Skriflesing: 1 Konings 8:22-66
Vers wat tref: 30. “Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog!”

Die Here gebruik Salomo se wysheid om die nodige diplomatiese bande te smee met die lande om Israel sodat alles wat nodig is om die tempel te kan bou ingevoer word. Lees gerus in 1 Konings 7 oor wat alles gebruik is om die tempel vir die Here te bou. Die beste vakmanne is gebruik en geen koste is gespaar om die tempel te voltooi nie.
Die fokus by die tempel is egter nie hoe dit gebou is nie, maar die inwyding van die tempel. Daarom is hoofstuk 8 die langste hoofstuk in die boek Konings.

Salomo bid dan hierdie besonderse gebed met die inwyding van die tempel. Die eerste bede handel oor die onvergelykheid van die Here. Hoe kan iemand vir die Here ʼn tempel bou as selfs die hoogste hemele Hom nie kan bevat nie? (Sien ook Jesaja 66:1). Hier sien ons dat God tegelyk naby en ver is. God kan nie beperk word met die tempel as woonplek nie, maar aan die ander kant, kan die volk weet dat God naby hulle is en hulle tot die tempel kan nader in aanbidding.
In Salomo se gebed word hierde balans vir ons mooi uitgewys. Salomo wat die Here vra om die volk se gebede te verhoor wat hul tot die tempel toe bid, maar die Here hoor die gebede aan vanuit sy hemelse woonplek. Die tempel is ʼn gebedshuis vir die volk, maar God se teenwoordigheid word nie beperk tot die tempel nie.
Salomo tree hier op as ʼn koning-priester wat die volk seën en vir hulle voorspraak doen by die Here. Hy roep die volk op tot bekering en om altyd volgens God se voorskrifte te leef.

Net soos die tabernakel is die tempel ook ʼn heenwysing na Jesus Christus. God wat onder ons kom woon het en duur aan die kruis betaal het, sodat ons met vrymoedigheid tot die Here kan bid. Ons het volle toegang tot die Here deurdat Christus vir ons die versoeningsoffer gebring het. Ons hoef nie te nader tot ʼn gebou in Jerusalem om die Here daar te aanbid nie. Die Here is self teenwoordig in ons deur die Heilige Gees. Ons self is nou tempels van die Here volgens 1 Korintiërs 6.
Leef en verkondig die Goeie Boodskap dat ons deur Christus altyd tot God kan bid.

Gebed
Groot en heilig is U Naam Here! Almal moet U loof en aanbid! Dankie dat ons tot U kan bid en dat U ons gebede verhoor, slegs ter wille van Jesus Christus. Amen.

Dors vir meer:
1 Korinthiërs 6:12-20.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei