Skrifgedeelte: Psalm 16 Teks wat tref: v6
Daagliks laat die gebeure rondom ons, ‘n dringerder behoefte na beskerming en skuiling ontstaan. In Psalm 16 moes Dawid vir sy vyande vlug en het hy homself dikwels in vreemde lande en plekke bevind. Baie situasies was vir hom gevaarlik en hy was gereels uitgelewer aan aanslae en druk deur omstandighede.
In sulke situasies het hy hom aan die Here oorgegee en berusting gekry in die feit dat hy aan die Here behoort. (v2)
In sy nabyheid aan die Here het hy God se versorging geniet. Deurdat hy bely dat dit wat hy ontvang, van die Here kom, kry hy berusting en vrede.
Al was sy lewensomstandighede moeilik, bely hy nogtans dat die Here vir hom ’n pragtige deel afmeet. Daarmee erken hy dat God oor alles beskik. Deurdat die Here letterlik vir hom ’n deel sorgvuldig “afmeet”, beteken dit dat Hy in elke nood en gebeurtenis waarin ek my mag bevind, reeds ’n plan het.
Dawid is so seker hieroor dat hy weet dat hy deur die dood sal gaan en ewig by die Here sal lewe.(v10) Daarom het ons rede tot oorvloedige blydskap.
Daarom kan ek altyd hoopvol bly, want uit die hand van die Here kom net wat mooi is.
Dors vir meer:
Ps 103, Ps 107
Gebed
Dankie Here vir alles wat U aan my uitdeel. Dankie vir alles waarmee U my versorg. Amen
Author: Karen de Lange (Page 33 of 33)
Skrifgedeelte: Jer 29:1-14 Teks wat tref: v11
Die INPERKING (LOCKDOWN) laat ons amper soos ‘n balling in ’n vreemde land voel. Dit is vir ons elkeen ’n tyd van onsekerheid. Omdat ons dit nie ken sal daar baie ontwrigtinge en uitdagings wees. Dit sal jou allermins hoopvol maak.
Aan so ’n verslae volk wat onder vele laste gebuk gegaan het, skryf Jeremia dat die Here hulle situasie sal verander.
Miskien wonder jy ook dikwels wat die toekoms vir jou sal inhou. Dalk verlang jy ook daarna dat jy uit die huidige greep van gebeure wat jou onderkry verlos kan word. Jy is dalk nie ’n balling in ’n vreemde land nie, maar ervaar tog druk en swaarkry.
Hou moed, want die Here weet wat Hy beplan. Hy wil aan sy kinders voorspoed en uitkoms gee. Om dit te bewerk, gee Hy ’n aantal opdragte aan sy volk:
- Bou huise
- Lê tuine aan
- Trou en bring kinders in die wêreld
- Bid vir die belange van die stad
Miskien redeneer jy dat dit onmoontlik is om hierdie dinge te doen terwyl jy swaarkry. In die huidige situasie. Tog het God ’n bedekte plan gehad. Deur aan sy opdragte uitvoering te gee, sou die volk meewerk om hul eie situasie te verander.
God gebruik juis die alledaagse en vanselfsprekende om sy plan uit voer.
Noudat ek weet wat Hy vir my beplan, kan ek hoopvol bly. My toekoms is in die Here se plan!
Dors vir meer:
Jh 3:1—16, Hd 16:34
Gebed
Here, leer my om U plan raak te sien. Maak my ywerig om in U diens te volhard en op U beloftes te bly wag. Amen
Skrifgedeelte: Klaagliedere 3:20-28 Teks wat tref: v21-22
Dit klink amper nie of dit dieselfde persoon is wat Klaagliedere 3:20-28 skryf nie. In die eerste klomp verse draai sy gedagtes vas. Maar dan bring geloof in die Here ’n wending.
Teenoor die duister en elllende is daar nou ’n ander uitkyk. Die skrywer is skielik hoopvol. Hy sien die Here se liefde raak.
Al het sy situasie nie verander nie, is daar ’n ander uitkyk. Dit maak hoopvol. Teenoor alles wat jou daagliks wil aftrek en onderkry, wil die Here jou opbeur. Hy doen dit deur die skrywer aan ’n paar waarhede te herinner:
- Die liefde van die Here laat hom nie vergaan nie (v22)
- God se ontferminge is elke môre nuut – Hy is intens by my bestaan betrokke (v22)
- Sy trou (bewaring en beskerming) is groot (v23)
- Die Here gee sy hulp deur te versorg en te voorsien (v26)
Daar word ook ’n paar riglyne gegee wat ek kan gebruik om sin van alles te maak:
- Gebed – Leef in noue kontak met God
- Geduld – Gesindheid waarmee ek my situasie kan hanteer
- Laste te dra – Bereidheid om verantwoordelikheid te neem vir my omstandighede
- Hoop – Dit gee moed dat die Here sy trou sal openbaar.
Die skrywer van Klaagliedere het dikwels nog ellende belewe, maar kon hoopvol bly omdat hy die Here se trou en liefde in sy volk se geskiedenis kon waarneem.
Nou is Christus die grootste bewys van God se liefde – Vertrou op Hom!
Dors vir meer:
Ps 16, Eks 34:6,7
Gebed
Dankie Here dat U my nie laat vergaan het nie. Dankie vir U liefde. Leer my om op U te vertrou. Amen.
Seëngroete
Ds Petrus
Onthou om enige tyd ook met die predikante te skakel vir pastorale begeleiding en navrae.
Ds Petrus van Blerk 0824560235 – petrus@nullgkrietvallei.co.za
Ds Danie Potgieter 0722729631 – danie@nullgkrietvallei.co.za
Ons doen nou Facbook live video streaming.
Jullle kan die volgende links volg om die live video te sien.
https://www.facebook.com/GKRietvallei/Of
https://www.facebook.com/pg/GKRietvallei/videos/?ref=page_internal