Die doel van die Uitreik Diensraad is om die meelewing, versorging en ondersteuning van medegelowiges te bevorder met ‘n sterk fokus na buite. Van hierdie bestaande uitreike het al ontwikkel tot ‘n volwaardige bediening waarby ons steeds as gemeente betrokke is.
Deurlopende geleenthede om betrokke te raak
By van die diensgroepe bestaan soortgelyke geleenthede om betrokke te raak. U kan die kontakpersone skakel van die diensgroep wat vermeld word. Hieronder tel:
- Hulp met Bybelonderrig – katkisasie. Dit sal help as u ‘n groep kan organiseer om hierdie werk te doen. Dan kan mense om beurte die onderrig hanteer en sodoende die werk versprei .
- Hulp aan skoolkinders om hulle huiswerk te kan doen – verduidelik die werk. Dit sal help as u ‘n groep kan organiseer om hierdie werk te doen. Dan kan mense om beurte die onderrig hanteer en sodoende die lading versprei (‘n Halfdag deur die week by een van King’s Hope, President Kruger Kinderhuise).
- ‘n Finansiële en besigheidskundige persoon om op ‘n gereelde basis die BD van King’s Hope by te staan. Dis ideaal vir ‘n afgetrede persoon. Die blootstelling sal na verwagting een dag per week wees. Die persoon moet wel bereid wees om tot hierdie hulp te verbind vir ‘n lang periode.
- Maatskaplike werker(s) wat op ad-hoc basis, advies en leiding kan gee, wanneer King’s Hope vir toekennings aansoek wil doen.
- Jou professionele kundigheid:
- o Personeelsake en tuinbou by King’s Hope
- o Terapeuties of opvoedkundig by President Kruger Kinderhuise
As jy betrokke wil raak en jy sien nie iets in die lyn wat jy kan bydra nie, of jy het ‘n idee of hartsbegeerte vir ‘n uitreik wat nie in hierdie gedeelte aangegee is nie –
Die kontakbesonderhede van die Sameroepers of Koördineerders van die Uireikdiensgroepe is as volg en kan gekontak word indien julle belangstel of vir enige navrae, voorstelle ens.:
Diensgroep | Kontak | Telefoon | E-Pos |
Botswana(Motopi en D’kar) | Renier du Preez | 083 447 8230 | renier@nullnetdupreez.co.za |
Bybelverspreidingaksies | Klaas Steyn | 071 471 4930 | steynhercules@nullgmail.com |
Eljadahuis | Sakkie Hartzer | 083 388 4850 | sakkieh@nullmweb.co.za |
Indië | Pieter Ackerman | 082 879 7744 | packerman@nullmweb.co.za |
King’s Hope | Gerrit Kornelius | 082 925 9569 | g.kornelius@nulltelkomsa.net |
Franse Media Bediening | Ds Eric Kayayan | erickayayan@nullgmail.com | |
President Kruger Kinderhuise | Anculien Schoeman | 0731550806 | anculienb@nullgmail.com |
Ramotse | Basie v d Merwe | 082 766 4584 | birco.butchery@nullgmail.com |
Topia | Deon Venter | 0833767523 | deon.venter55@nullgmail.com |
Botswana
Beskrywing
Hierdie diensgroep ondersteun die sendingwerk wat deur die GK D’kar gedoen word en ook dié van Dorette Cronjè op Motopi.
GK D’kar bedien Tswana- en Naro-sprekende mense in die weste van Botswana. Die predikant is ds. Hendrik (HJM) du Plessis, sedert 1998. Die koste van bediening word gedra deur die Botswana Sendinggroep (BSG). Die BSG van die Gereformeerde Kerke in Suid Afrika is gedurende 2005 gestig om te help met die instandhouding van die erediens by die GK D’kar, Botswana. Rietvallei is saam met ander kerke lid van die BSG. Die tweede predikant, ds. Gaobolelwe Ngakayaja se traktering word deur die Christelijk Gereformeerde Kerken in Nederland bekostig.
Die bediening op Motopi bestaan tans uit ‘n diens op Sondae, in die kerkgebou op die dorp. Thys en Dorette Cronjè neem meestal die woordverkondiging waar. Motopi is ‘n wyk van die Gereformeerde Kerk D’kar en daarom neem Ds Hendrik du Plessis die diens op sommige Sondae waar en by geleenthede bedien hy ook Nagmaal.
Hoe kan JY betrokke raak?
- Bid saam vir die Woordverkondiging in Botswana en dat die Here ons sal wys hoe om betrokke te raak.
- Word lid van die diensgroep.
- Kom saam wanneer ons weer daarheen gaan.
Bybelverspreidingaksies
Beskrywing
Die Bybel dra God se Lig uit in ‘n donker wêreld waar baie mense sonder hoop voortploeter en bring ook ‘n besondere vreugde in die harte van diegene wat dit uitdeel. Die doel van Bybelverspreidingaksies is om Bybels beskikbaar te stel deur beplande aktiwiteite en deur ondersteuning van verskeie projekte binne en buite ons gemeente.
Behoeftes:
Dit is ons oogmerk om lidmate (al is dit net ‘n paar!) te “werf” om saam te kom dink oor die aksies – wat wil ons bereik, hoe motiveer ons lidmate om betrokke te raak, hoe identifiseer en bereik ons ontvangers, hoe skakel ons met die Bybelgenootskap, wat doen ander Gereformeerde Kerke en ander gemeentes in ons omgewing sodat ons geleenthede vir samewerking kan identifiseer.
Hoe kan JY betrokke raak?
- Word lid van die diensgroep.
- Ondersteun hulle fondsinsamelingsaksies.
- Bid dat die Bybels wat so versprei word, mense se oë sal oopmaak vir die Waarheid.
Eljadahuis
Beskrywing
Uitreike na die Eljadahuis het ten doel om die werk daar te ondersteun.
Die doel van die Eljadahuis is om vanuit ons Gereformeerde geloofsoortuiging ‘n verskil te maak in die lewens van mense wat minderbevoorreg is, in die omgewing waar dit geleë is.
Die omgewing is die Booysens, Claremont en Daspoort voorstede van Pretoria. Eljadahuis word bedryf as Maatskappy Sonder Winsoogmerk en is selfversorgend, deur projekte tebedryf om inkomste te skep en deur skenkings van kerke en gelowiges in Pretoria.
Hoe kan JY betrokke raak?
Daar verskyn gereeld artikels oor Eljadahuis in ons Eljada weekblad en daarin word spesifieke behoeftes gelys. Gee asseblief aandag aan die versoeke.
As u Eljadahuis wil besoek of ‘n gedagte van ‘n uitreik het, om Eljadahuis te ondersteun – skakel met Sakkie Hartzer.
Indië
Beskrywing
Hierdie diensgroep ondersteun ds. Rajesh Kumar en sy vrou, Mamta. Hierdie merkwaardige sendelingpaar woon in Indië, waarheen Rietvallei ds. Rajesh beroep het as sendeling.
Hoe kan JY betrokke raak?
Behalwe om ‘n lid te word van hierdie diensgroep, kan jy diensbaar wees deur te bid vir ds. Rajesh en sy gesin, asook deur te korrespondeer met ds. Rajesh om hom en sy gesin emosioneel en geestelik te ondersteun.
King’s Hope
Beskrywing
King’s Hope Development Foundation het in 2002 ontstaan onder leiding van Dr Henk Stoker. Die stigting werk in Olievenhoutbosch suidwes van Centurion om die impak van HIV/VIGS op die gemeenskap te beperk. Dit word gedoen deur HIV-toetsing, berading van volwassenes en skoolkinders, versorging van bedlêende pasiënte, tuisbesoeke aan geaffekteerde gesinne asook versorging deur kospakkies en die kweek van groente. Dagopenings en Bybelstudies word gereeld met kliënte en werknemers (plaaslike inwoners wat opgelei word om van die take te onderneem) gehou.
Hoe kan JY betrokke raak?
- Voorbidding vir die werkers by Hope en persone wat deur hulle gehelp word.
- Vakkundige hulp met finansies, personeelsake en tuinbou.
- Ons benodig ook nog iemand op die raad van direkteure vir bestuursadvies.
- Verskaf van kospakkies op gereelde (maandeliks) of ad-hoc basis.
President Kruger Kinderhuise
Beskrywing
Finansiële ondersteuning en betrokkenheid by die twee Gereformeerde President Kruger Kinderhuise in Pretoria en Reddersburg.
- Die missie van hierdie kinderhuise is om kinders tot hulle volle potensiaal te laat ontwikkel deur hoë standaard van geestelike, emosionele, opvoedkundige en skolastiese versorging te bied.
- Die visie van hierdie kinderhuise is om kinders, uit behoeftige en getraumatiseerde gesinsomgewings, deur Christelike normes en waardes te begelei tot volwaardige jong volwassenes wat hulleself in die samelewing kan handhaaf.
- Kinders word op grond van hofbevel geplaas vir verskeie redes soos gesinsgeweld, verslawing van ouers, molestering, mislukte pleegsorgplasings, weeskinders en ander trauma-verwante oorsake.
- Beide kinderhuise is geregistreer vir 63 kinders tussen die ouderdomme van 2-18 jaar.
- Persoonlike besoeke ter ondersteuning van die kinders/personeel.
Hoe kan JY betrokke raak?
- Bid vir die kinders en personeel van beide ons kinderhuise.
- Gaan kuier saam met ander Rietvalleiers by hulle in Pretoria en Reddersburg.
- Raak betrokke by fondsinsamelings-geleenthede.
- Tree op as naweekouers en/of vakansieouers vir van die kinders. Kontak ‘n maatskaplike werker by: 012 332 1366/7
Ramotse
Beskrywing
Ramotse is ‘n gemeente van die GKSA in Hammanskraal (net Noord van Pretoria). Hier is Ds. Herens (Oupa) Nkoana die leraar. Rietvallei, asook 4 gemeentes in Limpopo, is hier betrokke deur dié gemeente te hulp te staan met finansiële advies en ook ander kerkbestuursake.
Hoe kan JY betrokke raak?
- Bid dat die Woordverkondiging by Ramotse en die ander 4 dienspunte op vrugbare aarde sal val.
- Word lid van die diensgroep en neem deel aan ad-hoc aksies wat gereël word.