Category: Uncategorized (Page 16 of 33)

Dagstuk 23 November 2020 – U Woord gee lewe

Skrifgedeelte:    Psalm 119:105, 132-146                        Teks wat tref: v105
 
Ps 119:105 – “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad”
 
Psalm 119 is baie keer net aan ons bekend as die langste hoofstuk in die Bybel.  Die ryke inhoud daarvan gee riglyne vir ons daaglikse lewe. Alhoewel daar nie sekerheid oor die skrywer is nie, word dit tog duidelik dat die digter worsteling beleef het met ellende, sonde, sameswerings en aanvegtings. Telkens bely hy dat daar net een oplossing is —- die woord van die Here. 
 
Volgens oorlewering het Dawid hierdie Psalm gebruik om vir Salomo die alfabet te leer skryf maar dat dit inderdaad soos ʼn geestelike alfabet vir die lewe is. 
 
Feitlik elke vers beklemtoon die waarde van God se Woord om lewe te gee, lig te verskaf, rigting te gee en geregtigheid te laat geskied. Dit word veral duidelik in vers 132-146 waar die digter sy intense worstelstryd beskryf. Fisies is hy gebreek en platgeslaan. Daarom smag hy met sy hele wese na God se gebooie. Ontsteltenis verteer hom. Angs en benoudheid oorval hom. Hy roep na die Here om sy gebede te verhoor. Geestelik verlang hy daarna dat sy lewensomstandighede moet verander.
 
Dit kan alleen plaasvind wanneer daar ʼn verandering plaasvind.  Dit is die Woord van God wat lewe gee. Teenoor sy doodsbestaan wat gekenmerk word deur die belewenis van duisternis en donker is daar ʼn oplossing.
 
Die begrip van lig en lewe word meer male in die Bybel gebruik om hoop en rigting te gee. In Psalm 119 word hierdie sekerheid na elke worstelstryd beklemtoon.  Dit is veel meer as net ʼn geestelike bevryding.  Die lig op die digter se pad word ook letterlik verstaan.  Die woord wat gebruik word dui hier op ʼn lamp wat gebruik is om die pad te verlig. Dit is gewoonlik in die hand gedra om die onmiddellike omgewing waar jy geloop het te verlig.  . Elke reisiger sou dan ʼn eie lamp saamgeneem het.  Ander reisigers kon ook die lampe raaksien en so was daar dan lig vir almal op die pad. 
 
As jou lewe vandag stukkend is en jy platgeslaan is deur sonde, aanvegtings en met lewensvraagstukke worstel, is die woord van God die beste plek om lig en lewe te kry!
 
Dors vir meer:
Spr 3:1-10
 
Gebed
Here, baie dankie vir alles wat ons elke dag ontvang. Dankie dat U die duisternis verdryf en ons lewens deur U Heilige Gees verlig. Maak my in u Koninkryk diensbaar.  Amen
 
Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 20 November 2020 Saul se sonde stapel op.

Skrifgedeelte: 1 Samuel 22:6-23
Teks wat tref: 1 Samuel 22:17-18.

Saul se sonde raak al hoe meer. Waarin is hierdie sonde van hom gesetel? In sy eie selfsugtige begeertes. Hy beleef dat Dawid meer liefde en aansien onder die volk beleef. Van Dawid sing die mense: Saul het duisend verslaan, Dawid tienduisend. Saul is jaloers en afgunstig op Dawid. Saul beleef nie Dawid se oorwinning as ʼn oorwinning vir hom en die volk nie. Saul soek alleen die aandag en eer. Al is Dawid sy skoonseun, wil hy laat niks in sy pad staan om hom dood te maak nie. Jonatan het vir Dawid gewaarsku van sy pa se plan en Dawid kon vlug vir sy lewe. So het Dawid gekom by Agimelek in Nob en die priester het hom versorg en Goliat se swaard gegee. Saul is woedend toe hy dit verneem. Nou wil hy nie meer net vir Dawid doodmaak nie, maar die hele priester gemeenskap. So vererger sonde as ons nie daarvan bekeer nie. Dit begin met ʼn klippie wat van ʼn berg afrol en spoedig vererger dit tot ʼn rotsstorting en dan is dit al hoe moeiliker om dit te keer. Niemand van die volk waag dit om hul hand te lig teen die priesters van die Here nie. Dit is die punt waar Saul moes besef, hierdie opdrag wat ek gegee het is baie verkeerd. Maar wat doen Saul toe? Hy soek verder na iemand wat saam met hom sal meedoen aan die sonde en vind dit in Doëg die Edomiet. Doëg wat hoop op ʼn aardse beloning van grondgebied.
Hieruit sien ons weereens hoe belangrik is dit om nie toe te gee aan die selfvernietigende krag van jaloesie, jaloesie wat jou stroop van alle redelikheid. Maak dood hierdie vlammetjie van haat as dit kop wil uitsteek in jou lewe. Lewe vanuit die liefde wat daar vir ons is in Jesus Christus. Streef daarna om die vrug van die Gees uit te leef. Want deur Jesus Christus se kruisdood is daar nou vir vrede. Ons kan laat gaan en vergewe, want soveel meer is van ons vergewe in Jesus Christus. Moenie met die vlam van sonde gaan speel nie, dit gaan jou doodbrand.

Dors vir meer:
Galasiërs 5:13-26 en Romeine 12.

Gebed
Here dankie dat ek vrygemaak is van die slaweband van die sonde. Lei my om nie toe te gee aan my sondige begeertes nie, maar om te leef volgens die vrug van die Heilige Gees. Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631

Dagstuk 19 November 2020 Is God te hard met ons?

Skrifgedeelte: 1 Samuel 15.
Teks wat tref: 1 Samuel 15:10-11.

As kind, wanneer jou ouer met jou geraas het omdat jy iets verkeerd gedoen het, wat was jou reaksie? Hoe kan ma/pa so hard met my wees? Hoekom is hulle so ongevoelig? Pa en Ma het my nie lief nie. Dink ons dalk nie ook so oor die Here nie? Ons sien nie raak hoe ernstig ons oortreding is nie en wil net op die erns van God se straf fokus. Daarom is dit belangrik dat ons God in sy volheid reg met ken. Ons moenie net so op die Here se regverdigheid en oordeel fokus, dat ons nooit die Here se onsettende groot liefde raaksien nie en net in ʼn verhouding van vrees lewe nie. So ook kan ons nie net op God se liefde fokus, maar nooit ons eie sondeskuld raaksien nie.

Die Here het nie vir Saul sommer so verwerp nie. Elke keer roep Samuel Saul terug tot gehoorsaamheid. Luister na die Woord van die Here. Bly op die Here vertrou en lewe gehoorsaam aan sy bevel. So sien ons hier in hoofstuk 15 dat die Here lankmoedig en geduldig is met Saul. Die Here het belowe Hy sal teen die Amalekiete optree omdat hulle Israel aangeval terwyl hul in die woestyn was. Kyk net hoe laakbaar het die Amalekiete opgetree in Deut. 25. Maar Saul het nie die Here se vonnis voltrek nie. Die Here het lank geleentheid gegee vir die Amalekiete om te bekeer. So leer ons dat die Here geduldig is met ons. Hoe roep en gee baie geleentheid vir bekering. Maar saam met dit sien ons dat die Here nie die sonde vergeet nie, dit kan net betaal word deur Jesus Christus wat aan die kruis daarvoor gesterf het. Laat ons daarom onder die leiding van die Heilige Gees ons skuld teenoor God en voor God bely terwyl ons ons toevlug neem tot Christus en Rots en Middelaar.

Dors vir meer:
Deuteronomium 25:17-19 en Romeine 6.

Gebed
Here mag ons U reg ken in U grootheid en volheid. Ek bely dat ek teen U gesondig het. Vergewe my ter wille van Jesus Christus alleen. Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631

Dagstuk 18 November 2020 – Bely God se grootheid!

Skrifgedeelte: 1 Samuel 13 Fokusgedeelte: 1 Samuel 13:11-14

God is groot. Hy waak oor sy grootheid. Dit moet ons onthou in die belydenis en belewenis van ons geloof. As ons, soos Saul sê, sy aangesig om genade smeek, as ons sy guns soek, moet ons bely: Hy is groot.
Saul het nie kans gesien om sonder die guns en die medewerking van die HERE te gaan veg nie. Hy wou dat sy manskappe moed hou. Daarom het hy hom sterk gehou en die offers aan die HERE gebring. Dan moet hy hoor: “Wat het jy gedoen? … Jy het dwaas gehandel …”
Dít het hy gedoen! Hy het nie na die profetiese Woord geluister nie. Hy het nie lank genoeg gewag nie. Hy wou die sterke wees. Hy het nie daarmee rekening gehou dat die HERE groot is nie. Een Skrif- verklaarder noteer hierby: “Daar is nie ’n klein sonde nie, want daar is nie ’n klein God om teen te sondig nie.” Dit is waarom dit gaan. Saul wou groot wees. Die HERE moes hom ondersteun. Hy moes met Saul se besluite saamstem.
Dit mag nie. Ons vra nie Hy moet saam met ons kom nie. Ons vra Hy moet ons saam met Hom neem. Dit is anders. Dit is om sy grootheid te bely.
Ons moet Christus navolg. Hy het Homself nie gedien nie, maar ge- bid: “Laat u wil geskied.” Hy het sy Vader groot gemaak. So moet ons in Hom deur sy Gees leef en bid: Maak my minder sodat U meer kan word. Laat my U, wat groot is, hoor!

Ds. Petrus Jansen van Nieuwenhuizen. (Marble Hall)

Dors vir meer:
Psalm 48 en Job 41.

Gebed.
Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word.
Laat U koninkryk kom.
Laat U wil geskied,
soos in die hemel net so ook op die aarde.
Gee ons vandag ons daaglikse brood,
En vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe en lei
ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die
koninkryk en die krag
en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen

Dagstuk 17 November 2020 Raak kwaad?

Skrifgedeelte: 1 Samuel 11
Teks wat tref: v6 en 13.

Saul is as koning aangewys, gesalf en aangestel maar daar het nog nie veel in Israel verander nie. Nou gebeur dit wat die volk gevrees het en die rede was hoekom hul ‘n koning wou hê. Die Ammoniette trek teen Jabes in Gilead op en dreig om almal se regteroog uit te steek. Boodskapper word gestuur om hulp te soek. Toe die nuus die volk bereik, huil hul bitterlik. Saul se reaksie is egter anders, deur die Gees van die Here raak hy baie kwaad! Hoe kan hierdie onreg geduld word? Waaroor raak jy kwaad? Is dit wanneer iemand iets doen wat jou nie pas? Raak jy kwaad wanneer daar onreg en sonde teen die Here gepleeg word? Raak jy kwaad oor jou eie sondes of kwaad as iemand dit vir jou uitwys? Saul roep die volk op om saam met hom en Samuel op te trek. Nadat hul die oorwinning behaal het, wil die manskappe vra wat moet gebeur met die persone wat getwyfel het in Saul se koningskap? Hier raak Saul nie nou kwaad nie, maar wys vir die volk dat die oorwinning nie aan hom behoort nie, maar dat dit die Here is wat die uitkoms gegee het. Sien ons nog in ons lewe dat die uitkoms en redding nie deur mense kom nie, maar deur die Here?

Mag ons vandag kwaad raak, nie op die verkeerde, selfsugtige, menslike manier nie, maar raak kwaad vir die sonde teen God om ons. Laat dit jou so kwaad word dat jy wil uitgaan en die Evangelie in die wêreld te verkondig? Deur die geloof alleen kan persone hulle sondeskuld raaksien en daarvan bekeer. Jesus Christus alleen het vir ons sondes gesterf. Net deur die Heilige Gees kan ons die ou mens afsterf. Raak kwaad en moenie sondig nie.

Dors vir meer:
Psalm 76 en Markus 3:1-6.

Gebed
Here die Here van die leërskare. Mag ek kwaad raak wanneer U naam nie geëer word nie. Lei my om nie te sondig nie, maar om my sonde raak te sien vanuit U Woord en daarvan te bekeer. Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631

Dagstuk 16 November 2020 Niks is net toeval nie.

Skrifgedeelte: 1 Samuel 9 en 10.
Teks wat tref: 1 Samuel 9 v15-16.

Die volk soek ʼn koning en die gee toe aan hul versoek nadat hul weer gewaarsku is oor hul versoek. Die Here kies nie soos die volk dit sou verwag nie. Hy kies ʼn seun uit die kleinste stam, Benjamin en vanuit die kleinste familie met die minste aansien. Verder gebruik die Here twee donkies om Saul en Samuel bymekaar uit te bring. Dit is nie net toeval dat die donkies weggeraak het en Saul hulle gaan soek het nie. Nee, so het die Here vir Saul gelei tot by Samuel, sonder dat die enige iemand kon vermoed wat die Here se plan was vir Saul. Let op die opdrag wat Samuel vir Saul gee toe hy hom as koning salf: Die Here het jou tot regeerder van sy besitting gesalf. Dit bly nog die Here se volk, Saul kry net die opdrag om as regeerder op te tree oor die Here se volk. Die Here gee nie sy koningskap op deur Saul koning te maak nie. Net so gebruik die Here ampsdraers en gee Hy die gawes sodat daar oor Sy kerk regeer kan word, maar die Here bly nog steeds die Hoof van die kerk. Daarom moet ons altyd besef watter groot verantwoordelikheid dit is om oor die kerk van die Here te waak en regeer.

Wat gebeur nadat Saul tot koning gesalf is? Nie net is die donkies veilig soos Samuel genoem het nie, maar die Gees van die Here kom oor Saul en sy gesinheid verander. By Gibea kan Saul nou as profeet optree saam met die profete. Deur dit alles heen, bly Saul nederig. Hy vertel nie eers vir sy familie van die koningskap nie. Toe Samuel na Mispa kom om die koning aan te wys, kruip hy weg tussen die bondels. Hy steur hom nie aan die wat hom minag en nie as koning wil erken nie. So het die eerste koning van Israel as ʼn nederige persoon begin. Dit laat ons vooruit dink aan die geboorte van Jesus Christus. Dit was nie toeval dat Josef en Maria na Bethlehem is en Jesus, die koning van Konings in ʼn stal gebore is nie. Die Here kies nie soos wat mense wil nie. Op die regte tyd, soos deur die Here bepaal, het Christus mens geword. Christus wat gesalfde beteken. Laat ons nie vaskyk teen dit wat die wêreld wil hê in hulle leiers nie, maar sien raak wat God se raadsplan is en dat niks met toeval om ons gebeur nie. Die Here regeer en bly in beheer!

Dors vir meer:
Psalm 55 en Heidelbergse Kategismus SOndag 10

Gebed
Here, die Almagtige en Alomteenwoordige. Dankie dat U alles regeer en onderhou. Mag ek raaksien dat niks met toeval gebeur nie, maar U my uit U Vaderhand versorg. Amen.

Danie Potgieter
072 272 9631

Dagstuk 13 November 2020 – Gaan hou plek

Skrifgedeelte: Jh 14:1-14 Teks wat tref: 2b

Jh 14:2 – “…. Ek gaan om vir julle plek gereed te maak.”

Die dissipels is erg ontsteld. Kort tevore het Jesus hulle voete gewas. Daarna vertel Hy vir hulle dat Hy weggaan. Toe Petrus wou verneem waarheen Jesus gaan hoor hy die harde woorde dat hy Jesus sal verloën. Te midde van hierdie onsekerhede en uitdagings beveel Jesus hul om te glo. Met hierdie woorde stel Hy hulle gerus.

Dit bly een van ons mees basiese behoeftes van die mens om te weet dat ek blyplek het. Ons woonplek bied ʼn veilige hawe, verleen beskutting teen die elemente en is ʼn ruimte saam met geliefdes. In Jesus se teenwoordigheid was die dissipels seker van versorging en veiligheid.

Hulle het nog steeds nie verstaan wat Jesus bedoel het toe Hy vir hulle vertel het dat Hy weggaan. Hulle is so vasgevang deur die gebeure en vrese dat hulle perspektief verloor het. Selfs nadat Jesus hul beveel het om in Hom en in God te glo, staan hulle verstar en verward. As jou veilige hawe skielik verdwyn sal daar gewis ook vrae ontstaan. Omdat Jesus self ook mens was en elke emosie van ons ken, verduidelik hy aan die dissipels waarom Hy moet weggaan.

Met Jesus se geboorte was daar ook nie vir Hom huisvesting beskikbaar nie. Saam met sy ouers is sy eerste huis op aarde niks meer as ʼn stal nie. Wanneer Hy dan gaan om vir ons plek gereed te maak, kom Hy weer terug om ons na Hom te neem. Hy verseker ons van ʼn woonplek in die huis van sy Vader. Hierdie woonplek is ons eindbestemming en beteken dat ek in God se teenwoordigheid leef. Ons het ʼn Vader wat na ons omsien.

In stede daarvan dat die dissipels hieroor opgewonde is, twyfel hul steeds en hou aan om vrae te stel. Nog ʼn keer stel Jesus hul gerus. Alhoewel Hy hul verseker van ʼn woonplek vir die toekoms, voorsien Hy ook in ons onmiddellike aardse behoeftes. Deurdat Hy die weg en die waarheid en die lewe is, hoef ek niks te vrees nie. Jesus gaan nie maar om plek gereed te maak nie maar is elke oomblik saam met ons op ons reis na hierdie bestemming.

Deurdat Hy reeds gegaan het om plek gereed te maak is my verwagting van ʼn woonplek vas en seker. Die behoefte dat ek iemand ken wat vir my plek hou, is al van ons kinderdae aan ons bekend. Dink maar aan die opgewonde uitsien na ʼn vakansie of om by geliefdes te gaan kuier en jy weet daar is iemand bekend.

Christus het gegaan om vir ons plek gereed te maak. Maar Hy is steeds ook elke dag en elke oomblik deur sy Heilige Gees by my. Deur in Hom te glo het ek vrymoedigheid om elke oomblik tot Hom in gebed te gaan.

Dors vir meer
Op 22

Gebed
Here, baie dankie dat U vir ons plek gereed gemaak het. . Dankie dat ons met geloof alles kan aanpak en dat U weet wat ons nodig het. Bewaar ons van die Bose. Amen

Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 12 November 2020 – Gaan huis toe

Skrifgedeelte: Lk 17:11-19 Teks wat tref: v19

Lk 17:19 – “En vir hom sê Hy: Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”

Op hul reis na Jerusalem het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan. Alhoewel dit ʼn korter roete was, het die Jode hierdie pad vermy uit vrees vir kontak met die Samaritane. By ʼn sekere dorp kom tien melaatse mans Jesus tegemoet en pleit dat Hy Hom oor hulle sal ontferm. Hulle het moontlik al van Jesus se talle wonderwerke gehoor en sien hierdie geleentheid as hul laaste kans op genesing. Oral waar Jesus gegaan het, is siekes genees, bose geeste uitgedryf en dooies opgewek.

Melaatses is destyds uit die dorpe verban en moes letterlik vanaf die ashope leef. Hulle is as onrein beskou en het geen regte of voorregte geniet nie. Om te oorleef het hul in groepe versamel. Toe Jesus in die buitewyke van die dorp verskyn, weet hulle onmiddellik wie Hy is. Die aanspreekvorm Jesus, Here toon dat hulle Hom erken en herken. Daarmee betoon hulle tegelyk respek en onderdanigheid. Hulle uitroep getuig van geloof dat Jesus hulle kan genees. Sonder dat hulle Hom al ontmoet het, pleit hulle dat Jesus Hom oor hulle sal ontferm. Hulle maak nie aanspraak op enige voorkeur behandeling of beroem hulle nie daarop dat Jesus na hulle moet luister op grond van hul benarde posisie nie. Hulle het niks om vir Jesus in ruil aan te bied nie.

Hulle rig ʼn opregte versoek dat hulle genees wil wees. Dan sou hulle weer kon huis toe gaan en met hul geliefdes en families verenig word. Sonder ʼn opspraakwekkende genesingswonder waarmee Jesus die skare kon beïndruk stuur Hy die melaatses na die priesters. Dit was destyds die gebruik dat die priesters die melaatses rein verklaar waarna hul weer in die samelewing opgeneem kon word. Inderdaad ʼn vreemde opdrag. Indien hulle met hul melaatsheid by die priesters aankom, sou hulle dadelik weer verban word. Jesus begelei die melaatses tot ʼn geloofsdaad. Hulle moet net aan Hom gehoorsaam wees. Op pad na die priesters het hulle gesond geword.

Wanneer ons in ʼn situasie is waar dit lyk dat daar nie uitkoms is nie, moet ons die Here blindelings vertrou en gehoorsaam. Soms klink God se plan vir ons vreemd. Hy verrig steeds wonders. Die melaatses word nie net genees nie maar ontvang ook redding. Hierdie redding kom net van God en daarom buig die een voor Jesus in aanbidding. Hy gee aan God die eer. Daarby stuur Jesus hom terug huis toe om by sy geliefdes te wees.

Jesus het ons van veel meer as melaatsheid kom genees. As ek soms in wanhoop op grond van moeilike omstandighede en kwelvrae my letterlik op die ashoop buite die dorp bevind, kom red Jesus my. Nog veel meer. Hy het vir my ʼn woonplek in die hemel voorberei.

Dors vir meer
Jh 14:1-14

Gebed
Jesus, Here, ontferm U oor ons. Maak my dankbaar vir die redding en genesing wat ek ontvang het. Leer my om onvoorwaardelik te vertrou. Amen

Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 11 November 2020 – Gaan praat

Skrifgedeelte: Eks 4:1-17 Teks wat tref: v12

Eks 4:12 – “Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.”

Om voor mense te praat bly steeds een van die moeilikste dinge om te doen. Miskien het jy ook al gevoel dat jy net nie die gepaste woorde op die regte oomblik kry nie. Dalk wil jy nie met iemand praat omdat jy verleë is oor iets. Moontlik wil jy konfrontasie vermy?

Voordat Moses die opdrag in Eks 4:12 kry om met die Farao te gaan praat, openbaar God Hom aan Moses by die brandende doringbos. In Eksodus 3 word vertel van hierdie ontmoeting waar God aan Moses verskyn om hom voor te berei vir sy lewenstaak. Nog voordat Moses eens daaraan kon dink dat God hom op ʼn bepaalde wyse sou gebruik, word die klimaat geskep dat Moses God se opdrag kan uitvoer.

Dit was destyds die gebruik om mense met tekens te beïndruk. Hiervoor is wonderwerke gebruik. Die persoon wat die mees indrukwekkendste teken kon doen, het gewoonlik die argument gewen. Moses word gestuur om met die Farao te gaan praat sodat die Israeliete geleentheid gegee word om God te gaan aanbid. Hulle was slawe en aan die Farao se lot oorgelaat. Niemand het dit gewaag om teen die magtige Farao in opstand te kom nie.

Daarom deins Moses ook terug as God hom stuur om met die Farao te gaan praat. Dit ten spyte daarvan dat God aan hom verskyn het en verseker het dat Hy by hom sal wees. Selfs nadat God vir Moses versterk met die vermoeë om tekens te doen, voer Moses aan dat hy swaar praat en dat sy tong sukkel (v10).

Hy word daaraan herinner dat God oor alles beskik en dat alles wat ek het en kan doen alleen deur God se genade moontlik is. Moses word versterk deur die Here se Almag en skeppingsmag as God hom verseker dat Hy hom sal help en leer. Wanneer God ons stuur word ons deur die Heilige Gees toegerus vir elke taak. Nie net help God Moses om te praat nie, maar God leer hom ook om die regte woorde te vind. God verlig sy denke sodat hy insig kan kry. Met die nodige insig ontvang Moses die vermoë om met vrymoedigheid te kan optree.

God stuur jou ook vandag om te gaan praat. Dalk ʼn gesprek met ʼn familielid om ʼn misverstand uit die weg te ruim, dalk ʼn gesprek met jou werkgewer oor onregverdige behandeling, dalk ʼn vermaning van ʼn geliefde oor hul lewenswyse of dalk die verkondiging van God se boodskap in ʼn onseker en verwarde wêreld. Christus het aan die regterhand van sy Vader gaan sit om te verseker dat ek met vrymoedigheid tot God kan nader.

Gaan is om gehoorsaam te wees.

Laat jou stem hoor.

Dors vir meer
Hd 9:1-19

Gebed
Here, baie dankie dat U ons help om te praat en leer wat om te sê. Maak my gehoorsaam om U opdragte uit te voer. Amen

Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 10 November 2020 – Gaan maak ʼn bestaan

Skrifgedeelte:  Gen 1:26-31                           Teks wat tref: v26
 
Gn 1:26:  – “Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger ……”
 
Aan die einde van elke skeppingsdag beoordeel God sy werk en sien dit is goed.  Daarna het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger.” Hierdie eerste woorde van ons Here word met ʼn opdrag aan die mens opgevolg. “Gaan” woon in die tuin, heers oor die aarde en wees vrugbaar. In die vorige dagstukkie uit Mt 28:19 stuur Christus die dissipels om na die wêreld te “gaan” en die Blye Boodskap te verkondig.
 
Die openingswoorde van die Bybel gaan my hele lewe bepaal.  Hoe ek dink? Hoe ek glo? Hoe ek aanbid?  Hoe ek leef? Hoe ek die wêreld sien?  In die eerste woorde van die Bybel is God se bedoeling (PLAN) reeds duidelik.  Die Almagtige skep en gee lig.  Deur Christus het ek deel aan hierdie verhouding.
 
Die eerste mense ontvang die opdrag om uit te gaan en in God se skepping te leef.  Dit is ʼn voorreg en verhouding waarbinne God die mens versorg.  As verteenwoordiger het die mens die volle skepping om God se grootheid en goedheid te beleef.  Hier gee God kos, saad en al die nodige lewensmiddele. Die mens ontvang gesag en moet verantwoordelik heers.  Met hierdie opdrag gee God aan die mens die ruimte om nie net die skepping te geniet nie, maar ook om dit verder te bestuur en daaroor te heers.  God gee aan die mens skeppingsmag.  In die lig hiervan moet ek my lewe bepaal.
 
Hierdie openbaring van God se genade maak ons nederig.  Dit is onbegryplik dat die Almagtige God Hom ontferm oor ons lot.  Nog meer – God maak my medeverantwoordelik vir sy skeppingswerk. Hy leer ons ook baie duidelik wat van ons verwag word as Hy ons beveel om te “gaan”.
 
Ons behoort terug te deins as ons God hoor praat. Dit laat ons met ontsag en eerbied luister.  God het geskep, en alles wat Hy geskep het het ‘n bepaalde funksie binne die groot geheel wat Hy gemaak het. Ook die mens.  Kom ons raak stil hieroor.  Ek is geroep om God se identiteit te vertoon. My doel op aarde is vas en seker.
 
Dat die mens geskep is as God se konkrete verteenwoordiger, as iemand soos God, beteken dat daar iets tussen God en die mens kan gebeur. God skep die mens om na Hom te luister en met Hom te praat. Die mens staan in ‘n verhouding met God.
En ons doel is om te heers oor die aarde. Dit gebeur dikwels dat ons dit nie kan regkry nie. Wanneer die wêreld om jou na chaos lyk, wanneer dit lyk of niks meer moontlik is nie, dat niks meer sin maak nie – weet dan God is oor jou bestaan begaan.  Daarvoor het Jesus Christus die dood oorwin en aan die regterhand van sy Vader gaan sit.
 
Hiervoor het die Here jou na die wêreld uitgestuur. 
 
 
 
Dors vir meer
Ps 8
 
Gebed
Here, baie dankie dat Jesus Christus my van die dood verlos het.  Dankie dat U alles elke dag in stand hou.  Dankie vir U Heilige Gees wat ons elke dag lei en onderskraag.  Amen
 
Petrus van Blerk
0824560235

« Older posts Newer posts »