Skrifgedeelte: Jh 8:12-20 Teks wat tref: Jh 8:12
Jh 8:12 – “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
Met hierdie uitspraak van Jesus is dit so helder soos daglig dat Hy aan sy volgelinge hoop gee. Soos wat lig die duisternis verdryf, sal daar deur die optrede van gelowiges lewe volg. Die kleinste flitslig se strale word in die grootste vertrek sigbaar. ʼn Enkele straal verbreek die stik donkerte.
Nou verseker hierdie beeld van Jesus gelowiges daarvan dat hul die lig het wat lewe gee. Met die skepping het God beveel dat daar lig moet wees. En daar was lig. ʼn Nuwe begin het aangebreek. Deur God se genade en Christus se verlossingswerk ontvang ons lig wat lewe gee. Ons word God se Ligdraers. Dit is genade wat my vrymaak van die magte van die duisternis, maar dit bring ook die verantwoordelikheid om die lewendmakende krag van God met my optrede te verkondig.
Die grootheid hiervan laat ons terugdeins. God gee aan die mens die vermoeë om lewend te maak. Ons ontvang die Heilige Gees sodat ons nie in algehele duisternis en verlorenheid hoef rond te swerf nie. God het ʼn doel met my lewe. God gebruik my om lewe te gee. Dan verstaan ek skielik die sin van alles. Ek moet God se lig lewe. Met my optrede weerkaats ek God se liefde en genade. Soos wat ʼn spieël gedraai word om die meeste strale van die son te weerkaats, moet ek my optrede so inrig dat ek ander se omstandighede verhelder.
Die weerkaatsing van die son se strale kan die oog verblind. Wanneer ek Jesus volg moet ek seker maak dat ek mense nie met my optrede verblind nie, maar so sigbaar wees dat ander in die lig wat skyn hul pad maklik sal vind. Soms mag ek dalk in die pad van God se lig staan en met my optrede ʼn skaduwee maak waarin ander mense moet leef. Daarom moet ons na elke opdrag van ons Here luister. Deur Hom te volg lewe ek lig. Dit is ons elkeen se plig.
Neem tyd om die donker kolle in jou eie lewe en rondom jou te identifiseer. Laat God se Heilige Gees jou lewe beheer. Dan het jy die Lig wat lewe gee.
Dors vir meer:
2 Tim 3:10-16
Gebed
Here, leer my om nie in iemand anders se lig te staan nie. Dankie dat die Heilige Gees ons lei om in U lig te lewe. Dankie dat U die duisternis oorwin het. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply