Skrifgedeelte: Job 26:5-14                     Teks wat tref: Job 26:10

Job 26:10 – “Hy (God) plaas die horison op die see, ʼn grens tussen lig en donker.”

Job se vriende is onsuksesvol om in ʼn donker wêreld hoop te bring.  Eers nadat Job se oë deur die Heilige Gees verlig word, breek daar eindelik lig en hoop aan nadat hy die wonderdade van God oral raaksien.  Niks is vir God bedek nie. Selfs die doderyk lê voor God oop.  God vorm die hemelkoepel, Hy versamel die water op die aarde, Hy laat die wind waai en Hy bring die see deur sy krag tot rus.  Dit laat Job in vers 14 uitroep dat niemand die volle krag van God se dade kan verstaan nie. 

In die stryd tussen lig en duisternis stel God ʼn grens vas wanneer Hy die horison op die see plaas. Met hierdie treffende beeld beklemtoon Job God se Almag. Niemand is hierteen bestand nie. Job verwys na ʼn paar gevare wat voor die Here se krag swik. Die seevaarders was bekend met die seemonster Rahab wat hul kosbare vrag wil insluk en verorber.  Met net die fluistering van God se stem word magte verbreek en sidder almal vir God se dreigende woede.

In my belewenis van gebeure wat daagliks rondom  my afspeel kan dit soms voel dat die duisternis my verswelg.  Ons wil ʼn streep trek en uitroep dat alles tot hiertoe kan plaasvind, en dan finaal verby moet wees.  Wanneer God die horison op die see plaas, trek Hy die grens tussen lig en donker. (v10)

Die horison was vir die seevaarders ʼn sigbare baken wat vanuit elke plek op die aarde gesien kan word.  Die horison was die spreekwoordelike grens wat simbolies op nuwe hoop gedui het.  Met elke dagbreek verskyn die morester op die horison  en bring dit moed vir elke dag.

Wanneer God die horison as grens tussen lig en donker op die see plaas, beteken dit dat die duisternis nooit weer die lig kan binnedring of vernietig nie.  Omstandighede veroorsaak soms dat ek myself in ʼn sogenaamde grys gebied bevind.  By die gebrek aan lig ervaar ek saam met Job iets van die duisternis wanneer alles vir my net te veel word. Die verlies aan gesondheid, inkomste, vryheid van beweging en korrupsie saam met die talle uitdagings van tegnologie en sosiale media dwing my maklik om in ʼn donker gat te val en sonder enige hoop te lewe. 

Met sy dood en opstanding het Christus elke duisternis finaal oorwin. Hy stel die grense vas tussen lewe en dood.  Hierdie grense is soos die horison wat God op die see geplaas het. Dit is vas en onbeweeglik.  Hoe donker my omstandighede ook al mag wees, het Christus vir my die ewige lewe verwerf. 

Laat die Heilige Gees ons oë so verlig dat ons elke keer die Morester, Jesus Christus, op die horison raaksien. 

Dors vir meer:

Ps 66

Gebed

Vader, dankie dat U grense vasstel waarbinne ons deur U genade kan leef. Leer ons om voor die grootheid van U werke te beef. Amen

Petrus van Blerk

0824560235