Skrifgedeelte: Openbaring 22:16-21 Teks wat tref: v16
Op 22:16 – “Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.”
Terwyl ons daagliks leef in die lig wat God se Woord vir ons gee, is ons maar al te bewus van die baie skaduwees en talle donker plekke wat ons omring. Heimlik begeer ons ‘n plek waar die magte en kragte van die duisternis nie meer vrees kan bring nie. In ons soeke hierna bewerk God keer op keer ‘n uitkoms. Hy bring ons by ons eindbestemming. Hierdie eindbestemming bring vreugde en blydskap.
Vir die volk Israel het God ʼn vuurkolom gegee sodat hulle deur die woestyn koers kon hou. Vir die manne uit die ooste is daar ʼn ster wat hul na Jesus in Bethlehem lei. Vir seevaarders het die sterre aan die hemelruim rigting gegee. Vir ons is daar die Môrester waarvan Johannes skryf aan gelowiges wat destyds vervolg is en baie ontberinge verduur het.
Reeds in Numeri 24:17 is daar ʼn verwysing na hierdie ster: “Daar kom ‘n ster uit Jakob, daar staan ‘n heerser in Israel op. Hy verpletter die voorkop van Moab, hy vernietig al die opstandiges.” Die helder môrester is die helderste ster in die hemelruim net voor die daglig deurbreek. Dit is anders as die ander sterre. Die verskyning van die Môrester bevestig dat die nag (duisternis) amper verby is.
Daarom bring die beeld van die Môrester vir ons elkeen geweldig troos. Dit is die bewys dat selfs die donkerste nag ook verbygaan. Ons word bemoedig. Met die Môrester kom daar die hoop van ‘n nuwe dag. Sonder die ster sou ons sekerlik verdwaal. As Jesus in Op 22:16 na Homself as die Môrester verwys, verseker Hy ons dat Hy my sal kom haal.
Van Hom straal daar Ewige lig uit. Na sy bekendstelling in Jh 8:12 dat Hy die lig vir die wêreld is, ontmoet ons Hom weer in Openbaring 22:16 as ons Verlosser.
Jy is dalk in die greep van die sonde vasgevang sonder enige hoop. Jy het menslik gesproke ʼn punt bereik waar jy geen lig meer sien nie. Werkloosheid, honger, onsekerheid, en die vrees vir die onbekende hang soos ʼn donker wolk oor jou kop. Daar is uitkoms.
Wanneer Jesus as Môrester op die horison verskyn, weet ek dat alle donker verdwyn.
Dors vir meer:
Op 21:22-27
Gebed
Vader, rig ons oë op die helder Môrester. Dankie dat ons in die Lig wat van U afstraal kan leef. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply