Galasiërs 3:1-14
Teks wat tref: Galasiërs 3:7-8

Heel moontlik het die dwaalleraars uit Genesis aangehaal om vir die Galasiërs te bewys dat almal besny moet word.
Paulus weerlê hulle met 6 aanhalings vanuit die Ou Testament om vir hul te wys dat die Here die verbond aan Abraham gegee het voor die wet en besnydenis.

In hierdie aanhalings word vir ons bevestig dat geloof die beginpunt is met ʼn verhouding met God, nie die wet nie. Daarom is persone wat glo, werklik “kinders van Abraham” en is Abraham geseën deur die heidinne wat ook tot geloof sou kom- die Skrif het vooruit hierna verwys.
Indien jy wou steun op die nakoming van die wet, val jy onder ʼn vloek want jy moet alles van die wet onderhou. (Deut. 27:26).

Christus het ons losgekoop van die wet, deur in ons plek ʼn vervloekte te word. (Deut. 21:23).
Die seën wat Abraham ontvang het, kom in Christus Jesus na die nasies toe. So het ons almal die Gees wat beloof is, deur die geloof ontvang.

Daarom kan ons as kinders van Abraham gereken word, omdat die Here getrou is en die verbond gehou het en nog steeds hou.
Amen.

Dors vir meer:
Romeine 4 en die Doopsformulier.

Gebed
Dankie Hemelse Vader dat ons deur die Geloof in Christus Jesus almal kinders van U is. Dankie dat ons nakomelinge is van Abraham kragtens die belofte en verbond wat U gemaak het.
Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.