Author: Karen de Lange (Page 2 of 33)

Dagstuk 10 November 2021 – Met watter gesindheid gee jy? (2/3) – Skriflesing: 2 Korintiërs 8:1-15

Skriflesing: 2 Korintiërs 8:1-15
Vers wat tref: 12-14. “As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie.
Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig.”

Die Here gee vir ons riglyne om te gee omdat ons die Here dank vir alles wat Hy aan ons gee en Hom ook vertrou vir als wat ons nodig het. In die Ou Testament kry ons die riglyn van ʼn tiende. Nêrens in die Nuwe Testament word hierdie riglyn opgehef nie, maar kry ons ook die beginsel dat “Elkeen moet volgens sy vermoë gee.” (1 Kor. 16:3).

In hierdie gedeelte van 2 Korintiërs 8 word daar vir ons bevestig dat die Here nie van ons verwag wat ons nie het nie. Daar word nie verwag dat jy gebrek moet ly om ander te help nie. Is jy dalk bang dat jy skade gaan lei as jy vir die Here gee? Wanneer kan ons met eerlikheid sê dat ons gebrek gaan ly as ons gee?
In Korinthiërs 9:7 staan: “God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.”

Hierdie gedeelte gaan nie net oor die gee van geld vir die gemeente in Macedonië om hulle in hul nood by te staan nie.
In vers 5 bly die vertrekpunt en hoogste prioriteit om jou self eers oor te gee aan die Here, en jou self te gee tot seëning vir ander. Die Here wil jou gebruik tot seëning vir ander.
Leef en gee as verantwoordbare bestuurders van alles wat die Here aan jou toevertrou het.
Gee aan ander en ontvang ook van ander wanneer jy in nood is. So kom daar ewewig en word die Here verheerlik en geprys.

Gebed
Here, dankie dat U ons seën in oorvloed en elke dag ons daaglikse brood ontvang. Lei ons om in volle oorgawe vir U te leef en ook vir ons naaste. Amen.

Dors vir meer:
1 Korintiërs 16:1-4.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 8 November 2021 – Met watter gesindheid gee jy? (1/3) – Skriflesing: Markus 12:41-44.

Skriflesing: Markus 12:41-44.
Vers wat tref: 9. “Daar het toe ‘n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het.!”

Jesus is besig om in die tempel onderrig te gee en het oorkant die offergawekis gesit en kyk hoe die skare kopermunte in die kis ingooi. Baie rykes het baie ingegooi. ʼn Arm weduwee gooi twee van die kleinste Romeinse muntstukke in die kis.
Vir hierdie offer roep Jesus die dissipels nader. Kyk wat het hierdie brandarm weduwee gedoen- sy het meer ingegooi as enige van die ander.
Almal het uit hul oorvloed ingegooi, maar sy het ten spyte van haar armoede alles wat sy gehad het ingegooi.

Wat wil die Here ons leer uit hierdie gedeelte? Moet ons alles wat ons het bring na die gemeente toe en dit in die kollekte sakkie plaas? Is armes belangriker as rykes?

Nee, dit is nie waarop Jesus hier fokus nie. Hy het uitgewys hoe die Fariseërs fokus op die uiterlike deur in die openbaar met mooi klere rond te loop en lang gebede bid, maar die huise van die weduwees verslind.
Die weduwee gee wat sy het vir die Here. Al weet sy haar gawe sal deur die Joodse Raad gebruik word, gee sy dit steeds, omdat sy aan God getrou bly
Die gee van offergawes is daarom nooit ʼn saak van prestasie of verdienste nie.
Ware offers vir die Here en ware dissipelskap soek nie na aansien en eer nie. Ware offers gaan oor die gesindheid van die hart waarmee dit gegee word.
Twyfel jy of jy iets van waarde vir God kan bring? Vir God is elke lidmaat kosbaar en elkeen het gawes van die Here ontvang, maak nie saak hoe oud of jonk jy is, ryk of arm jy is nie.

Die weduwee stel haar vertroue volkome in die Here en gee haarself aan God oor. Of jy ryk of arm is, jou gawe word nie verag nie. Jesus roep ons op tot ware dissipelskap waar jy jou self voluit vir die Here gee. Leef en gee met die regte gesindheid!

Gebed
Here dankie dat U nie U liefde van ons af weerhou het nie, maar ons die volle verlossing in Jesus Christus gegee het. Werk ook deur U Heilige Gees in my dat ek voluit as ʼn dissipel van U kan leef. Amen.

Dors vir meer:
Romeine 12:1-3.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 05 November 2021 – Gesprekke met God (3/3) – Skrifgedeelte: Mt 17:1-8   

Skrifgedeelte: Mt 17:1-8        Teks wat tref: v 5

Mt 17:5 – “Dit is my geliefde Seun oor wie ek My verheug. Luister na Hom”

Na Moses se laaste gesprek op aarde met die Here waarvan ons in Deut 34:5  lees, ontmoet ons hom weer saam met Jesus en Elia op ʼn hoë berg. Die Here se gesprekke vanaf die berg het gewoonlik veroorsaak dat die volk in angs gebewe het en dáár is die Here in al sy majesteit gesien.  Die volk was gewoond om die Here op ʼn hoë berg te ontmoet.  Vandaar het God sy wil bekend gemaak. 

Die verskyning van Moses en Elia is verteenwoordigend van God se beloftes in die Ou Testament. Op die berg word die verbond in Christus bekragtig. Dit is soos ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn. Daarom straal Jesus se gesig soos die son. Die helderheid daarvan verkondig dat alle duisternis verdryf is en gee hoop.  Hierdie verskyning wat skielik plaasvind berei vir Moses en Elia voor om saam met die dissipels gereed te wees om God se boodskap te hoor. Ons lees dat die Here vir Moses begrawe het en dat niemand geweet het waar sy graf is nie. Hierdie ontmoeting beklemtoon weer God se genade. Al was Moses ongehoorsaam word hy nou aanskouer van die heerlikheid van Christus.  

Die verheerliking op die berg is die voorteken van Jesus se opstanding wat volg. Die krag van ons Here Jesus Christus word openbaar. Christus het die dood oorwin. God noem Jesus sy geliefde Seun oor wie Hy Hom verheug. Die dissipels begryp nie dadelik wat hier gebeur nie. Eers wil hul drie hutte bou. Daarna gooi ʼn helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle en hoor hulle God se stem uit die wolk.  Hulle hoor die grootste boodskap van alle tye.  God verheug Hom oor sy geliefde Seun.  Dit beteken dat God sy Plan uitvoer om die verlore mens te red.  Dit bring vreugde en blydskap.  Dit vra reaksie.

Die Here beveel die dissipels wat bang geword het en op die grond neergeval het om op te staan.  Hulle word tot aksie geroep.  Hulle word vir verdere dienswerk voorberei.  Ons leer dat net Jesus vrees kan verdryf.  Ons moet leer om op Jesus te fokus.   Ons moet dankbaar wees dat die Here ons uit ons laagtes na die berg opneem om perspektief en hoop te kry.  Ons moet God gehoorsaam deur na Christus te luister. 

Dors vir meer:

Hab 2:1-4

Gebed

Vader, dankie dat ek deel het aan die volle heerlikheid van Christus. Dankie dat U my  leer om om te staan en help my om na U te luister. Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 03 November 2021 – Gesprekke met God (2/3) – Skrifgedeelte: Deut 34:1-12  

Skrifgedeelte: Deut 34:1-12      Teks wat tref:  v5

Deut 34:5 – “Moses, die dienaar van die Here, het daar in die land Moab gesterf soos die Here beveel het.”

Die lewensverhaal van een van die volk Israel se grootste leiers eindig stil en eenkant. Moses was ‘n held, volksman, leier, draer van God se wet en vriend van God. Hy beleef ʼn besondere verhouding met die Here en ontvang die genade om al die magtige dade, al die groot dade wat vrees inboesem, voor die oë van die hele Israel te doen. Tog is hy is ook net ʼn sondaar. Hy sterf alleen. Hy word deur God in ʼn vlakte naby Moab begrawe.

Hierdie verloop is in skrille kontras met Eks 33:11,17  waar hy beleef het dat die Here met hom soos ʼn man met sy vriend praat en hom uitermate seën en voorspoedig maak. Tydens sy laaste gesprek met die Here op die top van Pisgaberg gebeur daar twee dinge. God laat hom terugkyk op sy lewenspad en Hy laat Moses sy Plan sien.  Hy herleef al die belewenisse saam met die volk waarin God telkens oorwinning en voorspoed geskenk het.  Hy word aan sy eie ongehoorsaamheid herinner wanneer die Here hom meedeel dat hy nie na die land sal deurtrek nie.

Ons lees in Num 20:12 dat hy nie na God se opdrag geluister het toe die Here water uit ʼn rots voorsien het en hy besluit het om op die klip te slaan in stede daarvan om met die rots te praat nie.  Hiermee het hy God nie erken nie.  Tog laat die Here hom nie aan sy eie lot oor nie. God voer sy beloftes getrou uit. 

Na Moses se sterwe hou die Here se Plan nie op nie. Ons leer om in ʼn lewende verhouding met die Here te lewe.  God beskik oor alles en gebruik alles om Sy wil te laat geskied. God beveel Moses om vanaf die berg eers oos na wes en dan ook suid na noord te kyk. Vanaf die berg kry Moses die geleentheid om die grootheid van God se werke te beskou. Die beskrywing in die fynste detail beklemtoon dat God in beheer is.

Die laaste wat oor Moses geskrywe staan is dat hy God persoonlik geken het.  Hy was instrument in God se hand. Elke ontmoeting met die Here is ʼn hoogtepunt van my persoonlike geloofsbelewenis.  Christus maak dit moontlik dat ek elke dag met God in gesprek kan wees.  Laat ons optrede daagliks al die groot werke van die Here verkondig. 

Dors vir meer:

Num 20:1-13

Gebed

Here, dankie dat U my nooit alleen laat nie. Dankie dat Jesus Christus my ongehoorsaamheid wegneem. Gebruik my om U werke te verkondig. Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 01 November 2021 – Gesprekke met God (1/3) – Skrifgedeelte: Eks 33:7-23      

Skrifgedeelte: Eks 33:7-23        Teks wat tref: v11

Eks 33:11 – “Die Here het direk met Moses gepraat soos ʼn man met sy vriend.”

Pas na die Israeliete se uittog uit Egipte verval die volk in sonde. Hulle vergeet gou van hul nuutgevonde vryheid en kort voor lank lei hul optrede daartoe dat die Here hulle wil verdelg. Moses gaan slaan ʼn tent ver buite die kamp op waar hulle na die wil van die Here kan vra.   Daar beleef hy dat die Here direk met hom praat soos ʼn man met sy vriend.  God betoon hiermee sy genade en liefde vir ʼn volk wat moedswillig is.

Tydens een van hierdie gesprekke wou die volk verder trek en het Moses vir die Here gevra om hom mee te deel wie die Here saam met hom sou stuur.  Hy kan met vrymoedigheid tot God nader omdat die Here met hom soos ʼn man met sy vriend praat.  Op grond van hierdie openhartigheid skep hy moed en weet hy dat hy altyd op die Here kan vertrou. Die Here het hom op sy naam geken.  Die Here was hom goedgesind.   Hy kon die Here daaraan herinner dat hierdie nasie God se volk is. 

Meermale het Moses sy nood voor God kom uitstort. Soms moes hy regsake behartig, ander kere advies gee oor gepaste optrede en dikwels moes hy pleit dat God die volk se ongehoorsaamheid sou oorsien. Hy het ook besef dat hy vanuit homself nie opgewasse hiervoor was nie.  Hy vermeld ook sy persoonlike omstandighede en erken sy tekortkominge.

Moses se besondere en eiesoortige verhouding met die Here laat hom by uitstek God se teenwoordigheid en nabyheid beleef.  Sonder die Here wil hy niks aanpak nie.  Hy prys die Here vir sy genade wanneer die volk Israel anders is al die volke op die aarde.  

Deurdat Christus vir ons vrye toegang na sy Vader bewerk het, kan ons met vrymoedigheid met God in gesprek tree.  Na elke gesprek met die Here word Moses deur die Heilige Gees gelei om die pad saam met die volk aan te durf.  Hy word deur God verseker van veiligheid en sukses wanneer hy die versekering van die Here ontvang dat dit wat hy nou gevra het, die Here vir hom sal doen.  Tog het hy nie ʼn vrypas om te maak en doen soos hy wil nie.  Die Here stel perke. Op sy versoek om die Here te sien word hy nie afgewys nie maar betoon God sy genade deur hom in ʼn rotsskeur toe te maak. 

Hoe meer ek met die Here in gesprek is, hoe meer sal ek sekerheid kry oor God se wil. God sal my nooit afwys nie maar my eerder deur sy Gees verwys om die regte pad te vind.  

Dors vir meer:

Lk 10:38-42

Gebed

Here, dankie dat U met my praat soos ʼn man met sy vriend. Dankie dat U my op my naam ken.  Maak my gehoorsaam om U te volg.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 29 Oktober 2021 – Die wyse koning (3). – Skriflesing: 1 Konings 11:1-13

Skriflesing: 1 Konings 11:1-13
Vers wat tref: 9. “Die toorn van die Here het teen Salomo ontvlam omdat hy nie meer die Here die God van Israel gedien het nie”

Salomo het rykdom en wysheid in oorvloed gehad. Hy het naby aan die Here geleef. God was soos ʼn Vader vir hom. Maar nou lees ons hierdie hartseer woorde oor die koning aan wie die Here soveel genade gegee het: die vroue het sy hart verlei agter afgode aan sodat “sy hart nie meer
volkome met die Here was soos die hart van sy vader Dawid nie”.

Dwarsdeur die Bybel gee die Here hierdie eis: “My seun, gee my jou hart” (Spr 23:26). Jou hart is die sentrum van jou lewe, jou hart is wat jy is.
Hoe is jou hartsingestelheid teenoor die Here? Dien jy die Here volkome met jou hele hart?

Die Here het vir Salomo gewaarsku oor sy sonde. Hy het reeds ʼn vorige keer aan hom verskyn. Hy het geweet en hy is gewaarsku. Die koningskap gaan van hom af weggeskeur word en aan iemand anders gegee word.

Moenie dink ons is beter as Salomo nie. Sodra jou hart wegdraai van die Here is dit jou ondergang. Daarom is dit noodsaaklik dat die Heilige Gees daardie hart van klip verwyder en jou ‘n hart van
vlees gee. Noodsaaklik dat ons elke dag sal bekeer.
Die Here eis dat jy Hom van harte sal dien, of soos Jesus die wet ook saamgevat het in die eis om
liefde vir God met jou hele hart.
‘n Mens kan nie twee here dien nie. Jy kan ook nie sê jy gaan net saam met ander wat nie die Here dien nie. Dien die Here met jou hele hart, dan doen jy waarvoor jy geroep en gemaak is.

Gebed
Here dankie dat U my hart lewend gemaak het. Lei my om U altyd van harte te dien. Amen.

Dors vir meer:
Esegiël 36

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 27 Oktober 2021 – Die wyse koning (2). – Skriflesing: 1 Konings 8:22-66

Skriflesing: 1 Konings 8:22-66
Vers wat tref: 30. “Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog!”

Die Here gebruik Salomo se wysheid om die nodige diplomatiese bande te smee met die lande om Israel sodat alles wat nodig is om die tempel te kan bou ingevoer word. Lees gerus in 1 Konings 7 oor wat alles gebruik is om die tempel vir die Here te bou. Die beste vakmanne is gebruik en geen koste is gespaar om die tempel te voltooi nie.
Die fokus by die tempel is egter nie hoe dit gebou is nie, maar die inwyding van die tempel. Daarom is hoofstuk 8 die langste hoofstuk in die boek Konings.

Salomo bid dan hierdie besonderse gebed met die inwyding van die tempel. Die eerste bede handel oor die onvergelykheid van die Here. Hoe kan iemand vir die Here ʼn tempel bou as selfs die hoogste hemele Hom nie kan bevat nie? (Sien ook Jesaja 66:1). Hier sien ons dat God tegelyk naby en ver is. God kan nie beperk word met die tempel as woonplek nie, maar aan die ander kant, kan die volk weet dat God naby hulle is en hulle tot die tempel kan nader in aanbidding.
In Salomo se gebed word hierde balans vir ons mooi uitgewys. Salomo wat die Here vra om die volk se gebede te verhoor wat hul tot die tempel toe bid, maar die Here hoor die gebede aan vanuit sy hemelse woonplek. Die tempel is ʼn gebedshuis vir die volk, maar God se teenwoordigheid word nie beperk tot die tempel nie.
Salomo tree hier op as ʼn koning-priester wat die volk seën en vir hulle voorspraak doen by die Here. Hy roep die volk op tot bekering en om altyd volgens God se voorskrifte te leef.

Net soos die tabernakel is die tempel ook ʼn heenwysing na Jesus Christus. God wat onder ons kom woon het en duur aan die kruis betaal het, sodat ons met vrymoedigheid tot die Here kan bid. Ons het volle toegang tot die Here deurdat Christus vir ons die versoeningsoffer gebring het. Ons hoef nie te nader tot ʼn gebou in Jerusalem om die Here daar te aanbid nie. Die Here is self teenwoordig in ons deur die Heilige Gees. Ons self is nou tempels van die Here volgens 1 Korintiërs 6.
Leef en verkondig die Goeie Boodskap dat ons deur Christus altyd tot God kan bid.

Gebed
Groot en heilig is U Naam Here! Almal moet U loof en aanbid! Dankie dat ons tot U kan bid en dat U ons gebede verhoor, slegs ter wille van Jesus Christus. Amen.

Dors vir meer:
1 Korinthiërs 6:12-20.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 25 Oktober 2021 – Die wyse koning (1). – Skriflesing: 1 Konings 3

Skriflesing: 1 Konings 3
Vers wat tref: 9. “Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!”

Salomo word teen verwagting in as die opvolger van koning Dawid aangewys. Hy self is van die jongste van Dawid se seuns en besef dat hy wysheid kortkom om te kan regeer.
Salomo het sy liefde vir die Here getoon deur Gibeon toe te gaan en daar ʼn 1000 brandoffers vir die Here te bring. In ʼn droom verskyn die Here aan Salomo en vra hom wat hy graag wil hê.
Wat wil jy die graagste van die Here hê? Wat sou jy van die Here vra?

Salomo vra vir wysheid om regspraak te kan lewer oor die volk van die Here. Hy besef dit is die Here wat hom aangestel het oor hierdie groot volk om hulle te lei en te regeer. Die Here skenk vir hom hierdie wysheid, maar ook rykdom en ʼn lang lewe.
Wat is wysheid? Wysheid is nie net om akademies slim te wees nie. Salomo self skryf in Spreuke 1:7 “Ontsag vir die Here is die begin van kennis; wysheid en vermaning- net sotte verag dit.”

Ons het daarom wysheid nodig en in Christus is dit vir ons ʼn heerlike werklikheid. Deur die Heilige Gees ontvang ons die wysheid om in die Here te kan glo.
Ons het ook vandag wysheid nodig om as profete, priesters en konings te heers!
Hoe gebruik ons die gawes wat die Here vir ons gegee het?
Waar die Here jou roep en gebruik, onthou as jy wysheid kortkom, kan jy altyd daarvoor bid (Jakobus 1:5).
Leef vandag die wysheid dat die wat die Wysheid van God het, naamlik Jesus Christus, het die ewige lewe!

Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, ons wil sing van U goedheid, U liefde, U almag en U genade. Skenk ons die wysheid om te kan onderskei wat U wil is vir ons elke dag. Laat U Gees ons daartoe rig en lei, tot eer en verheerliking van U Heilige Naam. Amen.

Dors vir meer:
1 Korinthiërs 2.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 22 Oktober 2021 – ʼn Man na God se hart….. (6/6) – Skrifgedeelte: 1 Sam 23:1- 5 en Ps 63

Skrifgedeelte: 1 Sam 23:1- 5 en Ps 63

Teks wat tref:  1 Sam 23:2

1 Sam 23:2 – “Dawid het die Here geraadpleeg.”

Dawid spandeer ʼn baie groot deel van sy lewe aan gevegte met Israel se vyande.  Boonop was hy ook lank in ʼn stryd met Saul gewikkel wat hom wou dood maak. Hy word bekend as een van Israel se grootse leeraanvoerders. Pas nadat hy gehoor het dat die Filistyne besig was met ʼn hewige geveg teen Keïla en dat hul dorsvloer geplunder word, raadpleeg Dawid die Here om te hoor of hy tot die stryd moet toetree.  Sy manskappe verkeer reeds in gevaar en was huiwerig om na die skanse van die Filistyne op te trek.  Daarom raadpleeg Dawid die Here weer. Die Filistyne word in ʼn groot veldslag verslaan en al hul vee word as buit saamgevat. 

Wanneer die stryd intens is en die gevare van elke dag onverpoosd teen my aanrol, raadpleeg ek die Here ook. Dikwels moet my planne eers opraak alvorens ek God sal raadpleeg.  In Psalm 63:2  hoor ons by Dawid wat dit beteken om die Here te raadpleeg: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U.”  Om die Here te raadpleeg is nie maar net ʼn terloopse poging waarmee ek raad inwin nie. 

Dit is ʼn doelbewuste en weldeurdagte handeling waarmee ek na God se teenwoordigheid verlang.  Dit beteken dat ek by God in die heiligdom wil wees.  Dit is daar waar ek juig oor die beskerming onder die Here se vleuels.  Om God te raadpleeg beteken dat ek naby Hom sal bly. Dit is waar die Here se hand my ondersteun.  Gehoorsaamheid aan die Here het aan die manskappe by Keïla ʼn groot oorwinning besorg.  Hierdie sekerheid is elkeen wat die Here raadpleeg beskore.  Daarteenoor word die mond van die vals mens toegestop. 

In sy sterwens oomblik aan die kruis raadpleeg Christus ook sy Vader en vra dat die beker by Hom moet verby gaan.  Nogtans bid Hy dat God se wil moet geskied. Op grond hiervan hoef ek nooit bang te wees nie. Christus het die oorwinning reeds behaal. 

Dors vir meer:

Jes 55:1-6

Gebed

Here baie dankie dat U my vyande oorwin het. Laat elkeen wat hom op God verlaat, u Naam prys.  Dankie dat ek onder U vleuels mag skuil.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 20 Oktober 2021 – ʼn Man na God se hart….. (5/6) – Skrifgedeelte: 1 Sam 22:1-5 en Ps 57 

Skrifgedeelte: 1 Sam 22:1-5 en Ps 57    

Teks wat tref: Ps 57:2

Ps 57:2  – “Wees my genadig, o God”

Die held van Israel wat vir Goliat verslaan het en talle suksesse op die oorlogveld behaal het, moes meermale vlug en het dikwels in grotte skuiling gaan soek. Dawid bevind homself hierdie keer in die Adullamgrot. Sy familie, elkeen wat in die moeilikheid was en talle ander wat met lewensvraagstukke worstel sluit by hom aan. Hy word hul leier en daar word van hom verwag om vir hul uitkoms te bewerkstellig.

Omstandighede veroorsaak dat ek ook soms op die vlug wil slaan en iewers in ʼn grot gaan skuil. Dit is ‘n natuurlike reaksie wanneer ek bedreig word.  Ek smag na ʼn plek van veiligheid waar ek kan vertoef om weer perspektief te kry.  So het almal wat by Dawid in die grot kom skuil het, verwag dat hy ʼn oplossing moet bring. Dawid onderhandel by Mispe met die koning van Moab vir die groep mense wat by hom kom skuil het om hul veiligheid te verseker.  Met die nodige maatreëls in plek, wend hy homself daarna tot die Here om te hoor wat God aan hom sal doen. 

Dit is goed om te midde van die aanslae van elke dag die veiligheid van ʼn grot te gaan opsoek. Dit is deel van God se GENADE om vir ons ʼn skuilplek te voorsien. Daar leer Hy ons om GEHOORSAAM te wees en maak Hy ons GEREED om verder te gaan. In die grot word Dawid versterk. In Psalm 57 teken hy sy belewenis op. Hy vind skuiling by die Allerhoogste. Hy weet dat God sy hulpgeroep hoor. Hy is seker dat die Here hom sal antwoord.  Hy beroep hom op die Here se liefde en trou. 

In ons nood leer ons die Here ken.  My worstelstryd is intens en dit voel soms dat mense en omstandighede my wil verskeur. Dan bly vertroue en gebed die oplossing. Saam met Dawid pleit ek dat die Here sy mag en grootheid sal toon. In God se teenwoordigheid word Dawid versterk en voel hy weer veilig. Nog meer. Hy skep weer moed. Hy sien nuwe lig. Hy wil die rooidag wakker maak. Hy wil vroeg opstaan en met die harp en lier die Here loof. 

Die profeet Gad besoek Dawid by Adullam in die grot. Hy gee opdrag dat Dawid nie langer daar mag bly nie,  maar na Juda moes trek.  Die Here wil Dawid gebruik om mense te bevry en veldslae te voer.  In my donkerste oomblikke mag dit soms voel dat ek vir ewig in ʼn grot wil skuil. Dat ek nagte om kan huil. Al kan ek ʼn tyd daar vertoef moet ek steeds gereed wees en vertrou dat God my gereed maak om weer verder te gaan en God se grootheid in die wêreld te vertoon. 

Dors vir meer:

Ps 142

Gebed

Here baie dankie vir U groot GENADE. Maak my GEHOORSAAM en GEREED om oral U grootheid te vertoon.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

« Older posts Newer posts »