1 Petrus 5:5-14
Teks wat tref: 1 Petrus 5:6.
“Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het.”
Gister se opdrag was aan die ouderlinge gerig oor hoe hul na die Opperherder se kudde moet omsien. Die ander kan van die muntstuk is dat wanneer ons sê ons volg die Opperherder, dan sal ons ook die toesig en leiding van die ouderlinge navolg en aanvaar. Die boodskap word veral aan die jongeres gerig. Jongeres wat vol lewenslus en wysheid is, maar van hul word veral gevra om nederig te wees. Nie net van ander nie, maar ons almal moet teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, maak nie saak jou ouderdom of posisie nie.
En as ons teenoor mekaar nederig moet wees, hoeveel te meer moet ons nie in nederigheid ons aan die kragtige hand van God onderwerp nie.
Nie net gaan God ons verhoog op die regte tyd nie, maar Hy gee nou ook om vir ons. Daarom het ons die voorreg om ons sorge en bekommernisse na Hom te bring.
Wat bekommer jou vanoggend? Watter bekommernis is vir jou oorweldigend of hou jou terug? Plaas dit voor die Here, want Hy sorg vir jou!
Regoor die wêreld heen beleef gelowiges dieselfde uitdagings en lyding ter wille van Christus. Daarom moet jy wakker en nugter wees- die duiwel loop rond soos ʼn leeu wat wil verslind. Ons hoef nie die duiwel te vrees nie, maar moet ook nie op ons self roem en sê niks sal my aanval of versoek nie. Bly standvastig in die geloof en staan hom tee.
God self rig ons op en maak ons moedig, sterk en standvastig. Hy skenk ons alle genade, Hy het ons geroep en in Christus laat Hy ons deel in sy ewige heerlikheid!
Maak daarom staat op God se werk, self al sluit dit lyding in, Hy kan ons volkome vertrou!
Dors vir meer:
Efesiërs 6:10-18 en Openbaring 2:8-11
Gebed
Enigste Here, dankie dat ons al ons bekommernisse na U kan bring. Dankie dat U ons versterk omm die aanslae en versoekinge te kan weerstaan en dat ons kan deel in U heerlikheid. Aan U behoort die krag tot in ewigheid. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply