Skriflesing: Genesis 37:1-11
Teksvers: Genesis 37:3-4.

Waaraan dink jy as jy aan die lewe van Josef dink? Dink jy dadelik aan die bedorwe brokkie, die klikbek wat stories aandra? Of dink jy aan die gesegde, slegte goed gebeur met goeie mense, deurdat sy broers hom as slaaf verkoop het en hy later ook in die tronk gegooi is?
Of staan dit vir jou uit dat Josef was en slim was en die gawe gehad het om drome uit te lê?

Josef word aan ons bekend gestel as op sewentienjarige ouderdom. Die feit dat hy deur sy pa voorgetrek word met besondere klere is nog ‘n negatiewe ding wat oor hom vertel word, hoewel dit natuurlik sy pa se skuld was. Dit verklaar die begin van die afkeer wat sy broers aan hom gekry het. Omdat hulle geweet het dat Jakob liewer vir Josef was as vir hulle kon hulle niks goeds oor hom sê nie. Jakob self was voorgetrek deur sy ma Rebekka. Hier sien ons hoe ʼn verkeerde gebruike voortgesit word in die volgende geslag.
As ouers moet ons versigtig wees dat ons nie die verkeerde voorbeelde van ons eie grootword jare oordra na ons kinders nie. Ons moet ook versigtig wees dat ons nie een kind bo die ander moet voortrek nie, nie net het dit ʼn slegte uitwerking op die ander kind/ers, maar ook op die kind wat voorgetrek word.
Wat het Josef gedoen, hy was ʼn klikbek wat slegte stories by sy pa oor sy broers aangedra het.

Ten spyte van die negatiewe is daar iets anders van Josef wat uitstaan en wat in sy hele lewensverhaal ʼn rol speel. God gee aan hom die gawe om drome te kan uitlê en self ontvang hy ook drome.
Twee keer kry hy ʼn droom met dieselfde boodskap, sy broers en ma(wat reeds oorlede is) en pa gaan voor hom buig. Hier word dit deur God vasgemaak dat Josef ʼn man van aansien gaan word en dat sy familie voor hom gaan buig. Niemand kon indink watter pad die Here eers met hulle almal gaan stap voordat dit sou gebeur nie.

Sy drome verdiep die afkeur wat sy broers vir hom het. Nie net die drome nie (kon Josef self sy drome bepaal?), maar die manier waarop Josef dit ook vir sy broers vertel. Selfs sy pa was nie baie beïndruk met die drome nie en het hom berispe.
Deur hierdie drome wys God dat in die donker dade en optrede van mense, bewerk God die toekoms en bring so hoop vir die hele nageslag van Jakob.

Wat leer ons uit hierdie eerste gedeelte van Josef se lewe? Wees versigtig hoe ons omgaan met die genadegawes wat ons ontvang. Gebruik jy die oorwinnaars kleed waarmee die Here jou gekleed het om by ander te spog en hulle kwaad maak van jaloesie? Wil ons nie ook baie kere teenoor ander Christene hoogmoedig wees en maak asof ons beter is as hulle nie? Deur Christus se bloed is ons duurgekoop om verlos te wees van ons sondes. Hierdie gawe maak dat ons nederig in dankbaarheid hiervan getuig, want ons weet ons het dit nie verdien nie.

Dors vir meer:
Jesaja 61:8-11 en Kolossense 3:5-17.

Gebed
Allerhoogste en Almagtige! Dankie dat u soveel genade en seëninge vir ons gee. Dankie dat U ons kleed met ʼn oorwinnaars kleed. Mag ons nooit jaloers wees op die seëninge wat U aan ander gee nie, of selfs spog oor die seëninge wat U aan ons gegee het nie. Als wat ons is en het, is net uit U genade. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.