Skrifgedeelte: Psalm 16 Teks wat tref: v6
Daagliks laat die gebeure rondom ons, ‘n dringerder behoefte na beskerming en skuiling ontstaan. In Psalm 16 moes Dawid vir sy vyande vlug en het hy homself dikwels in vreemde lande en plekke bevind. Baie situasies was vir hom gevaarlik en hy was gereels uitgelewer aan aanslae en druk deur omstandighede.
In sulke situasies het hy hom aan die Here oorgegee en berusting gekry in die feit dat hy aan die Here behoort. (v2)
In sy nabyheid aan die Here het hy God se versorging geniet. Deurdat hy bely dat dit wat hy ontvang, van die Here kom, kry hy berusting en vrede.
Al was sy lewensomstandighede moeilik, bely hy nogtans dat die Here vir hom ’n pragtige deel afmeet. Daarmee erken hy dat God oor alles beskik. Deurdat die Here letterlik vir hom ’n deel sorgvuldig “afmeet”, beteken dit dat Hy in elke nood en gebeurtenis waarin ek my mag bevind, reeds ’n plan het.
Dawid is so seker hieroor dat hy weet dat hy deur die dood sal gaan en ewig by die Here sal lewe.(v10) Daarom het ons rede tot oorvloedige blydskap.
Daarom kan ek altyd hoopvol bly, want uit die hand van die Here kom net wat mooi is.
Dors vir meer:
Ps 103, Ps 107
Gebed
Dankie Here vir alles wat U aan my uitdeel. Dankie vir alles waarmee U my versorg. Amen
Leave a Reply