Author: Karen de Lange (Page 13 of 33)

Dagstuk 24 Februarie 2021- God is groter as mure.

Skriflesing: Sagaria 2.
Vers wat tref:
Sagaria 2:4,5. “Jerusalem gaan ‘n stad sonder mure word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees. Die Here sê: Ek sal ‘n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”

Hoe dink ons oor God? Plaas ons dalk beperkings op God se grootheid en mag in die manier waarmee ons aan God dink? Wil ons God binne die mure plaas wat ons self opstel?
Sagaria sien in hierdie 3de naggesig ʼn engel wat besig om die stad Jerusalem op te meet. Die engel word egter gestop want die planne wat die Here vir Jerusalem het kan nie gemeet word nie. Jerusalem gaan ʼn stad sonder mure wees omdat daar soveel persone en diere in hierdie stad gaan kom woon. Dit is nie ballinge wat gaan terugkeer nie, maar uit elke volk en taal en nasie roep die Here mense na Hom toe.

Sonder mure kan die stad weerbaar wees. Alhoewel daar nie stadsmure gaan wees nie, gaan die Here selfs die stad beskerm- soos ʼn muur van vuur. Maar meer nog, die Here se magtige teenwoordigheid sal binne in die stad wees. Die Here se teenwoordigheid is nie net om ons nie, maar ook in ons, in besonder deur die Heilige Gees.
Hierdie is sekerlik een van die wonderlikste beelde in die Bybel wat ons kry oor die Here se magtige teenwoordigheid.
Later in Jerusalem het die Here die Heilige Gees uitgestort met die beeld van vuur. Die Here maak sy kerk bymekaar (kan nie gemeet word nie), beskerm dit teen alle aanslae (Christus is die Hoof, binne die kerk en beskerm en bewaar die kerk).
Moenie vaskyk teen mure wat ons self opbou nie, maar sien die heerlikheid en magtige teenwoordigheid van God raak!

Dors vir meer:
Handelinge 2:1-13.

Gebed.
Here, help my om weer raak te sien dat ons nie U liefde kan meet nie, maar wel U magtige teenwoordigheid, heerlikheid en liefde in oorvloed beleef. Amen.

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 22 Februarie 2021 – Bekeer julle tot My!

Skrifgedeelte: Sagaria 1:1-6 Teks wat tref: v3.

Hierdie week staan ons stil by die eerste hoofstukke van die boek Sagaria. As die Here wil sal ons dan Sondag oggend hierdie week afsluit met Sagaria 4.

Kyk net hoe lyk dit rondom jou in die land. Groot politieke veranderinge het plaasgevind, persone was opgewonde en het voorspoed en vryheid verwag, maar beleef nou armoede en korrupsie. Die paaie is besig om te vergaan en dit is nie meer veilig om te reis nie. Hier word nie gepraat van Suid-Afrika in 2021 nie, maar van Jerusalem in die jaar 520 v.C.

Die volk het terug gekeer uit ballingskap en het met groot ywer is daar teruggekeer en begin met die opbou van die land en die tempel. 21 jaar later lyk dit nie goed nie, van die tempel se herstel het daar nie veel van gekom nie. Die Here stuur dan die priester Sagaria om die volk op te roep tot bekering. Wat wil ons doen in die moeilike en slegte omstandighede van ons land? Ons wil so maklik ander blameer en ander partye se sonde uitwys. Maar Sagaria se boodskap is hard en duidelik vir die volk van die Here: Bekeer julle tot My, sê die Here die Almagtige. Bekeer julle van julle slegte lewe en slegte dade. So is hierdie boodskap vanoggend ook vir jou- voor jy vingerwys na die wêreld, sê die Here vir jou- bekeer jou tot my. Met die oog op Nagmaalviering doen ons hierdie week elkeen weer in ons eie lewens selfondersoek- watter slegte dade is daar nog in jou lewe waarmee jy besig is? Bekeer! Bekeer beteken om alles te los en terug te draai na die Here. Draai terug na God, kom na die Here toe- dit is net by Hom wat daar vir ons volkome sondevergifnis is deur Jesus Christus. Vra die Here om deur die Heilige Gees vir jou hierdie week te help in jou selfondersoek en bekering sodat jy berou oor jou sonde kan hê. Bekeer jou vandag tot die Here! Kom dan met vrymoedigheid terug na die weg van die Here en lewe in sy lig!

Dors vir meer:
Haggai 1 (Haggai tree saam met Sagaria as profeet op)

Gebed
Here die Almagtige, ek wil weer terugkeer na U toe, alles laat los en net leef in U lig! Lei my tot daaglikse bekering! Amen

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 19 Februarie 2021 – Nuwe horisonne

Skrifgedeelte: Job 26:5-14                     Teks wat tref: Job 26:10

Job 26:10 – “Hy (God) plaas die horison op die see, ʼn grens tussen lig en donker.”

Job se vriende is onsuksesvol om in ʼn donker wêreld hoop te bring.  Eers nadat Job se oë deur die Heilige Gees verlig word, breek daar eindelik lig en hoop aan nadat hy die wonderdade van God oral raaksien.  Niks is vir God bedek nie. Selfs die doderyk lê voor God oop.  God vorm die hemelkoepel, Hy versamel die water op die aarde, Hy laat die wind waai en Hy bring die see deur sy krag tot rus.  Dit laat Job in vers 14 uitroep dat niemand die volle krag van God se dade kan verstaan nie. 

In die stryd tussen lig en duisternis stel God ʼn grens vas wanneer Hy die horison op die see plaas. Met hierdie treffende beeld beklemtoon Job God se Almag. Niemand is hierteen bestand nie. Job verwys na ʼn paar gevare wat voor die Here se krag swik. Die seevaarders was bekend met die seemonster Rahab wat hul kosbare vrag wil insluk en verorber.  Met net die fluistering van God se stem word magte verbreek en sidder almal vir God se dreigende woede.

In my belewenis van gebeure wat daagliks rondom  my afspeel kan dit soms voel dat die duisternis my verswelg.  Ons wil ʼn streep trek en uitroep dat alles tot hiertoe kan plaasvind, en dan finaal verby moet wees.  Wanneer God die horison op die see plaas, trek Hy die grens tussen lig en donker. (v10)

Die horison was vir die seevaarders ʼn sigbare baken wat vanuit elke plek op die aarde gesien kan word.  Die horison was die spreekwoordelike grens wat simbolies op nuwe hoop gedui het.  Met elke dagbreek verskyn die morester op die horison  en bring dit moed vir elke dag.

Wanneer God die horison as grens tussen lig en donker op die see plaas, beteken dit dat die duisternis nooit weer die lig kan binnedring of vernietig nie.  Omstandighede veroorsaak soms dat ek myself in ʼn sogenaamde grys gebied bevind.  By die gebrek aan lig ervaar ek saam met Job iets van die duisternis wanneer alles vir my net te veel word. Die verlies aan gesondheid, inkomste, vryheid van beweging en korrupsie saam met die talle uitdagings van tegnologie en sosiale media dwing my maklik om in ʼn donker gat te val en sonder enige hoop te lewe. 

Met sy dood en opstanding het Christus elke duisternis finaal oorwin. Hy stel die grense vas tussen lewe en dood.  Hierdie grense is soos die horison wat God op die see geplaas het. Dit is vas en onbeweeglik.  Hoe donker my omstandighede ook al mag wees, het Christus vir my die ewige lewe verwerf. 

Laat die Heilige Gees ons oë so verlig dat ons elke keer die Morester, Jesus Christus, op die horison raaksien. 

Dors vir meer:

Ps 66

Gebed

Vader, dankie dat U grense vasstel waarbinne ons deur U genade kan leef. Leer ons om voor die grootheid van U werke te beef. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 17 Februarie 2021 – Beurtkrag – Finale Fase

Skrifgedeelte: Job 18:1-21                      Teks wat tref: Job 18:5,6

Job 18:5,6  – “Die goddelose se lig sal beslis uitgedoof word, die vlam van sy vuur sal ophou brand, die lig in sy huis sal doodgemaak word en die lamp langs hom uitgedoof word.”

Job beleef die donkerste duisternis nadat hy plat geslaan is na vele rampe waarin hy alles verloor. Drie van sy beste vriende neem beurte om hom te bemoedig om weer uit die stof op te staan. Hulle bedoelings is opreg maar hul slaag nie daarin om Job te troos nie. Verkeerdelik glo hul dat daar ʼn direkte verband tussen ʼn mens se sonde en lyding is. Dit sou beteken dat Job lyding beleef omdat hy sonde doen en dat dit wat met hom gebeur sy skuld is.  Dit alles terwyl ons hom in Job 1:1 ontmoet het as ʼn vroom en opregte man wat God gedien het en die kwaad vermy het. Dit is ʼn verwronge beeld van God. Dit sou beteken dat my posisie voor God op menslike verdienste, in plaas van God se genade berus.

Die mens moet homself probeer red.  Ek moet myself van die donkerste dieptes bevry.  Daarom probeer Bildad om Job tot ander insigte te bring. (18:2)  Waar ons in Job 12:22 lees dat die Here lig gee in donker dieptes  ontmoet ons Hom nou in Job 18:5 waar Hy die goddelose se lig uitdoof en die vlam van sy vuur laat ophou brand.   Teenoor die hoopvolle beeld van lig is daar nou die wanhoopskrete van almal wat in die duisternis lewe. Die mees verdoemende woorde en afgryslikste beelde word gebruik om hierdie verlore toestand te beskryf: ʼn valstrik (v8), ʼn vangnet (v9), ʼn dodelike siekte wat die vel weg vreet (v13) en ʼn naam wat nêrens meer bekend is nie (v17).

Indien iemand nog sou redeneer dat al hierdie dinge iewers ver weg gebeur ruk Job 18:5 en 6 ons tot stilstand. Jou huis en die vlam van jou vuur is die dinge naaste aan jou. Die lamp op die bedkassie langs jou word uitgedoof . Al hierdie dinge veroorsaak absolute duisternis vir elkeen wat nie vir God erken nie. Hoe donker is die wêreld dan nie sonder God nie!

Job se vriende is onsuksesvol om in hierdie donker wêreld weer hoop te bring.  Eers nadat Job se oë deur die Heilige Gees verlig word, breek daar eindelik lig en hoop aan.  Wanneer Christus aan die kruis sterf en die donkerste duisternis oorwin weet ons hoe groot God se genade is.  Met die beste van ons optrede kan ons nooit iets verdien nie.  Dit is net Christus wat die lig vir die wêreld is. Wie Hom volg sal nooit in die duisternis lewe nie. (Jh 8:12). 

Die raad van Job se vriende kon hom nie van die donkerste duisternis bevry nie.  Mag die beskrywing in Job 18 van ʼn lewe in duisternis dien as ʼn wekroep om my tot ander insigte te lei waar ek volkome op Christus vertrou en God erken.

Dors vir meer:

Ps 49 (veral v16)

Gebed

Here, laat die Gees van waarheid ons verlig en lei. Help ons om teen die werke van die Bose te stry. Dankie vir die lig van U Woord wat die duisternis verbreek. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 15 Februarie 2021 – God gee lig

Skrifgedeelte: Job 12:12- 25      Teks wat tref: Job 12:22

Job 12:22 – “Hy gee lig in donker dieptes, Hy maak donker plekke lig ”

In Job 1 word die weelderige en voortreflike lewenswyse van die belangrikste man in die Ou Ooste beskrywe.  Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy. Sy rykdom bestaan uit sewe seuns en drie dogters. Hy was ook die eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyfhonderd donkies en baie slawe. Nogal benydenswaardig.

Op ʼn dag verander hierdie situasie binne ʼn oogwink toe Job die een slegte tyding na die ander ontvang. Hy word beroof, die weerlig slaan sy vee dood en al sy kinders sterf in ʼn aardbewing.  Hy gaan lê op die grond en roep uit dat hy niks meer oor het nie en maar kan sterf.  Sy lewe is in absolute duisternis gehul. Alles rondom hom is donker.

Daarna worstel hy saam met sy vriende om te sien of daar nie dalk iewers lig in die tonnel is nie.  Na vele gesprekke waarin die sin van die lewe bevraagteken word sink hy net nog meer in die donkerte totdat hy eindelik uitroep dat hy maar eerder wil sterwe. 

Jy voel dalk ook soos Job – dat God jou verlaat het, dat jy ʼn grap vir jou vriende is, en dat die lewe jou onderstebo klap. Jy tas in die donker rond sonder lig, jy dwaal rond soos dronkmense. (Job 12:25) Weet en besef ons hoeveel mense rondom ons worstel? Dagtake wat ons so uitmergel dat ons nie meer krag het nie?  Besluite wat soms op die ingewing van die oomblik geneem moet word en oneindige spanning bring?  Ons het al aan die stereotipe antwoorde oor die effek, gevare en nadraai van Covid 19 gewoond geraak. Gesprekke oor entstof en oneindige korrupsie word liefs vermy. 

As vroom man beleef Job dat God nie meer bestaan nie.  ʼn Lewe sonder die Here is inderdaad een stuk duisternis.  Hy probeer ook nie om in Job 12:12-25 ʼn kitsoplossing gee nie.  Ons hoor te veel kere oproepe dat jy net na God moet draai en dat Hy alles sal verander. Dit gebeur binne die raamwerk wat God gee.  Hier is wysheid nodig wat niks anders as ʼn lewe saam met die Here is nie.  Dit beteken dat jy God moet leer ken soos wat Hy Homself bekendstel.  Hy bou en breek af. Hy gee mag en oorwinning. By Hom is raad en insig. Hy stuur raadgewers.   “Hy gee lig in donker dieptes, Hy maak donker plekke lig.” (Job 12:22)

Later kom Christus na die aarde om ʼn Lig vir die wêreld te wees. (Jh 8:12) Job kon hoopvol uitsien na redding en verandering van omstandighede. Ons is nog meer bevoorreg om te kan terugkyk na Christus se verlossingswerk. Nog meer bevoorreg om op grond hiervan ook vorentoe te kyk. Deur donker dieptes lei God ons om die lig in die spreekwoordelike donker tonnel van ons bestaan op aarde te sien. 

Dit sal nie maklik wees nie, maar deur donker dieptes heen is dit God se liefde wat lig en uitkoms verleen.  In die volgende dae volg ons Job se worsteling verder waar God deur sy Gees vir hom die donker plekke lig maak. 

Dors vir meer:

Psalm 91

Gebed

Here, baie dankie dat U my nooit in die duisternis laat verlore raak nie.  Al skyn daar geen lig en blink daar geen maan, weet ek dat U met my saamgaan. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 12 Februarie 2021 – Die lig van God se woord in jou lewe.

Skriflesing: Psalm 119:129-136
Vers wat tref: v 130.
“Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig;
dit gee insig aan dié wat nog onervare is.”

Die woord van die Here bied so baie vir die gelowige, dit gee insig, dit bring lig en gee vertroosting.
Hoe beleef jy die woord van die Here in jou lewe?
Die woord van die Here bring vir ons lig! Dit bring vir ons die ware Lig dat Jesus Christus vir ons die duisternis oorwin het. Dit bring kennis en versterk ons verhouding met die Here. Dit maak die pad ligter, omdat ons daaraan kan vashou en dit oordink dag en nag. Die woord van die Here is die voortgesette onderrig waarin ons die Here se aangesig beleef en Hy sy guns oor ons laat skyn. Met bybelstudie en eredienste word ons veral saamgebring omdat ons die woord van die Here hoor.
Hoe lieflik klink die voetstappe van die wat die evangelieboodskap bring!

In hierdie gedeelte van Psalm 119 sien ons weer dat die Here se woord vir ons in moeilike omstandighede lig bring. Dit is ʼn vertroosting en herinner ons aan die beloftes van die Here.

Maar wat maak die Psalmdigter veral hartseer?
Nie sy eie omstandighede nie, maar dat daar persone is wat die woord van die Here verwerp – al is die Lig te vinde in die woord van die Here.
Die woord van die Here bring vir ons die verlossingsvreugde in Jesus Christus. Die woord van die Here maak ons ook hartseer, hartseer oor ons eie sondes en dat ander in die duisternis wil bly.

Mag ons 2021 altyd die Lig van die Here se woord, deur die Heilige Gees beleef!

Dors vir meer:
Josua 1:1-9

Gebed
Vader, dankie dat U Heilige Gees my lei om U woord te mag ken en verstaan, sodat ek nie U woord en U verwerp nie. Amen

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 10 Februarie 2021 – U woord is ‘n lamp en ‘n lig vir my lewenspad!

Skrifgedeelte: Psalm 119:105-112 Teks wat tref: v 105

Hoeveel emosies het jy deur die pandemie beleef? Vrees, onsekerheid, hartseer met die sterwe van ‘n geliefde?
Hoeveel emosies het jy hierdie week al beleef? Of self vandag?
Die Here het ons wonderlik geskape om emosies te beleef. Om bly en gelukkig te wees, te sing van vreugde, maar dan beleef ons ook angs, onserkerheid en bid ons in ons hartseer.
In die psalms word emosies vir ons baie mooi uitgedruk, die goeies en die slegtes. In die psalms praat die digters eerlik met die Here oor die emosies wat hul beleef. Kom jy na die Here met al jou emosies? Hy wat die hart deurgrond en alles in ons weet. Ons hoef nie ons emosies van die Here weg te steek nie.
In Psalm 119 se 14de deel lees ons ook van die digter wat deur ‘n moeilike emosionele tyd gaan – sy lewe is heeltyd in gevaar. Al beleef hy intense emosies, bly die woord van die Here vir hom ‘n lamp vir sy voet, ‘n lig vir sy lewenspad. Wanneer ons emosioneel is, kry ons nogtans wysheid by die Here, word ons herinner aan Sy beloftes! In teespoed, in uitdagings, in lewensgevaar kan ons nogtans getrou bly aan die gebooie en bevele van die Here – dit is nie net gegee vir wanneer dit goed gaan nie. Die Here se woorde is vir ons ‘n blywende erfporsie, die vreugde van ons hart! So is die verlossing in Jesus Christus vir ons blywend en kan ek in al my omstandighede vreugde daarin vind. Leef vandag met die woord as lamp vir my voet en lewenspad.

Dors vir meer:
Psalm 25 ( Hierdie psalm is ook gebaseer op die Hebreeuse alfabet en beskryf die emosies wat Dawid beleef het).

Gebed
Vader, dankie dat U my elke gedagte en emosie ken. Dankie dat ek in alle omstandighede die wysheid en lig vind van U woord. Amen

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 08 Februarie 2021 – Lig vir die jongmens se lewenspad.

Skrifgedeelte: Psalm 119:1-16 Teks wat tref: v 9.

“Hoe sal ‘n jongmens sy lewenspad suiwer hou? Deur te hou by u woorde.”

Hierdie week staan ons stil by Psalm 119. Hierdie Psalm besing God se openbaring aan ons, en in besonder die wet van die Here. Daarom ook die aansluiting van die psalm met Psalm 1. Dit gaan goed met die mens wat wandel volgens die woord van die Here. Die woord van die Here is ons middelpunt van ons lewens. Hieruit word ons nie net vertroos en bemoedig nie, maar kan ons met ons hele hart die bevele van die Here uitleef sodat ons op ‘n vaste koers kan bly. Dit help ons om staande te bly teen die versoekinge en uitdagings wat ons in die wêreld beleef.

So in die begin van die psalm vra die digter die belangrike vraag: Hoe kan ‘n jongmens sy lewe skoon hou? Wat het ek as jongmens nodig om ‘n suiwer te leef? Wat moet ek vir my kinders oordra en vertel om hulle te help op hul lewenspad? . Amper ‘n eenvoudige antwoord. ‘n Christen-jongmens het net nodig om te hou aan die woord van die Here. Die verlossing wat ons het in Christus kan ons sigbaar uitleef en beleef in ons lewe deur te hou aan die bevele van die Here.

Om dit te doen moet ‘n jongmens eers die woord van die Here ken, sodoende die Here self ken. Dan eers kan jy gehoorsaam wees met jou hele hart! Hoe wonderlik herinner die Heilige Gees ons nie aan al die beloftes van die Here nie- dit weerhou my van die sonde. Een vir een wil ek die bepalings van die Here opnoem omdat ek hulle ken en weet dit lei my op die regte lewenspad. Dit is in die woord van die Here dat ek vreugde vind- meer as in al die rykdomme van die wêreld. As ek as jongmens die woord van die Here ken, sal ek dit ook nie vergeet in my ou dae nie.

Ek wil met my hele hart gehoorsaam wees maar weet ek het die Here nodig om my ook in hierdie gehoorsaamheid te lei.

Dors vir meer:
Psalm 1

Gebed
Vader, dankie dat ek U gebooie en voorskrifte kan ken. Lei my om hiervolgens te leef omdat ek daarin my vreugde vind. Amen

Danie Potgieter
0722729631

Dagstuk 05 Februarie 2021 – Lig van die Môrester

Skrifgedeelte: Openbaring 22:16-21                      Teks wat tref: v16

Op 22:16 – “Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.”

Terwyl ons daagliks leef in die lig wat God se Woord vir ons gee, is ons maar al te bewus van die baie skaduwees en talle donker plekke wat ons omring.   Heimlik begeer ons ‘n plek waar die magte en kragte van die duisternis nie meer vrees kan bring nie. In ons soeke hierna bewerk God keer op keer ‘n uitkoms.  Hy bring ons by ons eindbestemming.  Hierdie eindbestemming bring vreugde en blydskap.

Vir die volk Israel het God ʼn vuurkolom gegee sodat hulle deur die woestyn koers kon hou.  Vir die manne uit die ooste is daar ʼn ster wat hul na Jesus in Bethlehem lei. Vir seevaarders het die sterre aan die hemelruim rigting gegee. Vir ons is daar die Môrester waarvan Johannes skryf aan gelowiges wat destyds vervolg is en baie ontberinge verduur het.

Reeds in Numeri 24:17 is daar ʼn verwysing na hierdie ster: “Daar kom ‘n ster uit Jakob, daar staan ‘n heerser in Israel op. Hy verpletter die voorkop van Moab, hy vernietig al die opstandiges.” Die helder môrester is die helderste ster in die hemelruim net voor die daglig deurbreek. Dit is anders as die ander sterre. Die verskyning van die Môrester bevestig dat die nag (duisternis) amper verby is. 
Daarom bring die beeld van die Môrester vir ons elkeen geweldig troos.  Dit is die bewys dat selfs die donkerste nag ook verbygaan.  Ons word bemoedig. Met die Môrester kom daar die hoop van ‘n nuwe dag.  Sonder die ster sou ons sekerlik verdwaal. As Jesus in Op 22:16 na Homself as die Môrester verwys,  verseker Hy ons dat Hy my sal kom haal. 
Van Hom straal daar Ewige lig uit. Na sy bekendstelling in Jh 8:12 dat Hy die lig vir die wêreld is, ontmoet ons Hom weer in Openbaring 22:16 as ons Verlosser.
Jy is dalk in die greep van die sonde vasgevang sonder enige hoop. Jy het menslik gesproke ʼn punt bereik waar jy geen lig meer sien nie. Werkloosheid, honger, onsekerheid, en die vrees vir die onbekende hang soos ʼn donker wolk oor jou kop. Daar is uitkoms.

Wanneer Jesus as Môrester op die horison verskyn, weet ek dat alle donker verdwyn.  

Dors vir meer:
Op 21:22-27

Gebed
Vader, rig ons oë op die helder Môrester. Dankie dat ons in die Lig wat van U afstraal kan leef. Amen


Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 03 Februarie 2021 – Lewe lig

Skrifgedeelte: Jh 8:12-20                       Teks wat tref: Jh 8:12

Jh 8:12 – “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Met hierdie uitspraak van Jesus is dit so helder soos daglig dat Hy aan sy volgelinge hoop gee. Soos wat lig die duisternis verdryf, sal daar deur die optrede van gelowiges lewe volg. Die kleinste flitslig se strale word in die grootste vertrek sigbaar. ʼn Enkele straal verbreek die stik donkerte.

Nou verseker hierdie beeld van Jesus gelowiges daarvan dat hul die lig het wat lewe gee.  Met die skepping het God beveel dat daar lig moet wees. En daar was lig. ʼn Nuwe begin het aangebreek. Deur God se genade en Christus se verlossingswerk ontvang ons lig wat lewe gee. Ons word God se Ligdraers. Dit is genade wat my vrymaak van die magte van die duisternis, maar dit bring ook die verantwoordelikheid om die lewendmakende krag van God met my optrede te verkondig.

Die grootheid hiervan laat ons terugdeins. God gee aan die mens die vermoeë om lewend te maak. Ons ontvang die Heilige Gees sodat ons nie in algehele duisternis en verlorenheid hoef rond te swerf nie. God het ʼn doel met my lewe. God gebruik my om lewe te gee.  Dan verstaan ek skielik die sin van alles. Ek moet God se lig lewe. Met my optrede weerkaats ek God se liefde en genade. Soos wat ʼn spieël gedraai word om die meeste strale van die son te weerkaats, moet ek my optrede so inrig dat ek ander se omstandighede verhelder.

Die weerkaatsing van die son se strale kan die oog verblind.  Wanneer ek Jesus volg moet ek seker maak dat ek mense nie met my optrede verblind nie, maar so sigbaar wees dat ander in die lig wat skyn hul pad maklik sal vind.  Soms mag ek dalk in die pad van God se lig staan en met my optrede ʼn skaduwee maak waarin ander mense moet leef.  Daarom moet ons na elke opdrag van ons Here luister.  Deur Hom te volg lewe ek lig.  Dit is ons elkeen se plig.

Neem tyd om die donker kolle in jou eie lewe en rondom jou te identifiseer. Laat God se Heilige Gees jou lewe beheer.  Dan het jy die Lig wat lewe gee.

Dors vir meer:

2 Tim 3:10-16

Gebed

Here, leer my om nie in iemand anders se lig te staan nie. Dankie dat die Heilige Gees ons lei om in U lig te lewe.  Dankie dat U die duisternis oorwin het. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

« Older posts Newer posts »