Category: Uncategorized (Page 10 of 33)

Dagstuk 07 Mei 2021 – Ek sal- Skrifgedeelte: Gal 6:1-10

Skrifgedeelte: Gal 6:1-10      Teks wat tref: Gal 6:2

Gal 6:2  “Dra mekaar se laste, en gee op die manier uitvoering aan die wet van Christus.”

Terwyl ek nou nie meer doen wat ek wil nie, maar wat ek mag in gehoorsaamheid aan God se Gees skryf Paulus laastens oor die dinge wat gelowiges sal doen. Hy noem veral drie dinge:

1) Dra mekaar se laste – v2

2) Ondersoek jou eie doen en late – v4

3) Moenie ophou om goed te doen nie – v10

Hierdie oproep word dikwels in die Bybel herhaal. Dit beklemtoon dat ek naastediens sal verrig. Om mekaar se laste te dra is baie edel en boonop ʼn bewys van onderlinge liefdesdiens. Dit gee praktiese uitvoering aan die optrede wat verwag word van iemand wat deur die Gees lewe. 

Die laste waarna hier verwys word, is nie beperk tot die fisiese inspanning om iemand se swaar vrag te help dra nie.  Dit sluit alles in waarmee ek kan help om my naaste se lewe te vergemaklik en draaglik te maak.  Om iemand se laste te help dra beteken dat ek baie naby aan daardie persoon sal kom.  Letterlik om in hul direkte teenwoordigheid te leef.  Uiteraard veronderstel dit ook dat die persoon my sal vertrou om hulp te kan verleen. 

Die opdrag in Gal 6 is egter nie net beperk tot my optrede teenoor ander nie.  Ek word gedwing om ook my eie doen en late te ondersoek en te bepaal of ek nie dalk met my optrede ʼn las op iemand anders se skouers plaas nie. 

Ons word elkeen opgeroep om op die akker van die Gees te saai en met verwagting uit te sien na die bestemde tyd wanneer die oes ingesamel word.  Intussen word van my verwag  om goed te doen – om deur die Gees te lewe. 

Dors vir meer:

1 Jh 3:11-17

Gebed

Here, leer my om die nood van ander raak te sien. Lei my deur U Gees om met sagmoedigheid op te tree en ander se laste ligter te maak. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 05 Mei 2021 – Ek mag – Skrifgedeelte: Gal 5:13-26

Skrifgedeelte: Gal 5:13-26      Teks wat tref: Gal 5: 16,25

Gal 5:25: “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”

Nadat Paulus in die eerste gedeelte van Galasiërs 5 teen ʼn “EK WIL” leefstyl gewaarsku het, behandel hy in die laaste gedeelte van hierdie hoofstuk die ander teenpool. Christus het ons van die slawejuk van die sonde bevry en is dit nou gepas dat die dinge wat “EK MAG” doen aandag geniet.  Dit is meer as ʼn aantal reëls wat nagevolg moet word.  Ons lewe moet deur die Gees van God beheers word. Gehoorsaamheid aan hierdie duidelike opdrag  sal ons bewaar om nie voor die begeertes van ons sondige natuur te swig nie.

Deur twee uiterstes lynreg teenoor mekaar te stel word dit duidelik waarom ek nie maar kan doen wat ek wil nie.  Daar is ʼn stryd tussen ons sondige natuur (“ek wil”) en die optrede wat die Gees van God wil.  Deelname aan die sondige praktyke sal daartoe lei dat die mens nie meer deel het aan die vryheid wat Christus aan die mens geskenk het nie.  Reeds in vers 13 word dit duidelik dat die mens mekaar in liefde moet dien. Deur van ʼn werkwoord (dien) gebruik te maak is dit duidelik dat God ʼn bepaalde optrede verlang.

Teenoor ʼn lewe wat deur die Gees van God beheers word, bring die Satan ‘n lewe wat gedryf word deur dit wat die mens begeer.  Deur van teenstellings gebruik te maak word dit duidelik watter optrede God verlang.  Paulus noem eers die praktyke van die sondige natuur.  Deelname hieraan ontstaan wanneer die mens begeer.  Dit is nie die bedoeling om ʼn volledige lys van die sondige praktyke te gee nie. In vers 19 word alle liggaamlike (vleeslike) begeertes afgewys. Paulus waarsku teen wellus. Daarna word gewaarsku teen begeertes wat in ons aanbidding kan bestaan (afgodery en towery) terwyl begeertes teenoor ons medemens in vers 20 en 21 aangedui word.  Alvorens die optrede wat deur die Gees van God geskenk word bespeek word, rig Paulus ‘n dringende waarskuwing: “Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis kry nie.”

Daarteenoor word die vrug van die Gees in vers 22 beskryf.  Teen sulke dinge het die wet niks nie. Dit is die dinge wat ek mag doen.  Dit staan in skrille kontras teenoor die dinge wat afgewys word.  Om te voorkom dat ons onder mekaar sou spog oor die hoeveelheid goeie eienskappe ek moontlik kan vertoon word daar na dié optrede as die vrug – in enkelvoud – verwys. Die een eienskap veronderstel en sluit tegelyk al die ander in.  Daar word ʼn baie hoë premie op sodanige leefwyse geplaas. Deur God se genade het ons oorwin en het ons die sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.  Daarom mag ek nooit verwaand wees, ander uittart of op mekaar afgunstig wees nie.  

Nou doen ek nie meer wat ek wil nie, maar wat ek mag gelei deur God se Gees.

Dors vir meer:

Romeine 7

Gebed

Here, baie dankie dat U my van die sonde vrygekoop het.  Help my om U bo alles en my naaste soos myself lief te hê. Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 03 Mei 2021 – Ek wil – Skrifgedeelte: Gal 5:1-12

Skrifgedeelte: Gal 5:1-12      Teks wat tref: Gal 5:1

Gal 5:1  – “Christus het ons vry gemaak om werklik, vry te wees..”

Paulus spreek een van die mens se mees basiese behoeftes aan.  Niemand hou daarvan dat ander vir jou voorskryf hoe jy moet leef en optree nie.  In talle argumente hoor ons die woorde – “EK WIL” . Die gemeente in Galasië is deur dwaalleerraars beïnvloed wat ʼn valse vryheid voorgehou het. 

Die mens wil vry wees van sosiale en politieke onderdrukking. Ons wil vry wees van beheer en sensuur. Ons wil gevrywaar word van teleurstellings. Talle petisies en betogings pleit daarvoor dat alle reëls geskrap word en dat die mens vry kan wees om te maak soos hy goed dink.  Die implikasie van hierdie soort vryheid is voor die hand liggend. Dit sou daartoe lei dat daar geen orde en stabiliteit in die samelewing sou wees nie.  Elkeen sou die reg in eie hande wou neem.  Algehele losbandigheid en sedeloosheid sou die wêreld onleefbaar en onregeerbaar gemaak het.  Met sodanige beskouing is ons niks meer of enigsins anders as slawe nie. 

Met ʼn “EK WIL” benadering leef ons volgens die verloop van die natuur en beheers ons sondige begeertes en drifte ons lewens.  Dit is net Christus wat ons hiervan kan bevry. Om vry te wees, is net genade en kan alleen net in Christus verwesenlik word. Daarom word ons vermaan om vas te staan en ons nie weer onder ʼn slawejuk te laat indwing nie.  

Nou dat dit duidelik is dat vryheid nie beteken dat ek sonder reëls en regulasies leef nie, luister ons noukeurig na dit wat God van ons verlang.  In die geval van die lidmate in Galasië verval die besnydenis en blote wetsonderhouding. In die plek daarvan kom Christus se soenverdienste. As vrygemaakte beteken dit nou dat my hele lewe aan Christus toegewei is.  My lewe is aan Christus gebind.  Dan beteken vryheid dat ek met begrip optree. Dat my dade van liefde sal spreek. Dat geduld my optrede temper en dat ek ʼn gesindheid openbaar om ander te vergewe. 

Vryheid beteken nie om niks te doen nie.  Vryheid ontneem my van ʼn “EK WIL” benadering en vervul my met die Gees van God.  Hierdie vryheid is duur en kosbaar.  Dit laat ons saam met Paulus uitroep: “deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word.”

Ek is net werklik vry as en aan Christus gebind is. 

Dors vir meer:

Ps 25

Gebed

Here, baie dankie dat U my van die ewige las van die sonde bevry het.  Help my om aan U gehoorsaam te wees en my eie wil te laat vaar.  Amen

Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk Vrydag 30 April 2021. – Slaaf of seun? -Galasiërs 4:21-5:1.

Galasiërs 4:21-5:1.
Teks wat tref: Galasiërs 4:28

In hierdie gedeelte kry ons ʼn figuurlike vergelyking vanuit die Ou Testament (allegoriese argument). Hoekom gebruik Paulus hierdie beeld? Om vir die dwaalleraars weereens aan te wys dit help nie jy roem dat jy van Abraham afstam nie. Abraham het buiten Isak nog ʼn seun gehad, Ismael by die slavin Hagar. Abraham het nie die belofte van die Here geglo nie, en sodoende self probeer om ʼn nageslag te verseker deur Sara se slavin Hagar te neem. Later is Isak wel deur die belofte gebore en toe word Hagar en Ismael weggejaag na Arabië.

Weereens word uitgelig dat indien jy probeer om jou verlossing te verdien deur die wet na te kom, is jy besig met geestelike slawerny. Jy kan Abraham as vader hê maar deur die wet jou as ʼn slaaf bevind. Jy kan nie God se goedkeuring verdien deur net die wet te hou nie.
Sien eerder die geestelike vryspraak raak wat God deur Jesus Christus gee. Deur die geloof in Jesus Christus, is ons kinders van God- nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God (Gal. 3:29)

Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees!

Amen.

Dors vir meer:
Johannes 8:31-47

Gebed
Here, omdat U ons Vader is en omdat U naby ons is, help ons om oor niks besorg wees nie. Met gebed, smeking en danksegging wil ons ons begeertes aan U bekend maak. En mag die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, oor ons harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. (Fil.4:6-7)

Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Woensdag 28 April 2021. – Christus moet in jou lewe gestalte kry. – Galasiërs 4:12-20

Galasiërs 4:12-20
Teks wat tref: Galasiërs 4:19

In hierdie gedeelte hoor ons dat Paulus nie beplan het om na Galasiërs toe te reis nie, maar dat hy siek geword het en gedwing was om by hulle oor te bly. So beskik die Here dat ook deur Paulus se siekte die evangelie op die regte plek verkondig word. Al was Paulus siek is hy hartlik ontvang (vreemde siek persone is nie sommer ingeneem nie). Die gemeenskap het Paulus baie mooi versorg, soveel dat Paulus noem hul bereid was om hul oë vir hom te gee, indien dit moontlik was. Hulle was bly om Paulus te ontvang, want deur hom het hul die evangelie van Jesus Christus ontvang. Paulus het die vryheid, volheid en vreugde wat Paulus hy in Christus beleef het, ook met hulle gedeel. Christus het gestalte in sy lewe gevind.

Paulus wil nie harde woorde gebruik met die gemeente nie, maar daar het vyandskap gekom deurdat die dwaalleraars hom swart gesmeer het by hulle. Waar is die hartlike gasvryheid nou? Pasop dat ons optrede teenoor ander persone nie sommer so vinnig verander nie, maar dat ons optrede en gesindheid teenoor ander altyd gedryf word deur Christus se liefde vir ons.

Nou beleef Paulus weer geboortepyne, nie sodat hulle in Jesus Christus moet glo nie – hulle glo reeds in Jesus Christus – maar sodat Christus Jesus in hulle gestalte sal kry. Sodat hulle bly by die waarheid van die evangelie van Jesus Christus en die gestalte van Jesus Christus sal uitdra na buite?
Leef jy as ʼn dissipel van Jesus Christus wat die gestalte van Jesus Christus uitleef aan ander?
Amen.

Dors vir meer:
Efesiërs 4:1-16

Gebed
Ons hemelse Vader! Dankie dat ek nuutgebore is deur U Heilige Gees. Help my om meer en meer die beeld van Jesus Christus sal uitleef en die evangelie altyd verkondig. Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 26 April 2021. – Nie meer slawe, maar kinders van God.- Galasiërs 4:1-11

Galasiërs 4:1-11
Teks wat tref: Galasiërs 4:5.

Paulus gebruik hier nog ʼn bekende beeld om te wys hoekom die wet vir die Jode gegee is om te onderhou voordat Christus gekom het.

Indien ʼn vader sou sterf, noem hy in sy testament ʼn ouderdom waarop die seun dan self beheer neem van die volle erfporsie. Totdat hierdie tyd aangebreek het, verskil die posisie van die seun nie veel as die van ʼn slaaf nie. Alhoewel hy alles erf wat sy vader vir hom nalaat, het hy self nog geen beheer oor die bedoel nie. Hy moet die bevele nakom van die wat oor die bedoel aangestel is. Net soos ʼn slaaf moet hy die bevele volg tot die datum wat deur die vader daar gestel is. Wanneer hierdie datum aanbreek, dan neem die seun volle beheer oor die erfenis- hoekom sal hy wil teruggaan na die vroeëre wat bedoel was totdat die regte tyd aangebreek het?

So het God die Vader dan ook die wet aan die volk gegee totdat die regte tyd aangebreek het vir Christus om mens te word en almal onder die wet kon loskoop. (hier word die beeld gebruik van ʼn slaaf wat vrygekoop word). Losgekoop sodat ons as sy kinders aangeneem kan word. Dit word verder bevestig deur die Heilige Gees wat in ons harte roep: Abba wat die Arameërs is vir Vader.

Voorheen was ons slawe (verslaaf aan sonde). Noudat jy God leer ken het- of liewer, noudat jy deur God geken is-hoekom sal ons wil teruggaan na die vroeëre ?

Lewe in hierdie vryheid wat duur vir ons betaal is deur Jesus Christus se kruisdood en opstanding. Lewe as kinders van ons hemelse Vader en dien mekaar met liefde!

Amen.

Dors vir meer:
Romeine 8:1-17.

Gebed
Here, dankie dat ek tot U kan roep Vader! Dankie dat ek as U kind deel in die erfenis van die ewige heerlikheid omdat ek vrygekoop is deur Jesus Christus. Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Vrydag 23 April 2021. – Hoekom dan die wet? – Galasiërs 3:19-25

Galasiërs 3:19-25

Teks wat tref: Galasiërs 3:23

Die doel van die wet is om ons na Christus toe te dryf. Herhaaldelik is in Galasiërs vir ons uitgewys die wet kan nie vir ons die regverdiging gee nie.

Die wet is gegee met die oog op die sonde totdat die Saad (Jesus Christus) sou kom. Dit het nogtans ʼn funksie en is nie in stryd met die beloftes van God nie.
Twee beelde van die funksie van die wet word hier gegee.
In die eerste plek is die wet gegee sodat ons ons oortredings kan sien. ʼn Vergroot wat uitwys wat daar reeds is. Calvyn sê: Ons sondes is soos ‘n dief wat wegkruip in die grot van geveinsdheid. Maar deur die wet stel God ons sondes in die lig.

In die tweede beeld was die rol van die wet die as ʼn oppasser (tugmeester). Hierdie beeld wat gebruik word is ʼn oppasser wat kinders opgepas het en veral gekyk het na hulle dissipline. Dit was ʼn slaaf wat saam met die kinders skooltoe gestap het en hulle die hele dag opgepas het. Die wet se funksie was om op te pas en te beskerm totdat Christus sou kom. Ook deur die offers van die wet word ons gelei na die enigste een wat ons kan verlos: Christus.
Duidelik word daar weereens vir gestel dat Christus moes kom, ons kan net deur die geloof alleen regverdig word en nie deur die uitvoering van die wet nie.

Die hele Ou Testament, die ganse wet met al sy gebooie en seremonies en wette is God se
wysvinger na Christus toe. Die wet is ‘n dienskneg van die genade. Dit staan in diens van
Christus en nie los of teenoor Christus nie. Die wet dryf ons weg van onsself en in die arms van Christus. Christus is die vervulling van die wet.
Deur die geloof in Christus alleen kan ons voor God staan as regverdiges- persone wat geen deel van die wet oortree het nie en kan deel in die erfenis van die ewige lewe.

Amen.

Dors vir meer:
Romeine 7.

Gebed
Here, sien my ook vandag aan in U liefde en genade. EK bely my sonde voor U en dank U vir die genade in Jesus Christus.
Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Woensdag 21 April 2021. Dié wat glo is kinders van Abraham! – Galasiërs 3:1-14

Galasiërs 3:1-14
Teks wat tref: Galasiërs 3:7-8

Heel moontlik het die dwaalleraars uit Genesis aangehaal om vir die Galasiërs te bewys dat almal besny moet word.
Paulus weerlê hulle met 6 aanhalings vanuit die Ou Testament om vir hul te wys dat die Here die verbond aan Abraham gegee het voor die wet en besnydenis.

In hierdie aanhalings word vir ons bevestig dat geloof die beginpunt is met ʼn verhouding met God, nie die wet nie. Daarom is persone wat glo, werklik “kinders van Abraham” en is Abraham geseën deur die heidinne wat ook tot geloof sou kom- die Skrif het vooruit hierna verwys.
Indien jy wou steun op die nakoming van die wet, val jy onder ʼn vloek want jy moet alles van die wet onderhou. (Deut. 27:26).

Christus het ons losgekoop van die wet, deur in ons plek ʼn vervloekte te word. (Deut. 21:23).
Die seën wat Abraham ontvang het, kom in Christus Jesus na die nasies toe. So het ons almal die Gees wat beloof is, deur die geloof ontvang.

Daarom kan ons as kinders van Abraham gereken word, omdat die Here getrou is en die verbond gehou het en nog steeds hou.
Amen.

Dors vir meer:
Romeine 4 en die Doopsformulier.

Gebed
Dankie Hemelse Vader dat ons deur die Geloof in Christus Jesus almal kinders van U is. Dankie dat ons nakomelinge is van Abraham kragtens die belofte en verbond wat U gemaak het.
Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 19 April 2021. Waar het jy begin en waar wil jy eindig? – Galasiërs 3:1-5

Galasiërs 3:1-5
Teks wat tref: Galasiërs 3:3
“Is julle so dwaas? Julle het met die krag van die Gees begin; gaan julle nou met menslike krag eindig?”

Paulus is kwaad vir die gemeente van Galasiërs. Duidelik is die evangelie aan hulle verkondig- so duidelik dat hulle as’t ware Christus self aan die kruis sien hang het.
Hoe kan hul nou so sonder begrip wees (het iemand hul getoor)?

Wie wil met iets slegter eindig as waarmee jy begin het? Dit maak nie sin dat die gemeente ʼn ander leer wil aanhang wat hul wegneem van dit wat goed is nie.

Hoe kom persone tot geloof? Is dit omdat hulle die wet hou of die evangelie glo? As ons die wet probeer hou, dan word ons juis bewus van ons sonde en onvermoë om die wet te kan hou. Die wet kan nie vir ons die redding gee nie, maar leer ons dat ons genade en vergifnis nodig het.
Deur die krag van die Heilige Gees is daar aan ons geloof geskenk omdat ons die evangelie gehoor het.
Dit is waar ons begin het. Waar wil jy dan eindig? Ons kon nie in ons eie krag begin nie, net so wil ons ook nie in eie krag eindig nie.

Ons wil verder leef in die geloof en vertroue in die Here Jesus Christus. Dit is net die Heilige Gees wat ons op die pad van volharding en heiligmaking lei.
Die Here rus ons toe met die Heilige Gees en werk kragtig onder ons deur die Heilige Gees.
Moenie dat ons dit ooit wil verruil vir ʼn ander evangelie nie.
Ons is bevry van die sondeskuld deur Jesus Christus wat ons regverdig gemaak het. Moenie nou ʼn las op jou self kom plaas nie – maar beleef die troos dat Jesus Christus ons Leidsman is, dat die Here ons vashou en bring tot die ewige lewe!

Amen.

Dors vir meer:
Efesiërs 1:1-14

Gebed
Dankie Here dat U die geloof aan ons skenk deur U Heilige Gees. Lei ons om nie in eie krag te probeer leef nie, maar deur U Gees en Woord.
Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631

Dagstuk Vrydag 16 April 2021. -Leef in lyn met die evangelie! – Skriflesing: Galasiërs 2:11-20

Skriflesing: Galasiërs 2:11-20
Teks wat tref: Galasiërs 2:12 en 14.

Paulus en Petrus (Sefas) beleef twis met mekaar.
Petrus het aanvanklik saam met die nie-Jode aangesit om te eet (en moontlik ook die nagmaal gevier). Toe kom daar persone vanaf Jerusalem wat voorstanders van die besnydenis was (bly by die Joodse wette).
Terwyl hierdie groep mense daar is, het Petrus hom ontrek en eenkant gehou en nie meer soos voorheen saam met die nie-Jode geëet nie. Nie net Petrus het dit gedoen nie, maar vinnig het die ander Joodse Christene ook sy voorbeeld gevolg.
Petrus het toegegee aan die groepsdruk deurdat hy hom gesteur het aan wat ander persone dink.

Wat sê Paulus hiervan? Petrus was besig om van die reguit pad van die evangelie af te wyk (letterlik in die Grieks- sy voete trap skeef).
Dit gaan nie net hier oor persoonlike verskille nie, maar Petrus wat deur sy veranderende optrede sê dat die almal nou soos die Jode moet maak. Die hart van die evangelie is in gedrang. Christus + Uitvoering van die wet is nodig vir regverdigheid word hier geleer.
Petrus is weer skaam vir mense (soos met Christus se kruisiging) en weg is die Petrus van Handelinge 11 wat saam met Cornelius geëet het en dit verdedig het.
Daarom moet ons optrede en belydenis dieselfde getuig. Getuig jou lewe dat jy op die reguit pad en by die waarheid van die evangelie bly?

Dors vir meer:

Handelinge 11:1-18.

Gebed

Here my Here! Lei my voete om reguit spore te trap binne die waarheid van die evangelie. Help my om nie te doen wat mense wil hê nie, maar wat U wil hê.

Amen.

Danie Potgieter

072 272 9631

GK Rietvallei.

« Older posts Newer posts »