Breek weg van die stroom van die ou mens en leef in die lewende stroom van God se wil!

1 Petrus 4:1-6

Teks wat tref: 1 Petrus 1:2

“… vir die res van sy aardse bestaan word sy lewe nie meer beheers deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God.”

Omdat ons verseker is dat ons deel in die opstanding van Jesus Christus besef ons opnuut maar ons het met die sonde afgereken.

Die verlossing is vir ons gegee deur Jesus Christus wat sy bloed vir ons gestort het.

Dit vra nou van ons om vir die res van ons aardse bestaan te breek van die stroom waarmee die wêreld mense meesleur.  Ons is nou nie meer langer vasgevang in hierdie stroom wat beheers word deur sondige begeertes nie.  Kyk net na die wêreld om ons- samelewings word beheers en afgebreek deur mense wat hulle begeertes vrye teëls gee.

Ons leef nou vanuit die stroom van God se wil, lewe vanuit die lewende water wat ons by God kry.

Wat is die reaksie van die wêreld?  Hulle vind dit vreemd dat ons nie met die stroom wil saamgaan nie en daarom word ons beswadder.  Daarom herinner Petrus vir ons, maar ons lyding en beswaddering van die wêreld is vir ons ʼn bevestiging dat ons met die sonde afgereken het.

Moenie jou laat meesleur met die stroom van die wêreld nie – almal sal moet rekenskap gee aan Hom wat klaar staan om te oordeel.

Lewe soos God wil hê ons moet lewe en al sal ons liggaam sterwe, gaan ons na die gees lewe soos God lewe – totdat ons die verheerlikte liggaam ontvag.

Dors vir meer:

Hebreërs 11:32-40 en Kolossense 1:9-11

Gebed

Here dankie dat ons nie hartseer moet wees as die wêreld ons verwerp omdat ons vanuit U wil lewe nie.  Dankie dat ons kan lewe in die stroom van U redding, genade en heerlikheid.  Amen.

Ds Danie Potgieter

072 272 9631

GK Rietvallei.