Category: Uncategorized (Page 22 of 33)

Dagstuk 27 Augustus 2020 – Gee asseblief die sout aan

Skrifgedeelte: Mt 5:13-16                          Teks wat tref: v 13

In Mt 5:1-12 het Jesus in sy preek baie aandag aan die karaktereienskappe van die geseëndes wat in God se koninkryk is, gegee.  Die geseëndes se andersheid gaan nou oor in aksie en dade.  Opvallend genoeg beteken dit nie allerlei opspraakwekkende wonderdade en buitengewone optrede wat deur almal raakgesien word nie.  Jesus sê net: “Julle is die sout vir die aarde.”

Ons sou eerder verwag dat die geseëndes in ʼn verhewe staat sou lewe en dat hulle met rykdom, voorspoed en ʼn hoë agting beloon word.  God se geseëndes is vreemd en anders. God se geseëndes word gestuur om ʼn verskil te maak.  Die lekkerste maaltyd sonder genoeg sout smaak eintlik na niks nie.  Met hierdie beeld leer Jesus ons om bruikbaar te wees.  Juis omdat Christus ons lewe verander het, is ons die sout vir die aarde.  Ek word nou wat God my gemaak het.  

Jesus gebruik ʼn aardse voorbeeld om ʼn geestelike waarheid te verduidelik.  Sout word gebruik om te voorkom dat iets bederf raak. Dit is een van die beste preserveermiddels wat vandag steeds gebruik word. Dan word dit ook tydens ʼn maaltyd gebruik om smaak aan die kos te gee.  Met sy kruisdood het Christus ons bewaar van die ewige verderf en boonop ook vir ons ʼn blyplek saam met Hom verseker. 

Sout is net effektief as die kernbestanddele daarvan reg gevorm is.  Ons ontvang dit van God. Jesus sê: “Julle is die sout vir die aarde.”  Ons word nie eers later die sout nie.  Verder beteken die Here se opdrag dat ons die sout is wat die hele aarde teen verrotting moet beskerm.  As gelowiges moet ons God se boodskap oral verkondig en sy wil op elke plek gehoorsaam. Jy word deur God geroep om ʼn verskil te maak.  Daarom moet ons altyd seker wees dat ons aan Christus verbonde is en dat Hy ons deur sy Heilige Gees stuur om smaak te verleen en om verrotting te voorkom. Daarom is dit ons taak om ons stem te laat hoor as wetgewing teen God se wil indruis wanneer onreg plaasvind met die wettiging van aborsie, die laster van God se Naam en die verdringing van die Christelike waardes.

Ongelukkig gebeur dit soms dat ek die doel van my bestaan op die aarde mis.  Sout wat verslaan het, is niks meer werd nie. Dit word weggegooi en deur mense vertrap.  Daar is baie dinge wat daartoe bydrae dat sout kragteloos en smaakloos word.  Die meeste  daarvan begin met my eie optrede wanneer gemaksug, eiegeregtigheid en onbetrokkenheid posvat. 

Om sout vir die aarde te wees beteken dat ek getrou sal luister na die leiding van die Heilige Gees. Bestudeer God se Woord. Maak ʼn verskil.

Begin vandag daarmee deur op te let of die Here iemand saam met jou aan tafel laat sit vir wie jy die sout kan aangee.

Dors vir meer:

Fil 2:5-11

Gebed

Here, soms is dit seer as daar sout op my wonde ingevryf word om te keer dat ek verrot. Dan is daar ook weer die vreugde as U my gebruik om smaak aan die kos te verleen. Maak my al meer diensbaar in U koninkryk. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 26 Augustus 2020 – Wat help dit tog?

Skrifgedeelte: Mt 5:1-12 Teks wat tref: v10-12

Al die geseëndes waarna Jesus in Mt 5:3-12 verwys lyk en leef radikaal anders as die wêreld se standaarde. Al die eienskappe van die Saligsprekinge is in stryd met die wêreld se siening. Die wêreld het nie plek vir treurendes, sagmoediges en mense wat regverdig optree nie. In Mt 5:10-12 beskryf Jesus ʼn karaktertrek van die geseëndes waaraan Hy reeds al in vers 6 aandag gegee het. Nou is daar nie net ’n honger en dors na geregtigheid nie, maar ’n navolging daarvan. Die geseëndes raak versadig terwyl dié geseëndes in vers 10 die koninkryk van die hemel ontvang omdat hulle doen wat reg is.

Hiermee word ons opnuut bemoedig. Omdat Jesus die mens ken en weet dat die duiwel God se geliefdes sal vervolg, beskerm Hy die gelowiges wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is. Dit is duidelik dat al die voordele wat God se geseëndes ontvang hulle al hoe meer in onguns by die wêreld sal bring. Dit laat die vraag ontstaan of dit dan enigsins waarde het om te leef soos God ons beveel? Sonder vervolging sou dit maklik wees om anders te leef. Tereg vra ek: “Wat help dit tog?” Hoekom word die kinders van God vervolg? Hoe kan die Here sê dat die vervolgdes geseënd is?

Boonop is daar geen gronde vir die vervolging nie. Hulle word valslik van al wat sleg is beskuldig en hulle word openlik beledig. Daarna verkondig Jesus verder dat hulle bly en verheug moet wees. Gelowiges sal vervolg word omdat hulle God se reg hoog ag. Hulle buig voor God en loop nie agter die wêreldse magte aan nie. Hulle soek allereers God se eer. Hulle bly getrou wanneer die wêreld ons uitlok om met dubbel standaarde te meet. By die werk word jy as vreemdeling behandel as jy nie aan wanpraktyke deelneem nie. By die skool word jy gespot omdat jy kerk toe gaan.

Leef daarom voorbereid dat die wêreld jou sal vervolg. Trouens, dit het al die tyd van die profete begin. Ten diepste is die stryd teen God self, en word die mens ingespan om God nie langer te erken nie. Ons word deur die Heilige Gees verander met die karakter trekke wat Jesus verkondig, en ons word daarvan verseker dat daar ʼn heerlike loon wag. In Mt 5:1-12 word hierdie loon in verband met hulle wat die koninkryk van God ontvang gebring.

Elke mens sal daadwerklik optree as ons eer aangetas word en daar vals beskuldigings teen ons gelewer word. God waarsku ons teen die vals optrede en dat gelowiges vervolging sal ervaar. Dit alles help om te verseker dat ons voorbereid sal wees vir elke situasie en nou reeds verlangend kan uitsien na die Nuwe Jerusalem.

Dors vir meer:
Jak 1:1-8

Gebed
Here, lei my deur U Heilige Gees om staande te bly te midde van die wêreld se aanslae. Skenk aan my die moed om vir U eer te veg. Dankie dat Jesus Christus met sy dood en opstanding vir my ʼn ewige loon in die hemel verkry het. Amen

Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 25 Augustus 2020 – Gaan maak vrede

Skrifgedeelte: Mt 5:1-12 Teks wat tref: v 9

Na elke nuusberig lyk dit onmoontlik dat daar ooit vrede sal wees. Elke berig vertel van oorlog, vervolging en vernietiging. Die mens se lewe is niks werd nie. En wanneer daar pogings aangewend word om te verseker dat vrede wel moontlik is, word dit met terreuraanvalle en geweldsmisdade verdring. Sal ons in Suid-Afrika vrede kan hê as plaasmoorde en aanvalle op weerlose mense voortduur? Hierdie omstandighede en die spanning wat in huise ontstaan, laat min vooruitsigte vir ʼn vredevolle bestaan tussen ouers, kinders en ander.

Alvorens ons kan verstaan waarom Jesus die vredemakers geseënd noem, moet ons allereers weet wat met vrede bedoel word. Is dit bloot net ʼn situasie sonder oorlog, konflik en spanning? Beteken dit dat ek alles maar sal verduur net om die vrede te bewaar? As die teenwoordigheid van vrede van die mens se optrede afhang sal ons dit nooit bereik nie. Dink maar net aan jou optrede tydens ʼn geskil. Niemand gee graag toe nie. Ek sal nie maklik erken dat ek verkeerd opgetree het nie.

Vrede word eers reg verstaan as ek besef dat my optrede my verhouding met die Here beskryf. Daar is net harmonie as my optrede altyd God se eer soek. Vrede kan ook vertaal word met die woord guns. My optrede moet in ooreenstemming met God se wil wees. . Enige iets anders sou opstand teen die Here wees. Vrede is veel meer as die afwesigheid van oorlog.

Eers wanneer die Heilige Gees in my woon sodat ek God se liefde en genade beleef en verstaan kan ek ʼn vredemaker wees. Eers wanneer ek bely dat Jesus met sy kruisdood en opstanding my verhouding met God herstel het besef ek dat vrede beteken dat ek met God versoen is. Die sonde bestaan nie meer nie. Die vyand is platgeslaan. Die stryd is deur Jesus gewen. Ek is nou kind van God en nie meer vyand nie.

Die beeld wat Jesus gebruik om die vredemakers se posisie met God te beskryf is treffend. Die hoë premie wat op vredemakers geplaas word, dui daarop dat God my kosbaar ag. Christus het as Oorwinnaar uit die stryd getree sodat ek die volle troos en versorging van my Vader kan beleef. Vrede is net moontlik teen ʼn geweldige hoë prys.

Daardeur word die opdrag om ʼn vredemaker te wees vasgelê. Op grond daarvan word ek nou geroep om die versoening verder uit te dra. Ons is nie geroep om net op aarde geskille by te lê nie, maar om te verseker dat God se liefde verkondig word. Vrede beteken nie dat ek alles maar gelate sal aanvaar nie en maar net niks doen “ter wille van vrede nie”.

Om ʼn kind van God genoem te word, is troosvol en bring vrede. Gebruik elke geleenthede om God se vrede oral te proklameer. Soms sal dit nodig wees om in ʼn geveg betrokke te raak. Soms sal ek my lewe op die spel moet plaas. Maak seker dat God se eer altyd beskerm word.

Dors vir meer:
Kol 3:1-17

Gebed
Here, leer my om te erken dat ek met my optrede nie altyd vrede bevorder nie. Leer my om minder aan myself te dink en so op te tree dat ek U eer soek. Vader, skenk aan ons vrede om in hierdie bose wêreld staande te kan bly. Amen

Ds Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 24 Augustus 2020 – Hoe lyk God?

Skrifgedeelte: Mt 5:1-12 Teks wat tref: v8

Met die inperking van die afgelope aantal maande is daar die verlange en begeerte om my geliefdes weer te kan sien. Ons kon wel kontak behou met die tegnologie, maar dit is net soveel meer waardevol as ek iemand fisies kan sien. Baie mense moes afskeid neem van geliefdes wat oorlede is sonder om daar te kon wees. Kleinkinders is gebore en dit was nie moontlik om hul te besoek nie. Senior lidmate was gehospitaliseer en ons kon hul nie bemoedig nie.

Net so het die mens ʼn intense begeerte om die Here te kan sien. Wanneer donker wolke my omring en die golwe van die lewe my platslaan is die behoefte nog meer intens. In Eksodus begeer die volk om die Here te aanskou. Dan antwoord Hy dat sy heiligheid te groot is en dat dit nie vir ʼn mens moontlik is om God te sien nie. Die mense wat aan die voet van die berg gaan sit het om na Jesus te luister, se aandag is nou voluit by Hom. Vir eers dink hulle dat hul verkeerd gehoor het. Hierdie man wat wonders doen, kan dit bewerkstellig dat ʼn mens God kan sien!

Wanneer Jesus sê dat die mense wat rein van hart geseënd is, het dit ʼn geestelike betekenis. As iets rein is beteken dit dat daar nie vermenging met iets ander plaasgevind het nie. Hier bedoel Jesus dat daar net vir Hom en sy Vader plek in ons lewens mag wees. Hierdie verhouding word deur my hart bepaal. Die Here maak aanspraak op my hele lewe. Dit is onmoontlik om God waarlik te aanbid en terselfdertyd agter afgode aan te loop. Uiterlik moet my leefwyse daarvan getuig dat ek nie deelneem aan praktyke wat God se eer aantas nie. Ek mag bely dat ek vurig optree wanneer iemand die Here se Naam verkeerd gebruik, terwyl ek met my gedagtes iemand haat en met vals maatstawwe meet. Om rein van hart te wees stel hoë standaarde. Ek moet opreg leef.

Dit beteken nie dat ek skielik sonder sonde is nie. Jesus ken my sondige leefwyse maar al te goed. Dit vra dat ek my gesindheid reg instel. Voordat ek ʼn besluit neem maak ek seker dat die optrede God sal verheerlik. Met my sonde kan ek God se Naam aantas en misbruik. Rein beteken dat ek vlekkeloos sal leef. Met sy kruisdood het Christus die klad van die sonde oor my naam verwyder en stel Hy my onberispelik voor sy Vader. Dan is ek vlekkeloos voor die Here. Weereens is dit nie ek wat uit my eie so kan leef nie, maar bring Christus my sonder vlek of rimpel voor sy Vader.

Om so voor die Here te kan verskyn beteken dit dat ek God kan sien. Waar die sonde alles verduister het, bring Christus nuwe lewe. Om God te sien herstel die gebroke verhouding wat deur die sonde teweeg gebring is. Die bloed van Christus het my gereinig. Ek herken God deur Jesus se verlossingswerk.

Dors vir meer:
Hd 7:54-60

Gebed
Here, dankie dat u die gemors in my lewe deur Christus weggeneem het. Lei my deur U Heilige Gees om my hart en siel nie met onrein woorde, gedagtes en dade te besoedel nie. . Amen

Ds Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 21 Augustus 2020 – Kry wat jy uitdeel

Skrifgedeelte: Mt 5:1-12 Teks wat tref: v7

Met die beskrywing van hierdie karaktertrek klink dit aanvanklik dat daar nie veel van my verwag word nie. Ons gee om vir mense en is gemaklik om ʼn bydrae te maak as iemand in nood verkeer. Net solank daar nie te veel van my gevra word nie. Barmhartigheid word gesien as my liefde vir God en my naaste bewys word. Ons verskraal die woordjie dikwels om te volstaan dat barmhartigheid beteken dat ek iets vir die behoeftiges afstaan.

Vir Jesus is daar ʼn veel groter en dieper betekenis. Hierdie karaktertrek onderskei die gelowiges van die res van die wêreld se optrede. Dit behels veel meer as ʼn bereidheid om iets af te staan. Ons oordeel dat ek uit my oorvloed bietjie moet gee. God se vereiste is dat ek allereers aan Hom en my naaste sal dink. Dit is net so maklik en gerieflik om ʼn bydrae te maak en ver van die nood te bly staan. Daar is mos ander instansies en groepe wat na die mens in nood sal omsien.

Barmhartigheid beteken dat ek myself in die skoene van iemand plaas sodat die nood, swaarkry en ontbering van die ander persoon my eie raak. Dit is meer as finansiële hulp. Dit raak nie my beursie nie, maar my hele wese. Paulus skrywe in 2 Kor 6:11 dat hy en sy medewerkers se harte vir die lidmate wyd oop is. Letterlik ken barmhartigheid geen perke en grense nie. Dit openbaar ʼn gesindheid waarmee daar altyd plek vir nog een is wat saam met my kan eet. Of plek vir nog een wat ek kan huisves as daar nood en spanning is. Of die tyd om nog eenkeer iets vir iemand te verduidelik. Of plek vir nog een as ek gaan piekniek hou. Barmhartigheid het geen grense nie!

Sulke optrede sal inderdaad groot opoffering vra. As ek bloot uit my oorvloed afstaan het daar nog geen barmhartigheid plaasgevind nie. Eers wanneer en dit aan my lyf voel, bereik die oproep tot barmhartigheid sy doel. Jesus verwag van ons om met dieselfde deernis as sy Vader na mense te kyk. Iemand het barmhartigheid met die volgende beeld verduidelik: “God is barmhartig, dit wil sê sy hart breek wanneer Hy die mense se nood raaksien. En Hy ontferm Homself oor mens”

Barmhartigheid is daarom een van die eienskappe van God. Dit word nie voorgehou as ʼn maatstaf waaraan ek moet voldoen nie. Dit beteken dat die Heilige Gees my al hoe meer sal verander om aan die beeld van God gelyk te word. Die grootste bewys van barmhartigheid is God se liefde vir die gebroke mens vir wie Hy sy Seun stuur. Hy kon die mens in verlorenheid laat voortleef het, maar Hy kom gee redding en vryspraak. Verder bewys God sy barmhartigheid elke keer as Hy met my praat en handel. Hy is nooit ver nie, maar naby my.

Mag die Heilige Gees my ook so lei dat ek al die liefde en seëninge wat ek van Hom ontvang het, diensbaar sal maak. Met hierdie karaktertrek van hulle wat geseënd is, word aan dié wat barmhartig is, barmhartigheid gegee. Maak jou hart en hande oop en jy sal meer as dubbeld terug ontvang!

Dors vir meer:
Lukas 10:25-37

Gebed
Here, leer my om naby die lewe en harte van my naaste te beweeg. Verlos my daarvan om alles vanaf ʼn afstand te beskou. Maak my hande oop om te gee, maar om ook te ontvang. Dankie vir u oneindige liefde. Amen

Ds Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 20 Augustus 2020 – Volg die regte eetplan!

Skrifgedeelte: Mt 5:1-12                          Teks wat tref: v6

Die beelde wat Jesus gebruik om die geseëndes mee te beskryf het soveel trefkrag dat dit voel of ons net so seker deel is van die eerste hoorders. Die vorige karaktertrekke het sekere kategorieë behandel. Nou gebruik Jesus een van die mens se mees basiese behoeftes om die boodskap oor te dra. Ons moet elke dag eet en drink.  Dit is maklik om hiermee saam te stem.

Dit word moeiliker as ons optrede betrek word.  Net soos om te kan eet en drink wil ons graag regverdig behandel word.  Dink maar hoe gou ons gereed is om ons regte af te dwing as en benadeel word.  By die skool moet niemand my kind onregverdig behandel nie. Met ʼn sake transaksie wil ek nie ingeloop word nie.  Wat reg is, is reg. Ononderhandelbaar. 

“Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is” beskryf ʼn dringende en doelgerigte begeerte en optrede. In ʼn hofgeding sal ek net tevrede wees met die beste advokaat wat alles in die stryd werp om my reg te beskerm. Honger en dors het alles te make met my liggaam se gesondheid en sal ek net dit inneem wat voordelig en heilsaam is.  Sodoende sal ek versadig word.  Op geestelike vlak beteken dit dat ek aandag sal gee aan dinge wat my geloofsgroei bevorder. 

Wat is die reg waarna hier in Mt 5:6 verwys word? Soos met al die ander karaktertrekke word die andersheid van die geseëndes beskryf.  Hierdie woord word meermale in die Nuwe Testament gebruik en die meeste kere in Matteus. Dit is meer as bloot net om reg of onreg te pleeg.  Dit beskryf eerder ʼn leefwyse wat Christene van die res van die wêreld onderskei. Sodanige leefwyse sal inderdaad ook teenkanting van die wêreld beleef.   In vers 10 word dit gebruik wanneer mense wat “reg” doen vervolg word.  Dit word gebruik om die gesindheid van jou hart te openbaar.  Daardie gesindheid kan net verkry word wanneer aan God se geregtigheid voldoen word.  Dit is die sekerheid dat ek deur Jesus Christus se kruisdood regverdig verklaar is. Dit gee aan God die eer wat Hom toekom.

Om na reg te honger en dors word deur die werking van die Heilige Gees aan my geskenk.  Ek verdien dit nie. In sy wese is die mens se ingesteldheid om net sy eie reg te soek.  Luister na die regverdiging vir sekere optrede as iemand se misdadigheid bekend word.  Ons hoor van die skending van die mens se reg maar wanneer die eer wat God as Skepper, Onderhouer en Beskermer geskaad word, swyg almal. 

ʼn Hoë premie word op die reg, geregtigheid en regverdigheid geplaas.  Daarom die gepaste beskrywing dat daar ʼn honger en dors daarna is.  God sal nooit die werke van sy hande laat vaar nie.  Hy sal sorg dat reg geskied.  Ons kan wonder of die honger en dors na wat reg is ooit sal eindig? Sal die stryd teen die Bose (onreg) ooit ophou?  In Jesus se eie woorde sal hulle wat na die reg honger en dors versadig word.  

Gesonde eetgewoontes lei tot ʼn gesonde lewensstyl. Om na reg te honger en dors beteken dat ek God se goedkeuring vra in alles wat ek oorweeg.  Net soos ek elke dag eet om my liggaam te voed, moet ek honger en dors na wat reg is om my siel en hart te voed deur aan God gehoorsaam te wees. Anders sal ek nooit versadig word nie. 

Dors vir meer:

Mt 6:25-34

Gebed

Here, dankie dat U nie net voedsel en water voorsien nie.  Dankie dat Jesus ons versadig maak met al die gawes wat ons onverdiend ontvang. Stuur U Heilige Gees om my te leer om deel van die geseëndes te wees wat honger en dors na wat reg is.  Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 19 Augustus 2020 – Waar kan ek tuis wees?

Skrifgedeelte: Mt 5:1-12 Teks wat tref: v 5

Die huidige wêreld het nie plek vir sagmoedige mense nie! Daarom verkondig Christus dat hulle ʼn nuwe aarde ontvang. Hy is steeds besig om die karaktertrekke van die burgers van sy Koninkryk te beskryf. Hy begin elke keer met die woord “geseënd” wat beteken dat die ontvangers seker kan wees van God se guns, genade en beskerming. Geseënd kan ook vertaal word met tevrede wees en om sonder sorge elke oggend te ontwaak.

Ons gebruik die woord sagmoedig vir ʼn persoon wat alles maar gelate aanvaar en deur die gebeure van elke dag rondgeslinger word. Gedienstig, gedwee. Die spreekwoord sagmoedige Neelsie dui gewoonlik op iemand wat maar met alles tevrede is en nie werklik indruk maak nie. Dit is iemand wat konflik liefs vermy en sonder beslistheid optree. Ons sou nie dink dat iemand met hierdie karaktertrek plek in God se koninkryk sal hê nie. Ons sou eerder die manhaftige optrede van ʼn held verwag. Ons wêreld het al hoe minder plek vir mense met geduld, vredemakers en mense wat vriendelik optree. Dit is juis hulle wat vertrap word.

Dit is juis hier waar Jesus ons nooi om dieper te kyk. Met hierdie karaktertrek word die geseëndes se andersheid uitgelig. As ek vertrap word en dit dikwels voel dat ek elke keer die onderspit delf teenoor mense wat verkeerd doen en geen liefde vir ander het nie, oorweeg ek ook om dieselfde te doen. Met krag en mag sal alles kan verander. Heimlik dink ons ook daaraan. Ek sal myself laat geld en my stem laat hoor. Al veroordeel ons sodanige optrede, lyk dit soms of dit die enigste oplossing is.

Met sy eie lewe en optrede het Jesus vir ons kom wys wat dit beteken om sagmoedig te wees. As Koning daal Hy na die aarde neer en neem die gestalte van ʼn dienskneg aan. Hy word beledig, verneder en verkleineer en vee die spoeg weg as die soldate in sy gesig spoeg en Hom bespot. Hiermee wys Hy vir ons wat dit beteken om sagmoedig te wees. Hy leer ons wat sy Vader se verwagting van ons is. Ons is hier om te dien en te sorg dat God al die eer ontvang. God vra van my gehoorsaamheid. Dit gaan nie oor my nie maar my diensbaarheid in God se koninkryk.

Om sagmoedig te wees beteken dat ek die aanslae en onreg van die wêreld verduur. Dit voel dat dit nooit sal ophou nie. Jesus leer ons dat ons in ʼn gebroke wêreld leef. Daarom word ons vertroos dat die sagmoediges die nuwe aarde ontvang. Miskien het jy dit ook al oorweeg om te sê dat jy nou genoeg gehad het en soos die wêreld sal reageer. Of ʼn mens kan die Here vertrou en Hom volg. Die oorwinning kom nie deur mag en krag nie, maar deur die liefde van Christus.

In Mt 5:3 het Christus ons verseker dat dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, die koninkryk van die hemel het. Met sy opstanding uit die dood het Christus my verseker dat ek die nuwe aarde sal ontvang.

Dors vir meer:
Mt 5:38-48

Gebed
Here, dankie dat die aanbreek van die nuwe aarde met Christus se dood en opstanding verseker is. Lei my om met Jesus se deernis en omgee ʼn verskil te maak in ʼn wêreld waar alles vertrap word. Amen

Ds Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 18 Augustus 2020 – TREUR tot TROOS

Skrifgedeelte: Mt 5:1-12                          Teks wat tref: v4

Ons lees verder in Mt 5:1-12 oor hulle wat deur die Here geseën word. Dit is te verstane dat ek van God afhanklik moet wees omdat Hy alles voorsien en omdat Hy van alles weet. ʼn Koning moet immers onderdane hê wat lojaal is. Om van my te verwag om te treur klink vreemd. Ons het tog al geleer dat as jy lag die wêreld saam met jou sal lag en as jy huil jy alleen sal wees. 

Met die tweede karaktertrek  in vers 4 waarmee die lewe van Christene beskryf word, sluit dit nou aan by die vorige karaktertrek.  Om van die Here afhanklik te wees laat my besef hoe dikwels ek al van Hom af weggedraai het.  Dit is daaroor dat die gelowige moet treur.  In die oorspronklike taal waarin die Nuwe Testament geskryf is, word verskillende woorde vir treur gebruik. Dit kan wees dat ek hartseer is oor die verlies van ʼn geliefde. In Mt 5:4 beteken dit dat ek berou het oor my ongeregtighede.  Ek besef dat ek my Vader teleurgestel het, en nie aan Hom gehoorsaam was nie.  Die treurendes is mense wat besef dat hul optrede die Here verdring het.  Ons mag oor baie dinge hartseer wees maar die treurendes is hulle wat besef dat hul optrede die Here bedroef het. 

Hierdie optrede word gewoonlik gesien wanneer ek besef hoe my optrede God se eer steel, of wanneer die mens die skepping verwoes, of wanneer die gevolge van moord en doodslag mense se lewe vernietig of wanneer God se Naam misbruik word.  Dit is wanneer die gebrokenheid van die samelewing my tot stilstand dwing. Wanneer die wreedheid van gesinsgeweld gevoel word. Wanneer woorde nie gebruik kan word om my stukkende binneste te genees nie.

Dan eers verstaan ons wat dit beteken dat die Here troos sal gee.  Dié troos vind plaas wanneer  ek deur die Heilige Gees gelei word om vorentoe te kyk. In die donkerste oomblikke breek daar weer ʼn helder ligstraal deur. Dan erken ek dat God alles beheer in Jesus Christus se opstanding, hemelvaart en wederkoms.  Dit is wanneer God alles nuut maak sodat daar niks meer is om oor te treur nie.  Op hierdie pad sal daar nog dikwels omstandighede en gebeure wees wat my laat treur. Dié teleurstelling van ʼn lang vriendskap wat deur ʼn misverstand vernietig is. Die onregverdige werkgewer wat my benadeel het. Die optrede van ʼn lewensmaat wat ontrou geraak het. Die kerk wat nie meer haar roeping uitleef nie.

Met talle voorbeelde in die Bybel word ons wel vertroos. Die profete huil oor die verval van die volk. Dan bewerk die Here uitkoms. Die dissipels word oor hul geloof vervolg. Maar nooit word die Here se stem stilgemaak nie.  Ons Here Jesus Christus word onskuldig ter dood veroordeel sodat ons verlos kan word. Christus se opstanding is sekerlik die enkele mees troosvolle boodskap vir alle tye.  Ek vind my troos daarin dat Jesus se liefde alles oorwin. Hy stuur die Heilige Gees, die groot Trooster, aan elkeen wat opreg treur.

Dors vir meer:

Ps 116 en Sag 8:1-13

Gebed

Here, lei my dwalende gedagte om oor die dinge wat u eer beroof het te treur.  Dankie dat die Heilige Gees my droefheid en seer wegvat.  Dankie vir die enigste Troos, Jesus Christus in my lewe. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 17 Augustus 2020 – Om aan die Here se voete te sit maak my van God afhanklik

Skrifgedeelte: Mt 5:1-12                          Teks wat tref: v3

Na die roeping van die eerste dissipels aanskou hulle hoe Jesus in Galilea rondgaan en siekes met allerhande kwale en pyne, geestelik versteurdes en verlamdes gesond maak. Dit het tot gevolg dat groot menigtes Hom volg. (Mt 4:23-25) Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom, en Hy het hulle geleer.

Daarna volg Jesus se Bergrede wat as een van die kragtigste preke in die ganse geskiedenis van die wêreld bekend word. Heel eerste leer Jesus ons om van God afhanklik te wees. (Mt 5:3) Hierdie geseëndes ontvang ook die koninkryk van die hemel. Daarna volg nog sewe geestelike eienskappe wat bedoel is vir elke ware volgeling van ons Here. Die Jode het Hom as ʼn aardse Koning gesien wat vir hul eie gewin voordelig sou wees. Hier is die bedoeling dat hulle wat hulle nou al onderwerp aan Jesus se heerskappy, deel het  aan die koninkryk van God. Hierdie preek van alle preke is vandag steeds net so geldig soos destyds toe die eerste hoorders na Jesus geluister het. 

Wat beteken dit om van God afhanklik te wees? Allereers is dit nodig dat die Here ons leer om aan Hom gehoorsaam te wees. Dit druis in teen die beskouing dat ek in alles sover moontlik onafhanklik wil wees.  Dit is ons aard om net te maak soos ek graag wil. My stel reëls moet geld. Om van God afhanklik te wees beteken dat ek myself sal prysgee. Te dikwels maak my geld, mag, posisie, aansien en beskouing dit moeilik om aan die voete van die Here te gaan sit. Ek moet erken dat ek sonder God niks kan doen nie. Ek het God elke oomblik nodig. Sonder Hom is ons in geestelike armoede gedompel. Ons moet word wat Christus van ons verwag.  Ons moet Hom as Koning erken en sy onderdane wees.  Met Jesus se hele lewe verkondig Hy dat Hy na die aarde gekom het om te dien en nie om gedien te word nie. 

In Mt 5:3 leer Jesus ons om te dien. Sy opdrag is so in stryd met wat ons wil.  Met sy kruisdood en opstanding het Jesus ten volle aangetoon wat dit beteken om van God afhanklik te wees. Toe Hy die dood in die oë staar lei die Heilige Gees Hom om te weet dat Hy van sy Vader afhanklik is en so die dood sal oorwin.  Jesus is die Koning wat ons versterk om nooit bang te wees nie. Selfs wanneer die wêreld se aanslae met mag teen ons aangerol kom, wanneer Covid 19 ontwrig en lewens neem, my finansies nie meer klop nie en ek uitsigloos voortbeur, gee Hy vir ons krag.

Elkeen wat so leef ontvang boonop ʼn beloning. Jesus verkondig met sekerheid dat die koninkryk van die hemel aan hulle behoort. Dit klink vir ons na ʼn vreemde opdrag. Dit is betekenisvol dat die preek van ons Here Jesus Christus juis met hierdie eienskap begin. As jy nie van God afhanklik is nie, staan jy alleen teen die aanslae van die wêreld. 

Ons lees more verder wat dit beteken om aan die Here se voete te sit.

Dors vir meer:

Luk 10:38-42 en Rm 10:10,11

Gebed

Here, leer my om al minder op myself te fokus en in afhanklikheid van U te leef.  Verbreek die bande van ongeregtigheid, selfsug en hoogmoed sodat ek deel het aan die koninkryk van die hemel. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk Vrydag 14 Augustus 2020 – Onderwerp jou onder die kragtige hand van God!

1 Petrus 5:5-14

Teks wat tref: 1 Petrus 5:6.

“Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het.”

Gister se opdrag was aan die ouderlinge gerig oor hoe hul na die Opperherder se kudde moet omsien.  Die ander kan van die muntstuk is dat wanneer ons sê ons volg die Opperherder, dan sal ons ook die toesig en leiding van die ouderlinge navolg en aanvaar.  Die boodskap word veral aan die jongeres gerig.  Jongeres wat vol lewenslus en wysheid is, maar van hul word veral gevra om nederig te wees.  Nie net van ander nie, maar ons almal moet teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, maak nie saak jou ouderdom of posisie nie.

En as ons teenoor mekaar nederig moet wees, hoeveel te meer moet ons nie in nederigheid ons aan die kragtige hand van God onderwerp nie. 

Nie net gaan God ons verhoog op die regte tyd nie, maar Hy gee nou ook om vir ons.  Daarom het ons die voorreg om ons sorge en bekommernisse na Hom te bring.

Wat bekommer jou vanoggend?  Watter bekommernis is vir jou oorweldigend of hou jou terug?  Plaas dit voor die Here, want Hy sorg vir jou!

Regoor die wêreld heen beleef gelowiges dieselfde uitdagings en lyding ter wille van Christus.  Daarom moet jy wakker en nugter wees- die duiwel loop rond soos ʼn leeu wat wil verslind.  Ons hoef nie die duiwel te vrees nie, maar moet ook nie op ons self roem en sê niks sal my aanval of versoek nie.  Bly standvastig in die geloof en staan hom tee.

God self rig ons op en maak ons moedig, sterk en standvastig.  Hy skenk ons alle genade, Hy het ons geroep en in Christus laat Hy ons deel in sy ewige heerlikheid!

Maak daarom staat op God se werk, self al sluit dit lyding in, Hy kan ons volkome vertrou!

Dors vir meer:

Efesiërs 6:10-18 en Openbaring 2:8-11

Gebed

Enigste Here, dankie dat ons al ons bekommernisse na U kan bring.  Dankie dat U ons versterk omm die aanslae en versoekinge te kan weerstaan en dat ons kan deel in U heerlikheid.  Aan U behoort die krag tot in ewigheid. Amen.

Ds Danie Potgieter

072 272 9631

GK Rietvallei.

« Older posts Newer posts »