Skrifgedeelte: 1 Sam 22:1-5 en Ps 57    

Teks wat tref: Ps 57:2

Ps 57:2  – “Wees my genadig, o God”

Die held van Israel wat vir Goliat verslaan het en talle suksesse op die oorlogveld behaal het, moes meermale vlug en het dikwels in grotte skuiling gaan soek. Dawid bevind homself hierdie keer in die Adullamgrot. Sy familie, elkeen wat in die moeilikheid was en talle ander wat met lewensvraagstukke worstel sluit by hom aan. Hy word hul leier en daar word van hom verwag om vir hul uitkoms te bewerkstellig.

Omstandighede veroorsaak dat ek ook soms op die vlug wil slaan en iewers in ʼn grot gaan skuil. Dit is ‘n natuurlike reaksie wanneer ek bedreig word.  Ek smag na ʼn plek van veiligheid waar ek kan vertoef om weer perspektief te kry.  So het almal wat by Dawid in die grot kom skuil het, verwag dat hy ʼn oplossing moet bring. Dawid onderhandel by Mispe met die koning van Moab vir die groep mense wat by hom kom skuil het om hul veiligheid te verseker.  Met die nodige maatreëls in plek, wend hy homself daarna tot die Here om te hoor wat God aan hom sal doen. 

Dit is goed om te midde van die aanslae van elke dag die veiligheid van ʼn grot te gaan opsoek. Dit is deel van God se GENADE om vir ons ʼn skuilplek te voorsien. Daar leer Hy ons om GEHOORSAAM te wees en maak Hy ons GEREED om verder te gaan. In die grot word Dawid versterk. In Psalm 57 teken hy sy belewenis op. Hy vind skuiling by die Allerhoogste. Hy weet dat God sy hulpgeroep hoor. Hy is seker dat die Here hom sal antwoord.  Hy beroep hom op die Here se liefde en trou. 

In ons nood leer ons die Here ken.  My worstelstryd is intens en dit voel soms dat mense en omstandighede my wil verskeur. Dan bly vertroue en gebed die oplossing. Saam met Dawid pleit ek dat die Here sy mag en grootheid sal toon. In God se teenwoordigheid word Dawid versterk en voel hy weer veilig. Nog meer. Hy skep weer moed. Hy sien nuwe lig. Hy wil die rooidag wakker maak. Hy wil vroeg opstaan en met die harp en lier die Here loof. 

Die profeet Gad besoek Dawid by Adullam in die grot. Hy gee opdrag dat Dawid nie langer daar mag bly nie,  maar na Juda moes trek.  Die Here wil Dawid gebruik om mense te bevry en veldslae te voer.  In my donkerste oomblikke mag dit soms voel dat ek vir ewig in ʼn grot wil skuil. Dat ek nagte om kan huil. Al kan ek ʼn tyd daar vertoef moet ek steeds gereed wees en vertrou dat God my gereed maak om weer verder te gaan en God se grootheid in die wêreld te vertoon. 

Dors vir meer:

Ps 142

Gebed

Here baie dankie vir U groot GENADE. Maak my GEHOORSAAM en GEREED om oral U grootheid te vertoon.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235