Lees: 2 Korintiërs 3.
Teks wat tref: 2 Kor. 3:3 en 18.
“3. Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense.”

Hoe sien jy jouself? As jy in die oggend in die spieël kyk, wie is dit wat na jou toe terugkyk?
Sukkel jy dalk ook om werklik te antwoord, maar wie is ek? Veral in hierdie afgelope tyd nadat ons land getref is met die Covid-19 en ons almal Ingeperk is- Wie is ek nou rêrig? Dalk het die Inperking jou laat dink maar wie is ek rêrig by die werk, maak ek hier ʼn verskil, is ek nodig by die werk, wie is ek as ek nie meer ʼn werk het nie? Of daar waar ons nie ons vriende en familie kon sien met besoeke nie – wie is ek wanneer ek alleen is? So het hierdie Inperking ons op baie maniere geraak waarvan ons nie altyd bewus is nie, vrae laat vra oor wie ek is (identiteit) en hoekom is ek hier (doel) en wat moet ek hierdie jaar verder doen (funksie)?

Daarom fokus ons die volgende 4 weke oor Wie is ek rêrig?
Ons doen dit deur te kyk na die lewens van 4 gelowiges vanuit die Ou Testament en hoe die Here hulle identiteit bepaal en gebruik tot Sy eer!
1-4 September Abraham.
7-11 September Josef
14-18 September Moses
21-25 September Josua

Vanoggend begin ons hierop te fokus deur die gedeelte vanuit 2 Korintiërs 3 as inleiding te gebruik. In hierdie gedeelte wil Paulus vir die gemeente uitlig dat hy nie getuigskrifte nodig het om vir hulle te sê wie hy is nie, soos ander predikers. Die evangelie waarvan hy getuig is self die getuigskrif. Meer nog, dit is geskryf deur die Heilige Gees op hulle harte en sal nie afgewas kan word (soos ink) en vernietig kan word nie (soos klip) – dit bly vir ewig. Nie omdat Paulus so goed is nie, hy is bekwaam gemaak deur die Here en kan nie op hom self roem nie.
Hy bring die evangelie boodskap van die verlossing in Jesus Christus. In vergelyking met die bediening van die wet, kan hierdie vryheid en verlossing wat Christus bring deur die dood en opstanding, nie eens opweeg teen die vroeëre nie.
Die Heilige Gees verander ons sodat ons hierdie heerlikheid kan raaksien, verstaan en dit uitleef!
Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem (Moses het sy gesig toegemaak omdat hy nie wou hê die Israeliete moet sien dat die heerlikheid wat hy uitgestraal het, na ʼn ruk afneem en weggaan nie). Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.
Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.
Besef dit dan opnuut weer- ek is ʼn getuigskrif wat deur die Here self geskryf is, sodat ander die evangelie ook in my kan lees! Leef dan hierdie beeld van Christus uit!
Wie is ek rêrig?

Dors vir meer:
Eksodus 34:27-35 en Galasiërs 1:11-24.

Gebed
Dankie Here dat U ons ʼn getuigskrif maak om te getuig van U heerlikheid. Dankie dat U Heilige Gees ons verander en voortdurend vernuwe sodat ons U heerlikheid kan uitstraal! Leer ons opnuut weer wie ons rêrig is, soos wat U ons sien en maak. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.