Äbraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”

Paulus se Brief aan die Romeine vertoon baie ooreenkomste met die verloop van ʼn hofsaak.  In die eerste sewe hoofstukke word ons posisie voor God met ʼn klagstaat vergelyk.  In Romeine 3:10  hoor die mens dat daar nie een is wat regverdig is nie. Die meeste hoorders was vertroud met die geskiedenis van hul stamvader Abraham.  Met verwysing na Abraham lei Paulus hul om ‘n les uit die verlede te leer.

Wanneer Paulus van Abraham se regverdiging deur die geloof getuig, beklemtoon  hy die groot genade van God. Dit is dieselfde genade wat die Here ook aan elkeen bewys wat nou in Jesus Christus glo. Deur hieraan te dink word ons in ons eie lewens deur die Gees gelei om dit vandag te gebruik wanneer ons oor ons posisie voor God besin. 

In Abraham se optrede leer ons watter dinge vir ons geloofslewe belangrik is.  Ons ontvang geloof as deel van God se genade. Ons word herinner aan al God se beloftes. Ware geloof fokus op die heerlikheid van God. En ons kan in ons daaglikse stryd slegs staande bly deur te steun op die krag van God.

Hieruit is dit duidelik dat die mens homself nooit sal kan red nie.  Die mens het geen verweer as die klagstaat van ons oortreding aan die Regter oorhandig word nie.  Die werklikheid is dat geen mens in staat is om die wet volmaak te gehoorsaam nie. Die mens wat dink dat hy met goeie gedrag en gehoorsaamheid aan die wet aanspraak kan maak op verlossing, is besig om sy skuld te vermeerder. In die eerste vyftien verse van Romeine 4 sien ons dat Abraham nie geregverdig is omdat hy besny is of omdat hy die wet gehoorsaam het nie.

Deur aan die verlede te dink word ons gelei om op God se beloftes te vertrou. Abraham se naam word verander toe die Here aan hom ʼn nageslag skenk.  Op hoë ouderdom word ʼn kind vir Sarai gebore. Abraham se geloof word versterk en beloon.   Uit hierdie nageslag is Christus volgens God se bevel en belofte gebore.

Omdat Abraham deur sy geloof in God versterk is, was hy vas oortuig dat God in staat is om te doen wat Hy beloof het. Hy is Almagtig. So versterk God se optrede in die verlede ons geloof in die hede. Vertrou op die Here terwyl ons daagliks die stryd aanpak en teen die sonde stry.   Die Here maak self sy beloftes waar.

Dors vir meer:

Heb 11:1-12

Gebed

Here, baie dankie vir soveel bewyse van U genade en liefde in die verlede.  Dit gee ons moed vir die hede sodat ons steeds op U kan vertrou vir die toekoms. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 08 Desember 2020 – Niemand is regverdig nie

Skrifgedeelte: Romeine 3:9-26                       Teks wat tref: v10,22

Rm 3:10 – “Daar is nie een wat regverdig is nie. …………….”

Mense se opinies is nogal belangrik. Ek hoor graag dat mense wat oor my praat, mooi dinge van my sal sê. Niemand sal ooit ʼn getuigskrif skryf waarin die persoon waaroor dit gaan as inherent sleg beskryf word nie.  Paulus gebruik harde woorde om ons toestand te beskryf. Dit geld vir almal sonder uitsondering. Woorde wat ons nie graag wil hoor nie.  Met die aanhalings uit Psalm 14 gee Romeine 3 nie ‘n goeie en gunstige beskrywing van die mens nie.

Die afstootlike optrede van die mense vervul ons met weersin – afgedwaal, ontaard, kele is ʼn oop graf, tonge wat bedrieg, giftige woorde en vergieting van bloed. Ons sien oral die spore van verwoesting. Ons beleef dat mense nie vir God ontsag het nie. Die mens is totaal verdorwe. Daar is geen mens wat onskuldig en vlekkeloos voor God is nie. En as ʼn mens nie onskuldig voor die Here is nie, is jy skuldig voor Hom. Daar is nie ʼn ander moontlikheid nie.

Hierdie waarheid laat ons besef hoe verlore ons werklik is.  Dit laat ons sonder hoop en vreugde. Die somber beeld dwing my om te luister na God se beoordeling van die mens. Elkeen word geroep om te antwoord op die vraag wat God van my dink?  Na hierdie harde veroordeling luister ons nou verder wat God vanaf vers 21 vir my doen.

God openbaar sy liefde deur my te verlos uit hierdie ellendige posisie en my uit die greep van die Satan te bevry. En omdat God ewig regverdig en waaragtig is, vernietig Hy die

sonde deur die sterwe en opstanding van sy Seun Jesus Christus. Ons deel in hierdie vreugde wanneer ons ons vertroue op Christus stel.  God het Hom as offer gegee wat versoening bewerk het vir die wat glo.  Elkeen wat hierdie vryspraak hoor word bemoedig. Teenoor die verdoemende woorde waarmee Paulus die mens se toestand aan die begin van Romeine 3 beskryf het, breek daar nou hoop aan.  God se genade is veel groter en laat ons deel in die heerlikheid van Hom. Christus beheers nou my optrede en Hy skenk nuwe lewe.

As daar nou weer ʼn getuigskrif van my gegee word, sien God nie my sondige bestaan raak nie. Christus getuig dat ek vrygespreek is. Mense se opinies is nogal belangrik. Ek hoor graag dat mense wat oor my praat, mooi dinge van my sal sê.

Dit is veel belangriker dat jy vandag hoor wat God van jou sê!

Dors vir meer:

Openbaring 21:1-8

Gebed

Here, terwyl ons daagliks oorgelewer is aan die onreg en gevolge van die sonde gebeur dit maklik dat ons hoop verloor.  Ons smag daarna om van die ellende verlos te word.  Dankie dat U my beoordeel op grond van die verlossingswerk van Christus.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

« Older posts Newer posts »