Skrifgedeelte: Mt 5:1-12 Teks wat tref: v7

Met die beskrywing van hierdie karaktertrek klink dit aanvanklik dat daar nie veel van my verwag word nie. Ons gee om vir mense en is gemaklik om ʼn bydrae te maak as iemand in nood verkeer. Net solank daar nie te veel van my gevra word nie. Barmhartigheid word gesien as my liefde vir God en my naaste bewys word. Ons verskraal die woordjie dikwels om te volstaan dat barmhartigheid beteken dat ek iets vir die behoeftiges afstaan.

Vir Jesus is daar ʼn veel groter en dieper betekenis. Hierdie karaktertrek onderskei die gelowiges van die res van die wêreld se optrede. Dit behels veel meer as ʼn bereidheid om iets af te staan. Ons oordeel dat ek uit my oorvloed bietjie moet gee. God se vereiste is dat ek allereers aan Hom en my naaste sal dink. Dit is net so maklik en gerieflik om ʼn bydrae te maak en ver van die nood te bly staan. Daar is mos ander instansies en groepe wat na die mens in nood sal omsien.

Barmhartigheid beteken dat ek myself in die skoene van iemand plaas sodat die nood, swaarkry en ontbering van die ander persoon my eie raak. Dit is meer as finansiële hulp. Dit raak nie my beursie nie, maar my hele wese. Paulus skrywe in 2 Kor 6:11 dat hy en sy medewerkers se harte vir die lidmate wyd oop is. Letterlik ken barmhartigheid geen perke en grense nie. Dit openbaar ʼn gesindheid waarmee daar altyd plek vir nog een is wat saam met my kan eet. Of plek vir nog een wat ek kan huisves as daar nood en spanning is. Of die tyd om nog eenkeer iets vir iemand te verduidelik. Of plek vir nog een as ek gaan piekniek hou. Barmhartigheid het geen grense nie!

Sulke optrede sal inderdaad groot opoffering vra. As ek bloot uit my oorvloed afstaan het daar nog geen barmhartigheid plaasgevind nie. Eers wanneer en dit aan my lyf voel, bereik die oproep tot barmhartigheid sy doel. Jesus verwag van ons om met dieselfde deernis as sy Vader na mense te kyk. Iemand het barmhartigheid met die volgende beeld verduidelik: “God is barmhartig, dit wil sê sy hart breek wanneer Hy die mense se nood raaksien. En Hy ontferm Homself oor mens”

Barmhartigheid is daarom een van die eienskappe van God. Dit word nie voorgehou as ʼn maatstaf waaraan ek moet voldoen nie. Dit beteken dat die Heilige Gees my al hoe meer sal verander om aan die beeld van God gelyk te word. Die grootste bewys van barmhartigheid is God se liefde vir die gebroke mens vir wie Hy sy Seun stuur. Hy kon die mens in verlorenheid laat voortleef het, maar Hy kom gee redding en vryspraak. Verder bewys God sy barmhartigheid elke keer as Hy met my praat en handel. Hy is nooit ver nie, maar naby my.

Mag die Heilige Gees my ook so lei dat ek al die liefde en seëninge wat ek van Hom ontvang het, diensbaar sal maak. Met hierdie karaktertrek van hulle wat geseënd is, word aan dié wat barmhartig is, barmhartigheid gegee. Maak jou hart en hande oop en jy sal meer as dubbeld terug ontvang!

Dors vir meer:
Lukas 10:25-37

Gebed
Here, leer my om naby die lewe en harte van my naaste te beweeg. Verlos my daarvan om alles vanaf ʼn afstand te beskou. Maak my hande oop om te gee, maar om ook te ontvang. Dankie vir u oneindige liefde. Amen

Ds Petrus van Blerk
0824560235